27. Wherein did Christ’s humiliation consist?
Christ’s humiliation consisted in his being born, and that in a low condition, made under the law, undergoing the miseries of this life, the wrath of God, and the cursed death of the cross; in being buried, and continuing under the power of death for a time.
Vraag 27. Waaruit het Christus se vernedering bestaan?
Christus se vernedering het bestaan daarin dat Hy gebore is en dit in ’n vernederde posisie, onder die wet, onderworpe aan die lewe se hartseer, die wraak van God en die vervloeking van die dood aan die kruis; dat Hy begrawe is en onder die krag van die dood was vir ’n tyd.
Inleiding
Hoekom is dit belangrik om te verstaan wat Christus se vernedering behels het? Ons het alreeds van sy vernedering bespreek in Vraag 22 in die feit dat Hy aarde toe gekom het en die gestalte van ’n slaaf aangeneem het. Hy wat Koning was, het gekom om te dien. Dit is ongelooflik belangrik vir ons as dissipels van Jesus om te verstaan wat Sy vernedering behels het, sodat ons, in ons wandel op aarde niks meer sal verwag van ons lewe hier as dit wat Jesus ons kom wys het nie. Sy hele lewe op aarde was een van vernedering, behalwe op tye wat God die Vader direk gepraat het en die werklike posisie van Sy seun duidelik gemaak het. Ons hele wandel op aarde moet een wees wat in Jesus se voetspore volg en slegs wanneer God dit behaag, sal Hy ons verhoog. Let Wel: God sal ons verhoog en nie mense nie. Nog ’n belangrike rede is dat ons verwondering, waardering en dankbaarheid vir ons Verlosser groter kan word. Hoe meer ek besef wat Hy vir my opgeoffer het, nie alleen in Sy dood nie, maar in Sy hele lewe op aarde, hoe meer besef ek hoeveel ek Hom skuld. ’n Skuld wat ek nooit kan of hoef af te betaal nie, maar waarvoor ek kan dankie sê met my hele wese en lewenswandel.
Sy geboorte
Christus was verneder vanaf Sy geboorte tot sy sterwe. Hy is gebore in ’n stal in Betlehem omdat daar vir Hom geen plek was nie. Lukas 2:7 en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. Christus word gebore in ’n stal, nie omdat dit nie goed beplan was of weldeurdag was nie, maar reeds omdat dit voor die grondlegging van die aarde so beplan is. Sy geboorte is simbolies van hoe sy lewe sou wees – iemand wat niks op aarde sou besit nie en nie aanvaar sou word nie. Johannes 1:11 Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Hy sou na Homself verwys as een wat nie eers plek vir Sy hoof het nie. Luk_9:58 Toe sê Jesus vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie. Sy geboorte is ’n aanduiding vir ons dat hierdie lewe nie gaan oor waar of in watter omstandighede jy gebore word nie, maar oor die lewe wat jy hier op aarde gaan leef. Sommige mense word in ryk huise gebore met al die voordele wat dit mag inhou. Tog is dit onbelangrik, want Jesus het nie eers ’n bababedjie gehad met Sy geboorte nie.
Niks van wie Hy was of Sy voorkoms sou maak dat mense Hom sou aanhang nie. Jesaja 53:2 Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. As individue Hom volg vir verkeerde redes wys Hy vinnig daarop dat om Hom te volg beteken om jou kruis op te neem. Dit beteken om te verstaan dat op aarde ons net bywoners is en niks beter as wat Jesus ontvang het moet verwag nie. Hy belowe nie rykdom en voorspoed op aarde nie. Dit gaan nie oor jou herkoms of voorkoms nie, maar oor jou aankoms in die koninkryk van God. Ons moet besef dat dit niks is om wat waardeloos is op te gee, sodat ons dit wat werklik van waarde is kan ontvang nie. 2 Korintiërs 8:9 Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word. Hy het alles verlaat sodat ons in Hom alles kan ontvang.
Sy lewe onder die Wet
Wat beteken dit dus dat Christus onder die wet gekom het en waarom word dit gesien as ’n manier waarop Hy homself verneder het? Miskien sal dit help as mens dink aan wat dit vandag beteken as mens sê iemand is verhewe bo die wet. Dit sal beteken dat so ’n persoon die een is wat die wette maak, dat daar geen gesag is wat hoër as die persoon s’n is nie. So ’n persoon doen verantwoordelikheid aan niemand nie. Daar is natuurlik nie so ’n persoon vandag nie, al is daar dalk diegene wat dink dat hulle bo die wet verhewe is. Jesus is egter self God en as sodanig verhewe bo enige gesag. Hy is die gesag! Hy het egter Homself onder die wet kom stel sodat, in Sy volkome gehoorsaamheid daaraan, Hy vir ons versoening kon bring. Hy het homself onder die gesag van God die Vader geplaas, onder die gesag van Sy eie wet, onder die gesag van sondige mense en onder die gesag van die natuur, selfs onder die gesag van die dood. Galasiërs 4:4 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet. Hy het Homself in alles aan die wet onderwerp. Van die begin van sy bediening, as Hy na Johannes die Doper kom om Homself te laat doop, sê Hy dit is sodat alle geregtigheid vervul kan word. Hy het kom doen dit wat ons nooit sou kon nie – ’n lewe van volkome gehoorsaamheid aan die wet van God, sodat Sy lewe van geregtigheid aan ons oorgedra kon word.
Sy lewe onderworpe aan hartseer
Hy het verder ook al die hartseer en pyn van hierdie wêreld deurgegaan. Jesaja 53:3 Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. (word in Vraag 22 bespreek). Hy het geweet wat dit beteken om geliefdes te verloor, om misverstaan te word, om verlaat te word, om gespot te word. Hy het gehuil, was moeg en was honger.
Die wraak van God
Ons weet dat die hele wêreld onder die wraak van God is. Romeine 1:18 Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk. Jesus kom dra ons sonde aan die kruis en word deur God die Vader behandel asof Hy ons sonde gedoen het, al besef ons dat Hy sonder enige sonde was. 2 Korintiërs 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. Daarom sou hy uitroep aan die kruis: ”My God, My God, waarom het U my verlaat?”
Die kruis is die teken van ’n vervloekte. Galasiërs 3:13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang. Watter vernedering was Hy nie bereid om deur te gaan vir jou en vir my nie? Hy was in alles ten volle gehoorsaam aan Sy Vader en het Hom ook hierin verneder.
Verneder tot die dood toe
Sy vernedering eindig wanneer Hy sterf net soos die mens. Hy wat onsterflik en alomteenwoordig is – sterf, onderworpe aan die dood. Net soos met Sy geboorte is daar vir Hom selfs in Sy dood nie ’n plek van Sy eie nie en word Hy neergelê in iemand anders se graf. Geen groot begrafnis, met eerbetuigings en skares mense nie. Nee, verwerp, verlaat en alleen, nadat Hy verraai is, met enkele vroue by sy graf. Hy sou in die graf wees vir drie dae, onderworpe aan die dood.
Verneder, sodat ons saam met Hom verhoog kan word!
Elkeen van Sy vernederings was daar sodat dit wat Hy sou deurmaak vir ons die oorwinning sou bring. Kyk weer na 2 Korintiërs 8:9 Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.
1Korintiers 15:56-57 Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.
Wat ’n Verlosser het ons nie!? Wie probeer nog bereken wat hy/sy moet prysgee om Jesus te volg? Hy het alles vir jou prys gegee, sodat Hy alles vir jou kan gee wat waarde het. Hy is dit werd om geloof en geprys en verhoog te word – verewig.
Prys die Here!
