26. How doth Christ execute the office of a king?
Christ executeth the office of a king, in subduing us to himself, in ruling and defending us, and in restraining and conquering all his and our enemies.
Vraag 26: Hoe voer Christus sy amp as koning uit?
Antwoord: Christus voer sy amp as koning uit, om ons aan Hom te onderwerp, deur oor ons te heers, ons te beskerm en om Sy en ons vyande in toom te hou en te oorwin.
Die ampte van Jesus is die van profeet, priester en koning. Soos Israel van ouds steur baie mense hulle nie aan die profetiese boodskap van Jesus nie. Baie mense erken nie die bestaan van God of die vervalle natuur van die mens nie en het dus volgens hulle geen Hoëpriester nodig nie. Die amp van Koning het geen mens egter ’n sê oor nie. Jy hoef nie Sy profetiese boodskap van redding te aanvaar nie, jy hoef ook nie sy offer vir jou sonde te aanvaar nie – albei tot jou verdoemenis. Uiteindelik SAL jy egter Sy koningskap aanvaar – of jy nou wil of nie! Elke knie sal buig en elke tong sal bely – Jesus is Heer! Hierdie Koningskap begin vir Sy gelowiges nou alreeds as onderdane van ’n wonderlike koninkryk met Jesus as die Regverdige Heerser. Vir die ongelowige sal die erkenning van Jesus as Koning eers aanbreek met die Wederkoms en dan sal dit te laat wees en sal jy as vyand van Sy koninkryk aan Hom onderwerp word.
Hy onderwerp……
As Jesus as Koning, die gesag en mag het om almal aan Hom te onderwerp, hoekom onderwerp hy dan nie die hele mensdom aan Hom nie? Vir ons om in Hom te glo is ‘n gawe wat Hy gee aan wie Hy wil. Hy maak Homself as Seun van God bekend aan dié wat die Drie-Eenheid in hul raadsplan uitverkies het. Dit doen Hy deur die werking van die Heilige Gees in mense se lewens. In Johannes verduidelik Jesus dit aan Nikodemus en sê – Die Wind (verwysing na die Heilige Gees) waai waar Hy wil. Hy is die een wat al Sy kinders aan Homself sal onderwerp. Hy is die Herder waarvan Lukas praat wat uitgaan en die verlore skaap gaan soek. En as Hy hom kry sit Hy hom op sy skouers. Die Psalmdigter vra dat Hy ons sal soek wat aan Hom behoort. Psalm 119:176 Ek het gedwaal soos ‘n verlore skaap; soek u kneg, want u gebooie vergeet ek nie. Deur Johannes Evangelie word daar oor en oor bevestig dat die Vader die groep wat aan Hom behoort aan Sy Seun gegee het. Johannes 17:2 soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. Hy sal nie een van die wat aan Hom gegee is verlore laat gaan nie.
Hy maak Homself bekend en onderwerp ons aan Hom. Dit is Hy wat soek en vind. Dit is Sy genade.
Hy heers…….
Hy heers omdat Hy die koning is. Hy heers oor almal – gelowig en ongelowig. Hy heers in ons Sy kinders.
In die gelowige se lewe heers Christus as Koning. Ons is alreeds in die nuwe Koninkryk al is dit nog nie ten volle nie. Die nuwe Koninkryk het aangebreek met Sy koms na die wêreld. Hierdie koninkryk behoort aan die wat Hy uitverkies en voor gesterf het. Binne hierdie koninkryk is daar vrede tussen jou en God en oorwinning oor die sonde. Hierdie koninkryk is soos ’n waardevolle skat waarvoor jy alles sal verkoop om dit te besit. Ons sien dit as jy kyk na die Christen Martelare wat gesterf het ter wille van hierdie koninkryk. Dit is ’n geestelike koninkryk wat verewig sal staan en niks op aarde kan met die waarde daarvan vergelyk word nie. Die aarde sal vergaan, maar hierdie koninkryk nooit. Dit is alles wat mooi is, alles wat rein is alles wat lieflik is. Dit is die boom met welige takke wat geplant is by die groen waterstrome, wat vrug dra en skuiling bied vir die nasies. Ons kan sien hoe Christene in die wêreld hierdie beeld uitgeleef het in hul strewe na vryheid, gelykheid en regverdigheid. In hul omgee en sorg vir armes en weeskinders. Maar verder nog hoe hulle uitreik met liefde om ander deel van hierdie wonderlike koninkryk te maak.
Hy is die goeie Koning wat heers oor die wat aan Hom gegee is. Hy beskerm elkeen wat aan Hom behoort en is altyd by hulle. Mattheus 28:20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. Ons, as Sy onderdane, weet dat Hy ons sal beskerm en dat niks met ons sal gebeur wat buite Sy wil is nie. (Sien Vraag 11) Hy sal toesien dat ons siel ongeskonde bly, al mag hierdie aardse wêreld ons liggaam verwoes. Hy sal soos ’n goeie Herder ons voed en soek en beskerm en eendag sal ons in die volheid van die Nuwe Koninkryk oorwinnaars krone dra, waar geen sonde of hartseer meer sal wees nie.
Tog sien die gelowige rondom hom hoe die res van die wêreld nie vir Jesus as Koning wil aanvaar of soek nie. Die aardse koninkryk is vir hulle te belangrik. Hul bou vir hulself ’n koninkryk op sand, wat verseker sal vergaan. Al aanvaar hulle nie Jesus se heerskappy nie weet ons dat Hy nog steeds heers en in beheer is van alles.
Hy hou in toom…..
Ons kan begin by Farao wat deur God toegelaat word om Sy volk te verdruk, net in soverre God hom wou gebruik. Daar is tye, soos by die eerste drie plae, wat God toelaat dat Sy volk deur die plae getref word net soos die Egiptenare, maar dan, van die vierde tot die tiende plaag, word die land Gosen, waar Israel gewoon het, nie getref nie. Alles gebeur onder Sy beheer. Ons moet as gelowiges besef dat ons in ’n slegte en vervalle wêreld leef. As God die mens totaal oorgee aan sy eie begeertes sal daar ’n algehele morele verval en bandeloosheid wees. God hou die mens terug sodat hy nie ten volle doen wat sy hart begeer nie. Ons hoef nie vêrder as manne soos Stalin en Adolf Hitler, wat miljoene mense vermoor het, te kyk nie. God het hulle net so vêr toegelaat. Deur die geskiedenis sien ons wat die mens in wese soek en hoe vêr hy sal gaan in sy vergrype aan mag. Daarom as gelowiges misdaad, haat en die vervallenheid van die mens aanskou, roep en smag hulle dat die Here gou sal kom om sy nuwe en finale Koninkryk op te rig.
Met verkragtings, moorde en misdaad word die vraag baie keer gevra: “Hoe kan God dit toelaat?” Die eintlike reaksie van elke gelowige as ons misdaad en verskriklike wandade sien is om die Here te dank dat Hy nie die mens totaal oorgee aan sy luste en drange nie. Die belofte van God was nooit dat hierdie hemel op aarde sal wees nie. Die belofte is egter dat te midde van ’n vervalle en duister wêreld, Hy met ons sal wees. Van die vroegste tye met sonde in die wêreld het die een broer die ander broer vermoor. Daarom sien ons uit na die die Hemel, waar sonde in ons eie lewe en in die van ander gelowiges nie meer sal bestaan nie.
Hy oorwin…..
Die gelowige moet ook onthou dat, al sien ons dit nie nou nie, die vyand alreeds oorwin is. Daarom kan Hy die dissipels uitstuur voor sy hemelvaart en hulle herinner dat alle gesag aan Hom gegee is. Mattheus 28:18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Hebreërs word vir gelowiges geskryf om vir hulle aan te toon hoe verhewe Christus bo alles in die Hemel en op die aarde is. Hebreërs 2:8 Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie. Al is dit alreeds so bevestig die skrywer aan ons dat ons nie ten alle tye die ervaring gaan hê dat hy heers of gaan sien dat dit so is nie. Ons hou in geloof vas aan hierdie woorde en al lyk dit nie of God in beheer is nie, weet ons dat Hy alles laat meewerk en uitwerk ten goede.
Daar gaan ’n dag aanbreek wanneer alle sonde totaal vernietig gaan word en die Satan, al sy engele en alle ongelowiges in die hel gegooi sal word. Dit sal die aanbreek wees van ’n tyd soos nog nooit te vore nie. ’n Tyd waarvan Openbaring praat Openbaring 21:4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.
En die bruid sê: “Kom, Here Jesus, Kom gou!”

Baie goed dankie…waarskuwend en vertroostend – MARANATHA!
LikeLike