Vraag 25. Hy is my Hoëpriester

Question 25. How doth Christ execute the office of a priest?

Answer: Christ executeth the office of a priest, in his once offering up of himself a sacrifice to satisfy divine justice, and reconcile us to God, and in making continual intercession for us.

Vraag 25. Hoe voer Christus sy amp as priester uit?

Christus oefen sy amp as priester uit deur homself te gee as ’n offer om die goddelike geregtigheid te bevredig, om ons te versoen met God en om aanhoudend vir ons in te tree.

Die ampte van Jesus, as die seun van God is die van profeet, priester en koning. In die vorige inskrywing het ons gesien dat die profetiese amp behels het dat Jesus God se verlossingsplan aan die mensdom kom bekend maak het. Hy kom wys ons die Vader en kom waarsku ons van die komende oordeel.

Geregtigheid en genade

Die mens is in sonde verval en as gevolg van ons sonde is God se wraak oor alle mense.  Romeine 1:18  Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk. Sonde moet gestraf word. God kan nie net alle mense oorsien en hulle sondes uitwis nie. God sou dan miskien genadig wees, maar daar sou geen geregtigheid wees nie. Omdat God ook ’n God is van geregtigheid moet dit wat Hy doen reg wees. Dit kan maklik verduidelik word aan die hand van ’n voorbeeld in die hof. ’n Beskuldigde in ’n hofsaak word skuldig bevind aan moord. Die regter bevestig dat die man skuldig is, maar sê dat hy die man gaan vrylaat. Ons sal sê die regter is genadig, maar ons sal sekerlik nie kan sê dat die reg geseëvier het nie. Die misdaad moet gestraf word.

Jesus se volmaakte offer

Vir ons om vry te kom van God se toorn moes iemand in ons plek sterwe vir ons sonde. Christus het aan die kruis die wraak van God wat ons toekom gedra. As ons dit verstaan kan ons nooit weer ligtelik na sonde kyk nie.

Jesus se offer het versoening gebring tussen ons en God. Romeine 5:10-11 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is. En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening verkry het.

Hy is volmaak en sonder sonde en daarom hoef Hy nie eers vir Homself ’n offer te bring nie. Hebreërs 7:27  wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het. 

Na Jesus se kruisoffer skeur die voorhangsel van die Allerheiligste en verkry ons deur Hom as ons Hoëpriester toegang tot die genadetroon van God. Deur Jesus se een offer is dié wat deur God-Drie-Enig uitverkies is vir altyd volkome van ons sonde vrygemaak! Hebreërs 10:14 Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word. 

Christus en die nuwe verbond

Op die berg Sinai ontvang Moses die wet en die opdrag aangaande die tabernakel en die priesterlike amp. Dit was die tekens van die ou-verbond. Die tabernakel was die aardse heiligdom en was slegs ’n skadubeeld  van die hemelse heiligdom. Die priesters kon in die voorste gedeelte van die tabernakel ingaan om tempel dienste te verrig, maar die Allerheiligste kon net een keer ’n jaar en slegs deur die hoëpriester betree word. Die priester moes eers offer vir sy eie sondes en dan kon hy ingaan en vir die volk se sondes ’n offer bring. Hierdie offer moes elke jaar gedoen word en was gebrekkig omdat dit slegs tydelik versoening vir die volk kon doen. Dit kon nie jou skuld volkome uitwis nie en jy was nooit vry om na God te gaan nie. (Hebreërs 10:1-4)

Christus kom bring ’n nuwe-verbond. Die wet kan nie red nie. Die offer van diere kan jou nie skoon was nie. Die kragteloosheid en nutteloosheid van die vroeëre bepalings word deur Christus vervang as die enigste Hoëpriester waardeur ons nou na God kan gaan. Hebreërs 7:18 Want aan die een kant is daar die opheffing van die voorafgaande gebod weens die swakheid en nutteloosheid daarvan.

Alle eksterne dinge, tradisies en godsdienstige rituele kan ons nie red nie.  Net soos wat die bloed van bokke en skape nie mense van hul sonde kon skoonwas nie, net so kan uiterlike dinge wat jy doen jou nie red nie. Ons het iemand nodig om ons te help. Jesus het as hoëpriester die offer kom bring wat ons vir altyd sou kon skoon was – die offer wat die ou-verbond sou vervang met die nuwe. Hierdie nuwe verbond waar God beloof om die wat Hy uitverkies het volkome vry te maak van hul sonde. Die nuwe verbond waar die Heilige Gees nou beloof om God se wette in ons harte te kom skrywe en om ons verstand te vernuwe. (Hebreërs 10:15-16)

 

Jesus aan die regterhand van God as Hoëpriester

In Openbaring sien ons hierdie beeld van Christus as priester. Openbaring 1:13  en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel. ‘n Lang kleed was die teken vir ‘n Priester. Hy is die een wat tussen die gemeentes loop. Hy is teenwoordig by Sy Kerk en teenwoordig as Hoëpriester.

Nie net het Hy vir ons gesterf en die volmaakte offer geword nie, maar Hy is ook die Hoëpriester wat vir ons intree daagliks en tot in ewigheid. Hebreërs 7:25  Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Omdat Hy opgestaan het en die dood oorwin het en aan die regterhand van God die Vader sit tree Hy vir ons in. Dit wat Hy doen as hoëpriester doen Hy vir ’n sekere groep mense. Hy tree nie in vir alle mense nie. Johannes 17:9  Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort.

Hy bid vir die wat die Vader aan Hom gegee het. Dus het die Vader nie die hele wêreld aan Hom gegee nie, maar ’n sekere groep is aan Hom gegee. Die gedeelte in Hebreërs bevestig ook dat Hy ons ten volle en volkome red en dat daar geen ander weg tot die Vader is as deur Hom nie. Met die skeur van die voorhangsel sê God dat daar geen menslike tussenganger tussen God en mens meer nodig is nie. Jesus is nou ons hoëpriester en tussenganger.

Jesus maak vry

Ons sondelas is groot. Ons kan nie God se wet nakom nie. Ons kan nie na God gaan vuil van die sonde nie, maar dankie Jesus ons Hoëpriester. Sy bloedoffer van sy eie onskuldige liggaam het ons van ons gewete bevry en van die las van die sonde. Nou kan ons God dien! Nou kan ons in die Allerheiligste ingaan! Hebr. 9:14 Nou kan die wat geroep is, die ewige lewe ontvang.  Daar is geen sondelas te groot, wat nie deur Hom skoongewas kan word nie. Jou skuld is betaal…

As Hoëpriester verstaan Hy ons menslikheid en kan meegevoel met ons hê. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Hebreërs 4:15. Hy is net soos ons versoek al was sy versoeking tot die uiterste en ons versoeking nooit tot die uiterste nie. 1 Korintiërs 10:13  Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra. Omdat Hy ons menswees verstaan kan ons na sy Genadetroon toe gaan en barmhartigheid ontvang. Hy is nie ’n afsydige God nie – Hy verstaan en Hy kan nie wag dat jy ten volle op Hom sal vertrou en in Hom sal rus nie. Hy wil genade aan jou betoon.

Gevolgtrekking

Deur jou geloof in Jesus Christus en sy Verlossingswerk aan die kruis is jy vry! Vry om met vertroue, vry van enige skuldlas en met vrymoedigheid na die Here te gaan. Vry om met God te praat oor alles! Vry om God te dien saam met ander gelowiges.  Ons is vry om mekaar te aanvaar in liefde, om mekaar aan te spoor en mekaar te dien. Ons het ’n Middelaar, ’n hoë priester wat een maal, eens en vir altyd ’n offer gebring het om vir ons sonde te betaal. Hy sit aan die regterhand van God.

Hebr. 10:22 Laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete en ons liggame is gewas met skoon water

Jy is vry!

 

 

 

 

Lewer kommentaar