23. What offices doth Christ execute as our Redeemer?
Answer: Christ, as our Redeemer, executeth the offices of a prophet, of a priest, and of a king, both in his estate of humiliation and exaltation
24. How doth Christ execute the office of a prophet?
Answer: Christ executeth the office of a prophet, in revealing to us, by his Word and Spirit, the will of God for our salvation.
Vraag 23. Watter ampte het Christus as ons Verlosser
Antwoord 23. Christus, ons Verlosser, het die amp van profeet, priester en koning in beide Sy vernedering en verheerliking
Vraag 24. Hoe voer Christus die amp as profeet uit?
Antwoord 24. Christus voer sy amp van profeet uit deur aan ons, deur Sy Woord en Gees, die wil van God vir ons Verlossing te openbaar.
Die antwoord op Vraag 23 is drie-ledig en elkeen van die ampte: profeet, priester en koning, gaan in die volgende vrae behandel word.
Christus se amp as profeet
Deur die Woord sien ons hoe God Sy profete gebruik om aan die mens Sy boodskap oor te dra. Hulle moes spreek tot die volk: “So spreek die Here Here.” Elke opdrag van God moes presies soos God dit aan die profeet gespreek het, oorgedra word. ’n Profeet is nie toegelaat om enige iets by te voeg of weg te laat nie. Die ware profete is geken daaraan dat dit wat hulle gespreek het waar geword het. Indien iets wat ’n profeet geprofeteer het nie uitgekom het nie, moes so ’n profeet herken word as ’n valse profeet en doodgemaak word. Daar is baie voorbeelde van profete in die ou testament waarvan Moses en Elia seker die bekendstes is. Christus sou egter die profeet wees wat nie net die wil van die Vader aan die mens sou bekend maak nie, maar die Vader self – soos ons gesien het in Vraag 22.
Aan Moses vertel God dat Hy ’n profeet sal opwek, soos Moses, wat alles aan die volk sal vertel wat God beveel. Deuteronomium 18:18 ‘n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel.
In Hebreërs 1:1 word daar vir ons vertel dat God voorheen deur sy profete met ons gepraat het maar dat met Christus se koms Hy met ons praat deur Sy Seun. Hebreërs 1:1 Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun. Jesus word dan ook deur Johannes aan ons bekend gestel as die die Woord (Logos). Johannes vertel ons dat nie net was die Woord by God nie, maar die Woord is ook God. Jesus is dus meer as enige profeet, want as Hy spreek is dit nie net God se Woord wat spreek nie, maar God self wat spreek. Daarom kan Sy Woord nie ligtelik opgeneem word nie en sê Deuteronomium 18:19 En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.
Christus se lewe as profeet
Ons sien baie keer in die Ou Testament hoe God van die profeet vra om in beelde met die volk te praat – om deur hul lewens ’n prent te skets van God en Sy verhouding met Sy volk. Dink maar aan Hosea wat met die prostituut moes trou om sodoende Israel se ontrouheid aan God uit te beeld. Soveel meer doen Jesus en kom beeld vir ons God se verhouding met die mens uit – Sy soeke na Sy kinders, Sy genade, Sy liefde, Sy regverdigheid, Sy wraak aan die kruis. Jesus se lewe word die uiteindelike beeld van God se wil vir die mens.
Verder kom demonstreer Jesus ook deur Sy gehoorsaamheid aan die Vader hoe ons as God se kinders moet lewe. Ons sien deur die Ou-Testament hoe die volk die profete mishandel en doodmaak. Hoe hulle weier om te luister en dan die gevolge moet dra as God deur Sy profete die straf vir hul sonde aankondig. Jesus word dieselfde behandel en word deur die Skrifgeleerdes en Fariseërs misken, bespot en Sy waarskuwings word geïgnoreer. Tog bly Hy gehoorsaam aan God tot die dood toe.
Christus se profetiese boodskap
Alles wat Jesus verkondig en gesê het, was deur die krag van die Heilige Gees. Lukas 4:18-19 Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig. Jesus se verkondiging sou herstel bring tussen God en mens. Uit hierdie gedeelte sien ons hoe Sy boodskap herstel sou bring van elke mens se geestelike toestand – ’n toestand sonder God. In Jesaja word die armes geïdentifiseer as die nederiges. Die nederiges sou die blye boodskap (evangelie) hoor en besef hoe bevoorreg hulle is. Die wat seer in hulle lewens het as gevolg van sonde sou deur God genees word. Jesus sou die gebrokenes se harte herstel. Enige persoon wat deur sy sonde of die sonde van ander beseer is, kan alleen genesing by Christus ontvang. Daar is geen genesing buite Hom nie en enige advies of hulpmiddel buite Hom is van korte duur en het geen blywende effek nie. Mense wat vasgevang is in sonde word vrygelaat en deur die boodskap van Christus kan mense vir die eerste keer geestelik sien. Net die boodskap van Christus, deur die Krag van die Heilige Gees, bring Verlossing.
Christus het aan ons as mense kom openbaar wat God se plan van verlossing sou wees. Ons weet verseker dat daar geen saligheid buite Hom is nie. Handelinge 4:12 En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie. As Paulus aan Timoteus skryf bevestig hy aan Timoteus dat die Skrif ons leer hoe ons verlossing kan ontvang. 2 Timoteus 3:15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. As profeet kondig Hy God se verlossings plan aan, maar ook Sy komende oordeel. Jesus Christus praat meer oor die hel as enige ander profeet as waarskuwing van die komende oordeel vir die wat nie in Hom glo nie.
Christus en die Woord
Elke deel van God se Woord is belangrik. Ek hoor baie keer dat mense die gevoel het dat sekere dinge in die Bybel nie nodig is nie en dat dit nie so belangrik is nie. Jesus sou nie na die Woord wys en sê dat nie ’n jota of tittel verlore sal gaan as Hy gedink het dat iets in die Woord nie belangrik is nie. As profeet bevestig Hy aan ons dat elke Woord van God vir ons nodig is en ons help in ons geestelike groei na volwassenheid. Mattheus 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. Net soos groente, vleis, neute en vrugte deel van my dieet uitmaak so is elke deel van God se Woord nodig vir ’n gebalanseerde dieet. Paulus vertel die gemeente in Korintiërs: dat julle in alle opsigte in Hom ryk gemaak is, in elke woord en alle kennis. 1Korintiers 1:5
Die Heilige Gees kom en bevestig God se Woord elke dag in ons lewens. Joh 14:26 maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Ons kan nie sonder die Heilige Gees God se Woord verstaan en in gehoorsaamheid lewe nie. Hy bevestig aan ons dat ons verlos is en toon die pad van goddelike lewe vanuit God se Woord vir ons aan.
Ons moenie hierdie boodskap ligtelik opneem nie. Maar moet ons elke dag beklee met Sy woord en daarin groei. Hebreërs 2:3 hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het. Watter wonderlike verlossing is nie deur Christus aan ons verkondig nie.
Gevolgtrekking
Jesus, ons Profeet, was die Woord wat mens geword het en onder ons kom woon het. Hy is die laaste profeet waardeur God met ons praat en sy boodskap is die Woord van God soos opgeteken in die Ou-Testament en Nuwe-Testament. (Sien Vraag 2). Hierin verkondig Hy duidelik God se plan van verlossing – glo in My!
Jesus is die ware profeet. Sy Woord is waar, Sy Woord is Lewe – So spreek die Here Here!
