Gestalte van ‘n slaaf

22. How did Christ, being the Son of God, become man?

Answer: Christ, the Son of God, became man, by taking to himself a true body, and a reasonable soul, being conceived by the power of the Holy Ghost, in the womb of the Virgin Mary, and born of her, yet without sin.

Vraag 22: Hoe het Christus, wat die Seun van God is, mens geword?

Antwoord: Christus, die Seun van God, het mens geword deur die liggaam en siel van ’n mens aan te neem. Hy is ontvang deur die Heilige Gees in die baarmoeder van die maagd Maria en uit haar gebore, maar sonder sonde.

Die geboorte van Jesus

Daar is baie min mense, selfs ongelowiges, wat nie die storie van Jesus se geboorte ken nie. Die boodskap van die engel, die reis na Betlehem, die vol herberg en die stal, die ster en sterrekykers, die skaapwagters en die engele koor….Lukas 2:11 “Vandag is daar vir julle  in die stad van David die Verlosser gebore, Christus die Here!”

Die antwoord op Vraag 22 is dus duidelik in die Woord vir elkeen om te lees en verstaan, of jy dit nou glo of nie. Hy het afstand gedoen van sy hemelse troon en heerlikheid en is gebore as ’n  mens.  Wat egter belangrik is en waarop hierdie inskrywing wil fokus, is wat behels hierdie “mens word”. Waarom was dit nodig, wat sê dit vir ons van Jesus en wat is die boodskap en opdrag aan ons as Sy kinders?

Wie was Jesus voor sy geboorte?

Die Seun van God. Verstaan jy wie Hy is? Vir ’n koning van ’n land om ’n slaaf te word uit vrye wil vir die res van sy lewe, sou verstommend wees. Ons sou wou weet wat die koning se motivering is en wat hý daaruit sou kon kry. As dit dan blyk dat die rede hiervoor is om as slaaf te dien, staan ons in verwondering. Dit, en nog oneindig meer, is wat Christus gedoen het toe Hy homself verneder het en mens geword het, sodat Hy ons verhouding met God kon kom herstel. Daarom is dit so belangrik dat ons besef dat Jesus die Seun van God is. Die Skepper van hemel en aarde, die gans andere, het deel van Sy skepping geword, homself van alle eer “ontledig” en  in alle nederigheid die gestalte van ’n mens aangeneem.

Hoekom? Want die sondeval het plaas gevind a.g.v. die hoogmoed van die mens. Die mens wat hom nie wil onderwerp aan God se plan vir sy lewe nie. Ons het deur die afgelope inskrywings gesien in watter toestand die mens is a.g.v. sy rebellie teen God. ’n Rebellie wat begin met hoogmoed en trots. Die enigste manier waarop ons verlos kan word, is as ons ons absolute afhanklikheid van God (ons nederigheid) kan terugkry – dit wat die mens met die sondeval, in sy trots, verloor het. Hierdie nederigheid word deur Jesus na die aarde gebring en die verlossingsplan kom tot uitvoering deur Hom wat verdien om alle eer te ontvang, maar wat homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem. Filippense 2:7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword.

Sy menswees

Hy was sonder sonde gebore. Hy het deur ’n vrou in die wêreld gekom maar sonder die saad van ’n man. Die sonde van Adam was dus nie op Hom oorgedra nie. Die Bybel vertel ons dat Maria se swangerskap plaasgevind het deur die Heilige Gees. Lukas 1:35  En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word. Hy is dus ten volle God en ten volle mens.

Nie net is Hy sonder sonde gebore nie, maar deur sy hele lewe het Hy nooit sonde gedoen nie. Nie net sou Hy vir al ons sondes sterf nie, maar sy lewe van geregtigheid sou op ons oorgedra word. Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. 2 Korintiërs 5:21

Jesus, die Seun van God, onderwerp homself aan die wil van die Vader, kom as mens na hierdie bose, sondige wêreld en kom word sonde vir ons.

 Jesus se nederigheid

Alles getuig van Sy nederige gestalte. Die ouers wat God gekies het as Sy Seun se aardse moeder en vader was niks besonders nie. Hulle was eenvoudig en arm. Sy aardse vader was ’n skrynwerker. Jesus word gebore in Betlehem en as dit nie genoeg is nie, in ’n stal. Hy sou in Nasaret grootword, die plek waarvan Nataniël sou getuig: Kan daar uit Násaret iets goeds wees? Johannes 1:47. Hy sou Sy lewe gee vir die wat hulle lewens vir Hom moes gee. Hy sou die voete was van die wat Sy voete moes was. In die evangelie van Johannes maak Jesus keer op keer melding van sy afhanklikheid van die Vader. Die feit dat Hy niks uit Sy eie doen nie – dat Hy net die Vader se wil doen. Joh. 5:30 “Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het”  In Joh. 8: 49-50 “ ..maar ek eer my Vader, en julle doen my oneer aan. Ek soek egter nie na eer vir myself nie”.

Jesus het in absolute nederigheid Sy wil en eer  oorgegee aan die Vader,  en Homself toegewy aan die Vader se werk. Omdat Hy nie Sy eie eer gesoek het nie, kon Hy homself ook verneder voor mense. Hy kon hulle dien al was hy moeg. Hy kon hulle leer met liefde en geduld, al was hulle traag om te leer en vol hoogmoed. Terwyl hulle stry oor die ereplek en wie die belangrikste is kon  Hy hul vuil voete was. Terwyl hulle slaap kon Hy in bloedsweet en angs sê: “Nie my wil nie Vader, maar U s’n….”

Sy opdrag aan ons.

Jesus is sagmoedig en nederig van hart. Matt 11:29. As Sy kinders word ons deel van Hom en is hierdie karaktereienskap dit waarna ons moet verlang. Soos wat Christus volkome op die Vader vertrou het, moet ons onsself leegmaak van onsself en eie trots. Die gedagte dat daar iets goeds in ons is, dat ons dinge op ons eie kan regkry – ja, selfs ons strewe na heiligheid – alles moet ons oorgee aan Jesus. Slegs wanneer ons ons totale afhanklikheid van God besef, sal God alles in ons lewens word en sal ons geseënd genoem word. Die bergpredikasie Matt. 5:3 “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk”  Hierin lê ons geluk en vrede en saligheid. Dat Christus sal meer word en ons minder. Dat ons sal leeg word van onsself en ons oë sal vestig op Hom en Hom alleen.

As ons toelaat dat ons leeg word van onsself en God se wil soek in alles sal ons ’n ware instrument in God se hande kan word. Dit is dan wanneer ons werklik kan begin om die nood in ander raak te sien en ander te dien soos wat Christus ander gedien het – sonder voorbehoud en eie gewin. Daar kan geen gelowige wees wat in die voetspore van Jesus volg wat enigsins  ’n verhewenheid kan hê nie. As ons Verlosser so geleef het wie is ek om enigsins myself te reken of te dink ek is beter as ander. Jesus sê vir sy volgelinge: As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. Johannes 13:14-15

Sy troos aan ons

Hy het ’n mens geword en alles deurgemaak wat ’n mens deurmaak. Hy was honger. Mattheus 21:18  En vroeg in die môre toe Hy teruggaan na die stad, het Hy honger gehad. Hy was moeg. Johannes 4:6  En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, somaar by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur. Hy het gehuil. Johannes 11:35  Jesus het geween. ’n mens net soos ons uit vrye keuse. Hy was kwaad en verontwaardig oor die oneer aan Sy Vader se tempel. Hy was beangs in die tuin van Getsémané….

Sy menswees maak  dat Hy kan identifiseer met my. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Hebreërs 4:15. Hy verstaan dus waardeur ek gaan in elke aspek van my lewe. Hy ken my seer en my vrese. Hy, anders as ek, is tot die uiterste beproef. In my lewe sal God nooit toelaat dat ek bo my kragte versoek word nie. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra. 1 Korintiërs 10:13. Ek kan dus elke versoeking staande bly en oorwinning behaal omdat God my die krag sal gee om deur dit te gaan. Ek kan na sy genade troon hardloop en weet dat Hy verstaan en met my sal wees deur elke dal van doodskaduwee.

Hy het homself verneder, mens geword en sonder sonde geleef. Hy sou in gehoorsaamheid aan die Vader elke eis nakom. Hy sou die wraak van God onskuldig op Hom neem en my skoon was van my skuld. Hoe wonderlik dat ek nie net skoon gewas is as ’n kind van God nie, maar dat ek oorklee word deur sy geregtigheid. Sy lewe van volmaaktheid word my lewe van volmaaktheid. As Hy in my bly sal Sy nederigheid myne word en slegs dan sal ek kan skyn met die volheid van God.

Sonder Jesus Christus sou ons nog steeds verlore wees in ons hoogmoed en rebellie teen God.  Mag die volgende gebed van Andrew Murray ons elkeen se gebed wees:

“Here, ek bid dat in U groot goedheid, U elke tipe en vorm van trots en hoogmoed in my sal uitwys en dit sal wegneem en dat U in my die diepste waarheid van nederigheid sal wakker maak, sodat ek vol kan word van U lig en Heilige Gees”