Question 21. Who is the Redeemer of God’s elect?
The only Redeemer of God’s elect is the Lord Jesus Christ, who, being the eternal Son of God, became man, and so was, and continue to be, God and man in two distinct natures, and one person, forever.
Vraag 21: Wie is die Verlosser van God se uitverkorenes?
Antwoord: Die enigste Verlosser van God se uitverkorenes is die Here Jesus Christus, wat die ewige Seun van God is, mens geword het en so was en nog steeds is, God en mens in onderskeie nature, maar een persoon, vir ewig.
Teen hierdie tyd moet ons as mens besef wie ons was, wat ons verloor het en in watter toestand ons nou is – verlore en van God vervreem.
Daar is net een manier waarop die mens gered kan word – deur Jesus Christus.
Jesus is in gesprek met sy dissipels na die instelling van die nagmaal en sê vir hulle dat hulle die weg ken en dat hulle weet waar Hy gaan. Thomas sê egter dat hulle nie weet waar Hy gaan nie en daarom ken hulle ook die weg nie. Hierop antwoord Jesus hulle: John 14:6. …Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Daar is dus geen ander WEG as deur Jesus nie. Daar is ook net een waarheid. Christus is die waarheid. Hy getuig van die Waarheid, Hy vertel die waarheid, Hy wys na die waarheid Hy IS die waarheid. Daar is ’n ironie as Pilatus vir Jesus vra wat waarheid is, want waarheid staan voor hom. Hoeveel mense word met die waarheid van Jesus Christus gekonfronteer en antwoord met ‘n skouerophaling: “Wie se waarheid?” Net Jesus kon die Vader aan ons kom openbaar. Johannes 1:18 Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar. Die woorde van Jesus en die lewe van Jesus kom wys vir ons wie God, die Vader is. As jy Jesus ken, ken jy die Vader.
Ons lewe in ’n tyd wat baie glo dat daar meer as een weg is. Daar is ‘n bekende uitdrukking “alle paaie lei na Rome”. Hierdie is nie wat die Woord ons leer nie. Daar is baie paaie na nêrens, maar net een Pad na die Vader. Sou Jesus werklik na hierdie wêreld gekom het en aan ’n kruis gehang het as daar enige ander manier was? As mense in die hemel kon kom net op grond dat hulle nie weet nie of nie bewus is van wat Christus kom doen het nie, hoekom het God ons nie dan almal in die toestand van onkunde gelaat nie. Sodoende kon almal mos gered word.
Redding moes bewerkstellig word deur, eerstens, die straf wat ons sonde verdien weg te neem en tweedens, om ’n lewe van regverdigheid te voorsien. Jesus is die enigste manier van redding. Hy moes in Sy natuur van menswees die straf vir ons sonde dra. Hy kon dit alleen doen omdat Hy self onskuldig was. Deur Sy dood het Hy versoening kom doen vir die wat sou glo. Handelinge 4:12. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie. Jesus Christus is die enigste een wat die hand van God en die hand van die mens kan neem en versoening bring. Hy is volkome God en volkome mens, daarom is Hy die enigste middelaar tussen God en mens. 1 Timoteus 2:5–6. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.
Deur die geskiedenis was daar mense wat of nie geglo het in sy menslikheid nie of ander wat weer nie geglo het dat Hy werklik God is nie. Arius, ’n man wat gelewe het in die derde en vierde eeu, het geglo dat Jesus nie werklik God was nie. Hierop het die kerk duidelik en onomwonde verklaar wat nog altyd geglo is, nl. dat Jesus volledig God en volledig mens was. Die sinode van Nicaea het in 325 n.C. hierdie geloof geformuleer en onomwonde verklaar dat Jesus twee nature het maar wel een persoon is. Die nature is God en mens. Doketisme is weer die groep wat geglo het dat Jesus God was maar nie mens nie. Hierdie beskouing is gehandhaaf deur die Gnostici wat geglo het dat die fisiese sleg is maar die geestelike goed.
Jesus het dit baie duidelik gemaak dat Hy God is. By Sy volgelinge was daar geen twyfel aan sy menswees nie omdat hulle elke dag saam met Hom was, aan Hom gevat en saam met Hom geëet het. Kyk na die gedeeltes wat volg nadat Jesus hulle geantwoord het dat Hy die weg is: Johannes 14:7 As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.
As hulle (en dus ons) Jesus ken sal hulle die Vader ook ken, as hulle Jesus gesien het, het hulle ook die Vader gesien. Dit veronderstel dat Hulle een is. Dit is ’n duidelike verwysing na die eenheid tussen Vader en Seun en dat die Seun dus volkome God is. Hierop antwoord Filippus dat Jesus vir hulle die Vader moet wys. Filippus het duidelik nie verstaan wat Jesus gesê het nie. Jesus stel dit dan nog eenvoudiger aan hulle. Joh 14:9-10 Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?…Kon Jesus dit nog duideliker stel.
Baie van ons besef nie die laaste deel van hierdie antwoord van vraag 21 nie. Die antwoord sê dat Jesus nog steeds volkome mens en volkome God is. Ons kan duidelik vanuit die Woord bevestig dat hierdie antwoord korrek is. Na Jesus se opstanding het Hy aan baie mense verskyn. Hulle het Hom herken en aan Hom geraak en saam met Hom geëet. Die Bybel vertel vir ons dat by een van die ontmoetings met sy apostels Thomas nie daar was nie. As hulle vir Thomas vertel glo hy dit nie en sê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie. Johannes 20:25. Agt dae later verskyn Jesus aan hulle terwyl Thomas daar is. Jesus sê vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. Johannes 20:27. Jesus was dus ten volle mens al kon hy deur die mure beweeg en verdwyn. As Johannes in Openbaring die Lam (Jesus Christus) sien, sien Hy hom as die Lam asof Hy geslag is. Isaac Watts stel dit so:
“Looks like a lamb that has been slain,
And wears his priesthood still.”
In handelinge word daar aan Sy volgelinge gesê dat hulle Hom sal sien terugkom soos Hy opgevaar het. Handelinge 1:11. As Jesus weer kom, sal ons Hom sien soos Hy opgevaar het. Vir die res van die ewigheid sal ons die merke in Sy hande en Sy sy sien en weet dat Hy die rede is vir ons Verlossing. Ons sal Hom eer en hulde bring vir ewig en altyd want Hy is dit werd.
Jesus ons Verlosser!
