20. Did God leave all mankind to perish in the estate of sin and misery?
Answer: God, having out of his mere good pleasure, from all eternity, elected some to everlasting life, did enter into a covenant of grace to deliver them out of the estate of sin and misery, and to bring them into an estate of salvation by a Redeemer.
Vraag 20: Het God die hele mensdom oorgelaat om te vergaan in hulle toestand van sonde en ellende?
Antwoord: God se hartewens was om, van alle ewigheid af, sommige uit te verkies tot lewe. Hy het met hulle in ’n verbond van genade getree om hulle te verlos van die toestand van sonde en ellende en om hulle te bring in ’n posisie van redding deur ’n verlosser.
Die vorige inskrywing (Vraag 17) het gehandel oor die toestand van die mens na die sondeval en Vrae 18 en 20 oorvleuel en is alreeds in Vraag 17 aangespreek. Ons besef die ellendige toestand waarin die mensdom a.g.v. die die erfsonde is en nou ontstaan die vraag: “Is dit dan die einde?” Gelukkig lees ons in God se Woord dat daar hoop is. ‘n Vaste hoop op ‘n Redder uit hierdie verlore toestand van sonde…..
Sy welbehae
Alles vind plaas volgens wat God behaag. Die Griekse woord is εὐδοκία. εὐ Beteken blye of goeie en δοκία beteken prys, eer en heerlikheid. Die Ou Vertaling vertaal hierdie woord as welbehae en die nuwe vertaling as genadige beskikking. Hierdie Griekse woord word in Lukas 2:14 gebruik as die engele aan die herders die boodskap bring dat Jesus gebore is. Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae! Hierdie woord word ook gebruik in Rom 10:1 en soos volg vertaal in die Nuwe vertaling: Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word.
God het vir Sy goeie heerlikheid besluit, voor die grondlegging van die wêreld, om mense uit te kies tot die Ewige Lewe. Ons vind in Handelinge dat Paulus en Barnabas preek en aan die mense die Evangelie verkondig en dan vind die volgende plaas: Handelinge 13:48. En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe. In die Grieks is die woord verordineer in die passief en beteken dit dat die verordenering aan die persoon gedoen word. Dieselfde woord word in Romeine 13:1 gebruik vir die owerheid wat daar is deur God se beskikking. Dit is dus duidelik dat die mense in Antioch deur God se beskikking gelowig geword het. Efesiërs maak dit ook baie duidelik dat die wat gelowig word gekies is en dat God se hartewens uitgevoer word. Hy het ’n besluit geneem voor die grondlegging en Hy voer dit uit. Efesiërs 1:4-5 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil.
Sy uitverkiesing
Kyk na die woorde wat vetgedruk is. Uitverkies (ἐκλέγομαι) is dieselfde woord wat gebruik word vir Jesus wat die twaalf gekies het as sy volgelinge. Hierdie uitverkiesing is dus ’n persoon wat doelbewus sekere persone gaan kies vir ’n bepaalde opdrag. Die aktiewe persoon by die verkiesing van die apostels was Jesus net so was dit God wat aktief mense gekies het voor die grondlegging van die wêreld. Grondlegging beteken voor enige iets geskep is.
Voorbeskik(προορίσας) bestaan uit twee woorde: voor(προ) en grense stel of afbaken(ορίσας). Die woord is in die verlede tyd. Dus kan ons die woord vertaal as voor die tyd afgebaken om ons as sy kinders aan te neem. Hierdie woorde is baie beskrywend en maak dit duidelik dat dit deur God gedoen is en dat Hy besluit het. Tog stop die teks nie net hier nie. Die prent word nog duideliker ingekleur, indien enige iemand nog verder sou twyfel oor die betekenis, deur te sê dat alles plaasvind na God se welbehae of hartewens. Martin Luther het gesê: “Die liefde van God vind nie, maar skep dit wat na sy welbehae is.” Hierdie uitverkiesing en voorbeskikking is tot Sy heerlikheid en nie vir enige iemand anders se eer of heerlikheid nie.
God het nog nooit verander nie. Sy uitverkiesing was nog altyd op grond van Sy wil en nie op grond van enige iets wat die mens sou doen of gedoen het nie. Handelinge 13: 17 vertel dat God die voorvaders uitverkies het en hulle ’n groot volk gemaak het. Abraham kom nie na God met ’n plan nie, maar God kom na Abraham, ’n spesifieke persoon in ’n spesifieke tyd en roep hom. God vertel in Esegiël 16:6 vir die volk dat hulle niks spesiaals was nie. Hy vertel hoe hulle soos ’n baba was wat in bloed gespartel het toe God hulle gekry het. Verder sê Hy in Deuteronomium 7:6 Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Daar was niks wonderliks aan hulle nie, maar wel aan die Een wat hulle gekies het.
Sommige mense probeer die uitverkiesing en die vrye wil van die mens met mekaar versoen deur te sê dat God ons kies omdat Hy weet dat ons Hom in die toekoms sal kies. God kyk dus af in die tonnel van tyd om te sien wat ons gaan doen en dan maak Hy Sy keuse op grond daarvan. Nee, die verkiesing en die voorbeskikking was nie omdat Hy in die verlede vorentoe gekyk het en gesien het wie Hom gaan kies nie. Dit sal God afhanklik maak van ons keuse en dan sou dit nie meer tot Sy welbehae en Sy wil wees nie, maar op grond van ons keuse vir Hom. Nie net maak dit nie sin kragtens die konteks nie, maar ook kragtens die Griekse woorde wat gebruik word kan dit nie die korrekte verduideliking wees nie. Die daaropvolgende teksverse weerspreek ook hierdie gedagte as Efesiërs 2 vers 8 en 9 sê: Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
Sy Verlossing
Hy moet verheerlik word oor hierdie genadige daad. Die teks gaan vêrder en sê dat dit plaasvind deur Sy wil. Alles sal gebeur volgens Sy wil.
Ons is uit genade gered. Uit genade het Jesus Christus na hierdie wêreld gekom om Sy kinders te verlos, ons wat Sy Vader aan Hom gegee het. Selfs as Jesus bid in Getsémané bid Hy nie vir die wêreld nie. Johannes 17:9 Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort.
Daarom word Jesus ons Verlosser en betaal die skuld wat ons nie kon betaal nie. Hy koop ons wat aan Hom behoort vry. Hy vertel in Johannes 10 vir die mense wat na Hom luister dat hulle nie Sy woorde aanvaar nie, want hulle is nie Sy skape nie. Johannes 10:27 My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. Hy het dit ook alreeds gesê in hfst. 8: 47 Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie. Hierdie skape is dan die vir wie Hy sy lewe aflê. Johannes10:15 Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.
Jesus Christus het gekom en ons verlos van ons sonde. Hy het weer vrede bewerkstellig tussen ons en God deur God se wraak op Hom te neem. Omdat ons in Hom glo kan ons nou kinders van God genoem word – in ere herstel en deelagtig aan die erfenis van God. Hoe genadig is ons God nie. Hierdie geloof in ons Verlosser is ’n geskenk van God en niks waarin ons kan roem nie. Ons is gekies, ons is verlos en ons is herskep na Sy beeld
Dankie, Jesus
