Die wêreld is gebroke.

17. Into what estate did the fall bring mankind?

Answer: The fall brought mankind into an estate of sin and misery.

Vraag: In watter toestand het die val die mens gebring?

Antw: Die val het die mens in ’n toestand van sonde en ellende gebring.

Die straf

Met die sondeval word sonde deel van ons natuur en die bose wat ons sien is dit waarna ons hunker en waarna ons vlees soek. Eweskielik ontdek hulle dat hulle kaal is. Man en vrou word elkeen fisies gestraf vir hul ongehoorsaamheid deurdat die vrou met moeite en pyn  kinders sal baar en haar man sal oor haar heers. Die man sal werk in die sweet van sy aangesig. Die aarde word vervloek om hul ontwil en die fisiese omstandighede maak dat die mens met moeite ’n bestaan sal maak vir die res van sy lewe. Die geestelike straf is egter die ergste en die mens se oë gaan oop vir die bose en hy verloor sy verhouding met God.

Ons sien hoe die sonde die mens deurtrek. Ongehoorsaamheid van Kain lei tot jaloesie en die eerste moord. Die mens verloor sy oorspronklike doel en is so vol sonde dat God almal behalwe Noag en sy gesin uitwis met die vloed. Dronkenskap (verhaal van Noag na die ark), hoogmoed (toring van Babel), homoseksualiteit (Sodom en Gomorra) en so word dit net al hoe erger en erger.

Die sonde – ekstern

Sonde bring hartseer en vernietig die individu, die samelewing en die aarde.  Oral is die gevolge van sonde duidelik sigbaar. Baie mense vandag, veral in die weste, sal onomwonde verklaar dat die wêreld ’n beter plek is as in die verlede. Die teendeel is egter waar. Ons leef in ’n wêreld waarin daar jaarliks meer as 10 000 mense in oorloë sterwe. As gevolg van hierdie oorloë en konflikte in baie lande is daar meer as 65 miljoen vlugtelinge in die wêreld. Dit is die ergste sedert die Tweede wêreldoorlog. Jesus belowe dat hierdie tendens sal voortgaan en al hoe erger word hoe nader ons aan sy koms beweeg. Matteus 24:7  Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander. Daar sal ’n soeke wees na vrede maar vrede sal nie hier gevind word nie. 1 Thessalonicense 5:3  Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie. Jesus sê duidelik vir sy volgelinge dat Hy nie fisiese vrede kom bring nie. Matteus 10:34  Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.

Ons dink baie aan slawehandel as iets van die verlede. Tog is slawehandel sterker as ooit te vore. Daar word beraam dat daar tussen 27 en 30 miljoen slawe in die wêreld is. Elke jaar word na beraming 800 000 mense as slawe verkoop. Die inkomste wat genereer word uit slawehandel is 32 biljoen dollar ’n jaar. 54% van slawe word verkoop deur mense wat aan hulle onbekend is en 46% word verkoop deur mense wat hulle ken. In ’n plattelandse dorp in ons eie Suid-Afrika is onlangs ongeveer 40 kinders gevind wat ontvoer was en gereed was om verkoop te word.

Elke minuut sterf daar ses kinders in die wêreld van die honger. 9 miljoen mense sterwe elke jaar van honger. As ons na die hoeveelheid mense kyk wat van die honger sterf en baie wat ondervoed is, gee mense vinnig oorbevolking die skuld. Tog is dit nie die volle prentjie nie. UNICEF berig dat in Yemen alleen  daar elke tien minute ’n kind van die honger sterf en dit as gevolg van konflik in hierdie land. Die wêreld produseer meer as genoeg kos om die mensdom te voed, maar gierigheid en vermorsing veroorsaak dat baie kos nooit geëet word nie. Elke jaar vermors verbruikers in industiële lande amper net soveel kos as die totale voedsel produksie van sub -Sahara Afrika. As die pryse nie reg is nie word tonne vrugte weggegooi en liters melk en tonne vleis vermors. Alles gaan oor geld.

Die orde van die mens wat heers oor die aarde is heeltemal verdraai en vandag het diere meer regte as mense. Mense is meer bekommerd oor die voortbestaan van die gorilla as die lewe van ‘n kind.

Dalk voel hierdie voorbeelde vir jou nog ’n bietjie vêr van die huis af. Kom ons kom ‘n bietjie nader en besoek jou kind se skool. Die kinders wie se ouers nog getroud is, is in die minderheid. Egskeiding  syfers is baie hoog. In Suid-Afrika eindig ongeveer 50% van alle huwelike in egskeiding. 54% van hierdie egskeidings vind plaas in gesinne waar kinders onder die ouderdom van agtien is. Dit het ’n verwoestende effek op hierdie kinders sowel as die ouers en die wyer familie wat ook geraak word deur egskeiding. God sê in Maleagi dat hy egskeiding haat en Hy vergelyk dit met geweld. Maleagi 2:16  Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, en dat ‘n mens sy kleed met geweldpleging bedek, sê die HERE van die leërskare. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie. 

Dwelms – waar statistiek wys dat 34% jongmense sê dat hulle al dwelms gebruik het. 60% van 16-jariges, wat deel was van ’n navorsingstuk, het al alkohol gebruik met die toestemming van hulle ouers. Seks voor die huwelik, pornografie, afknouery, selfdood, bendegeweld …… en die lys hou net aan en aan.

Mense weet nie meer of hulle mans of vroue is nie. Jong kinders kan vandag besluit met watter geslag hulle hulleself wil identifiseer.

Die wêreld is stukkend. Ellende is oral sigbaar in Suid-Afrika en die res van die wêreld.

Sonde – intern

Die stukkende wêreld is die gevolg van die stukkende mens. Ons hoofdoel het verander en nou probeer elkeen homself verheerlik. Die vrug van die sonde is owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap, brassery ens.  Galasiërs 5:19-21. Hoe vêr het ons geval. Hierdie is ook nie net die lot van die ongelowige nie. Selfs die gelowige is nog gewikkel in die stryd met die vlees waarvan Paulus in Romeine praat. Dit wat ons nie wil doen nie dit doen ons en andersom. Wat ’n doodsbestaan!

 Jesus sal alles Herstel

Jesus Christus kom verlos ons van hierdie doodsbestaan! Rom 7:24-25  Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! Jesus kom bring vir hulle ’n beeld van die nuwe koninkryk wat voorlê. Jesus kom en wek mense op uit die dood. Maak siekes gesond. Dryf duiwels uit. Laat die blindes sien en die dowes hoor. Melaatses word gesond. Mense wat vasgevang in hulle sondes is kom vry en word vergewe. Hiervan is Saggeüs, die vrou by die put en Maria Magdalena voorbeelde.

Hierdie is ’n heenwysing na die dag wanneer die Here ons sal kom haal. Daar is ’n boom in Openbaring wat by ’n rivier groei. Sy blare is genesing vir die nasies en hy dra vrugte deur die jaar. Openbaring praat vêrder van ’n lewe sonder enige van die hartseer en verwoestinge van ons nou ervaar. Openbaring 21:4  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. Wat ’n wonderlike vooruitsig. Selfs die Skepping sug in afwagting na daardie dag. Rom 8:20-22 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. 

Intussen het ons as gelowiges ’n opdrag. Hierdie opdrag is om God te verheerlik in alles wat ons doen, om Sy lig te laat skyn in hierdie donker wêreld en om die mense in die wêreld lief te hê, sodat hulle Hom sal sien.

God se soldate

In hierdie gevalle wêreld is ons besig met ’n oorlog. Hierdie oorlog is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte in die lug. Die gevolge van hierdie magte se heerskappy is egter baie duidelik sigbaar in hierdie wêreld en ons moet bereid wees om hierteen op te staan as soldate van God.

Nog nooit in die geskiedenis is daar so oorlog gevoer teen die orde van God, soos ingestel  in die Skepping, as juis vandag nie. Die stryd vir die behoud van menslike lewe en waardigheid teen die kultuur van aborsie en genadedood was nog nooit so fel nie. Die instansie van die huwelik, as ‘n Goddelike instelling tussen ’n man en ’n vrou,  is besig om te disintegreer in die seksuele revolusie soos gedryf deur die LBGT organisasies.  Surrogaat moederskap en sperm banke vir ouers in een-geslag huwelike is ‘n oopgemaakte pandora boks. Ons word opgeroep om hieroor standpunt in te neem en dit te beveg.

Die oproep om te veg vir die waarheid is dringend. Die oproep om die outoriteit van God se Woord te verdedig is dringend. Die oproep om God se morele standaarde te handhaaf en te leef is dringend. Die oproep om vals lering binne die kerk te beveg is dringend!

Indien jy dink hierdie is nie jou roeping nie, dink weer. Daar waar die oorlog is daar is ons geveg. As ons dink ons is getrou op enige ander front, maar ons skram weg van die debat van die dag, is ons ontrou en versaak ons ons pos.

Wees getrou, want Hy is getrou en sal ons nooit in die steek laat nie. Hy sal by ons wees tot die dag van die finale oorwinning.

Onthou ons is die sout en die lig.

 

Lewer kommentaar