Herskepping

Question 16. Did all mankind fall in Adam’s first transgression?

Answer: The covenant being made with Adam, not only for himself, but for his posterity; all mankind, descending from him by ordinary generation, sinned in him, and fell with him, in his first transgression.

Vraag: Het die hele mensdom geval in Adam se eerste oortreding?

Antwoord: Aangesien die verbond wat met Adam gemaak is, nie net vir homself was nie, maar vir sy nageslag, die hele mensdom wat uit hom gevolg het deur gewone geboorte, het almal gesondig in hom en geval  saam met hom in sy eerste oortreding.

Sommige vrae is sonder antwoorde

Wat elke keer opvallend van die Westminster Belydenis is, is dat dit nie vrae vra oor dinge waarop die Bybel nie antwoorde gee nie. Die vraag laat vrae by ons, maar omdat die Bybel nie daarop antwoorde gee nie, word dit nie as deel van die Belydenis behandel nie. Na die aanvanklike antwoord, dat ons wel gevalle wesens is, kan ons vrae vra soos: “Hoekom moet ons boet vir Adam se sonde, hoe is dit regverdig?”, “Waar kom sonde dan vandaan?”, ens. Die Bybel antwoord nie, maar stel dit wel duidelik dat die gevolg van Adam se sonde is dat sy nageslag die konsekwensies (geestelike en fisiese dood) daarvan sal dra.

Dit is ‘n ongelooflike voorbeeld vir ons, in ons lewe as Christene, om nooit te probeer antwoorde uitdink wat die Bybel nie gee nie.  Sommige dinge is net eenvoudig so ongeag of jy die antwoorde oor die “hoekoms” en die “waaroms” daarvan ken. Dit is nie ’n lafhartige wegskram van moeilike vrae om eenvoudig te sê: “Want God sê so” nie, al kan ek jou verseker dat sommige jou as naïef sal bestempel. Dit is deel van Christen wees.

’n Verbond

‘n Verbond is ‘n belofte tussen God en die mens. Die verbond met Adam, as verteenwoordiger van die mens op aarde, sluit die hele mensdom in.  God se verbond met Adam was ’n werksverbond. “As jy My gehoorsaam sal jy lewe en as jy ongehoorsaam aan My opdrag is, sal jy sterwe.” Vir die mens om in Eden te kan bly, was afhanklik van gehoorsaamheid aan God se opdrag. God kon verwag dat Adam en Eva gehoorsaam moet wees aan sy opdragte omdat hulle sonder sonde was en in staat was om die opdragte uit te voer. In hulle gehoorsaamheid kon hulle deel hê aan die oorvloed in die tuin en aan God se teenwoordigheid. Om gehoorsaam  te wees is dus die basis van die verbond. Daarom noem ons dit ’n werksverbond, want jou werk (jou gehoorsaamheid) bepaal die uitkoms van die verbond. God se opdrag aan Adam en Eva was: Gen 2:16-17  En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. 

Gehoorsaamheid

Die vrug was nie opsig self goed of sleg nie, maar God verwag gehoorsaamheid. Ons wil baie keer met menslike redenasies uitredeneer hoekom ek iets mag doen of nie. As ek nie die onmiddellike negatiewe kan insien nie en as groepsdruk dan nog bykom, dan word wat God daaroor sê, afgemaak as outyds of kultureel gebonde. As postmoderne mens word die vraag: “Wat pas my?”  in plaas daarvan dat  God se opdrag genoegsaam behoort te wees vir die kind van die Here, om sonder enige redenasies God se opdrag te gehoorsaam. Die reg of verkeerd van iets is dus nie hoe ek of ander reg of verkeerd definieer nie, maar wat God sê. Jakobus 2:10  Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. As ek dus enige aspek van God se wet oortree gaan dit nie soseer oor die deel van die wet wat ek oortree nie, maar dat ek in opstand kom teen die Een wat die wet gegee het.

Erfsonde

Adam het God se opdrag verontagsaam, hy was ongehoorsaam, en doen daardeur die eerste sonde. Deur Adam kom sonde in die wêreld.  Rom 5:12  Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het. Sonde het egter nie sy ontstaan by Adam nie, maar wel by Satan. 1 Joh. 3:8 Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.

(Hierdie gedeelte maak ook duidelik dat Genesis 1-3 waar is. Lees gerus weer Vraag 9 oor die skepping wat in ses dae plaasgevind het.)

Ons weet dit was eintlik Eva wat eerste sonde gedoen het, maar omdat Adam as hoof oor haar aangestel is, dra hy die verantwoordelikheid. (Hierdie is seker ook ‘n tema vir ‘n volgende inskrywing) As gevolg van hulle sonde teen God het God hulle uit die tuin gestuur. Elke geslag daarna word buite Eden gebore en erf hierdie sonde as deel van hul natuur.

As mens dink aan erf dan is dit gewoonlik in ’n positiewe lig, want jy kry gewoonlik iets waarvoor jy nie gewerk het nie. Hier is dit egter een van die dinge wat jy nie graag wil erf nie. Jy kan ook nie sê ek wil dit nie hê nie, want dit is deur genetika op jou oorgedra. Die Bybel leer ons ook dat sonde oorgedra word van geslag tot geslag. Baie glo nie hieraan nie. Ons lees gereeld dat ons eintlik goed is en dat dit die omgewing is wat mense korrup maak. Dit is sekerlik so dat jou omgewing ’n groot impak op jou het, maar sonde is deel van jou kodering van geboorte af. Geen ouer sal met ’n skoon gewete kan getuig dat babas sonder sonde gebore word nie. Hulle is ’n bondeltjie selfsug (al is hulle oulik en het ons hulle lief) vandat hulle hul ogies oopmaak. Behalwe die waarneming bely die Skrif dit ook duidelik. Psalm 51:7  Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. 

Sonde –  enkelfout – het in die wêreld gekom deur Adam. Nie spesifieke ongeregtigheid nie, maar die geneigdheid van die mens om die verkeerde te doen. Die vermoë wat die mens gehad het om in gemeenskap met God te wandel en Hom gelukkig te maak het verdwyn en plek gemaak vir ‘n rebellie teen God en sy gebooie. Ons kodering is foutief en die mens is nou van geboorte af geprogrammeer tot die verkeerde. As jy dus wil weet of iemand ’n afstammeling van Adam is kyk of hy sondig. “ ’n Mens is nie ’n sondaar omdat hy sonde doen nie –  nee, die mens doen sonde omdat hy van nature ’n sondaar is. “ – R C Sproul

Herprogrammering

Deur die regte dinge te probeer doen of om sonder sonde te probeer leef, gaan nie jou sondige natuur verander nie. Jy moet geherprogrammeer word. Ons moet sterwe saam met Christus en saam met Hom opstaan in ’n nuwe lewe. Romeine 6:6-8  aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 1 Korintiërs 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;

Kolossense 2 :13 sê dat ons dood was in ons sonde omdat ons gesondig het en ons sondige natuur nog nie weg gevat is nie. In Christus word ons egter lewend gemaak en word ons sondes vergewe.  Daarom sê Romeine dat ons nie meer deur ons sondige natuur beheers word nie, maar deur die Gees. Romeine 8:9. Ons is dus nuut gemaak en die oue is verby.

Deur die eerste Adam het die sonde in die wêreld gekom en daardeur is elkeen van ons gebore met  ’n sondige natuur, maar wanneer ons geestelike opgewek word in Jesus Christus, die tweede Adam, word ons hart besny en ontvang ons ’n nuwe natuur. In Christus is ons nou nuut en vrygemaak van die sonde wat ons van geboorte af as slawe vashou. Kolossense 2:11  in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus.

Leef nou uit dankbaarheid……

Dankie, Jesus vir hierdie wonderlike versoeningswerk. Mag ons voluit leef as nuwe mense, geherprogrammeer, besny van hart, om God te verheerlik en Hom te geniet – verewig

 

Lewer kommentaar