15. What was the sin whereby our first parents fell from the estate wherein they were created?
A. The sin whereby our first parents fell from the estate wherein they were created, was their eating the forbidden fruit.
Vraag15: Wat was die sonde waardeur ons eerste ouers geval het uit die toestand waarin hulle geskep is?
Antw.: Die sonde waardeur ons eerste ouers geval het uit die toestand waarin hulle geskep is, was om te eet van die verbode vrug.
Sonde – om die teiken te mis. Jy mis die doel waarvoor jy gemaak is, nl. om God te verheerlik en Hom te geniet verewig. Hoe duidelik sien ons dit nie in die sondeval nie. Die woord sondeval verduidelik dit eintlik so mooi – die mens mis Sy skeppingsdoel en val na ‘n toestand van hartseer en verwydering van God. Hoe kan ons nou God verheerlik en hoe kan ons Hom nou geniet?
Die sonde
Baie keer kyk mens na die eerste sonde en jy wonder – was dit dan nou regtig so erg? Jy lees die antwoord op hierdie vraag en dit klink so eenvoudig. Die erns van die saak lê egter in die woordjie “verbode” en in die Persoon wat die verbod opgestel het. Ons weet dat God die mens geskep het om te moet eet, verder het hy vrugte geskep vir die mens om te mag eet. Die sonde lê nie in twee happies van ’n vrug nie, maar in die feit dat dit gedoen was in ongehoorsaamheid aan God. Die erns van hierdie sonde lê in die rebellie van die mens teenoor sy Skepper, die nietigheid van die een wat rebelleer teenoor die almag van die Een teen wie gerebelleer word. Dit was “verbode”.
As jou vriend vir jou sou sê dat jy iets nie mag eet nie en jy doen dit wel, dan is dit ‘n verbreking van jou vriend se vertroue – seker nie so ernstige oortreding nie, aangesien jou vriend eintlik geen gesag oor jou het nie en julle gelyke status het. Die erns van die oortreding neem toe soos wat die verskil in belangrikheid tussen die twee partye toeneem. As dit nou ’n minister of koning is wat die opdrag gee en jy oortree dit dan word die oortreding strafbaar. Wat nou as die opdrag gegee is deur die Koning van alle Konings!? Die Skepper van die heelal!? Die blote gedagte dat hierdie Koning se opdrag verontagsaam kan word, is verregaande. Weet ons werklik wie God is? Met wie ons probeer redeneer en teen wie ons soms ons vuis in rebellie lig? Adam en Eva het gedoen dit wat “verbode” was – was ongehoorsaam aan ’n opdrag van die almagtige Skepper. Die eerste sonde was rebellie teen God en steeds vandag is dit die wortel van die sonde in jou en my.
Die gevolge
Om die erns van die eerste sonde te verstaan is dit dus nodig dat jy besef Wie die Een is wie se opdrag verontagsaam is en wie die mens is. Die gevolge sou die dood wees, want om so ’n Magtige Koning te verontagsaam verdien die doodstraf. Die duiwel lieg en sê dat hulle nie sal sterwe soos wat God gesê het nie. Gen 3:4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie. Sonde belowe altyd iets meer maar jy verloor elke keer iets van wat jy gehad het. Hulle verloor die lewe – geestelik en fisies. Lewe van kommunikasie met God elke dag van hulle lewe, die wandeling saam met God in die aandskemering. Sonde het die dood veroorsaak. Rom_6:23 Want die loon van die sonde is die dood. Daarom is die Bybel vol van die gedagte dat ons dood is vir die geestelike dinge. Rom_8:6-7 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.
Nie net het ons die beeld van God verloor nie, maar ook die verhouding wat ons met God gehad het. Nou is ons in ons vlees altyd in rebellie teen God – die wortel van alle sonde. “Het God regtig gesê?” word die vraag op bykans elke opdrag in Sy Woord en die duiwel lieg vir ons en regverdig elke rebelse optrede deur alles te rasionaliseer met beloftes van “iets beter”
Die duiwel belowe hulle in Gen 3:5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.
Hulle het al klaar die vermoë gehad om te onderskei tussen goed en kwaad. Die toestand waarin hulle verkeer het, was om te weet dat om God te gehoorsaam die goeie was en dat om Hom nie te gehoorsaam nie, dus van die boom te eet, kwaad sou wees. Gen 3:2-3 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe.
Sy het geweet wat reg en verkeerd was en wat God wou hê en wat Hy nie wou hê nie. Hierdie vermoë om te kies vir die goeie wat God wil, het ons in die sondeval verloor. Rom 3:12 Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.
Die leuen
Die mens verloor altyd as hy gehoorsaam is aan die duiwel. Die duiwel belowe dat hulle sal leef al is hulle ongehoorsaam, maar hulle verloor hul lewe geestelik en fisies. Die duiwel belowe dat hulle soos God sal wees en goed en kwaad sou ken – hulle verloor die beeld van God en om te kies dit wat God gelukkig maak. Die duiwel lieg oor alles. Hy begin sy gesprek met Eva met ’n leuen. Gen3:1 … En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? Hy weet baie goed dat God gesê het dat hulle van al die bome mag eet behalwe die boom van kennis van goed en kwaad. Omdat die Satan ’n leuenaar is en die vader van leuens sal alles wat uit sy mond kom en die van sy volgelinge leuens wees. Joh 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.
Sy begeerte is om van jou te steel. Sonde kom steel net nog vêrder van jou. Net soos die mens in die begin deur sonde verloor het verloor die mens elke dag nog a.g.v. die mens se gehoorsaamheid aan die duiwel, die wêreld en sy eie vlees. As ons kyk na elke aspek van die mens se verhoudings vind ons hierdie leuens wat kom steel.
Hy bevraagteken God se orde. Die duiwel kom na die vrou. Hoekom? Hy wil haar daarop wys dat die keuse hare is al het God die man die hoof gemaak en vir haar die helper. Die normale orde word versteur omdat die vrou op haar eie kan besluit. Sy verloor die beskerming van die man. 1Ti 2:13-14 Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom. Interessant hoe hierdie nog steeds die aanval van die Satan is op die gesin. Het God regtig die man as hoof aangestel?
Hy maak die mooi lelik. God het seks gegee as iets vir die mens om te geniet, as uiting binne die sekuriteit van die huwelik tussen man en vrou, van absolute vertroue en liefde. Die duiwel het dit verander in ’n instrument van soveel pyn en hartseer en wellus.
Hy belowe groener gras. As ek net ’n ander vrou of man het dan sal ek werklik gelukkig wees. As ek ons seks het voor die huwelik sal die ander persoon aan my toegewyd bly en sal ons verhouding beter wees. Nuwe werk en beter salaris……………….ongeag die geestelike koste.
Hy verhef die mens. Almal wil glo hulle is spesiaal en belangrik. Ek wil self besluit hoe en wat en waar en niemand weet beter as ek nie – nie eers God nie. Ons word ons eie god en dink dat God se bevele sinneloos is. Ons dink:
- Die belofte van ware geluk lê in meer van myself en minder van God en ander. God se bevel: Verneder jouself.
- As ek net meer geld kan hê dan sal ek gelukkig wees. God se bevel: Jy kan nie God en Mammon dien nie.
- As ek die persoon wat my te nagekom het, kan terugkry sal ek beter voel. God se bevel: Moenie self wraak neem nie.
- Die probleem swangerskap beëindig ek, mense wat my teleurstel skryf ek af. God se bevel: Jy mag nie doodslaan nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
- Jy verdien ’n beter man/vrou so skei maar. God se bevel: Dit wat God een gemaak het, mag jy nie skei nie.
Hierdie is maar net van die leuens en in elkeen van hulle vind ons die vernietiging van so baie lewens. Joh 10:10 Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.
Sonde steel jou vreugde. Dit wat dit belowe is juis wat dit kom steel van jou.
Ons redding van die leuen begin by kennis van wie ons is en wie die Een is wat die bevele gee. Om te rebelleer teen die almagtige God, ’n God wat jou lief het en weet wat goed is en ware geluk bring, gaan net die teenoorgestelde uitwerking hê as dit wat jy dink. Jy gaan nooit gelukkig wees voor jy nie jou knie buig en erken dat Hy God is en begin om te luister nie. Bewapen jouself met die kennis van die Woord en moenie luister na die duiwel en sy leuens nie. Hy wil jou vernietig en sal jou tot ’n val bring.
Moenie eet van die “verbode” vrug nie, maar eet van die brood wat lewe gee, Jesus Christus!
