12. What special act of providence did God exercise towards man in the estate wherein he was created? When God had created man, he entered into a covenant of life with him, upon condition of perfect obedience; forbidding him to eat of the tree of the knowledge of good and evil, upon pain of death.
13. Did our first parents continue in the estate wherein they were created? Our first parents, being left to the freedom of their own will, fell from the estate wherein they were created, by sinning against God.
14. What is sin? Sin is any want of conformity unto, or transgression of, the law of God.
Vraag 12: Watter spesiale daad van voorsienigheid het God uitgeoefen teenoor die mens in die toestand waarin hy geskep is? 13: Het ons eerste ouers gebly in die toestand waarin hulle geskep is? 14: Wat is sonde?
Antw. 12: Toe God die mens gemaak het, het Hy ’n verbond van lewe met hom gesluit, op voorwaarde van volmaakte gehoorsaamheid en ‘n verbod om te eet van die boom van goed en kwaad, waarop, indien hy dit oortree, pyn en dood sou volg. 13: Ons eerste ouers, oorgelaat aan die vryheid van hulle eie wil, het geval van die staat waarin hulle geskep is, deur teen God te sondig. 14: Om teen God te sondig beteken om op enige manier af te wyk van God se wet of deur dit te oortree.
Die volgende drie vrae van die Westminster Belydenis handel oor die mens. In watter toestand die mens gemaak is en wat met ons gebeur het dat ons sonder Christus se versoening so vêr van God verwyder is. Baie mense wil nie oor hierdie aspek van die mens praat nie. Ons hoor vandag hoe wonderlik ons is en hoe ons eintlik verdien om gered te word, tog is die besef van die absolute verlorenheid van die mensdom die begin van enige persoon se terugkeer pad na God.
Vraag 12: Van die skepping af het God met die mens ’n verbond van lewe gesluit. God het hulle in die tuin laat bly en hulle moes dit bewerk. Hulle moes ook volledig die opdragte van God uitvoer. As hulle Hom nie gehoorsaam nie sou hulle sekerlik sterwe. Genesis 2:16-17 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.
Die mens was sondeloos gemaak deur God. In hierdie toestand kon die mens kies tussen goed en kwaad. Tussen wat God wil hê, die goeie, en dit wat God gesê het hulle nie mag doen nie, die kwaad. Die mens het na die sondeval hierdie vermoë verloor – ons kan sekerlik nog “goeie dinge” doen, maar om dit tot eer van God te doen of om vir God te kies, kan ons nie meer doen nie. Na die sondeval is ons nie meer perfek nie. Ons is nou deurtrek van die sonde. Psalm 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. Die straf van die sonde is die dood. Romeine 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het. Daarom is ons vandag dood vir die geestelike en moet ons lewendig gemaak word van buite onsself. Dus het nie net die fisiese dood in die wêreld gekom nie, maar ook die geestelike dood het plaasgevind met die sondeval. Ons kan alleenlik geestelike dinge sien as ons weer gebore word volgens Joh 3:3: Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Efesiërs vertel ook verder dat hierdie lewendig making deur God plaasvind. Efesiërs 2:1 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes
Vraag13: Ons eerste ouers, Adam en Eva, oorgelaat aan die vryheid van hulle eie wil, het geval van die staat waarin hulle geskep was, deur teen God te sondig.
Hierdie is ’n groot waarheid. As die mens voor die sondeval, sonder sonde, met sy vrye wil nie dit kon doen wat God gevra het nie, hoeveel minder kan ons. Die mens het die vryheid gehad om te kon kies tussen reg en verkeerd en tog het hulle die verkeerde verkies bo wat reg is. In hulle perfekte toestand kon hulle nie die sonde weerstaan nie. Hoeveel minder is ons in staat, buite die tuin en deurtrek van sonde, om God te gehoorsaam. Rom 3:11-12 Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Met die sondeval het die mens die vermoë verloor om die goeie te doen, bedoelende dit wat God behaag. Die mens is na die sondeval in ‘n absolute verlore toestand – weg van God, totaal onbevoeg om dit te doen wat God gelukkig maak. Sonder die redding van Christus kan ons geen kommunikasie en gemeenskap met God hê nie. God kan nie naby sonde kom nie – Hy is te heilig en ons is deurtrek van sonde.
Vraag14: Wat is sonde?
Sonde is om op enige manier af te wyk van God se wet of deur dit te oortree.
Om die doel te mis
Die eerste betekenis van die woord sonde is om die teiken te mis. Dink aan ’n skut wat mik na ’n teiken, met die doel om kolskoot te tref, en dit dan mis. Enige iets behalwe ’n kolskoot is mis. Die doel was kolskoot. Sonde is om te mis wat God van my vra en dus die doel van my lewe mis. Dit gaan nie daaroor om ’n lukraak skoot te skiet min of meer in die rigting van die teiken nie. Nee, dit is om absoluut gehoorsaam te wees aan die opdragte van God. Die tweede betekenis kan ook verduidelik word as iemand wat “oor die lyn trap.” As jy dink aan iemand wat bv. gewigstoot doen – die atleet moet binne die spesifieke baan wat vir hom uitgemeet is bly. Indien hy/sy oor die lyn sou trap, geld die gooi nie. Hierdie betekenis is dus om willens en wetens – met opset – die wet van God te oortree.
God se opdrag aan ons is dus altyd volmaakte gehoorsaamheid. Baie het die idee dat as ek darem net min of meer doen wat die Here van my wil hê is dit meer as genoeg. Jakobus 2:10-11 Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ‘n oortreder van die wet geword. Baie keer is ons begeerte nie om so vêr as moontlik van die sonde weg te bly nie, maar om te kyk hoe naby ons aan die sonde kan kom sonder om dit te doen. As ons bely dat ons gelowiges is dan moet ons ons meer en meer rig na wat God se begeertes en wil vir ons lewens is.
Om God te bevraagteken
Sonde kan ook wees dat ek nie gelukkig is met wat God beskik het vir my lewe nie. Baie keer dink ons dat ons eintlik God se werk beter sou kon doen as ons God was. Ek is ongelukkig of in opstand met Sy besluite vir my lewe. Job kan na die dood van sy tien kinders en alles wat hy verloor het sê “ Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!” Job 1:21. Daarom kan God van Job verklaar in Job 2:3 En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad; en hy volhard nog in sy vroomheid, alhoewel jy My teen hom opgehits het om hom te vernietig sonder oorsaak.
Om lou te wees
Soms bly hink ons op twee gedagtes: Ons wil nie heeltemal soos die wêreld lyk nie, maar wil ook nie heeltemal oorgegee aan God nie. Dit wat die Woord van my vra is net te veel, maar ek is darem nie soos sleg soos sekere mense wat moor en steel nie. Ek vind, volgens my, so ’n goue middeweg. Daar is niks goud daaromtrent dit nie, om die waarheid te sê, God sal jou uit Sy mond uitspoeg! Om lou te wees is ook ’n sonde. God se voorskrifte moet ons eenhonderd persent navolg. Ons het geen outoriteit om Sy weë en opdragte te bevraagteken of te wysig nie. Naby is nie goed genoeg nie – dit is mis.
Arrogansie
Dikwels hoor mens dat jy arrogant is as jy sekere dinge wat duidelik in die Skrif staan nog verkondig, want “niemand anders doen dit meer nie” en “is net jy nou reg?” Arrogansie is om God se Woord te verander omdat jy dink jy weet beter.
Dink aan hoe kerke vandag hulle eredienste inrig. Meeste kerke se eredienste funksioneer volgens die beginsel van pragmatisme. Wat werk? Waarvan hou mense? Wat sal meer mense na die erediens bring? Hoe kan ons die boodskap verkort of verander sodat almal darem lekker voel? Werk hierdie manier van die erediens inrig? Geniet mense dit? Daarvolgens kies ons hoe lank ons Bybel vers gaan wees, die tema van die boodskap, wat ons gaan sing, of ons gaan bid en hoe lank. Baie glo dat prediking ook nie meer so belangrik is nie, want mense is gewoond aan visuele beelde en monoloog is dalk nie so goed nie. Maak nie saak of God se opdrag is dat die Woord gepreek moet word nie of dat dit die wyse is waarop God mense red nie. 1 Korintiërs 1:21 Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red.
Alles moet egter gedoen word soos wat God ons oproep om te doen. Ons sing in eredienste en daarna, want dit is wat God van ons vra. Kolossense 3:16-17 Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
Daar is hoeveel ander dinge in die kerk van God wat verander word om mense te akkommodeer. Die tug word nie meer toegepas nie, want dit is te moeilik, ongeag wat God se opdrag daaromtrent is. “Dit skrik mense af” is die verskoning. Ek wonder wat ons vandag sou sê van Ananias en Saffira wat dood neergeslaan het omdat hulle vir die Heilige Gees gelieg het. Dit was bedoel om mense af te skrik – ons moet besef ons is besig met ‘n Heilige God en om aan Sy opdragte te verander is arrogansie en sonde!
Ons kan nie
Enige iets onder eenhonderd persent is sonde. Hoe meer dit ons begeerte is hoe meer besef ons dat dit alleen op grond van Sy genade kan wees dat ons vry kan kom van sonde. Die gelowige het dan ook daagliks ’n stryd teen die sonde om aan God gehoorsaam te wees. Hebreërs 12:4 Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. Ons moet egter besef dat God niks van ons vra waarvoor Hy ons nie die krag gee nie. Daarom sê Fil. 4:13 “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Slotsom
Die mens was perfek en het gesondig. Die perfekte toestand het verander in een van absolute onvermoë om God gelukkig te maak en vir Hom te kies. Ons is verewig verlore in hierdie toestand. Dood. Van God verwyder……….
……..maar in Christus het daar vir ons verlossing gekom en versoening met God. In Christus word ons weergebore as nuwe mense en deur die Heilige Gees word ons daagliks geheilig. Ons is gewas met Christus se bloed en geklee in Sy lewe van Regverdigheid – as kinders van God.
Prys Sy Naam!
