- What are God’s works of providence?
God’s works of providence are, his most holy, wise, and powerful preserving and governing all his creatures, and all their actions
11. Wat is God se voorsienigheid?
God se werk van voorsienigheid is, Sy mees heilige, wyse en magtige onderhouding en regering van sy skepsels en al hulle aksies.
God is. Hy regeer volgens Sy raadsplan en bring tot uitvoering dit wat Hy (Vader, Seun en Heilige Gees) beplan het, deur Sy werk van voorsienigheid.
Verstaan ons dit? Ek dink nie ons sal ooit die volheid hiervan kan begryp nie. Dit is te groot – God die Vader, Sy Seun en die Heilige Gees het saam beraadslaag en besluit om die aarde te skep, hoe dit sal lyk, wie hier sal wees, wat sal plaasvind en hoe alles sal afspeel. God het die verhoog geskep en alles en almal daarop. Hy het die toneelstuk geskryf en die rolverdeling gedoen. Verder is Hy die regisseur en die direkteur en die kostuumontwerper. Die toneelstuk is daar om Hom te verheerlik en Hom alleen.
God se voorsienigheid kan ook beskryf word as die onsigbare hand van God wat aan die werk is in die ganse heelal, die fisiese wêreld, die sake van nasies, die lot van elke mens – sy geboorte, lewe, suksesse, mislukkings – alles wat soms toegeskryf word as toevallig, die onbelangrike en onbenullige, die beskerming van gelowiges, die voorsiening van ons behoeftes (geestelik en liggaamlik), die antwoord op ons gebede en die straf van die bose.
God regeer en onderhou in wysheid, mag en heiligheid.
Sy Regering is in Wysheid.
Elke besluit wat geneem word, is in wysheid. Net een wat alles verstaan kan in algehele wysheid besluite neem. Ons as mens is tydelike wesens. Die psalmdigter beskryf die mens in Psalm 103:15 Die mens—soos die gras is sy dae; soos ‘n blom van die veld, so bloei hy. As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie. Ons dae is soos gras, of soos ’n blom. Een oomblik is ons hier en die volgende is ons weer stof. Daar is nie ’n manier wat so ’n kortstondige bestaan die mens wysheid kan gee wat vergelyk kan word met God se wysheid nie. As ons dus praat oor God se voorsienigheid in wysheid moet ons vir mekaar sê dat ons aan hierdie kant van die ewigheid nooit God se wysheid en Sy optrede ten volle sal kan begryp nie. Dank die Here dat vanuit Sy Woord ons hierdie wysheid kan leer ken en dat ons in ’n spieël Sy wysheid kan bekyk – al is die spieël aan hierdie kant van die ewigheid vir my as mens op sy beste ’n dowwe spieël. 1Korientiers 13:12 Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.
Sy Regering in Mag
In die Skepping ontdek ons hoe God geskep het met ’n wysheid wat ons verstand te bowe gaan. Die natuur word meestal bestuur deur die natuurwette soos wat God dit neergelê het. Die manier hoe die seestrome werk, die winde waai, storms vorm, water oor kilometers deur wolke “gedra” word tot waar God bepaal dit moet reën, die vlug en migrasie van diere, geboortes en duisende ander dinge in die natuur gebeur meestal op ’n vaste manier soos deur God neergelê. Daar is egter voorbeelde in die Bybel waar God die natuurwette verander soos Hy wil. Die verhaal van Moses, Daniel, Jona en Josua en hoeveel ander getuig daarvan. Verder is dit ook belangrik dat God weet van elke mossie wat op die grond val. Matteus 10:29 Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. As jy dink die detail is te veel vir God – dink weer! Hy is alwetend, almagtig en alomteenwoordig. Sy krag is onuitputlik. Hy mors nie krag op ’n mossie nie, want Sy krag kan nie opraak nie. Omdat Hy almagtig is weet Hy alles en kan alles beheer sonder dat Hy moeg word of rus nodig het. Psalm 121:4 Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.
Sy Regering is Heilig
As God dan die Skepping so regeer en onderhou, wat dan van sonde? Ons sou blind wees as ons nie die gevolge van die sonde in ons eie lewens, die wêreld en die skepping raaksien nie. Dit is belangrik om te besef dat God nie die outeur van sonde is nie. God laat in Sy almag toe dat sekere sonde voorgaan, maar nooit is enige iets buite God se beheer nie. Daar is geen sonde of iets sleg in Hom nie. Daarom kan die mens volgens Jakobus nooit sê dat God die mens versoek nie Jakobus 1:13 Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Hy is dus nie die oorsprong van kwaad of van die slegte nie. Hy is die een wat heilig. Sonder sy voorsienigheid sou niks op aarde heilig wees nie, maar totaal aan die slegte oorgegee wees. Daarom sê die Psalmdigter in Psalm 145:17 Die HERE is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke
Waar bring dit die gelowige?
God sal in Sy wysheid en heiligheid en mag alles bewaar en bestuur. Spreuke 16:9 Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die HERE rig sy voetstappe. Alles! Alles wat Hy geskep het en alles wat Sy skepsel doen en nog sal doen. As God alles van my weet, my lewe vooruitbeplan het van die grondlegging van die aarde, weet wanneer en hoe ek gaan sterf, wat maak my anders as ‘n robot wat net geprogrammeer is om te doen dit wat alreeds bepaal is? As God my lewe beheer, hoekom maak ek nog keuses, hoekom oefen ek en eet ek gesond. God weet alreeds wanneer ek gaan sterf! Wat van die mens se vrye wil? Omdat hierdie ongelooflike moeilike vrae is vir enige een om te beantwoord is dit hier waar die gelowige in geloof moet wandel met die vaste wete dat Hy is wie Hy sê Hy is.
Die mens se vrye wil
Die mens se wil kom tot stilstand voor God se voorsienigheid. Hy het vrye keuse solank God dit toelaat vir sy heiligheid en volgens sy wysheid. Volgens Spr. 16:9 rig God die mens se voetstappe. Dit is belangrik om te let daarop dat Hy dit doen sonder om die mens se vryheid weg te neem en sonder om die mens se verantwoordelikheid oor sy keuse weg te neem. Hoe God dit doen, is een van die misteries wat ons aan hierdie kant van die hemel nooit sal verstaan nie. Ons sien baie voorbeelde hiervan in die Bybel. Jacob trek sy een seun voor – uit eie keuse – en die gevolge daarvan is duidelik in die Bybel. Tog sien ons God se hand van voorsienigheid met soveel duidelikheid as Josef dan ’n hele volk van hongersnood red. Jesus se kruisiging is seker een van die beste voorbeelde. Judas moes Jesus verraai en hy doen dit uit vrye wil. God dwing hom nie om iets te doen, wat hy eintlik nie wou doen nie. Hy was bestem om dit te doen, tog rus die volle verantwoordelikheid vir dit wat hy gedoen het op hom. Matteus 26:24. Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.
Pyn en hartseer
Die oomblik as God se voorsienigheid ook die moontlikheid van slegte en pynvolle dinge op aarde insluit, raak dit vir baie ’n probleem. Ons voel ons wil God “verdedig” as ’n liefdevolle God wat “net alles wat mooi en goed is” vir Sy kinders wil hê – asof pyn op aarde die liefde van God uitkanselleer. Ons hoef God nie te verdedig nie. Hy is alwetend en weet wat die beste is vir ons en tot Sy verheerliking is. Ons verstaan nie alles nie. Die alternatief dat God nie in beheer is nie is nog meer vreesaanjaend. Hier kan ons net vra vir die krag en geloof om vas te hou aan Romeine 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk…
’n Verhaal wat hierdie gedagte goed illustreer is in Handelinge 12. In hierdie gedeelte vang die wrede Herodes Jakobus, die broer van Johannes en een van die apostels en laat hy hom met die swaard doodmaak. Toe hy sien dat dit die mense behaag het hy besluit om Petrus te vang en hom ook tereg te stel. Daardie nag het God toe Sy engel gestuur en Petrus laat vry kom. Dit wys dus dat God voorsien en dat dit in sy wysheid gedoen word. Hoekom word een kind vermoor en die ander vrygelaat? Hoekom voorsien God nie vir albei nie? Dit was nie dat die een minder sonde gehad het of die ander iets verkeerd gedoen het nie, nee, God se voorsienigheid het in al twee se lewens gewerk, volgens Sy wysheid het Hy besluit.
Suksesse en mislukkings
God onderhou en regeer, in die woestyn en in Kanaän. Soms sien ons net God se voorsienigheid wanneer ons in die moeilikheid is – in die woestyn. Maar dieselfde God as wat die water uit die rots gegee het, gee die melk en heuning. God is in beheer wanneer jy misluk en hy is in beheer wanneer jy sukses behaal. Dikwels dink ons as dinge verkeerd loop is dit God se skuld en wanneer ek sukses behaal my eie prestasie. Nee – God se voorsienigheid bepaal jou rigting.
Rus, vertrou en aanbid
Die feit dat God se voorsienigheid en nie geluk of die noodlot nie, my lewe bepaal, is veronderstel om vir die gelowige ’n ongelooflike bron van rus en vrede te wees. Die God van die heelal is in beheer. Ek kan rustig wees en Hom vertrou. Dit is nie veronderstel om die bron te wees van allerhande debatte en kontroversie nie. Ook is dit nie veronderstel om die mens die idee te gee dat ons net robotte is wat eintlik geen seggenskap het in wat ons gaan doen nie. Romeine verwoord hierdie idee goed as Paulus vra: “Waarom verwyt Hy ons dan nog” Indien dit jou uitkyk op die lewe is, ken jy God nie. As kind van die Here is my grootste begeerte om nou my keuses en besluite te rig volgens Sy Woord. Om op te tree soos wat ek weet Hy van my vra. Ons moet weet dat ons rekenskap gaan gee vir ons sonde en die konsekwensies van verkeerde dade gaan dra. Ons kan egter ook weet dat wat ook al die konsekwensies is, God nie daardeur onkant gevang is nie en dat geen probleem vir Hom te groot is nie. Geen sonde is te groot om deur Hom vergewe te word nie. Hy is in beheer. Hy is nie ’n God wat met sy vinger in die lug moet staan om seker te maak hoe die wind waai nie. Hy het die wind laat waai!
Hierdie bring ons by totale oorgawe en aanbidding. Wat ’n God aanbid ons nie!? Ons sien God se hand van voorsienigheid in ons lewens die beste as ons in die truspieëltjie kyk en baie min deur die voorruit. Vertrou Hom selfs wanneer jy nie weet wat Sy plan is nie, wanneer dinge nie sin maak nie en jy onseker is. As jy nie weet nie, weet dat Hy weet (Alister Beck)
Hy is ’n rots. By Hom is ons veilig.
