Lyk ek soos my Vader (Vraag 10)

Question 10. How did God create man?

God created man male and female, after his own image, in knowledge, righteousness, and holiness, with dominion over the creatures.

Vraag 10. Hoe het God die mens geskep?

God het die mens, man en vrou, geskep, na sy eie beeld –  in kennis, geregtigheid en heiligheid –  met heerskappy oor die skepsels.

Die kroon van God se Skepping – die mens! Man en vrou, na die beeld van God geskape, om Sy verteenwoordiger op aarde te wees en te heers oor Sy skepping. Toegerus met kennis, geregtigheid en heiligheid.

Ons weet alreeds dat God nie soos ons is nie. God is Gees – ons is vlees. Om na God se beeld geskape te wees beteken  dat ons binne ons ’n geestelike komponent het wat ons onderskei van diere omdat dit ons die vermoë gee om te dink en te redeneer, te weet wat is reg en verkeerd en die belangrikste, om ’n verhouding met God te hê. Hierdie komponent gee aan die mens die outoriteit om te heers oor God se skepping en om op te tree as Sy verteenwoordiger op aarde. Hierdie komponent bevat die kennis, die moraliteit en drang na verhoudings met ander mense en die hoogste drang – ’n verhouding met God.

…..maar iets het hierdie Godsbeeld in ons geskend – Sonde

Ons dra die letsels van Adams se sonde in ons gebrekkige kennis, ons ongeregtigheid en ons mislukte verhoudings met mekaar en ons rebellie teen God. Adam het in sy perfekte toestand teen God gerebelleer en die wêreld, en ons heerskappy daaroor, dra die tekens van hierdie rebellie en sal dit bly dra tot die dag as God die nuwe aarde en hemel skep.

Die toestand van die mens is egter nie hopeloos nie, want herstel is moontlik gemaak deur Jesus Christus. As ‘n nuwe mens in Christus word ons weer herstel in wat ons verloor het in die eerste Adam. Kolossense 3:10  en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper. Hierdie gedeelte toon aan ons wat die betekenis is om na die beeld van God geskape te wees.

Christus kom herstel dus weer hierdie drie komponente (kennis, geregtigheid en heiligheid) sodat ons weer die ware beelddraers van God  en mede-erfgename saam met Christus kan wees.

Hy kom herstel ons Kennis

……kennis van wie God is. Christus het vir ons die Vader kom openbaar en in Hom het ons versoening met die Vader. Jesus is die volmaakte Seun van God, want Hy beeld sy Vader volkome uit. Daarom sê Hy vir Filippus in Johannes 14:9 “...Hy wat My gesien het, het die Vader gesien… In die begin by wedergeboorte is ons nog babas in die geloof en ons groei elke dag na geestelike volwassenheid. Die uiterlike gaan agteruit maar die innerlike word daagliks vernuwe. 2 Korintiërs 4:16  Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.

Ons is meer bevoorreg as Adam, omdat Christus in ons woon en omdat ons elke sekonde in Sy teenwoordigheid wandel. Adam het saam met God gewandel as dit aand geword het. Vandag kom praat God met jou wanneer jy ook al jou Bybel oopmaak. Hy leer jou  wie Hy is, wat is reg en verkeerd (regverdigheid) en leer ons hoe om heilig te leef. Daarom is die Woord so belangrik. Dit is God se openbaring aan ons. Dit is hoe Hy met ons praat en deur die Woord groei ons dus in ons verhouding en kennis van Hom. Die Heilige Gees kom maak ons geestesoë  oop sodat ons die Woord kan verstaan en in kennis en waarheid kan groei. Die Godsbeeld word herstel!

Geregtigheid.

Eph. 4:24. en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Hoe meer ek God leer ken en in verhouding staan hoe meer sal ek wil doen wat reg is. 1Johannes 2:4  Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Om geregtigheid te beoefen volgens die Skrif beteken om te doen wat reg is voor God. Dit word ook soms vertaal as om God se wil te doen. Om dus te doen wat Hy ons geleer het vanuit Sy Woord. Iemand wat bely dat hy /sy God ken maar tog volhard in sonde praat nie die waarheid nie, so ’n persoon kan God nie ken nie. Jesus Christus se lewe van geregtigheid op aarde word aan my oorgedra die oomblik as ek my lewe aan Hom oorgee. As God die Vader na my kyk sien Hy die lewe van Sy Seun – ’n regverdige lewe! Die Godsbeeld word herstel!

Heiligheid

Vandag word die eienskap, heilig, amper as ‘n negatiewe eienskap in iemand gesien.  Dit is ’n woord waarmee jy maklik toegesnou kan word: “So, jy dink jy is heilig?” Asof jy jouself beter ag as ander. Tog is die  strewe na heiligheid ‘n opdrag van God en nie iets wat vreemd behoort te wees vir die gelowige nie. Ons het nie ’n keuse hieroor nie. In die Ou en Nuwe Testament gee God die bevel: ”Wees heilig.” Levitikus 20:7  Toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is die HERE julle God. 1Petrus 1:16  omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. Nie net moet ons heilig wees nie, maar die standaard is Hy self. Ek moet heilig wees soos Hy heilig is. Hierdie eienskap kan alleen sigbaar word in ’n persoon wat nuut gebore is en nuut gemaak is na God se beeld – ‘n persoon wat gevul is met die  Heilige Gees. Die Godsbeeld word herstel!

Daar was ’n groep protestante gelowiges in die sestiende en sewentiende eeu wat Puriteine genoem is. Hulle grootste begeerte was om in hulle lewens heilig te lewe. Hulle was vervolg en gespot deur karikature van gemaak te word. In Shakespeare se toneelstuk Twelfth Night, wat geskryf is in 1601-1602 is ‘n karakter Malvolio, wat iemand is wat vol opinies is en alle plesier wil demp. Die naam Malvolio beteken mal volio beteken ongeliefde of nie lief te hê. In die toneelstuk word hy dan vergelyk met ’n puritein. Hulle is dus gesien as mense wat nie die lewe kan geniet nie of soos ons vandag sê: “Pret bederwers.” Hoeveel keer het jy al in jou strewe na heiligheid hierdie opmerking oor jou keuses en optrede gehoor?  Hier praat ek nie van iemand wat dink hy/sy is beter as ander nie, maar iemand wat ’n opregte strewe het om heilig te leef. So ’n persoon sal nie gelief wees nie. Wat egter die belangrikste is, is dat so ’n persoon die beeld van Christus sal dra. Johannes 7:7  Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is.

Kennis van God, geregtigheid en heiligheid is eienskappe van God se beeld. Ons is geskape om soos Hy te lyk, maar ons het dit met die sondeval verloor.  God het hierdie beeld kom herstel deur Sy seun Jesus Christus. Hy het ons kom wys Wie die Vader is, wat dit beteken om reg te lewe en om sonder sonde te wees – om heilig te wees. As kinders van God het ons die voorreg om deur die werking van die Heilige Gees elke dag vernuwe te word en meer en meer aan Jesus se beeld  gelyk te word. Dus kom ons elke dag nader en nader aan die beeld van God. Om in die Bybel se tyd te leef het beteken dat jy die beroep van jou Pa sou volg. As hy ’n boer was, sou jy ’n boer word. As hy ’n skrynwerker is, sou jy ’n skrynwerker word. Daarom word ons as gelowiges kinders van God genoem. Ons doen wat Hy doen. Ons wil nou die beeld van tweede Adam uitstraal en nie van die eerste nie. 1 Korintiërs 15:49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. 

In Jesus Christus, ons Verlosser, is ons beeld herstel. In Hom is ons meer as oorwinnaars,  mede-erfgename en kinders van God,  geskape na Sy beeld en groei ons elke dag na volmaakte kennis, regverdigheid en heiligheid.

Lyk jy soos jou Vader?