- What is the work of creation?
The work of creation is, God’s making all things of nothing, by the word of his power, in the space of six days, and all very good.
Wat is die werk van skepping?
Die werk van skepping is, God wat alles gemaak het, deur die woord van Sy mag, in ‘n tydperk van ses dae, en alles was baie goed.
Ons het gepraat oor ons doel, oor wie God is, oor hoe Hy homself aan ons openbaar, Sy wil en Sy bevele en hoe Hy dit tot uitvoering bring. Ons het gesien dat God nie soos ons is nie, dat Hy sy bevele tot uitvoering bring deur Sy skeppingswerk en Sy raadsplan van voorsienigheid. Wat word egter bedoel as ons praat van God se skeppingswerk? Die Kerk deur alle eeue het geglo:
God het alles – siende en onsiende – gemaak deur Sy woord in ses dae. En dit was baie goed…..
Vandag word hierdie stelling tot so ’n mate bevraagteken dat Christene onnosel voel om dit net hardop te sê. Hierdie eenvoudige antwoord op die komplekse vraag van die skepping van die heelal, grens aan die belaglike, naïve en oningeligte in sommige se oë. Jy kan of die populêre opinie trotseer, en gebrandmerk word as ‘n naïve kind met ’n blinde geloof, of kies om liewer stil te bly en jou skouers op te haal met die gedagte: “Wat maak dit tog regtig saak?” In laasgenoemde geval kan jy dalk die spot van sommige “geleerdes” vryspring, maar dit sal ’n impak hê op jou Godsbeeld en uiteindelik jou geloof en dalk selfs jou redding.
Die Bybel en die Wetenskap
Vanuit die Bybel is dit duidelik dat God die een is wat alles geskep het. Baie mense vandag sal jou probeer oortuig dat die Bybel en die Wetenskap in een of ander oorlog met mekaar betrokke is. Tog is dit duidelik vanuit die geskiedenis dat baie bekende en prominente wetenskaplikes, bv. Galileo, Pascal, Newton en Pasteur geglo het dat die heelal bestudeer kon word en verstaan kon word omdat die Een wat dit geskep het dit gedoen het met orde en vaste beginsels. Indien hulle soos baie Oosterse gelowe geglo het dat niks ‘n realiteit is nie, sou die heelal nie wetenskaplik bestudeer kon word nie. Alhoewel Galileo se stryd met die Katolieke Kerk, rondom die son as middelpunt van die sonnestelsel, gebruik word om hierdie oorlog te bevestig, was hierdie stelling nooit teen die Skrif nie, maar wel teen die lering van die kerk. Die Skrif is ons hoogste gesag en as God praat van die son wat sy baan volg, is dit soos wat die mens in daardie tyd en vandag nog praat van sonsopkoms en sonsondergang.
Wat ons bring by die volgende punt: die Bybel is nie ’n wetenskap boek nie. Die Bybel beantwoord wel vir ons vrae wat die wetenskap tot vandag toe nie kon nie en slegs teorie voor het:
- Waar kom alles vandaan? Bybel: God het alles gemaak. Wetenskap: Uit niks
- Hoe is alles gemaak? Bybel: Deur God se woord. Wetenskap: Evolusie
- Hoe lank het dit gevat? Bybel: Ses dae. Wetenskap: Biljoene jare
- Hoe was alles aan die begin? Bybel: Goed. Wetenskap: Niks
Sonder om hierdie onderwerp in te veel diepte te bespreek, is dit duidelik dat alhoewel die antwoord van die Bybel nie wetenskaplik van aard is kragtens presies hoe nie, het die wetenskap ook nie hierdie antwoorde nie en het jy selfs meer “geloof” nodig om in hul antwoorde te glo as in die van die Bybel. Die gelowige hoef nie vir een oomblik terug te deins van die antwoord soos dit hierbo uiteengesit is nie.
Vir Gelowiges
Hoekom is dit belangrik dat ons as gelowiges die antwoord oor hoe God geskep het, aanvaar? Hoekom kan ek nie net die wetenskaplike teorie van Evolusie aanvaar nie, aangesien God tog nie in detail sê hoe Hy alles gemaak het nie? Hoekom kan ek nie sê God het evolusie gebruik as die metode waarmee Hy alles geskep het nie?
Dit kom altyd terug na die gesindheid waarmee ek na die Skrif toe kom. Niemand verwag dat jy jou verstand moet een kant sit en net met ‘n “blinde geloof” na die Woord toe kom nie. Nee! Die Bybel praat van ons verstand wat vernuwe moet word. Om soos ’n kindjie na God toe te kom, beteken ook beslis nie om blindelings te glo nie. Dit gaan oor nederigheid en om soos ’n kind te besef hoe afhanklik ons van God is. Die gesindheid waarmee ons na die Skrif toe kom, is dié van nederigheid. God is groot, Hy is almagtig, Hy is die Gans Andere, die Alfa en Omega en as daar dinge is wat ek nie verstaan nie, aanvaar ek dit in geloof dat Hy die Een is wat die beste weet.
As gelowiges kan ons die teorie van Evolusie nie aanvaar nie, omdat dit die Skepper ontken. As Genesis 1 nie waar is nie, wat maak Genesis 2 waar, of Jona in die vis, of Moses en die Rooi see, of die kruisdood of die opstanding!? Kan jy die gevaar sien?
Baie gelowiges sal onomwonde vir jou sê dat hulle glo dat God alles geskep het, maar nie dat Hy dit in ses dae gedoen het nie. As jy na die wonder van die skepping kyk, waarom is dit dan vir jou so moeilik om die tydperk te aanvaar. Asof die tydperk enige verskil sal maak aan die wonder daarvan. Glo jy dat Hy dit kon doen? Verseker! Die rede hoekom baie nie wil sê Hy het dit in ses dae gemaak nie, is omdat hulle dink dit klink onnosel en daarom probeer gelowiges om die Evolusie teorie net so bietjie geestelik in te kleur sodat hulle darem nie geloofwaardigheid in die “geleerde” samelewing verloor nie. Hulle praat van Goddelike evolusie. God het geskep, maar toe die natuurkragte toegelaat om met evolusie die skeppingsproses te voltooi. Of hulle gebruik die gedeelte wat sê dat vir God is een dag soos ’n duisend jaar. 2 Petrus 3:8 Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. Dit kan dan die gedagte regverdig dat elke dag wat in Genesis genoem word eintlik ‘n tydperk is. Wel in dieselfde sin sê die Bybel dat elke duisend jaar vir God soos een dag is! So al wat hierdie gedeelte eintlik wil sê is dat God buite tyd staan.
Verder sê Genesis God het elke dag (yôm) iets gemaak. Die Bybel gaan tot so vêr om vir die mens te verduidelik presies wat God met ’n dag bedoel: “En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.”(Genesis 1:5) Daar is dus geen manier om die teks te lees asof dit ses tydperke (behalwe ‘n dag soos ons dit ken) bedoel nie. Verder sê God aan die einde van elke dag dat dit wat Hy gemaak het goed was. Indien Hy geskep het met die doel dat evolusie die proses verder moet vervolmaak sou God dit nog nie goed genoem het nie.
Die belangrikste rede waarom die gelowige egter nie die Evolusie teorie kan aanvaar nie is omdat dit dood en siekte plaas nog voor die skepping van die mens. Die Bybel sê spesifiek in Romeine 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het en 1 Korintiërs 15:21 Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens, dat die dood ‘n direkte gevolg was van Adam se sonde. ’n Toestand wat oorwin is aan die kruis deur die bloed van Jesus Christus! As die dood nie die gevolg was van Adam se sonde nie, hoe was die offer van Jesus Christus dan die oorwinning oor die dood!
Gevolgtrekking
God het gekies om Homself aan ons te openbaar deur Sy algemene openbaring – Sy Skepping – en die Woord. Hy openbaar Homself as die Een wat alles geskep het en daarom verheerlik moet word. Hy was die enigste een wat daar was toe Hy geskep het en Hy sal die enigste wees wat met sekerheid kan sê hoe lank dit geduur het. Ons kan ons vertroue in Hom plaas bo enige menslike opinie. As iemand in die toekoms die vraag sou vra : “Waar kom alles vandaan?” is die antwoord eenvoudig: “God het dit geskep, deur die Woord van Sy mag, in ses dae. En dit was baie goed”
…en as iemand dit dan verder sou waag en vra: “Hoe weet jy dit?” antwoord eenvoudig: “God het so gesê en ek glo Hom”
