God voorsien (Vraag 8)

8. How doth God execute his decrees?

God executeth his decrees in the works of creation and providence.

8. Hoe voer God sy bevele uit?

God voer sy bevele uit deur Sy skeppingswerk en  Sy voorsienigheid.

In Vraag 7 het ons gesê dat God se bevele dit is wat Hy vooraf besluit het gaan gebeur, sodat Hy verheerlik sal word. Sy bevele is dus Sy besluit en hoe Hy dit tot uitvoering bring is deur dit wat Hy doen.  God het die wêreld gemaak en Hy onderhou, bestuur en voorsien vir Sy Skepping, sodat al sy bevele – dit wat Hy vooraf besluit het – tot uitvoering kom.

Daar is verskillende sienings oor God en sy betrokkenheid by die Skepping. Sommige glo natuurlik glad nie in God nie en sien evolusie as die ontstaan van die heelal. Nog ‘n siening is dat daar ‘n skepper God is, maar dit is ‘n onpersoonlike God, wat die Skepping net laat voortgaan sonder enige direkte invloed daarin. Daar is ook by sommige die siening dat God deel is van Sy Skepping en daardeur beïnvloed word en dus geen beheer daaroor het nie. Ander weer glo dat daar wetenskaplike wette neergelê is en so sal spesifieke oorsake spesifieke gevolge hê.

In die Woord  word God egter aan ons geopenbaar as nie net die Skepper van die heelal nie, maar ook die onderhouer daarvan.  Hebreërs 1:3  “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag…Nie net is Hy die Skepper en onderhouer nie  Hy is ook die bestuurder – dit noem ons Sy voorsienigheid – sodat Sy doel verwesenlik sal word, tot Sy verheerliking. In Efesiërs 1:11 “…..  ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil”

Hier lees ons dat God alles bestuur op grond van Sy besluit en Sy wil.  God voer sy bevele uit deur  Sy Skeppingswerk en Sy voorsienigheid

 Sy Skeppingswerk

Daar is geen manier om na die Skepping te kyk sonder ‘n besef van iets of iemand groter as jyself nie. Hoe kon alles net per toeval ontstaan het? Die heelal is so fyn ingestel dat slegs die bestaan van ‘n almagtige God sin maak. Soos ‘n musiekinstrument wat gesnaar is om die mooiste klanke na vore te bring, so is die toestande op aarde presies gesnaar om die klank van lewe voort te bring. Die aarde se gravitasie, die aantal grade wat die aarde se as gekantel is,  die magneetveld,  suurstof/stikstof verhouding, water verdamping en osoon vlakke is net reg. Die hele skepping sing ‘n lied – God is Groot, God Lewe! In Romeine 1:20 en 21 staan: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; ……

Die Skepping het ‘n doel – net soos ons – om God te verheerlik (Vraag 1). Die Skepping verwesenlik hierdie doel deur te wys na die Een wat dit gemaak het. Ons kan God leer ken uit die asemrowende dinge in die natuur. Sy Skepping vertel van Sy verbeelding, kreatiwiteit, humor, liefde, sorg, wysheid en oneindigheid. Van die grootste sterre in die heelal tot die kleinste deeltjie in die atoom besing die oneindigheid van God. Die siklusse in die natuur van seisoene, reën, voortplanting, ens. dui op ‘n ewige God en gee aan die mens die besef van die oneindige.

God leer ons dus deur sy Skepping wie Hy is. In Jesaja  40:26  se God vir Israel: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.” Dan vertel Hy hulle hoekom Hy wou hê hulle na Sy skepping moet kyk: Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby? Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. (vers 27-28) Die hele skepping luister na God se bevele. Jesaja 45:12  Ek het die aarde gemaak en die mens daarop geskape; Ek—my hande het die hemel uitgespan, en Ek het aan sy ganse leërskare bevel gegee. As Job God bevraagteken antwoord God nie een van sy vrae nie maar bring hom voor Sy Skepping en laat Job verstaan dat die Een wat geskep het meer wysheid het as die een wat vrae vra.

Sy voorsienigheid

As hierdie woord dalk vir jou vreemd is, kan dit dalk help om na sy antoniem te kyk, nl. noodlot of toeval.  Party mense sê: “Wat ook al die noodlot bepaal sal gebeur” of “Dit was darem toevallig” Nee! Niks gebeur sonder God se voorsienigheid nie.

God het nie net geskep nie maar volgens sy bevel hou Hy alles vas. Kolossense 1:17 “ En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.” God het volle beheer oor sy skepping en is nie ‘n afsydige God wat net as ‘n toeskouer staan en toekyk nie. Hy het die skepping in sy hand. Hy laat die son stilstaan vir Josua en bind die leeus se bekke toe vir Daniel. Hy maak die Rooi See oop en laat sy volk droogvoets deur die see loop. Hy gee vir hulle manna uit die hemel en water uit ‘n rots. Hy gee die kraaie opdrag om vir Elia te sorg en Hy vermeerder die vis en die brood sodat 5000 mense kan eet. Hy maak die storm stil en weet van elke mossie wat op die grond val. Hy weet van alles en is in beheer van alles –  lewend en dood, goed en sleg. Daar is nie so iets soos toevallig nie. Hy in beheer en Hy regeer oor alles. Jesaja 46:10 sê dat God  …”van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen…

En ons dan – ek en jy?  Hebreërs 13:5 “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Hoe wonderlik om ons vertroue op Hom te plaas. Om sy raad en plan te aanvaar en nie teen dit te rebelleer nie, maar die knie te buig voor die Een wat volgens Hebreërs 1:3 “…die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte…” Alles word gedra deur die woord van Sy krag. Hy het alles geskep, Hy hou alles in stand en Hy voorsien vir alles. Geen atoom sal een oomblik verander van waar dit deur God vasgehou word nie. Geen haar sal van jou kop afval sonder dat Hy daarvan weet nie. Geen situasie waarin jy jou mag bevind is vir Hom ‘n verrassing of is buite Sy beheer nie. Hy SAL vir jou sorg. Hy wat jou redding en versoening aan die kruis bewerkstellig het, sal jou vashou en bewaar totdat Hy jou kom haal of op die wolke kom. Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet. Watter gerustheid behoort ons as gelowiges nie te hê in Hom nie?

Jou toekoms is in Sy Voorsienigheid!

 

Lewer kommentaar