- What are the decrees of God?
The decrees of God are, his eternal purpose, according to the counsel of his will, whereby, for his own glory, he hath foreordained whatsoever comes to pass.
- Wat is God se bevele?
Die bevele van God is, sy ewige doel, in ooreenstemming met die raadsplan van sy wil, waardeur, vir sy heerlikheid, hy voorbeskik het alles sal plaasvind.
Hierdie antwoord vang mens so half onkant. Jy verwag ‘n lys bevele van wat God wil hê ons moet doen en dan kom die antwoord op die vraag: “Wat is Sy bevele?” eenvoudig en tog so ingewikkeld – Alles! Dit is ’n allesomvattende antwoord wat God se doel en plan met die wêreld insluit. Dit is die definisie – God se bevele is dit wat gebeur.
Binne hierdie antwoord lê natuurlik ook God se spesifieke bevele, wat Hy aan ons gee in Sy Woord, van hoe Hy wil hê sy kinders moet optree, maar dit moet vir elkeen duidelik wees dat daar soveel meer aan Sy bevele is as net bloot dit wat Hy van my en jou verwag. Dink maar net aan hoe die skepping Hom gehoorsaam: ‘n Bos wat brand, maar nie uitbrand nie, ‘n donkie wat praat,’n storm wat stilgemaak word, duisternis en ‘n klip wat wegrol….’n leë graf!
Die belangrikste wat ons as mens moet besef voordat ons God se bevele ondersoek is dat Sy weë nie ons weë is nie en Sy gedagtes nie ons gedagtes nie. Ons dink ons is die belangrikste in God se plan, maar Hy is. Ons lees in Prediker 3:10 “…..Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.” Dan vers 14 “Ek het tot die insig gekom dat wat God doen, blywend is: jy kan daar niks byvoeg nie en jy kan daar niks van wegneem nie. God doen dit sodat die mens vir Hom ontsag sal hê”
Sy bevele is alles wat gebeur het en nog sal gebeur……
Alles? Ja alles.
Ook die oorstromings? Ja,
Die hongersnood? Ja,
Die oorloë? Ja, ook dit.
…en ons kan die lys nog baie langer maak.
Baie mense gebruik dan ook hierdie lys as die rede om nie in God te glo nie. Dis tog jammer dat ons so maklik wegkyk van die werklike Outeur van die lewe en self die storie probeer skryf. Die grootste probleem met die mens is dat ons te veel wil maak van onsself. Ons wil graag dink dat ons baie belangrik is en dat ons dinge kan reël soos ons graag wil. Ons dink dat as ons God was ons dit beter sou kon doen. Dit was dan ook die rede vir die mens se val. Die mens wou soos God wees en wil nog steeds vandag God wees. Ons vergeet dan ook maklik die ellelange lys van redes om wel in God te glo. Voordat ons dus enigsins verder gaan moet jy besef – God is soewerein, in beheer, alwetend en almagtig – en voor hierdie God moet jy jou knie buig.
God se bevele bevat die storie van die mens – tot Sy verheerliking
Alles wat plaasvind is volgens Sy besluit en plan en daarom is daar nie iets soos toevallig of per ongeluk nie. Deur die Bybel lees ons hoe God beplan het en in beheer was van alles. Vanaf Adam en Eva, die Sondeval en die belofte van ‘n Redder tot by my en jou vandag en ons Wedergeboorte deur die Heilige Gees. Ons sien deur die Skrif hoe Hy roep, beloof, bestraf en volbring. Ons kan saam met Bybelse figure stap en sien hoe God Sy plan uitvoer – al vat dit jare in ’n tronk of 40 jare in ’n woestyn – of jare in jou eie lewe voor jy God ontmoet.
Daar is baie stories in die Woord wat van God se plan getuig. Josef getuig teenoor sy broers Genesis 50:20 Want julle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou. God sê presies hoe lank Israel in Egipte sal wees. In daardie tyd gebruik God die hardheid van Farao se hart om sy wonderwerke ten toon te stel, sodat die wêreld kan weet hoe magtig Hy is. Aan die einde van daardie presiese tydperk roep God Moses om Israel te verlos uit slawerny.
Selfs die bestraffing van sy volk is deel van Sy plan en God gebruik goddelose volke om Sy wil te laat geskied. In Jeremia 6:27 sê God van die Babiloniërs: “Ek stel jou aan om my volk te toets.” Tot vir Nebukadnesar wat die koning van Babilon was, het God gebruik om te doen wat Hy beplan het. In Esegiël 29:19-20 sê God dat Hy Nebukadnesar sy loon sal betaal omdat hulle vir Hom gewerk het. Nebukadnesar, ’n goddelose koning, is in God se diens. Die oomblik as Nebukadnesar in Daniel 4 dink dat hy alles self vermag het laat God Hom gras vreet soos ’n dier vir solank God dit bepaal het. Dan gee God aan hom sy verstand terug en bely hy in Daniel 4:35 En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?
Beteken dit dan dat God mense laat sondig om sy plan uit te voer? Nee nooit! God gee soms mense oor aan hul eie drange en drifte en gebruik dit in Sy plan. Romeine 13 sê vir ons dat elke gesag van God af kom – ja, selfs die wreedste regering. As jy dit betwyfel dink aan die profesieë rakende die geboorte van Jesus. Keiser Augustus wil ’n sensus opname doen met die uitsluitlike rede om mense te kry om meer belasting te betaal. Maar reeds in Miga 5, word geprofeteer dat Jesus in Bethlehem gebore sou word. ’n Slegte Keiser met gierigheid en mag as motiewe word die uitvoering van ’n Goddelike plan en Josef en Maria gaan na Bethlehem. Selfs die Goddelose is deel van God se plan en die vervulling van Sy beloftes.
God se bevele bevat die redding van die mens – tot Sy verheerliking
As ons die verhaal van die mens volgens die Skrif sien, besef ons dat alles oor die verheerliking en heerlikheid van God gaan. Die Woord leer ons dat God besluit het om voor die grondlegging van die aarde Sy Seun te stuur vir mense wat toe nog nie eens geskape was nie. Dit is dus God se besluit en sy ewige doel. Dat Hy ons uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld vertel ons baie van wie Hy is en niks van wie ons is nie. Dit vertel ons dat ons nie gekies is op grond van wie ons sou wees of oor hoe wonderlik ons is nie, maar oor hoe wonderlik Sy genade is. Efesiërs 1:4-6 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.
Genade is alleenlik genade as die een waaraan dit bewys word dit nie verdien nie. Die oomblik as die mens dit verdien hou dit onmiddellik op om genade te wees. Die daad van uitverkiesing en die besluit voor die grondlegging van die aarde om Sy seun te stuur skep in ons dankbaarheid teenoor hierdie Grote God wat so genadig en liefdevol is. Hierin besing ons as gelowiges sy lof en beslis nie ons eie lof nie. Dit bring elke gelowige by die besef van Johannes 3:30 Hy moet meer word, maar ek minder.
Baie keer word daar selfs na Christus se kruisiging gewys asof dit iets sê van hoeveel waarde ek het.”Ek was so spesiaal en so belangrik vir Sy plan dat Christus vir my gesterf het aan die kruis.” Hierdie manier van dink maak baie van die mens en maak dat die kruisiging dus nie meer ’n daad van genade is nie, maar iets wat die mens verdien. Efesiërs 2:8-9 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Die kruisiging verheerlik God en maak God groot, want God het nie lief omdat ons liefde verdien nie, maar omdat God liefde is. Hy het ons lief en het Sy lewe gegee toe ons sondaars was en vyande van Hom. Romeine 3:24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.
Is ek waardevol en spesiaal? Ja, verseker! Want ek is duur gekoop deur die bloed van Jesus en is nou ‘n kind van God. Ek is dus waardevol omdat God my gekies het en nie – ek is gekies omdat ek waardevol is nie.
Hy het dit vooraf bepaal – alles wat gebeur en nog gaan gebeur. Mattheus 25:34 Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.
Ons hoef nie in vrees vir die toekoms te lewe nie, dit is deel van God se bevel – ‘n bevel wat die storie van die mens en die storie van sy redding bevat. ‘n Bevel waarvan die einde op aarde aan ons geopenbaar is in Openbaring met ‘n Ruiter op ‘n Wit perd wat die finale oorlog wen, en ‘n feesmaal in God se Koninkryk wat in ewigheid nooit sal ophou nie.
“Amen! Kom, Here Jesus!”
