God openbaar Homself (Vraag 3)

  1. What do the Scriptures principally teach?

The Scriptures principally teach, what man is to believe concerning God, and what duty God requires of man. 

  1. Wat leer die Skrif ons in wese?

Die Skrif leer ons in wese wat die mens moet glo rakende God en wat God van die mens verwag.

Ons het gesien dat die mens se hoofdoel is om God te verheerlik en te geniet en dat die Skrif ons wys hoe om dit te doen. Ons het gesien dat die enigste manier om ware geluk en vervulling te ervaar is om aan bg. te voldoen. Ongelukkig kan dit daartoe lei dat ons nou na die Skrif toe kom met ‘n verkeerde verwagting, nl. my doel, my genot, my geluk…..

Die mens is in wese selfgesentreerd en die vrae waarmee ons die meeste worstel is die “ek-vrae.” Ek is die son van my sonnestelsel en alles draai om my. Ek evalueer alles in terme van hoe ek daaroor dink en voel, hoe dit my lewe kan verbeter of bevorder of meer sinvol maak. Nie al hierdie vrae is noodwendig  verkeerd nie, maar as jy diep genoeg delf is ons motiewe feitlik altyd selfgesentreerd.  Toets dit maar.  Daarom is selfhelp- en motiveringsboeke sulke gewilde verkopers – selfs in Christelike boekwinkels.

Die Bybel gaan egter in wese nie oor my nie, maar oor die Een wat my gemaak het. Joh. 5:39 Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. Die Bybel gaan oor God – dit is SY Storie waarin HY die hoofkarakter is. Daarom is die wese van die Skrif die vraag na wat God van Homself sê en wat God van my verlang.

In Vraag 2 het ons gesê dat wat God van Homself sê,  alleen geopenbaar word in die Skrif. Hier leer ons wie God is. Soms deur wat Hy van Homself sê, soms deur sy aksies soos opgeteken deur die verskeie skrywers en soms deur wat ander van Hom sê vanuit ’n persoonlike verhouding met God, bv. die Psalms van Dawid.  In al hierdie gevalle is dit belangrik om te besef dat die outeur altyd God self is en dat daar niks in die Bybel aangaande God gesê word wat Hy nie wou hê die mens oor Hom moes weet nie. Dit is nooit  ’n mens wat aan ons openbaar wie God is nie, maar God self wat in menslike taal met ons in gesprek tree oor wie Hy is.

“Ja, maar tye verander en God wil dalk nuwe dinge oor homself aan die mens bekend maak of het van gedagte of karakter verander in 2000 jaar. “ Nee, nooit! Omdat God almagtig, heilig en soewerein is, is dit belangrik vir ons as mense om te verstaan dat die God van die Skrif nooit verander of van gedagte verander nie. Num.23:19  God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?

Mal.3:6  Want Ek, die HERE, het nie verander nie…

Die God van gister is dieselfde God van vandag. Wat Hy 2000 jaar terug verlang het, is nog steeds dieselfde en daarom kan daar onomwonde verklaar word dat die Skrif genoegsaam is om ons te help om in Hom te glo, Hom te ken, te geniet en  te gehoorsaam. Mense kan boeke skryf oor God en dit is soms leersaam, maar dit moet altyd gefundeer word vanuit die Skrif. Die Skrif leer ons wat ons van God moet glo.

Nou kom ons terug by ons aanvanklike probleem, nl.  die verwagting waarmee ek na die Skrif kom en my selfgesentreerdheid. Die moet is belangrik, want dit forseer ons om na die Woord te kom op God se terme – Sy Storie.  Ek kan nie na die Skrif kom op my terme nie:

“Ek hou hiervan, maar hierdie wil ek liewer nie glo nie”

“God se wraak? Nee – dis te erg”.

“ ’n Liefdevolle God en die hel? Onversoenbaar!”

My knie moet voor Hom buig en Hom aanbid en prys oor elke openbaring van wie Hy is vanuit die Skrif. Ek wil dit baie prakties maak. In die Skrif ontdek ons ’n karaktertrek van God waarvan baie mense nie hou nie en waaroor die meeste kerke vandag nie meer wil praat nie. God se toorn.  Ps 7:11 God is ‘n regverdige regter, en ‘n God wat elke dag toornig is. Ons lees van ’n God wat nasies uitwis oor hulle sonde en volharding daarin. Hy verander nie in die Nuwe Testament nie en in Romeine sê Paulus: Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk… Die Skrif leer ons dus dat God sonde haat en dat sy toorn elke dag is oor die wat aanhou sondig. Jou vraag mag miskien wees: ”Ja, maar ek hou van die kruis en God se liefde vir die sondaar wat ek daar sien.” Ek ook. Daarsonder sou ek verlore wees. Die kruis openbaar egter God se toorn oor sonde en nie sy liefde vir sonde nie. Daarom is God se toorn uitgestort op Sy Seun aan die kruis. Die kruis is dus ’n herinnering van waar liefde en toorn mekaar ontmoet in God se plan. God openbaar deur die Skrif aan ons dat Hy sonde haat en dit dryf my na die kruis, sodat ek vergifnis kan ontvang en die Lewe kan verkry. Kan jy sien hoe belangrik dit is dat ons elke openbaring van God oor Homself glo? So nie sal ons Sy reddingsplan mis, want as ek Sy getuienis aangaande Homself aanvaar en dit glo bring dit my by: “Here ek glo dit – wat wil U hê moet ek doen?” Wat ek glo aangaande God bring my by wat God van my verwag.  Rom10:17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.

Jou Godsbeeld gaan bepaal hoe jy jou daaglikse lewe inrig, jou vrese, jou vreugdes, jou prioriteite – net mooi alles. Ek het al mense hoor sê dat mens nie te diep moet probeer verstaan nie solank jy die kruis verstaan en dat God jou lief het, is alles piekfyn. Regtig? Kan jy die kruis van Jesus verstaan sonder om die toorn van God te verstaan? Kan jy die toorn van God verstaan sonder om Sy heiligheid te verstaan? Kan jy Sy genade verstaan sonder om Sy regverdigheid te verstaan? En as jy Sy genade verstaan hoe anders as om in absolute gehoorsaamheid te wil lewe?! Daar is ongetwyfeld dinge wat ons nie verstaan nie, ander sou ons God wees, maar dit wat Hy wou hê ons van Hom moet weet het Hy met ’n rede aan ons geopenbaar in die Heilige Skrif. En dan bring dit ons by: Rom11:33-36 o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?

Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

 

Glo Hom.