- What rule hath God given to direct us how we may glorify and enjoy him? The Word of God, which is contained in the Scriptures of the Old and New Testaments, is the only rule to direct us how we may glorify and enjoy him.
- Watter reël het God gegee om aan ons te wys hoe Hy wil hê dat ons Hom moet verheerlik en geniet? Die Woord van God, wat omvat is in die Skrif van die Ou en Nuwe Testament, is die enigste reël om vir ons aan te toon hoe ons God moet verheerlik en geniet.
Die skeppingsdoel van die mens is om God te verheerlik en Hom te geniet. Die direkte vraag wat hierop volg is: “As dit my skeppingsdoel is, hoe doen ek dit?” Indien ek wil weet hoe ek iemand gelukkig kan maak is die belangrikste sekerlik om te weet waarvan hou hy/sy en waarvan nie? Wat is vir hom of haar belangrik en hoekom? Nog verder, as jy ’n persoon wil geniet moet jy die persoon verseker ken. Wat maak die persoon besonders – ’n bron van genot? Hoe weet ek die antwoord op hierdie vrae as die persoon God is?
– Jy bestudeer Sy spesifieke openbaring van wie Hy is, nl. die Woord –
Daar is twee baie belangrike woorde in die antwoord op die vraag van hoe God wil hê ons Hom moet verheerlik en geniet en dit is die woorde: “enigste reël”
- Eerstens – die woord “reël” impliseer dat dit iets is wat vasgemaak is deur ’n hoër gesag, in hierdie geval, God. Dit kan nie deur die mens verander word soos wat dit hom/haar pas nie en is ’n opdrag. “Dit is Wie Ek Is en dit is hoe Ek wil hê die mens teenoor My moet optree a.g.v. Wie Ek Is”
- Tweedens – die woord “enigste” impliseer dit is al manier. Nie net kan ons nie aan die reël verander nie, ons mag ook nie iets daarby voeg of wegneem nie. Daar is nie ander reëls of ander openbarings of ander maniere – hoe jy dit ook al wil bewoord – as wat die Skrif, soos aan ons gegee in die Ou en Nuwe Testament, vir ons leer nie.
(Indien jy die gesag of onfeilbaarheid van die Skrif soos ons dit vandag het wil bevraagteken, is daar baie bronne en boeke wat spesifiek oor die ontstaan en waarheid van die Skrif handel wat u kan gaan lees en bestudeer (bv. RC Sproul: Reason to believe ) Hierdie inskrywing gaan egter nie hierop fokus nie.)
Ons gaan voort met die verstane dat u, net soos ek, die Skrif as die enigste en onfeilbare Woord van God aanvaar. Hoekom is dit belangrik dat u die woord “enigste reël” verstaan? Omdat ons ongelukkig egosentriese wesens is wat dikwels probeer om ander gelukkig te maak op die manier wat ons die beste pas of wat ons gelukkig maak. ‘n Maklike voorbeeld is dalk – ek sal my vrou uitneem vir ete, want ek hou ook daarvan om te gaan uiteet, maar met die skottelgoed sal ek haar nie help nie – dis nie ’n man se werk nie. Op dieselfde manier probeer ons dikwels God verheerlik – op maniere wat my gelukkig maak en waarvan ek hou, maar nie noodwendig die manier wat God van my vra nie.
Mag ons God op enige ander manier verheerlik en geniet as wat die Woord ons leer? Kan iemand môre aan ons kom sê dat God aan hom ‘n ander manier van aanbidding as wat die Skrif ons leer geopenbaar het? Een van die tekste wat die Westminster aanhaal is Gal 1:8-9 wat ons leer dat al sal daar ook ‘n engel uit die Hemel kom om ons ’n ander evangelie te leer as wat ons gehoor het, moet ons dit nie glo nie. Daar sal dus geen nuwe openbarings wees nie. Die Skrif is genoegsaam.
Die gedeelte in die Skrif wat hierdie punt vir my die beste illustreer is die gedeelte in Eksodus 32. Moses is teen die berg op om God te ontmoet en die Tien Gebooie te ontvang. Terwyl hy lank wegbly besluit die volk om ’n goue kalf te maak en die kalf te aanbid. Aaron maak die kalf en die volk aanbid die kalf. Nou raak dit interessant. Die volk aanbid die kalf maar roep die kalf aan as: “Die God wat hulle uit Egipte land gelei het”. Hulle wou God op hulle manier aanbid. Hulle wou hom sien, hom beheer en eer op hulle manier. In die Tien gebooie sê God dat ons nie ’n afbeelding van Hom mag maak nie. Dit het nie net te make met ’n oprig van ’n afgodsbeeld nie, maar ook om God op enige ander manier te aanbid of uit te beeld as wat Hy uitgebeeld word in die Skrif.
Ek wil graag ’n eie tydse voorbeeld gebruik om te illustreer hoe maklik ons God wil verheerlik op ’n manier wat Hy nie voorgeskryf het in Sy Woord nie. Daar is ’n tendens in sekere Christelike kerke wat vir my vreemd is aan die Skrif. Jesus sê in die Bergpredikasie (Matt6:7) dat ons nie moet bid met ’n herhaling van woorde soos die heidene nie. Ps. 139:4
Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al.
In die heidense godsdienste sou mense woorde oor en oor herhaal om in ’n trans te gaan. In groot groepe word dit gedoen om mense in beswyming te bring – ’n soort massa hipnose. Ons sien dit in die verhaal van Elia op die berg Karmel, hoe die valse profete oor en oor geroep het tot die gode en later hulle self begin sny het. Sommige kerke beveel hul lidmate aan om op ’n sekere woord te mediteer, hulself “leeg” te maak van ander gedagtes en die woord oor en oor te herhaal, dit te visualiseer. Of om woorde in ’n lied oor en oor te sing – dit doen dalk iets vir ’n gevoel van euforie, maar het geen betekenis vir jou verhouding met die Here nie. Ek praat nie hier van ’n koor gedeelte wat herhaal na ’n vers nie, maar wel ’n frase wat soms tot 20 keer herhaal word. Hierdie manier is heeltemal vreemd vanuit die Skrif. Die Psalms is lofsange aan die Here en nêrens het die digter woorde of parafrases oor en oor herhaal nie. Die enigste Psalm waar ‘n herhaling voorkom is in Psalm 136. Hier word elke keer ’n nuwe lofprysing aan God gesing en ’n antwoord gegee op grond van hierdie nuwe lofprysing. Dit is dus nie net die doellose herhaling van woorde nie, maar ’n poëtiese verhaal met ’n koor van stemme wat die aanhaling bevestig – dit is waar.
Dus kan ons sien dat die manier waarop mense God verheerlik getoets moet word op grond van wat die Skrif daaroor sê en nie bloot op grond van die individu se voorkeur aanvaar kan word as reg nie. In ons eie, en die kerk se verheerliking van God, het ons nodig om seker te maak dat dit bevestig word vanuit die Skrif. Voor ek verder gaan wil ek nog ’n voorbeeld gebruik. Dit is vir my wonderlik om te sien hoe manne en vroue voor God gebid het. Party het gelê voor God in aanbidding, party het gestaan, party het gekniel. Deur te sê dat die Skrif “die enigste reël” is, is dus so ’n omvattende term en sluit dit soveel maniere van aanbidding in, solank die persoon met ’n hart wat opreg is na God wil gaan. Daar sal dae wees wat jy wil kniel, dae wat jy voor God wil lê, tye wat jy stap of sit en met Hom praat. Vanuit die Skrif sien ons dus dat dit nie die posisie van gebed is nie, maar die hart is waarna God kyk.
Hoe kan ek hierdie riglyn in my lewe prakties maak sodat ek God alleen sal verheerlik en geniet soos die Skrif my leer. Begin met jou stiltetyd. As jy die eerste keer hiermee wil begin, lees eers ’n paar keer deur die Nuwe Testament. Dan kan jy die Ou en Nuwe Testament saam begin lees – miskien twee hoofstukke uit die Ou- en twee hoofstukke uit die Nuwe Testament. Lees die hoofstukke en vra jouself af wat die Skrif jou leer aangaande God en hoe om Hom te verheerlik en wat jy vandag geleer het waarvoor jy die Here kan prys. Wat kan ek met ander mense deel en waaroor kan ek bid en dan gaan doen jy dit.
Miskien lees jy vanoggend in jou stiltetyd Hebreërs 7:25
“Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.”
Hierdie gedeelte gaan oor Jesus wat ons hoëpriester is. Ek kan uit hierdie gedeelte die Here prys dat Hy my volkome kom red het, dat ek nooit hoef te twyfel oor my redding nie. Verder kan ek Hom prys dat hierdie gedeelte my leer dat Jesus nog steeds vir my intree by die Vader. Hoe wonderlik is dit nie, dat Hy wat aan die Regterhand van die Vader is, vir my intree nie? Nie net verheerlik ek Hom vir wat hierdie gedeelte my van Hom vertel nie, maar dit bring vreugde in my hart. Ek kan soveel voorbeelde noem van gedeeltes waaruit God se karakter duidelik na vore kom – Sy soewereiniteit, Sy liefde, Sy kreatiwiteit, Sy regverdigheid, Sy Jaloesie oor Sy kinders en selfs Sy humor. Al manier om God te leer ken is om sy Woord, sy brief en openbaring van wie Hy is te LEES en te bestudeer.
Begin Vandag.
