Jou Hoofdoel (Vraag 1)

Korter weergawe van die Westminster belydenis sê:

  1. What is the chief end of man?
    Man’s chief end is to glorify God, and to enjoy him forever.

Wat is die hoofdoel van die mens?  Die hoofdoel van die mens is om God te verheerlik en Hom te  geniet, vir ewig.

Dit is seker die belangrikste vraag  om te beantwoord, voordat daar enigsins oor enige ander aspekte van ons verstaan van God en Sy Woord gepraat word- die eeu oue vraag : “Hoekom is ek hier?” Is ons, en die res van die skepping, net ‘n kosmiese verrassing of was, en is, daar ‘n rede vir ons bestaan. Die Kerk antwoord hierdie vraag deur te sê dat dit duidelik is vanuit God se Woord dat ons gemaak is om God te verheerlik en Hom te geniet, vir ewig.

 Is die antwoord reg?

Verseker – dit is die begin van die storie, die inhoud en die slot. Indien ons hierdie nie verstaan nie, is ons lewe ‘n gejaag na wind en eindig dit altyd, al is jy hoe suksesvol, in mislukking, want elke mens sterf en word weer stof. Jou lewe – die blote feit dat jy bestaan – verheerlik God, of jy nou gelowig is of nie. Die Bybel sê ons is wonderbaarlik gemaak (Ps 139). Die ongelowige verheerlik God dus onwillekeurig, maar selfs die ongelowige sal God moet verheerlik as Hy weer verskyn op die wolke. Almal sal moet erken dat Hy God is. Vir die ongelowiges sal dit egter te laat wees.

Verseker – dit is geanker in die onveranderlike God. Ons doel wankel nie, want God wankel nie. Daarom kan ons God verheerlik ongeag die omstandighede. Oor wie Hy is, my bestaan, Sy skepping en bowenal, Sy Redding deur Jesus Christus. Of ons siek is of gesond, suksesvol in wêreldse terme of onsuksesvol, ons doel is nie om mense te beïndruk nie – ons fokus is God.

Die eerste deel van die antwoord is duidelik – om God te verheerlik

Ons het reeds gesê dat die hele skepping God verheerlik, net deur die blote heerlikheid en wonderbaarlikheid daarvan. As kind van God moet ek egter God verheerlik met meer as net die blote feit dat ek bestaan.

Hoekom? Het God dit dan nodig?  Nee, maar ek en jy het, want dit is ons skeppingsdoel en daarsonder bly ons leeg en onvervuld – altyd soekend. Daarsonder word ons die dienaars van afgode wat ons laat rondslinger soos ‘n riet in die wind.

Jy ontken dalk dat jy afgode dien: “Ek aanbid nie beelde nie!”  Indien jy egter enige iets belangriker in jou lewe maak as God, aanbid jy afgode. In Kolossense sê Paulus dat gierigheid afgodediens is. Die rede hiervoor is dat ons baie keer geld of besittings belangriker maak as God. As ek iets self skep, maak ek dit vir ’n bepaalde doel. As daardie doel waarvoor ek dit gemaak het nie ten volle verwesenlik word nie sal ek dit vernietig. Is daar enige rede hoekom jy iets sal hou wat nie meer die doel verwesenlik waarvoor dit gemaak is nie? Miskien sal jy dit nog hou vir ‘n stukkie nostalgie oor die tye wat dit wel gewerk het. Vir God om die mense te laat lewe indien hulle nie hul skeppingsdoel verwesenlik nie, spreek van ‘n ontsaglike groot genade. Hoe kan ons net verby Hom kyk? Hoe kan  ons blote skepsels en ons eie skeppinge bo Hom verheerlik en geen tyd aan Hom spandeer nie? Kan ons verstaan hoekom ons lewens so leeg en sonder betekenis is? Ons honger en smag na iets meer, want ons is gemaak vir meer – ’n verhouding met die Almagtige en Enige God!

Daarom word die gedagte van verheerliking van God en vreugde in God aan mekaar gekoppel.

Dit bring ons by die tweede deel van die antwoord – Om God te geniet.

As ek die doel verwesenlik waarvoor ek geskep is, dan alleen sal ek vreugde ten volle kan beleef. Dawid getuig van hierdie vreugde in God in Psalm 84

Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel  van die huis van my God as om te woon in huise sonder God.

Uit die Nuwe Testament weet ons dat ons nou die Tempel is. God se teenwoordigheid in my lewe is beter as enige iets anders wat die wêreld vir my kan bied.

Baie min gelowiges dink aan hulle verhouding met God as ‘n bron van genot. Jesus verduidelik dit aan die vrou by die put  met ‘n beeld van water wat Hy vir haar sou gee,  wat soos ’n fontein sal wees wat uit haar opspring na die ewige Lewe. Ons kan die vreugde wat God die mens gee opdeel in twee dele: nl. algemene vreugde en verhoudingsvreugde.

Die vreugde wat God vir almal gee, wil ek sy algemene vreugde (gebore uit die begrip van algemene openbaring) noem. Elke persoon op hierdie aarde kan vreugde put of het al vreugde geput uit God se skepping – of hy/sy God nou daarvoor die eer wil gee of nie. Of dit ‘n sonsopkoms of -ondergang is. ’n Springbok wat pronk en die haartjies wat regop staan op sy rug en ’n reuk van heuning afgee.   ’n Olifant wat trompetter of ’n leeu wat  êrens in die nag van hom laat hoor. ’n Ma en pa wat hulle klein pasgebore baba vashou. Daar is baie dinge in God se skepping, vir gelowig en ongelowig, wat   vreugde besorg. Tot by diere is daar ’n vreugde waarvan die Bybel praat. In Job praat God in hoofstuk 39 van die volstruis wat sy vlerke vrolik klap. Ek kyk baie na die dolfyne langs die kus. Hoe hulle uit die water spring of die golwe naby die kus ry vir geen ander rede as net die blote vreugde  daarvan nie. Of die walvis wat opspring, partykeer tot 13 keer, in uitbundigheid. Ek is seker elkeen  kan hier nog duisende voorbeelde byvoeg.

As jy  dink die  algemene vreugde is wonderlik, en ja dit is, wat van die verhoudingsvreugde. Die vreugde  put ons uit die verhouding met die Skepper van die Hemel en die aarde. Die een wat Homself bekend gemaak het deur Jesus Christus, die Woord. Hierdie openbaring kan net sy kinders geniet terwyl die ongelowige  niks daarvan kan begryp nie. Hierdie is die kersie op die koek. ’n Persoonlike verhouding met die Almagtige. Om Sy Woord te lees en om te ontdek wie Hy is. Sy Grootheid, Sy Majesteit, Sy Liefde breed en wyd en hoog! Put ons nog vreugde uit die lees van Sy Woord? So baie van ons vergeet hoe bevoorreg ons is om met Hom gemeenskap te hê. Adam en Eva kon saam met God wandel saans. Hulle kon kommunikeer met die Skepper van alles. Ons as gelowiges is vandag nog meer bevoorreg as hulle. Jesus Christus het dit vir ons moontlik gemaak om met God te praat enige tyd van die dag. Jy hoef ook net sy Woord oop te maak om Sy stem duidelik te hoor.

Die mees intieme verhouding op aarde, die verhouding tussen ’n man en vrou, groei elke dag in die vreugde en genot vir mekaar. Hoe beter ek my vrou ken hoe liewer word ek vir haar en hoe meer wil ek by haar wees. Hoe kosbaarder is ons tye alleen. So is dit met ons verhouding met God. Dit groei in genot. Hoe beter ek Hom ken deur sy openbaring hoe meer wil ek Hom ken en hoe groter is my vreugde in Hom. Hierdie vreugde is iets wat vir ewig sal wees. Geniet die Here hier en dit sal vir ewig hou. Geniet ander tydelike dinge bo God en dit sal verwydering van God en hartseer tot gevolg hê – vir ewig.

Verheerlik God en geniet Hom!