Baie keer kom daardie vraag: “Is iets nog vas?” by mens op. Kan ons nog seker wees van enige iets en hoe kan mens seker wees? So baie verskil van mekaar, hoe weet jy jy is reg? Of mens hoor dat iets net jou opinie is en jy dit nie as antwoord of die waarheid vir iemand kan voorhou nie. Indien jy dit sou waag is jy sekerlik arrogant.
In die geskiedenis was die kerk (let op die kleinletter kerk) ook al baie seker oor sake waaroor ons vandag twyfel of van verskil. Het hulle nie wat hulle geglo het ook uit die Skrif gekry nie? Hierdie is van die vrae wat ons baie keer moet beantwoord voor ons enige iets omtrent die Bybel kan sê. Die waarheid oor hierdie kwessies is dat die meeste van hierdie kerkbesluite waaroor ons vandag verskil nie gegrond was op Bybelse beginsels of fundamentele beginsels van die Kerk (hoofletter) nie, maar eerder op gevoelens en politiese korrektheid van die tyd. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die besluit om volgens bevolkingsgroepe apart kerkdienste te hou en spesifiek rondom die nagmaal. Hierdie besluit het berus op mense se politieke oorwegings en was glad nie gefundeer vanuit die Skrif nie. Die besluit wat geneem was, was dat weens die swakkere broers elke bevolkingsgroep apart sal nagmaal bedien. (Swakkere broers nl. die wat nie saam met persone van ander kleur wou nagmaal hê nie) Die grootste gevaar is wanneer ons emosies ons besluite beïnvloed eerder as die Woord van God.
Ek wil graag hê dat ons moet terugkeer na dié dinge waaroor verskillende denominasies deur die eeue saamgestem het. Wat presies het die Kerk, onder leiding van die Heilige Gees, geglo leer die Bybel ons aangaande God. Ek wil begin om te wys, vanuit belydenis skrifte, hoe verskillende denominasies aangaande belangrike punte saamgestaan het en hoe baie denominasies nog steeds van hierdie belydenis skrifte onderteken. Die eerste een waarna gekyk gaan word, is die Westminster Confession. Hierdie belydenis word vandag nog onderskryf deur verskeie denominasies van die Baptiste tot die Anglikane. Hierdie sal ‘n goeie beginpunt wees vir die gesprek oor wat glo (plaas ons vertroue in) ons vandag. Hierdie sal ook ’n goeie geleentheid wees om saam met broers en susters uit verskillende denominasies te gesels of ons nog saam met die Kerk deur die eeue hierdie belydenisse kan onderskryf. Ek wil die gesprek eenvoudig hou en anker aan die Skrif sodat elkeen die ervaring kan kry dat die belydenisse nie berus het op emosie of politici nie, maar op wat die Skrif die Kerk geleer het. Hier is dit belangrik dat ons besef dat denominasies met mekaar in gesprek kan tree:
- Solank die Bybel as hoogste gesag aanvaar word.
- Ons aanvaar dat die Skrif nie tydsgebonde is rakende moraliteit nie.
- Ons nie die Skrif los lees van 2000 jaar se gelowiges nie. Jou verstaan van die Bybel moet ooreenstem met wat die Kerk deur die eeue geglo (bely) het. As jy dus iets nuuts in die Woord sien wat niemand in die geskiedenis gesien het nie, moet jy erken jou verstaan is verkeerd.
- Die kerk is nie ons gesag nie, maar wel die Skrif. Jou kerk of my kerk kon fouteer maar die Woord bly die anker en dit waarna ons moet terugkeer.
Ek bid dat hierdie gesprekke jou sal stimuleer om weer te dink oor wat jy glo en dat jy sal terugkeer na die ou-ou tyding. Hier is twee verse wat saamvat wat ons hier wil doen:
Jeremia 6:16 So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.
Spreuke 22:28 Die ou grenslyne wat jou vaders gemaak het, moet jy nie verlê nie.
