Jesaja 15

Inleiding

Die profesie rakende Babilon wys dat ten spyte van God se oorlewering van Babilon en die chaos daar rondom, God nog steeds sy volk sal bewaar. In die profesie van die Filistyne wys God dat Hy sy  beloftes met Dawid gestand sal doen. Met die profesie aangaande Moab wys God dat die beloftes van Dawid in Sion sal wees vir elkeen wat hulle skuiling daar sal soek.

Agtergrond

Moab is ʼn land oos van die Dooie see. Die mense van Moab is nasate van Lot en sy oudste dogter. Genesis 19:36-37 So het die twee dogters van Lot swanger geraak by hulle vader. Die oudste het aan ‘n seun geboorte gegee, en sy het hom Moab genoem. Hy is die stamvader van die huidige Moabiete. Die Moabiete was vanaf Israel se uittog uit Egipte vir hulle  ʼn steen des aanstoot. Dit is onder andere hul koning, Koning Balak, wat vir Bileam kry om die volk te vervloek. Gedurende die Rigters val hulle Israel aan en neem Jerigo in. Tydens Dawid se heerskappy word hulle oorwin, maar rebelleer weer na die dood van koning Agab.

Hartseer boodskap

Jesaja profeteer dat hierdie hele volk vernietig sou word van die noorde, Kir Moab, tot die suide, Ar Moab. Al koppel sommige kommentare hierdie plekke aan die noorde en suide van Moab, is daar nie konsensus oor waar hierdie plekke is nie. Die konsensus is eerder dat die name daarop wys dat die hele Moab vernietig sou word. Hierdie profesie wat Jesaja profeteer het ʼn groot inpak op die profeet en wek ʼn diep simpatie by hom aangaande hierdie volk. So ook sou sy profesie aangaande sy eie volk hom diep raak. Jesaja 21:3-4 Daarom is my heupe aan die sidder en oorval krampe my

soos die krampe van ‘n vrou wat geboorte gee. Ek krimp ineen oor wat ek hoor, ek is angsbevange oor wat ek sien. My hart is verbyster; ontsetting het my oorval. Die skemeraand, kosbaar vir my, het vir my angs gebring. Dit is so ʼn voorbeeld vir elke gelowige wat aan ʼn wêreld verkondig dat hulle onder die wraak van God staan en dat hulle sonde veroorsaak dat hulle die koninkryk van God nie sal sien nie. As ons die boodskap verkondig sonder enige deernis en liefde is ons boodskap leeg. 1 Korinthiërs 13:2 En al profeteer ek, en begryp ek alle geheime, en besit ek alle kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het nie liefde nie, is ek niks! Die grootste gevaar is dat ons selfvoldaan raak en vanuit ʼn hoogte ander oproep tot bekering, terwyl ons ons eie gebrokenheid en God se genade aan ons vergeet. Dit was die probleem met die profeet Jona. Watse arrogante profeet! ʼn Man wat dink dat daar ʼn volk is wat dit nie werd is dat God aan hulle genade bewys nie. In sy wegvlug van God se opdrag het hy ʼn ontmoeting met die God van genade gehad en ʼn groot vis het sy lewe gered. Tog, met dit alles is hy op die ou end ontevrede as God hierdie volk spaar op grond van sy prediking wanneer hulle hul voor God verneder. God wys weereens sy genade as Hy ʼn wonderboom laat opkom om Jona te beskerm teen die son, maar God vernietig die boom in ʼn oomblik. God toon aan Jona wat met hom sou gebeur as God sy genade aan hom onttrek. Jona 4:10-11 Toe sê die Here: Jy is besorg oor die kasterolieplant waarmee jy geen moeite gedoen het nie en wat jy nie laat groei het nie, wat oornag opgekom het en oornag tot niet is. Maar Ek, Ek mag nie besorg wees oor Nineve nie, die groot stad waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die verskil tussen regs en links nie ken nie, en ook nog baie diere? Ons vind dieselfde gesindheid met Johannes en Jakobus as ʼn Samaritaanse dorp wyer om hulle daar te huisves aangesien hulle na Jerusalem oppad is. Hulle begeerte is om vuur uit die hemel te roep om al die Samaritane in daardie dorp uit te wis. Jesus wys hulle sterk hierop tereg. Lukas 9:54-55 Toe die dissipels Jakobus en Johannes dit sien, sê hulle: Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel laat neerkom om hulle te vernietig? Maar Hy het omgedraai en hulle tereggewys. God se genade vir my moet my dring om dieselfde genade vir ander te begeer, nie om arrogant te word en op ander wat nog in die duister leef neer te kyk nie!

Vlug

Jesaja se hart roep uit teenoor Moab wanneer hy hulle einde aankondig. Die hele land van Moab ween. Hulle gaan op na hulle tempel en soek hulp van hulle god. In hul rou is hul koppe al vol kaal kolle geskeer en hul baarde is afgeskeer. Dit dui op hul absolute vernedering. Jeremia profeteer ook van hierdie verwoesting van Moab en vertel dat die helde ook in rou gedompel sal wees. Jeremia 48:41 Keriot is ingeneem, die bergvestings is verower; die helde van Moab se harte  is op daardie dag soos die hart van ‘n vrou in barensnood. Die hartseerste is egter waar hulle hulle hulp gaan soek. Dit is die probleem met so baie mense vandag wat hulp gaan soek oral behalwe by God by wie alleen daar genesing en vertroosting is. Verder vertel Jesaja dat hulle vlug na Soar, ʼn plek aan die suide van die Dooie see. Waarheen sal die mens nie oral vlug net om weg te probeer kom van God se wraak af nie? Ja selfs met Christus se koms sal mense probeer wegvlug en die berge en heuwels vra om hulle te bedek. Waarheen sal jy kan vlug? Dink  jy werklik dat God jou nie sal vind nie? Miskien kan ons ook weer aan Jona dink wat hierdie amper noodlottige poging aangewend het om van God af weg te vlug. Die Psalmdigter vertel dat dit ʼn nuttelose poging sou wees om van God te probeer wegkom. Psalms 139:7-8 Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid? Klim ek op na die hemel – U is daar; gaan lê ek in die doderyk – ook daar is U! Die interessante van hierdie plek Soar, is dat dit die plek is waarheen Lot ook gevlug het met sy uittog uit Sodom en Gomorra. Lot pleit by God dat hy na hierdie klein stad kan vlug en dat God hierdie stad ook sal spaar. Die stad word Soar genoem wat “klein” beteken. Miskien het hulle gedink dat hulle weer, soos hulle voorvader Lot, gespaar sal word,  indien hulle na Soar vlug. Tog, tot hulle eie nadeel, het hulle vergeet dat dit nie die stad is wat aan hulle vader beskerming verleen het nie, maar God wat uit genade die stad gespaar het. Menigte male sou Israel ook hierdie fout maak. Hoeveel keer het hulle gedink dat, indien hulle net die ark by hulle gehad het, hulle hul vyande in oorlog sou verslaan? Hierdie fout word sommer vroeg in Israel se geskiedenis gemaak as Eli se seuns die ark saam met hulle neem in die oorlog. Die volk is deur die Filistyne verslaan en hulle hoop was dat as hulle die ark tussen hulle inbring, hulle die oorhand oor hulle vyande sou kry. As die ark in die kamp inkom skreeu die manne so hard van opgewondenheid dat die aarde dreun en die vyande mekaar afvra watter geluid in die laer van die Hebreërs is. Tog sou die Israeliete ʼn nederlaag lei ten spyte van die ark se teenwoordigheid aangesien hulle aan God ongehoorsaam was. Dit help nie jy gebruik die dinge van die Here, soos jou lidmaatskap aan ʼn kerk, om jou te help, maar jy is ongehoorsaam aan die Here van die dinge nie.

Jesaja vertel dat nie net sal die inwoners van Moab lyding ondergaan nie, maar ook die land van Moab sal lyding ervaar. Al die fonteine van die land sal deur die vyand toegestop word en die land sal krepeer van droogte. Al die groenigheid van die land sal verdwyn en ʼn droogte sal oor die land kom. Alles wat hulle in die land gehad het, ten spyte van hulle goddeloosheid, het God onderhou en die oomblik as Hy sy hand oplig sal alles tot niet gaan. So is dit ook vandag. Alles is onder God se beheer en Hy laat dit reën oor die goeie en die slegte.

Nou vlug die inwoners van Moab met hulle besittings en dit wat hulle as wins gemaak het deur al die jare deur die Wilgerspruit op pad na Soar. Alles word agtergelaat en net dit wat gedra kan word, word saam geneem. In jou geestesoog kan jy Lot se vrou sien wat in haar hartseer om alles te verlaat terugkyk en in ʼn soutpilaar verander. Genesis 19:26 Sy vrou het egter omgekyk, en sy het ‘n soutpilaar geword. Die mens wil so graag vashou aan al sy materiële besittings en daarom sal daar ʼn geskreeu en gehuil wees van al die inwoners van Moab. Die hele land is gewond en die waters is vol bloed en tog sal dit nie die einde wees van God se wraak nie. Die wat ontvlug het van die vyand sal beslis nie veilig wees nie. God kondig aan dat die wat ontvlug het uit Moab ʼn ontmoeting met ʼn leeu sal hê.

Slot

Waarheen vlug jy in jou nood? Waar dink jy sal jou hulp vandaan kom? So baie mense plaas hul vertroue in beleggings en ander in hul goeie werke wat hulle dink hulle sal red. Daar sal ʼn dag aanbreek as ons deur die geestelike Wilgerspruit sal moet gaan en beslis alles hier moet agterlaat. Niemand sal jou op daardie dag kan red of vir jou kan intree nie. Jy sal beslis te staan kom voor die leeu van Juda, wat ook die lam is. Openbaring 5:5-6 Toe sê een van die ouderlinge vir my: Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak. En ek het tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die ouderlinge, ‘n Lam, soos een wat geslag is, sien staan. Hy het sewe horings en sewe oë gehad – die sewe Geeste van God – wat oor die hele aarde heen uitgestuur is. Daar is alleenlik redding in die bloed van die Lam en elkeen wat in Hom hulle toevlug vind sal ʼn redder ontdek. Die Kerk is diegene wat gered word en die herder volg en gehoorsaam in alles. Johannes 10:2-4 Maar hy wat by die hek ingaan, is ‘n herder van die skape; vir hom maak die hekwagter oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit. Wanneer hy al sy eie skape uitgelei het, gaan hy voor hulle uit, en hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken.

Psalms 27:1 Van Dawid.

Die Here is my lig en my redding –

vir wie sal ek vrees?

Die Here is die toevlug  van my lewe –

vir wie sal ek bang wees?