Jesus voed die vyfduisend

Die apostels het teruggekom na Jesus toe en Hom vertel van alles wat hulle gedoen en geleer het.

Jesus sê toe vir hulle: “Kom julle self alleen na ’n stil plek en rus ’n bietjie.” Want daar was baie mense wat gekom en gegaan het, en hulle het selfs nie tyd gehad om te eet nie.

Hulle gaan toe met die skuit na ’n stil plek om alleen te wees, maar baie mense het hulle sien weggaan en het hulle gevolg. Toe Jesus uitklim sien Hy baie mense. Hy het hulle innig jammer gekry, omdat hulle soos skape sonder ’n herder was. Hy het hulle baie dinge begin leer.

Toe dit al laat geword het kom sy dissipels na Hom en sê: “Die plek is alleen en dit is al laat. Stuur hulle weg, sodat hulle vir hulleself iets kan gaan koop om te eet.”

Jesus antwoord hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.”

Hulle sê toe vir Hom: “Moet ons tweehonderd pennings se brood gaan koop en vir hulle gee om te eet?”

Jesus vra: “Hoeveel brode het julle? Gaan kyk.”

Hulle gaan kyk en sê: “Vyf, en twee visse.”

Jesus het die mense in groepe op die groen gras laat sit. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank God. Hy breek die brode en gee dit aan die dissipels om aan die mense uit te deel. Hy het ook die twee visse aan almal uitgedeel.

Hulle het almal geëet en versadig geword.

Die dissipels tel toe die stukke brood en vis op wat oorgebly het. Daar was twaalf mandjies vol.

Buiten die vroue en kinders, was die wat van die brood geëet het, vyfduisend mans.

Lewer kommentaar