Inleiding
In hoofstuk 10 het ons gelees van God se toorn wat op die volk rus en hoe Hy Assirië gaan stuur om hulle te straf. Daarna sal Hy ook rekenskap van Assirië eis vir hul hoogmoed en eiewaan. In hoofstuk 11 lees ons van die loot wat sal uitspruit. Die professie oor die koms van Christus wat vir hierdie volk onder toorn verlossing sal bring. Daar word beskryf hoe Hy hul toekoms en lewe gaan verander van droefheid, na vreugde van vrees na vrede. Nie net is daar verlossing vir die mens nie, maar ook vir die natuur wat na die sondeval sug na verlossing. Nou in hoofstuk 12 lees ons hoe die mens op hierdie verlossing sal en moet reageer. Daar is ʼn loflied wat uitgaan en dit neem die leser terug na die verlossing van slawerny uit Egipte. Die beelde en ooreenkomste met die eksodus uit Egipte word nou nie net ʼn fisiese bevryding nie, maar ʼn geestelike bevryding van sonde wat vir elke gelowige vandag geld.
Die lied
Daar sal ʼn lied wees op die dag wanneer God die nuwe uittog sal bewerkstelling, hierdie uittog sal die uit Egipte by verre oortref. Na die uittog uit Egipte was daar ʼn oorwinningslied wat die volk van Israel gesing het. Daar moet altyd ʼn loflied op die gelowige se lippe wees. Psalms 33:1 Regverdiges, jubel oor die Here! ‘n Loflied pas by opregtes. Hierdie hoofstuk korreleer met Hoofstuk 6 waar Jesaja God van aangesig tot aangesig gesien het en diep onder die indruk van sy eie sonde gekom het. Hoewel die skrywer hier in die eerste persoon of enkelvoud skryf, verteenwoordig die persoon die volk wat as geheel hierdie lied sal sing en God se troos sal ervaar. Vir Jesaja is God se toorn afgewend toe God die engel opdrag gegee het om ʼn vuurkool op sy mond te plaas. Hy het erken dat hy onrein lippe het en dus gevul is met sonde en onwaardig is om voor God te staan. Die gelowige erken eerstens sy sonde voor God en probeer dit nooit wegsteek nie. Tweedens is hy dankbaar dat, alhoewel God toornig was, Sy toorn teenoor hom bedaar het, omdat Hy self die uitkoms gegee het. Die feit dat Sy toorn bedaar het dui nie op God wat sonde net miskyk of oorsien nie, want dan sou God nie ʼn God van geregtigheid wees nie. Nee, die sonde moes gedra word deur ʼn persoon en die wraak sou op Hom wees. Hierdie persoon sou Christus wees wat die wraak van God op Hom sou neem. Dit word uitgebeeld in die Ou Testament elke keer as daar ʼn offer gebring word vir die sonde van ʼn persoon of die sonde van die volk. ʼn Dier moes sterwe sodat die mens vergifnis kon ontvang en vrygespreek kon word, dit was altyd ʼn lewe vir ʼn lewe en daarom moes die bloed gevloei het. As gevolg van hierdie daad van Christus kan ek God se troos ervaar.
Verlossing
Die verlossing kom van God af. Hy is die outeur, die agent en die bewerker van verlossing en geen verlossing is buite Hom nie. God die Vader het diegene wat Hy gekies het bestem tot die ewige lewe, moontlik gemaak deur die dood van Sy seun op Golgota en deur die Heilige Gees word die seëninge van God, wat bewerk is deur Christus, aan God se uitverkorenes oorgedra. Ons word aangeneem as Sy kinders en van al ons skuld bevry, ons ontvang Sy geregtigheid en Sy geloof. Deur die Heilige Gees kom maak Hy woning in ons. Kan ons nie amen sê op die verklaring van die Psalmdigter nie!? Psalms 127:1-2 ʼn Pelgrimslied. Van Salomo. As die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tevergeefs daaraan. As die Here oor die stad nie wag hou nie, bly die wagte tevergeefs wakker. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, eers laat tot rus kom, kos eet wat moeisaam verkry is. Netsowel gee Hy dit aan sy geliefdes in die slaap. Sonder enige bydra van ons af is die Verlossing bewerkstellig en aan ons, sy geliefdes, word dit gegee in ons “slaap”. Na die verlossing deur die Rooisee sing Moses en die mense die volgende lied: My krag en sterkte is die Here, en Hy was my redding. Hy is my God, en Hom sal ek vereer, die God van my vader, en Hom sal ek verheerlik. Eksodus 15:2. Jesaja voeg ʼn woord by hierdie lied as hy die verlosser identifiseer met Jah, Jahwe, aangesien hy vorentoe kyk na Christus en die nuwe verbond waarvan die verlossing onder Moses slegs ʼn tipe was.
Fonteine van lewende water
Sou jy enige iets anders verwag as gelowiges wat hulle lewens deurbring in lofprysing tot God? Daarom word daar verklaar dat die gelowige sal aanhou vreugde skep uit die fonteine van verlossing. In hierdie profesie word die gelowige geneem op reis saam met die Israeliete in die woestyn na hulle uittog deur die Rooisee om te wys dat God hulle nie net uit Egipte verlos het nie, maar dat Hy voortdurende betrokke was in hulle verlossing ook deur die woestyn. Hierdie fisiese gebeure vorm ʼn ryk beeld van die geestelike verlossing wat Christus in die Nuwe Testament kom bewerkstelling. Net soos die fisiese redding gepaard gegaan het met water in die woestyn, weet ons dat Jesus homself verklaar as die bron van Lewende water, geestelik redding. Kyk hoe hierdie beeld deur die redding in die woestyn geskets word. Hierdie verlossing word telkens beskryf met water wat geskep word. Na die volk se redding deur die Rooisee kom hulle by die teleurstelling van Mara waar die water bitter was. Moses ontvang ʼn opdrag om ʼn stuk hout, in Hebreeus ʼn boom, in die water te gooi om die bitter water soet te maak. Die boom is die woord wat gebruik word vir die kruis waarop Christus die sonde van sy eie sou dra en die bitter sonde sou verander in soet vergifnis. Dan kom hulle by Elim waar daar twaalf fonteine en sewentig palmbome was. Hierdie het nie net ʼn betekenis vir die mense van die dag gehad om te wys dat God water sou gee vir die twaalf stamme van Israel en hulle sou lei deur die sewentig oudstes wat Moses sou aanstel nie, maar wys ook heen na die tyd van verlossing as God twaalf apostels aanstel en sewentig manne uitstuur om te verkondig dat die Koninkryk van God gekom het. Dan volg die water wat uitvloei uit die rots en die volk se dors les wat weereens wys na die rots, Christus, uit wie ons sal drink en van wie ons die Lewe sal ontvang. 1 Korintiërs 10:4 en almal het dieselfde geestelike drank gedrink. Want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat hulle gevolg het – en die rots was Christus. Die gelowige ontvang nie net verlossing wat eenmalig is nie, maar ʼn verlossing wat aanhoudend werksaam is in ons lewe en ʼn konstante lof gesang teweegbring. Die gelowige skep voortdurend uit hierdie vreugde bron van lewende water. Dit is wat Jesus ook belowe aan die vrou by die put wat vreugde op verskeie plekke gesoek het en nou by die plek in haar lewe gekom het waar sy al vyf mans gehad het en by iemand gebly het met wie sy nie getroud was nie. Jesus belowe aan haar dat die water wat Hy haar sou gee ʼn fontein van lewende water sou wees wat uit haar sou opborrel. Johannes 4:13-14 Jesus het haar geantwoord: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ‘n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe. Hierdie Lam wat die volmaakte offer is sal sy kinders lei volgens Openbaring. Openbaring 7:17 Want die Lam wat in die middel voor die troon staan, sal hulle soos ‘n herder versorg en hulle na fonteine met lewende water lei, en God sal elke traan uit hulle oë vee. Die grootste gevaar is dat die gelowige, soos die volk, op ander plekke sy dors wil les as by die Groot Verlosser. Jeremia 2:13 Want twee wandade het my volk gepleeg: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle opgaarputte uit te kap – gebarste opgaarputte wat nie water hou nie. Wanneer gelowiges die bron van vreugde verruil vir enige iets of iemand ander as Jesus Christus, is wanneer die gelowige dit juis verloor en ʼn leegheid en doodsheid ervaar. Die Psalmdigter beskrywe die gelowige se begeerte na God so akkuraat as hy sê: Ek dink aan dae lank gelede, ek mymer oor al u dade; oor die werk van u hande dink ek na. Ek strek my hande uit na U; my diepste wese smag na U soos dor grond. Sela. Psalm 143:5-6.
Lof bevel
Hierdie Verlossing en die aanhoudende genade en vreugde wat vloei uit die bron van die Verlossing sal maak dat daar ʼn dankbare belydenis op die lippe van die verlostes sal wees. Die profesie roep die gelowige op met ʼn bevel, wat die gelowige moet nakom. Die gelowige moet die Here aanhoudend dank. Elke deel van die gelowige se lewe moet gekenmerk word deur ʼn dankbare hart. Die volgende opdrag is om Sy naam aan te roep. God het Homself aan ons openbaar deur sy Seun en die gelowige word nou opgeroep om Sy naam aan te roep in aanbidding. Dan volg die opdrag aan elke gelowige om Hom bekend te maak aan almal rondom ons en om sy dade bekend te maak aan ʼn verlore wêreld. Psalms 9:12 Besing die Here wat in Sion regeer; maak sy dade onder die volke bekend. Dit was ook die laaste opdrag wat Jesus aan sy volgelinge gegee het. Matteus 28:19-20 Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd. Nie net moet Sy dade verkondig word nie maar ook Sy naam. Sy naam beteken wie Hy is. So baie mense verkondig ʼn boodskap wat totaal te kortskiet rakende wie God is en waarom Christus moes hang aan ʼn kruis om vir ons verlossing te bewerk. As ons verkondig wie Hy is vertel ons aan die wêreld dat Hy ʼn heilige God is wat die sonde haat en by wie niemand kan kom wat nie volmaak heilig is nie. Die oomblik as ons verstaan wie Hy is en wie ons is sal daar ʼn verlange wees na ʼn Verlosser. Hierdie doktrine van verlossing het Paulus aan die Tessalonisense gemeente verklaar. 1 Tessalonisense 1:9-10 Hulle self vertel oor ons van die besondere ontvangs wat ons by julle gekry het: Hoe julle omgedraai het na God, weg van die afgode, om die lewende en ware God te dien, en om sy Seun wat Hy uit die dode opgewek het, uit die hemel te bly verwag – Jesus, wat ons red uit die oordeel wat kom. Daar is niks anders waarin die gelowige moet roem en aan wie te gelowige heerlikheid en eer en lof moet bring nie. Jeremia 9:23-24 So sê die Here: ‘n Wyse moet hom nie op sy wysheid beroem nie, ‘n magtige moet hom nie op sy krag beroem nie, en ‘n ryke moet hom nie op sy rykdom beroem nie. Slegs hierop moet die een wat wil roem, hom beroem: dat hy insig het en My ken, naamlik dat Ek die Here is wat troue liefde, reg en geregtigheid handhaaf op aarde; want daarin vind Ek vreugde. Dit is die uitspraak van die Here. Hoe kan jy enige iets of iemand vergelyk met Hom. Hoe kan jy stil bly oor die Een wat soveel wonders gedoen het en jou gered het van die dood. Die dinge wat Hy gedoen het is lofwaardig en heerlik en die gelowige kan nie anders as om dit oor die hele wêreld te verkondig nie.
In vers 6 word juig en jubel in die vroulike vorm geskrywe wat die leser herinner weereens aan die loflied van die volk na die deurtog deur die Rooisee waar Miriam die voortou geneem het in die lofprysing. Hier word die mense van Sion vergelyk met ʼn uitbundige vrou. Sion is die plek in die Ou Testament waar God sy woning gemaak het en verwys ook baie keer na die tempel. Nadat Salomo die tempel gebou het vul God die tempel met sy heerlikheid en dit veroorsaak ʼn lofprysing van die volk. 2 Kronieke 7:3 Al die Israeliete het gesien hoe die vuur en die heerlikheid van die Here op die tempel neerdaal. Hulle het met hulle gesigte na die grond gekniel op die plaveisel, en in aanbidding gebuig. Hulle het die Here geprys met: Want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde. Net so het die Heilige Gees op pinksterdag op die gelowiges, waar hulle bymekaar was, neergedaal. Die Heilige het in ons midde kom woning maak en sy kinders het nou Sy tempel geword waarin Hy kom woning maak het. 1 Korinthiërs 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie? Hy het nou in ons midde kom woning maak. Net so min as wat die volk kon stil bly as God in hulle midde kom woning maak, net so min die gelowige wat nou bely dat die Lewende God nou in hom woon. Die gelowige se hele lewe spreek van die oorvloed van genade wat hy/sy ontvang het. Johannes 1:16 Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade.
Slot
Hoe kan daar enige iets anders as blydskap en lofprysing by die gelowige wees. Ons het die grootste skat ontvang wat alles oortref in waarde. Die gelykenis wat Jesus vertel van die pêrel en die skat illustreer die waarde wat Christus is vir diegene wat Hom ontdek. Die een wat die skat ontdek en die een wat die pêrel vind se reaksie is dieselfde. Matteus 13:44 Die koninkryk van die hemele is soos ‘n skat wat in die veld begrawe lê. ‘n Man het dit ontdek en weer toegegooi. Uit blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het en koop daardie grond. Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n handelaar op soek na goeie pêrels. Toe hy een baie kosbare pêrel vind, het hy gegaan en alles wat hy gehad het, verkoop en dit gekoop. Christus is altyd óf alles óf niks en as jy Hom gevind het, het jy die skat gevind waarna jou hart vir altyd sal hunker. Matteus 6:21 Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.