Wanneer ons as gelowige ouers die Skrif se belofte aanvaar dat ons kinders nie klein heidene is nie, maar ingesluit is in die verbond (Handelinge 2:39), verander dit alles in die opvoeding. Dit is nie ’n teoretiese dogma nie; dit is ’n daaglikse, praktiese troos. Dit beteken ons voed ons kinders op vanuit die realiteit dat hulle reeds aan God behoort, nie met die hoop dat hulle eendag miskien sal behoort nie.
Dit gee vir die ouer die vrymoedigheid en troos om God se opdrag uit te voer op maniere wat net by gelowiges pas:
1. Die ouer as onderwyser in die Woord
As die kind reeds ’n gelowige is deur die Gees se vroeë werking, is die onderrig van die Woord nie ’n eksterne wet wat op ’n rebelse hart afgedwing word nie. Dit is die lewende voedsel vir ’n honger siel. Die ouer oefen God se taak uit om die kind op te voed, in die vaste wete dat die Heilige Gees reeds binne-in die kind besig is om daardie Woord lewend te maak en hulle te leer.
Efesiërs 6:4: En vaders: Moenie julle kinders uittart nie, maar voed hulle op deur die dissipline en teregwysing van die Here.
2 Timoteus 3:15: … en omdat jy van kleins af die Heilige Skrifte ken wat jou die wysheid kan gee tot verlossing deur die geloof in Christus Jesus (Timoteus het die Woord van kleins af(baba in die Grieks) geken as ’n gelowige kind, gevorm deur sy ma en ouma).
2. Waarom leer ons ’n kind bid?
Hier lê ’n diep logiese en teologiese realiteit. Die Skrif leer vir ons dat God nie na die gebed van die goddelose of ongelowige luister nie, behalwe as dit ’n gebed van berou en bekering is (Johannes 9:31, Spreuke 15:29).
Spreuke 15:29 Die Here is ver van goddeloses, maar die gebed van regverdiges
hoor Hy.
Johannes 9:31 Ons weet dat God sondaars nie verhoor nie, maar as iemand godvresend is en sy wil doen, verhoor Hy hom.
As ons ons kinders van kleinsaf leer om “Abba, Vader” te sê, leer ons hulle bid omdat hulle klaar kinders van die huis is. Ons leer hulle nie om as vreemdelinge te bid nie, maar om van kleinsaf hulle vertroue op God te plaas as hulle eie, getroue Vader wat hulle hoor.
Romeine 8:15: … nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons Abba, Vader!
Psalm 22:10-11: U is immers die Een wat my uit die baarmoeder gehaal het, my op die borste van my moeder laat vertrou het. Op U is ek aangewese van die moederskoot af;
van my geboorte af is U my God.
3. Die kind se deel aan die verbondstafel
Net soos die kinders van die Ou Verbond nie uitgesluit was nie, maar ten volle deel gehad het aan die Pasga (Eksodus 12:26-27), so het die gelowige kind van die Nuwe Verbond deel aan die sakramente en die gemeenskap van die heiliges.
By die Pasga moes die kinders vra: “Wat beteken hierdie diens?” en dan het die ouers hulle onderrig in hul verlossing uit die slawerny. Net so ontvang die gelowige kind vandag in die kerk onderrig oor hul groter verlossing van die sonde deur die bloed van Christus. Hulle sit nie by die erediens as buitestanders wat eendag moet inkom nie; hulle is reeds deel van die liggaam wat saam die Here loof.
Eksodus 12:26-27: Wanneer julle kinders julle vra, Wat beteken hierdie gebruik vir julle? dan moet julle sê, Dit is die Pasgaoffer vir die Here…”
Matteus 19:14: Jesus het egter gesê: Laat die kindertjies begaan, en moet hulle nie langer verhinder om na My te kom nie, want die koninkryk van die hemele behoort aan mense soos hulle.
Die groot troos vir die ouer
Die grootste genade vir ’n ouer is om te weet: Ek werk nie teen die Heilige Gees nie, ek werk saam met Hom. Die opdrag om ons kinders in die weë van die Here op te voed, is nie ’n onmoontlike las waar ons op ons eie krag moet staatmaak om die kind se hart te verander nie. Dit is ’n oproep om die kind te begelei in dit wat God reeds in hulle begin het. Ons neem hulle kerk toe, ons lees die Woord, ons bid saam met hulle—nie om hulle Christene te maak nie, maar omdat hulle kragtens God se belofte reeds aan Hom behoort.