Jesus het verby ‘n man geloop wat van sy geboorte af blind was.
Sy dissipels het Hom gevra: “Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?”
Jesus het geantwoord: “Hy het nie gesondig nie en sy ouers ook nie, maar dit het gebeur sodat die werke van God in hom openbaar kon word.”
Jesus het ook gesê: “Solank Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld.”
Toe het Jesus op die grond gespoeg en modder met die spoeg gemaak. Hy het die modder aan die man se oë gesmeer en vir hom gesê:
“Gaan was jou in die bad van Siloam.”
Die man het toe gegaan en hom gewas en hy kon sien.
Sy bure en die mense wat hom voorheen geken het, het gevra: “Is dit nie hy wat gesit en bedel het nie?”
Sommige het gesê: “Dit is hy.”
Ander het gesê: “Hy lyk soos die man.”
Maar hy het gesê: “Dit is ek.”
Toe vra hulle hom wie sy oë oopgemaak het en hy het geantwoord: “Die man wat Jesus genoem word, het modder gemaak en dit aan my oë gesmeer. Hy het vir my gesê: ‘Gaan na Siloam en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas en ek kon sien.”
Hulle het hom toe gevra waar Jesus is, maar hy het nie geweet nie.