Inleiding
In die vorige hoofstuk het Jesaja drie uitsprake gemaak rakende Babilon, Edom en Arabië. Hierdie hoofstuk sluit daarby aan as dit ook ingelei word deur ʼn storm wat uitbreek oor Jerusalem. Jerusalem het geword soos hierdie ander volke en het God verlaat. Die profesie van Jesaja gebruik ʼn tydsvorm wat dit laat voorkom asof dit alreeds plaasgevind het, so seker is dit dat God dit sal laat gebeur. As God sy profete oproep om te profeteer is dit in sekerheid en asof dit alreeds gebeur het. Daarom is die profete ook sieners genoem. 1 Samuel 9:9 Vroeër het die mense in Israel so gesê wanneer hulle gaan om God te raadpleeg: Kom, laat ons na die siener gaan. Want die profeet van vandag is vroeër siener genoem. Ons sien dit in Romeine as Paulus die gebeurtenis in Genesis aanhaal waar God aan Abraham ʼn belofte maak aangaande sy nageslag, terwyl sy vrou se vermoë om kinders in die wêreld te bring alreeds weens haar hoë ouderdom “dood” was. Romeine 4:17 soos daar geskryf staan: Ek het jou die vader van baie nasies gemaak – dit was hy in die oë van die God in wie hy geglo het, wat die dooies lewend maak, en dit wat nog nie bestaan nie, tot bestaan roep. Daar is ʼn absolute sekerheid dat dit wat God sê sal plaasvind, aangesien Hy die een is wat dit sal laat gebeur.
Blind
Die mense van Jerusalem word uitgebeeld as mense wat met vreugde fees vier in kontras met Jesaja wat ween oor die land. Jesaja vra hulle waarom daar enigsins vreugde by hulle is. Daar is niemand so blind soos ʼn blinde wat dink dat hy kan sien nie. Dit was die toestand van die Jode van Jesus se dag en is ook die toestand van so baie mense wat vandag in kerke sit. Jesus beskrywe die leiers van die volk as blindes wat ander blindes lei. Matteus 15:14 Los hulle – hulle is blinde leiers van blindes; en as ‘n blinde ‘n blinde lei, sal albei in die sloot val. Vir ʼn kortstondige oomblik is daar vrede in Jerusalem en die mense is vol vreugde sonder dat hulle besef dat die vernietiging van Jerusalem voor die deur is. Hulle is soos die mense in die tyd van Noag wat trou en eet en drink sonder om ag te slaan op die waarskuwing van Noag, blind vir die verwoesting wat hulle in die oë gestaar het. Waarom het hulle nie eerder God se aangesig gesoek en met berou na Hom gekom nie. Jesaja roep die mense van Jerusalem op om na die slagoffers te kyk en te besef dat hulle nie deur die swaard omgekom het nie. Die beleëring van die stad deur die vyand het veroorsaak dat mense gesterf het van die honger. Hierdie gebeurtenis word beskrywe in 2Konings. 2 Konings 25:2-3 en so het die stad onder beleg gekom tot die elfde regeringsjaar van koning Sedekia. Teen die negende dag van die vierde maand, toe die hongersnood in die stad baie erg was, en daar nie meer kos was vir die volk van die land nie. Hoe tragies dat die mens van een gevaar probeer wegvlug, net om deur iets nog erger getref te word. So beskrywe Amos mense wat ʼn verlange het na die dag van die Here en nie besef dat die oordeel vir hulle voorlê nie. Amos 5:18-19 Wee dié wat uitsien na die dag van die Here. Wat hou dit vir julle in? Die dag van die Here is duisternis, nie lig nie, soos wanneer iemand vlug vir ‘n leeu, maar ‘n beer val hom aan. As hy wel in die huis kom en met sy hand teen die muur leun, dan pik ‘n slang hom. Alles sou plaasvind soos God reeds in Deuteronomium voorspel het vir diegene wat ongehoorsaam is aan sy opdragte. Deuteronomium 28:48 sal jy jou vyande wat die Here teen jou uitstuur, dien te midde van hongersnood en dors, en in naaktheid en volslae gebrek. En jou vyand sal ‘n ysterjuk op jou nek sit, totdat hy jou uitgedelg het. As jy na die omstandighede kyk waarin Jerusalem haar bevind kan jy verstaan waarom die profeet vra waarom daar enigsins uitgelatenheid is. Kan hulle nie sien dat dit die oordeel van God is nie?
Ongelowig en lafhartig
Jesaja profeteer dat al die leiers van die volk gevlug het sonder dat daar ʼn skoot afgeskiet is. Daar sal geen dapperheid onder die volk wees nie. Die dapperheid van God se volk gaan gepaard met Godvresendheid. Hulle is vreesbevange want God het hulle verkoop. Deuteronomium 32:30 Hoe kan een dan duisend agtervolg, en twee tienduisend op die vlug jaag as hulle rots hulle nie verkoop het nie, as die Here hulle nie oorgelewer het nie? So is elke mens wat nie sy heil by God vind nie. Die leiers van die volk het die dag toe hulle deur die Babiloniërs beleër is, opgetree presies soos wat Jesaja hier voorspel het. 2 Konings 25:3-4 Teen die negende dag van die vierde maand, toe die hongersnood in die stad baie erg was, en daar nie meer kos was vir die volk van die land nie, is ‘n bres in die stadsmuur geslaan. Al die krygsmanne is in die nag met die pad uit, deur die poort tussen die twee mure by die koning se tuin, terwyl die Galdeërs oral om die stad was. Hulle het in die rigting van die Araba gegaan. Jesaja is diep bedroef oor dit wat oor die volk sou kom. Dit sou eers honderde jare later plaasvind en tog ervaar die profeet dit met intense pyn en hartseer asof dit in sy eie tyd plaasvind. Hy ween oor die volk se toekoms op so ʼn wyse dat ander hom wil troos. Is die nie hoe die gelowige kyk na die vervallenheid van die kerk nie? Dit tref hom diep in sy siel en al weet hy dat dit voorspel is en dat hulle oordeel seker is, is dit nie iets wat sommer net van hom afrol nie. Hier sien ons weer die profeet se deernis ten opsigte van ʼn volk wat straf verdien het en tog maak dit hom diep bedroef. Die profeet maak dit duidelik dat God die outeur is van die vernietiging wat sou plaasvind. So baie Christene vandag is bang om te erken dat God absolute beheer het oor alles wat plaasvind en dit bestuur in ooreenstemming met Sy plan. Luister gerus hoe Amos die profeet God se werke beskrywe. Amos 3:6 As ‘n ramshoring in ‘n stad geblaas word, bewe mense nie? As daar teenspoed in ‘n stad is, het die Here dit nie gedoen nie? As die mense na Jesus kom om uit te vind waarom sekere manne uit Galisië op so ʼn wreedaardige wyse gesterf het dat hulle bloed deur Pilatus met sy offers gemeng is, is Jesus se antwoord soos volg: Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as al die ander Galileërs omdat hulle hierdie dinge gely het? Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom! Lukas 13:2-3. Die tragiese was dat die meerderheid van die Jode van Jesus se dag hulle nie bekeer het nie en presies soos Jesus voorspel het deur ʼn erger gebeurtenis getref is in 70n.C. toe die hele stad afgebrand is.
Noodhulp
Die vernietiging van Jerusalem deur die Babiloniërs word presies beskryf en vanaf vers 5 word daar nog ʼn paar beskrywings gegee van hoe hierdie dag sal afspeel. Die mure se afbreek word in 2 Konings beskryf. 2 Konings 25:10 En die stadsmure reg rondom Jerusalem is afgebreek deur die hele leër van die Galdeërs wat saam met die aanvoerder van die lyfwag was. Terwyl die onheil hulle tref roep die mense na die berge wat Calvyn identifiseer as ʼn oproep na God se tempel. Dit is tragies dat mense vandag ook ʼn godsdiens het waarin God slegs aangeroep word die oomblik wanneer die noodlot tref. So bv. word die kerk gepak tydens ʼn droogte vir ʼn biddag vir reën. Dit is ook die dag waarop so baie hul vuis bal teenoor God in plaas daarvan om in sak en as te wees oor hul eie sondes. Hierin vind ons as voorbeeld die koning van Samaria, wat saam met die volk deur God gestraf word a.g.v. sonde en deur die Arameërs beleër word. As gevolg van die beleëring van die stad is daar nou ʼn erge hongersnood. ʼn Vrou roep na die koning en vertel aan hom dat sy en ʼn ander vrou ooreen gekom het om hulle seuns te eet en dat hulle haar seun eerste geëet het en dat die ander vrou nou weier dat hulle haar seun eet. Hieroor is die koning ontsteld, nie teenoor die vrou of oor sy eie sonde nie, maar kwaad vir God. Sy besluit is om God se profeet wat hy kon bykom te vermoor. 2 Konings 6:31 Hy sê toe: Mag God my swaar straf as Elisa, seun van Safat, se kop vandag steeds op sy lyf is! Watter akkurate beskrywing is dit nie van die mens in sy sondige toestand nie. Geen introspeksie, geen berou, geen neerbuig, nee net arrogansie en selfbejammering. Die vraag is: “Hoe durf God my te na kom”, eerder as: “Hoe durf ek God verontagsaam?”
Valse sekuriteit
Jesaja wys die mense op dit waarop hulle hulle hoop gevestig het. In die tyd van Hiskia is ʼn tonnel in Jerusalem gegrawe om vir die stad water te voorsien indien die stad omsingel sou word. Hierdie kanaal word vandag nog as ʼn ingenieurs vernuf beskryf. Hulle rig ʼn ekstra muur op om Jerusalem te beveilig. Al hierdie dinge word die mense van Jerusalem se sekuriteit. Dit sou hulle beskerm as die noodlot tref. Het God nie geweet hoe kwesbaar Jerusalem was aangaande sy water toevoer toe God die stad gekies het nie? God kies juis die plekke sodat hulle Hom sou vertrou en in Hom hulle sekuriteit sou vind. Luister na God se woorde aan die volk terwyl hulle oppad is na die beloofde land. Deuteronomium 11:10-12 Want die land waarheen jy nou op pad is om dit in besit te neem, is nie soos Egipteland waarvandaan julle weggetrek het nie – ‘n land waar jy jou saad gesaai en met leivore natgelei het soos ‘n groentetuin. Die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem, is ‘n land met berge en valleie; dit drink reënwater uit die hemel. Dit is ‘n land waarvoor die Here jou God bly sorg. Die Here jou God hou voortdurend sy oog daaroor – van die begin tot die einde van die jaar. Kan jy verstaan waarom hulle terug gehunker het na Egipte? Hulle wou vry kom van God.
Die profeet kondig aan dat God die volk oproep tot bekering en berou. Droefheid volgens die wil van die Here is dit wat redding en bekering teweeg bring. 2 Korintiërs 7:10 Want die droefheid, volgens die wil van God, bewerk inkeer, wat tot verlossing lei, en waaroor niemand ooit spyt is nie; maar wêreldse droefheid lei tot die dood. Hoeveel keer sou God met hierdie volk bemoeienis maak. Hoekom verwoes hy hulle nie net en begin oor met ʼn ander volk nie? Tog is Hy die God wat getrou bly aan Sy beloftes al is die mens ontrou. As jy gedink het dat hulle hulself op God se oproep sou bekeer maak jy ʼn groot fout. Hulle hou eerder fees met vreugde en moedig mekaar aan om te eet en te drink, want môre kan hulle sterf. Watter dwaas sou meer bekommerd wees oor hierdie lewe as die lewe hierna? So vertel Paulus dat as daar nie ʼn opwekking van die dode is nie is dit presies hoe jy na hierdie lewe moet kyk. 1 Korintiërs 15:32 As ek in Efese as ‘n sterflike mens teen wilde diere geveg het, van watter nut was dit vir my? As dooies nie opgewek word nie, laat ons eet en drink, want môre sterf ons. Die Rykman waarvan Jesus vertel, wat sy skure groter gemaak het, het juis hierdie filosofie gehad en ons weet dat God in daardie selfde nag sy lewe van hom geëis het. Lukas 12:19 Dan sal ek vir myself sê, Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik. God kondig die oordeel aan oor hierdie mense wat hulle nie tot Hom wil bekeer nie. Hy sal nie hulle ongeregtigheid versoen nie. Romeine 2:5 Deur jou hardkoppigheid en onbekeerlike hart is jy besig om toorn teen jouself op te stapel op die dag van toorn, wanneer die regverdige oordeel van God geopenbaar sal word.
Slot
Versoening is een van die mooiste woorde in die Skrif. Dit is wat die offers in die Tanach vir die volk moes bewerkstellig en dit het vorentoe gewys na die Seun van God wat die ware versoening sou bring. By Hom is daar vergifnis. Hy is die veilige vesting waarin die mense Sy vrede en vreugde moes vind. Die rots by wie ons moet skuil. Psalms 18:3 Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die horing van my redding, my toevlugsoord. Hoe tragies dat mense hulle troos en vreugde en sekuriteit op ander plekke soek.