Inleiding
In die vorige gedeelte het God se hand swaar op die Egiptenare gerus en hier verander die prentjie totaal as God die land herstel. In vers 1 tot 15 wys Jesaja aan die mense van sy dag hoe dwaas dit is om enigsins hulle vertroue in die Egiptenare te plaas. Egipte verteenwoordig die hele wêreld wat onder die wraak van God staan, aangesien hulle self wil regeer en hulle eie wysheid navolg. God sal veroorsaak dat daar in Egipte ʼn vrees vir Hom sal kom. Sonder dat hulle dit sou besef was die vrees vir die Here die begin van herstel.
Vrees is die begin herstel
Vrees vir die Here as die begin van wysheid word regdeur die wysheid literatuur in die Bybel en in die Psalms verkondig.
- Job 28:28 Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die HERE is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.
- Psalm 111:10 Resj. Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; Sin. almal wat dit beoefen, het ‘n goeie verstand. Tau. Sy lof bestaan tot in ewigheid.
- Spreuke 1:7 Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.
Alle vrees verander beslis nie die mens nie, maar daar is ʼn heilige vrees wat ʼn persoon in aanbidding bring. Psalms 96:9 Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid! Bewe vanweë sy teenwoordigheid, o ganse aarde! Dit is ʼn goeie plek om te wees as die situasies wat jou verskrik het nie meer kan opweeg teen die God voor wie jy staan nie. So sien ons dit met die apostels wat op die boot is terwyl die storm woed en in angs Jesus wakker maak. Dan gebeur die wonderlike wanneer hierdie vreesbevange manne, nadat die storm rondom hulle in ʼn oomblik bedaar het, ʼn vrees vir die Een op die boot het. Markus 4:41 Hulle is met diep ontsag vervul en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam? God se oordeel oor die Egiptenare sal ʼn vrees ontketen wat die dapper manne soos vroue laat word. Die Egiptenare het ʼn bondgenootskap met die Jode gehad in stryd met God se opdrag aan die Jode om nooit weer terug te hunker na Egipte nie. Deuteronomium 17:16 Hy mag net nie baie perde aanskaf nie en hy mag ook nie die volk na Egipte laat terugkeer met die doel om meer perde aan te skaf nie. Die Here self het vir julle gesê, Julle mag nooit weer op hierdie pad teruggaan nie. Na al God se plae teen die Egiptenare bewe hulle as hulle net die naam van Juda hoor as gevolg van God se besluit teen hulle.
Taal van bekering
Eers is daar net vrees, maar dit verander na soveel meer. Die Egiptenare se omkeer na God begin in die verandering van hulle taal. Hulle taal sal nie werklik verander nie maar is ʼn metafoor dat hulle sal dieselfde taal praat as waarin die ware godsdiens geleef en verkondig word. Hierdie is beslis ʼn herstel na die periode voor God se straf by die Toring van Babel toe Hy mense wat vir hulself ʼn naam wou maak, in verskillende tale laat praat het. Dit wys ook vorentoe na die vervulling op Pinksterdag wanneer die mense in Jerusalem die evangelie wat verkondig word in hul eie taal kon verstaan. Dit word ook voorspel in Safanja. Sefanja 3:9-10 Ja, daarna sal Ek weer volke se lippe rein maak, sodat almal die Here se Naam aanroep, en Hom skouer aan skouer dien. Van anderkant die riviere van Kus sal hulle wat My aanbid, wat Ek verstrooi het, offers aan My bring. Die vyf stede wat hulle aan die Here sal wy teenoor die een wat verwoes sal word wys op die totale vernuwing wat sal plaasvind. Hierdie toewyding word uitgedruk deur te sê dat hulle by die Here sweer. In Jesaja word duidelik gewys dat om by God te sweer beteken om aan Hom trou te belowe. Deuteronomium 6:13 Vir die Here jou God moet jy ontsag hê: Hom moet jy dien, en slegs in sy Naam moet jy sweer. Dit word ook voorspel in Jesaja 45. Jesaja 45:23 Ek sweer by Myself; geregtigheid gaan uit my mond, ‘n woord wat nie herroep word nie: dat voor My elke knie sal neerbuig, by My elke tong sal sweer. Ware aanbidding van God is om Hom te bely. Romeine 10:9 Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. Vers 18 eindig met een van die stede wat “Stad van verwoesting” genoem sal word. Elke stad wat hulle nie bekeer nie sal verwoes word. Die Hebreeuse woord beteken intense vervloeking wat dus lei tot hulle vernietiging en ewige dood.
Gedenktekens
Die altaar wat in Egipte sal wees dui op die aanbidding van God wat in Egipte sal plaasvind. By die grens sal ʼn gedenksteen wees soos die gedenksteen wat die Israeliete opgerig het toe hulle deur die Jordaan getrek het. Hulle het twaalf stene nie net in die rivier geplaas het nie, maar ook op die droë grond aan die kant van Kanaän waarheen hulle oppad was. Hierdie stene was ter herinnering dat God hulle verlos het en daarom sal Egipte ook ʼn gedenksteen hê om hulle te herinner aan God se werk van verlossing in hulle land. Dit sal ook ʼn teken aan die Here wees dat hierdie Sy mense is en dat Hy hulle sal verlos wanneer hulle Hom aanroep. Dit is soos die reënboog wat God aan die mens gegee het na die sondvloed, nl. om hulle te herinner dat hy nooit weer die wêreld deur water sal vernietig nie, maar ook om ʼn herinnering aan Hom te wees van sy verbondsbelofte aan die wêreld. Genesis 9:16 As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is.
Ware verlossing
Waar die gedenksteen ons herinner aan Israel se deurtog deur die Jordaan, herinner die verdrukkers waardeur Juda verdruk is ons aan God se pad met Israel deur Rigters. God sal mense stuur om hulle te verdruk, maar ook stuur Hy die verlosser wanneer hulle Hom aanroep. Al die verlossers wat God in Rigters gestuur het was gebrekkig en het in hul eie lewens te kort geskied in geregtigheid. Dit het ʼn afwagting geskep vir die ware Verlosser wat sou kom in geregtigheid. Hierdie verlosser wat God sou stuur is Jesus Christus, wat die Verlosser van die wêreld, Jood en heiden, sou wees. Hy is die ware Verlosser waarna die profete gewys het. Hierdie openbaring aan die Egiptenare van wie God is sal van Hom af kom. Dit is altyd God wat die inisiatief neem en na die mens toe uitreik. Ons kan kyk na Noag en Abraham en elke persoon in die Bybel en ons sal sien dat dit in elke geval God is wat die inisiatief neem in hul verlossing. Die Woord sê duidelik dat daar geen mens is wat na God soek nie. In Romeine 3 haal Paulus Psalm 14 en Psalm 53 aan as sê: soos daar geskryf staan: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Romeine 3:10-12. Die ware godsdiens is nie die mens wat na God kom of God soek nie, maar dit is God wat Sy reddende hand na die mens uitsteek. Daarom is dit God wat die hart oopmaak van elke individu wat Hy red. Dink maar aan Lidia in Handelinge. Handelinge 16:14 ‘n Vrou uit die stad Tiatira, ‘n purperhandelaar met die naam Lidia, wat God vereer het, het ook geluister, en die Here het haar hart oopgemaak om ag te slaan op wat Paulus gesê het. Omdat God Hom aan hulle sal openbaar sal die Egiptenare die Here ken en in gehoorsaamheid Hom dien. Die offers wat hulle bring is die Tanach se metafoor van mense wat in gehoorsaamheid God dien al sou daar onder die Messias nie meer offers gebring word nie. Die proses wat dan beskrywe word is die pad wat God loop met elkeen van Sy kinders en ook met Egipte, aangesien hulle ook deel sal vorm van die verlostes. God belowe aan elke kind van Hom dat Hy ʼn Vader sal wees en dat Hy diegene sal tug wat Hy liefhet. Hebreërs 12:7-8 Verdra dit as tugtiging, want God behandel julle as sy seuns. Want watter seun word nie deur sy vader getug nie? Maar as julle sonder tugtiging is, waaraan almal deel gehad het, dan is julle oneg, en nie egte seuns nie. Een van die bewyse dat jy aan God behoort is dat Hy jou sal tug as jy in sonde verhard en enige persoon wat aanhou met sonde en nie getug word nie kan seker weet dat hulle nie ʼn kind van God is nie. Hy tug sodat Hy jou kan terugbring soos wat Hy met elke skaap maak wat afdwaal. Hy is nie net die God wat tug nie, maar ook die God wat genees en vergewe as ons na Hom ons toevlug neem. Hierdie volk sal ook nou soos Israel die voorreg geniet dat as hulle God aanroep, soos Israel van ouds in Egipte gedoen het, God hulle sal aanhoor.
Vrede en vernuwing
Dit is duidelik dat God se nuwe werk nie net vir Egipte sal geld nie as Jesaja profeteer dat daar ʼn grootpad sal wees vanaf Egipte na Assirië en dat albei die Here sal dien. Vir hierdie twee vyande, wat albei ook vyande van Israel was, sal ʼn dag aanbreek wat hulle in vrede met mekaar sal leef. Dit is een van die wonderlike vervullings wat in die vroeë kerk plaasgevind het toe mense uit verskillende volke om dieselfde nagmaal tafel gesit het en saam die Here verheerlik en aanbid het. Galasiërs 3:26-28 Want deur die geloof
is julle almal kinders van God in Christus Jesus, want julle wat in Christus gedoop is,
het Christus soos ‘n kleed aangetrek. Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer manlik en vroulik nie; want julle almal is één in Christus Jesus! Hierdie verskillende volkere sal hulle nou op dieselfde weg bevind omdat hulle saam die Here dien. Wat so wonderlik is, is dat die vroeë kerk ook bekend gestaan het as die mense van die Weg.
- Handelinge 24:14 Maar dit erken ek voor u dat ek volgens die Weg wat hulle sekte noem, so die God van my vaders dien, terwyl ek alles glo wat in die wet en in die profete geskrywe is.
- Handelinge 19:9 Maar toe sommige hulle verhard en ongehoorsaam was en voor die menigte aanhou kwaadspreek van die Weg, het hy van hulle weggegaan en die dissipels afsonderlik geneem en elke dag in die skool van ‘n sekere Tiránnus samesprekinge gehou.
Nie net Israel sal sy geseënde volk wees soos in die Tanach nie. Deuteronomium 32:9 want die Here se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfenis. Egipte en Assirië verteenwoordige alle volke wat nou sal inkom en deel sal vorm van God se uitverkore volk en heilige nasie. Hierdie vyandige nasies wat met mekaar saamwerk wys daarop dat die innerlike vernuwing wat vyande vriende maak alleen van God kon kom.
Wanneer God nou praat van Sy mense, praat Hy van mense uit elke volk en taal en nasie wat nou in Christus een volk geword het en Sy volk sal wees. Hulle sal ook sy maaksel wees, ʼn gedagte wat weereens bevestig word in die Nuwe Testament as God van die gelowiges praat as Sy skepsels.
- Efesiërs 2:10 Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.
- 2 Korinthiërs 5:17a Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.
Erfgename
Maar nie net dit nie, elke gelowige is ook nou Sy erfdeel. In Christus Jesus behoort ons nou aan die Vader en is ons erfgename van Hom. Efesiërs 1:18 en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien wat die hoop is wat sy roeping bied, wat die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels. Die Kerk is nou Sy nuwe volk en in hierdie volk is daar mense uit verskillende tale en nasies wat saam in vrede vergader en die Here loof en aanbid. Daarom verklaar God in die Nuwe Testament dat ons nie kan verklaar dat ons deel van hierdie nuwe volk is as ons ons medebroers in Christus haat nie. Die Kerk moet sigbaar God se herstel demonstreer en dit sigbaar maak dat God ʼn Weg in Christus Jesus geskep het tussen mense wat vroeër vyande was. Een van die mooi beelde van herstel en liefde wat God bring is sekerlik in die verhaal van Filemon en Onesimus. Onesimus was ʼn slaaf wat weggeloop het van sy eienaar Filemon. Onesimus kom tot inkeer onder Paulus en word terug gestuur na Filemon wat ook ʼn gelowige was. Luister na van die woorde waarmee Paulus Onesimus terugstuur. Filemon 1:15-16 Dalk was hy juis om hierdie rede ‘n rukkie lank van jou af weg, sodat jy hom vir altyd kan terugkry, nie langer as ‘n slaaf nie, maar meer as ‘n slaaf, as ‘n geliefde broer – in die besonder vir my, hoeveel te meer dan vir jou – liggaamlik, sowel as in die Here.
Slot
Die verhaal van Egipte is die verhaal van God se herstel. As vyande van God se volk word God se krag telkens aan hulle geopenbaar, soveel so dat hulle Sy naam vrees wanneer hulle net die naam van Juda hoor. In ons lewens is daar sekerlik mense wat hulself teenoor ons oprig omdat ons die Here dien. Die boodskap is duidelik dat ons nie hierdie mense moet vrees of op aardse maniere moet probeer om hul goedgunstigheid te wen, omdat ons dink dat dit sekuriteit sal bring nie. Ons moenie bondgenootskappe soek met die wêreld nie. In plaas daarvan moet ons ons hoop op redding vestig op Jesus Christus ons Verlosser en God sal in Sy soewereiniteit diegene wat daartoe bestem is tug en verander om saam met ons die Weg te stap.