Jesus en sy dissipels het uit Jerigo gegaan. ’n Groot menigte mense het saam met hulle gegaan.
Langs die pad het ’n blinde man, Bartimeus, die seun van Timeus, gesit en bedel.
Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin roep:
“Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!”
Baie mense het hom bestraf en gesê dat hy moet stilbly, maar hy het nog harder geroep:
“Seun van Dawid, ontferm U oor my!”
Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom.”
Hulle het hom geroep en vir hom gesê: “Hou goeie moed, staan op! Hy roep jou.”
Bartimeus het sy bo-kleed afgegooi, opgespring en na Jesus toe gekom.
Jesus het hom gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”
Die blinde man het gesê: “Rabboeni, dat ek kan sien.”
Jesus sê toe vir hom: “Gaan, jou geloof het jou gered.”
Dadelik kon hy sien. Hy het toe vir Jesus op die pad gevolg.