Jesaja 17

Inleiding

Die profesie openbaar dieselfde verhouding tussen Efraim en Aram, soortgelyk aan hoofstuk 8:1-4. In hierdie hoofstuk maak die mense van God in die Noordelike koninkryk, nl. Israel,  hulle eerste verskyning in die profesie van hoofstuk 13 tot 20. Hulle word verbind met Damaskus en Aram en ook saam met hulle vernietig. Damaskus was die hoofstad van Sirië. Dit was ʼn magtige stad met twee riviere, die Abana en die Farpar, waarvan ons lees in 2 Konings 5. In hierdie gedeelte lees ons van Naäman wat deur Elisa gestuur word om homself in die Jordaan te gaan was, sodat hy van sy melaatsheid genees kan word.  Naäman het soos volg hierop geantwoord: Is Abana en Parpar, die riviere van Damaskus, dan nie beter as al die waters van Israel nie? 2 Konings 5:12a. Die koning van Sirië het ʼn vennootskap met Israel gesluit en hulle het saamgestaan teen Juda. As die vyande van Juda sal hulle deur God oorwin word en die profesie is vir die gelowiges in Juda as bemoediging en vir sy vyande as waarskuwing.

Vyande word vernietig

Juda was nie in staat om teen die bondgenootskap van Sirië en Israel op te staan nie en hulle was vreesbevange dat hulle vernietig sou word. Tog belowe God dat Hy hierdie volke sal vernietig. Hierdie pragtige land sal totaal verwoes word en ook Israel sal so vernietig word dat troppe vee sal lê sonder iemand wat hulle skrik kan maak. Daar sal dus nie meer mense wees nie. God roep die oorblywende gelowiges in Juda op om te kyk, om hulle geestes oë oop te maak, en te sien wat God in die toekoms gaan doen. Om te weet dat God sal oorwin oor jou vyand en diegene wat jou bedreig moet vir elke gelowige rus en vrede te gee. Hierdie vernietiging sou plaasvind onder Tiglat-Pileser, die Assiriese koning, wat hulle oorwin en as gyselaars weggevoer het. Net soos met Israel, sal Aram al sy heerlikheid, dit waarin sy roem en eer was, verloor. Alles waarin die wêreld hulle vertroue en roem plaas sal deur God tot ʼn einde gebring word, maar diegene wat in die Here hulle vertroue plaas en op Hom wag sal ʼn blywende krag beleef. Jesaja 40:31Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.

God se verbond

Vanaf vers 4 tot 8 is die fokus op Israel, tien van die twaalf stamme, en God se pad met hulle. Die vet van hulle vlees wys op hul selfvergenoegdheid, rykdom en boosheid, net soos hulle ook deur Jeremia beskrywe word. Jeremia 5:28 Hulle het vet en blink geraak; hulle is ook onoortreflik met dade van boosheid. ‘n Regseis waaroor hulle nie uitspraak lewer nie, is die regseis van ‘n vaderlose kind, sodat hulle dit nie laat slaag nie. Oor die regsaak van behoeftiges gee hulle geen beslissing nie. God belowe dat Hy hierdie vet sal laat wegteer. God vergelyk hul toestand met ʼn kaal gestroopte land nadat die oes ingesamel is. Dit is hoe Israel sal lyk as God met hulle klaar is. En dan, in die middel van hierdie uitspraak dat God hulle sou vernietig, word ʼn troosvolle boodskap ingebring. Dit is asof God te midde van Sy wraak oor Israel tog aan hulle wil verkondig dat Hy hulle nie totaal sal vernietig nie. Sy genade oor hulle sal beslis nie tot ʼn einde kom nie. Met alles wat hulle gedoen het sal God nog steeds ʼn aantal vruggies op die bome laat oorbly. Watter genade! God hou sy beloftes ten spyte van die mens se ongehoorsaamheid.

Genesis 17:7 Ek sal my verbond tussen My en jou en jou nageslag ná jou handhaaf, deur hulle geslagte heen, as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou. Hierdie belofte word ook deur Paulus bevestig as hy na die Jode van sy dag wys as vyande van die kerk en tog sou God sy belofte aan hulle gestand doen. Romeine 11:28 Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande om julle ontwil, maar wat die uitverkiesing betref, is hulle geliefdes om die voorvaders se ontwil. Die mens is gebroke en geneig tot die verkeerde en as dit enigsins van die mens afhang sou niemand die verlossing kan beërwe nie. Die verbond het God met Abraham gemaak toe sy naam nog Abram was. God roep hom op om verskillende diere, ʼn tortelduif en ʼn jong duif te bring en net die diere in twee te verdeel. Abram word moeg om die roofvoëls te verwilder wat op hierdie oopgesnyde diere toesak en raak aan die slaap. Die beeld is duidelik dat die mens nie in staat is om te volhard tot die einde nie. God maak dan aan hom ʼn belofte en ʼn rokende oond en vurige fakkel beweeg deur die vleis wat wys dat God deur die dooie diere beweeg. In daardie tyd wanneer ʼn verbond tussen twee partye gesluit is, het hulle die diere so verdeel en belowe dat die een wat die verbond verbreek ook soos die diere doodgemaak sou word. In plaas daarvan dat Abram ook deur die diere beweeg, beweeg net God deur, aangesien net Hy die belofte kon waar maak. Die boodskap gaan selfs verder: dat God self die wraak as gevolg van die ongehoorsaamheid van die mens wat die verbond verbreek, sou dra. Dit doen Hy natuurlik aan die kruis as Jesus in ons plek die wraak van God dra. Watter gerustheid is daar nie vir elke gelowige nie. God het jou, net soos Israel uitverkies en met jou ʼn verbond gesluit. Filippense 1:6 juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus. Daarom, wanneer die skrywer van Hebreërs na Christus se offer wys, verkondig hy dat dit eenmalig was en dat dit diegene vir wie dit geoffer is vervolmaak is.  Hebreërs 10:14 Want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak.

God tug die wat Hy liefhet

God sou hierdie volk terugbring na die plek waar die oorblywendes na God sal kyk. God se straf sou die oorblywendes laat terugkeer na Hom. Hoe wonderlik is sy tugtiging nie vir die wat aan Hom behoort nie? By die gelowige veroorsaak sy tugtiging goeie vrugte en ʼn diepe inkeer. Hebreërs 12:5-6 En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem. God vertel dat die oorblyfsel nie na hul eie handewerk en afgode sal kyk nie, maar na Hom. Dit laat ons dink aan die gelykenis van die Verlore Seun wat alles gehad het in sy vader se huis, maar na die wêreldse dinge gehunker het vir sy geluk. Alles wat aan hom behoort verkoop hy en ag die erfenis van sy pa van geen waarde nie. Hy vind sy vreugde in die wêreld en die wêreld se genot word sy genot. Dan breek daar ʼn hongersnood uit, wat wys op God se ingrepe en tugtiging in die seun se lewe. Hierdie seun beland tussen die varke, wat ʼn metafoor was van waar hy homself nog die hele tyd bevind het in hierdie vreemde land. Hy herinner homself aan dit wat in sy vader se huis was en hoe goed dit daar met hom gegaan het, ja, dat tot die slawe van sy pa beter daaraan toe is as hy. Nou kyk hy met nuwe oë, net soos wat die volk nou met nuwe oë weg van hul afgode, na God sal kyk. Psalms 123:2 Kyk, soos die oë van slawe gerig is op die hand van hulle eienaar, soos die oë van ‘n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God totdat Hy ons genadig is. Hulle sal nie meer kyk na hulle afgode en dit waarin hulle hulle vertroue geplaas het nie.

Die Rots verruil

Vers 9 gaan dan weer terug na die tydperk voor die oorblyfsel se bekering, na die tyd van Israel se vernietiging. Alles waarin hulle gehoop en waarop hulle vertrou het is platgeslaan en lê vernietig a.g.v. hul sonde. Romeine 2:5 Deur jou hardkoppigheid en onbekeerlike hart is jy besig om toorn teen jouself op te stapel op die dag van toorn, wanneer die regverdige oordeel van God geopenbaar sal word. Hulle het God as die rots waarin hulle toevlug was, vergeet. Hierdie beeld roep so baie verhale in die Tanach en die Nuwe Testament na vore en word op voortgebou. God het uit die rots water laat stroom om die volk se dors te les en is dit wat heenwys na Christus, die ware rots, waarby die mens se ewige dors geles sou word. 1 Korintiërs 10:4 en almal het dieselfde geestelike drank gedrink. Want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat hulle gevolg het – en die rots was Christus. Hy is die rots waarvan Hanna sou praat in haar gebed na die geboorte van Samuel. 1 Samuel 2:2 Niemand is heilig  soos die Here nie, ja, daar is niemand buiten U nie; daar is geen rots soos ons God nie. God word deur Dawid ook telkemale die Rots genoem by wie hy skuil. Psalms 18:3 Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die horing van my redding, my toevlugsoord. Watter tragedie dat hierdie volk hierdie Rots verruil het vir nuttelose dinge en afgode. Weer word dit beklemtoon dat hierdie volk uitlandse wingerdstokke geplant het. Hulle het met vreemde volkere saam gespan, maar dit sou vir hulle tot geen voordeel strek nie. Keer op keer het God hulle gewaarsku om nie met vreemde volkere verdrae te sluit nie, maar in Hom hul vertroue te plaas, aangesien daar ʼn verbond tussen Hom en hulle is. So beklemtoon God dit ook in die Nuwe Testament wanneer Hy aan die gelowige beveel om nie in dieselfde juk met ʼn ongelowige te trek nie. 2 Korintiërs 6:14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter vennootskap  kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter verbondenheid  kan daar wees tussen lig en duisternis? Of dit in die huwelik is of in ʼn besigheidsvennootskap, die gelowige wat op enige plek saam met die ongelowige in ʼn juk trek sal dit doen tot sy eie nadeel en verdriet. Hierdie vennootskap, soos die van Israel met goddelose volke, sal ʼn ongeneeslike smart te weeg bring.

Slot

In vers 12 word die vyande wat Israel sal aanval beskryf as die gedreun van baie volke. Die Assiriese volk se weermag was opgemaak uit verskillende volke se soldate. Hierdie groot en magtige nasies sou soos tolbosse voor die wind weggedryf word. Die profesie vertel hoe hulle in die aand nog ʼn bedreiging sou wees en teen die oggend totaal vernietig sou wees. Juda sou hierdie profesie in vervulling sien gaan toe hulle in die aand gaan slaap het met die magtige Assiriese magte op hul voorstoep en teen die oggend net ʼn karige oorblyfsel sou vind, nadat God een van sy engele gestuur het om in een nag honderd vyf en tagtigduisend soldate uit te wis. So belowe God sal dit wees met elke mag wat teen sy kinders sal opstaan, hulle einde is seker. So sal die antichris en al sy magte optrek teen Jerusalem en met God se asem uitgedelg word. 2 Tessalonisense 2:8 En dan sal die wettelose mens geopenbaar word, die een vir wie die Here Jesus deur die asem van sy mond sal uitwis – ja, Hy sal hom deur die glans van sy verskyning vernietig.  Waarin is jou vertroue geplaas? Wie dink jy kan vir jou ʼn rots of beskutting wees, wanneer die aarde dreun van vyande in hierdie wêreld. Dink jy mense kan jou help? Mense, wat in een oomblik hulle laaste asem kan uitblaas? In Jeremia beeld God die volk so goed uit deur te wys waar hulle hulp gaan soek en tot watter nut dit vir hulle was. Jeremia 2:13 Want twee wandade het my volk gepleeg: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle opgaarputte uit te kap – gebarste opgaarputte wat nie water hou nie. Alleen in God is ware rus en net in Hom is daar vrede. Hy is die bron van lewe. In Hom alleen ontdek ons ʼn lewe van oorvloed. Is Hy jou Rots?