Daar was ’n bruilof in Kana in Galilea. Jesus se ma was daar en Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof genooi.
Toe die wyn opraak, het Jesus se ma vir Hom gesê:
“Daar is geen wyn nie.”
Jesus het haar geantwoord:
“Vrou, wat het Ek met u te doen? My uur het nog nie gekom nie.”
Sy ma het egter vir die kelners gesê:
“Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.”
Daar was ses klipkanne
wat gebruik is vir die reiniging volgens die Joodse gebruik. Elkeen kon tussen 70 en 120 liter hou.
Jesus het vir die kelners gesê:
“Maak die kanne vol water.”
Hulle het dit tot bo toe vol gemaak.
Toe sê Hy vir hulle:
“Skep nou daarvan uit en bring dit vir die seremoniemeester.”
Hulle het dit vir die seremoniemeester gebring. Toe hy die water proe wat wyn geword het, het hy nie geweet waar dit vandaan kom nie. Die dienaars wat die water geskep het, het egter geweet.
Die seremoniemeester het die bruidegom geroep en vir hom gesê:
“Elke mens sit eers die goeie wyn voor, en wanneer die mense goed gedrink het, die minder goeie. Maar jy het die goeie wyn tot nou toe bewaar.”
Dit was die eerste van Jesus se tekens. Hy het dit in Kana in Galilea gedoen en daarmee sy heerlikheid geopenbaar. Sy dissipels het in Hom geglo.