Inleiding
In hierdie gedeelte sien ons die uiteinde van die arrogante Babiloniese koning wat gedink het hy is ʼn god en homself bo die enigste God van die heelal verhef het. Dit is nie net ʼn voorspelling van wat met hierdie koning gaan gebeur nie, maar ʼn skets van dit wat vir elke mens voorlê wat God ontken. Hier word nog nie van die hel gepraat nie, maar bloot van die doderyk en dit is duidelik dat niks van die aardse hier geld nie. Jy kan niks van jou aardse lewe hiernatoe saambring nie. Die dood is ʼn werklikheid en die lewe tydelik.
Doderyk vs. die hel
Hierdie voorspelling wys na die toekoms al word dit hier beskrywe asof dit alreeds plaasvind. Op aarde is daar stilte en liedere wat opgaan, maar in die doderyk was daar ʼn beroering. Dit is belangrik om eers te verduidelik wat die doderyk is aangesien baie die doderyk gelyk stel aan die hel. Die doderyk is die plek waar al die siele leef wat op aarde gesterf het soos dit hier, en ook op ander plekke in die Tanach(Ou Testament), alreeds duidelik gemaak word. Psalm 49:15 Soos skape word hulle bestem vir die doderyk; die dood is hulle herder, en die opregtes heers oor hulle in die môre; en hulle gestalte is daar vir die doderyk om te verteer, sodat daarvoor geen woning meer is nie (Ou vertaling). In die Nuwe Testament word dit veral duidelik gemaak in Jesus se verhaal van die rykman en Lasarus. Dit is baie duidelik dat hierdie verhaal nie ʼn gelykenis is nie aangesien geen persoon in enige gelykenis van Jesus ooit ʼn naam gehad het nie en ook omdat Jesus dit nie ʼn gelykenis noem nie. Hier maak Jesus dit duidelik dat in die doderyk daar ʼn skeiding is tussen die regverdige en goddelose mense. Lasarus, die regverdige man, is by die boesem van Abraham terwyl die rykman in ʼn plek is waar hy pyniging ondergaan. Dit is die plek waar die gelowiges tot en met Christus se sterwe aan die kruis en sy opstanding was. Jesus het hier sy oorwinning geproklameer. 1 Petrus 3:18-19 Immers, ook Christus het eens en vir altyd vir sondes gely, Hy, die Regverdige, ter wille van onregverdiges, sodat Hy julle na God kon bring. Hy is wel liggaamlik doodgemaak, maar deur die Gees is Hy lewend gemaak. Deur die Gees het Hy ook gegaan en dit vir die geeste in gevangenskap aangekondig. Met Jesus se opstanding staan baie gelowiges wat reeds gesterf het op en verskyn aan baie mense. Matteus 27:52-53 Die grafte is geopen en baie liggame van ontslape heiliges is opgewek. Hulle het ná sy opstanding uit die grafte gekom, die Heilige Stad binnegegaan en aan baie verskyn. Daarom vind ons ook in Openbaring dat die 24 ouderlinge wat die Tanach se gelowiges verteenwoordig op trone sit en die wat uit die verdrukking kom onder die altaar is en dus duidelik nie meer in die doderyk is nie. In Openbaring word vir ons vertel dat die dood en doderyk aan die einde in die hel gooi sal word. Openbaring 20:14 Toe is die dood en die •Hades in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. Die Nuwe 2020 vertaling gebruik die Griekse woord Hades wat doderyk beteken. Aangesien ons nou die onderskeid verstaan tussen die hel en die doderyk kan ons voortgaan om hierdie gedeelte te bespreek.
Plek van vernedering
Jesaja vertel spottenderwys hoe die koning van Babilon ontvang sal word as hy in die doderyk arriveer. Die doderyk en diegene wat daarin is, is in afwagting vir die koning van Babilon. Almal kom in beroering, die voorbokke wat die prinse beteken en die konings van die nasies. Soos ons uit die verhaal van Lasarus en die ryk man kan sien, sal mense mekaar in die doderyk kan herken. Hierdie koning wat die Israeliete verdruk het kom nou in sy ewige tuiste aan en neem sy plek in tussen al die goddelose konings en diegene wat Israel onderdruk het. Wanneer daar gesê word dat hulle opstaan van hulle trone is dit nie om te sê dat daar trone is nie, maar om aan die leser te vertel dat hulle dieselfde individue is wat op aarde geheers het. Ons sien ook dat hulle geen mag hier het nie as hulle beskrywe word as skimme of, soos in die Hebreeus, skaduwees. Hulle beskrywe ook hulleself as kragteloos in vers 10. Die konings en heersers sal die koning van Babilon spot aangesien hy net so swak soos hulle almal geword het. Die woorde wissel tussen jy en ons. Jy het geword soos ons. Alles wat hy gehad het en bereik het is nou daarmee heen en niks van al sy skatte en mag kon hy saam neem nie. Psalms 49:17-18 Moenie bang wees as iemand ryk word, as hy die rykdom van sy huis vermeerder nie; want hy sal niks daarvan in sy dood saamneem nie, sy rykdom sal hom nie na benede volg nie. Hoe maklik word die mens nie selfvoldaan asof hy vir ewig sal lewe en nooit rekenskap vir sy dade sal hoef te doen nie? Dawid skryf in die Psalms van hierdie prinse of regters, wat hy gode noem a.g.v. hulle taak, hulle wat namens God uitsprake moet gee en tussen reg en verkeerd moet oordeel, dat hulle net soos gewone mense sal sterf. Psalms 82:6-7 Ek self het gesê julle is gode, seuns van die Allerhoogste,
julle almal. Maar, soos mense sal julle sterf, soos enige leier sal julle val.
Doderyk na die hel
Die luuksheid van die koning van Babilon en die musiek wat in die koning se paleis gespeel is word alles verander en nou is wurms sy bed en die maaiers sy bedekking. Nie net verkondig die Woord dat die gelowige ʼn nuwe liggaam sal ontvang nie, maar ook dat die ongelowiges ʼn liggaam sal ontvang vir die pyniging wat hulle vir ewig sal deurmaak. Jesus bevestig dit ook aan die skare. Matteus 10:28 En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan. Dit wat dus in die hel gegooi sal word sal liggaam en siel wees. Hierdie plek sal gekenmerk word deur vuur en die wurms wat nie sal sterf nie. Jesaja 66:24 Hulle sal dan uit die stad gaan en die lyke sien van die mense wat teen My oortree het, want die wurms op hulle sal nie sterf nie, en die vuur om hulle sal nie uitbrand nie. Hulle sal afskuwelik wees vir alle mense. Jesus bevestig dat hierdie plek bestaan as hy dit herhaal. Markus 9:47-48 En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit! Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan as om met twee oë in Gehenna gegooi te word, waar die wurm in hulle nie doodgaan en die vuur nie geblus word nie. Hoe tragies as die mens dink dat dit wat hy op aarde vermag die belangrikste is en lewe asof die aardse ʼn groter realiteit as die ewige is. Weg is al jou aardse gemak en al wat nou oorbly is ongemak en pyniging. Hier sal jy ʼn bed ontvang wat waardig is aan die lewe wat jy geleef het, gevul met wurms.
Menslik hoogmoed
Die koning van Babilon word vergelyk met die môrester en hierdie vergelyk word deur baie van die vroeë kerkvaders en reformatore deurgetrek na die satan en ook die antichris. Dit word ʼn hele aantal kere deur die profete gedoen wanneer hulle ʼn heerser se heerskappy vergelyk met die Satan se hoogmoed en die soeke na eer. Ons kan dus sien dat hier verwys na ʼn tipe persoon; ʼn hoogmoedige, arrogante Godloënaar wat op soek is na wêreldse eer en mag. Dit is egter noodsaaklik om nie weg te beweeg van die persoon waarna eerstens in hierdie profesie verwys word nie, naamlik die koning van Babilon. Hy was oor die hele wêreld bekend en sy mag was oral sigbaar soos hy ander nasies aan hom onderwerp het. Hy word uitgebeeld as die een wat in eiewaan dink dat hy groter as enige iemand voor hom is en in beheer is van alles in die lewe. So skryf Jakobus ook van die mens wat dink dat hy vooruit kan beplan en dinge kan bepaal asof alles sal uitspeel soos wat hy beplan het. Jakobus 4:13 Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na hierdie of daardie stad gaan, en ‘n jaar daar deurbring, en handel dryf en wins maak. Nebukadnesar word in Daniel beskryf as só ʼn arrogante koning voordat God hom verneder het en tot orde geroep het deur hom soos ʼn dier gras te laat vreet. Net so was sy seun Belsasar, wat van die ornamente uit die tempel geneem het en daarmee fees gevier het. Hierdeur het hy verklaar dat hy hoër as God is en aan niemand rekenskap hoef te gee nie. Ons weet almal wat in daardie nag met hom gebeur het in ooreenstemming met Daniel se verklaring van die skrif teen die muur. Hierin is hy ook soos die antichris wat sal kom. 2 Tessalonisense 2:4 die een wat teenstand bied, en hom verhef oor alles wat God of voorwerp van aanbidding genoem word, sodat hy selfs in die tempel gaan sit en hom as God voordoen. Van die skepping af het die mens nog altyd die begeerte gehad om God te wees en hulleself in die plek van God te plaas. So sien ons dit met die satan se stelling aan Eva. Genesis 3:5 Maar God weet dat die dag wanneer julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan. Dan sal julle word soos God, wat goed en kwaad ken.
Geen eer selfs in sy dood
Weer verklaar die profesie dat die koning sal afdaal na die doderyk en vertel met sarkasme dat daar na hom gekyk word in sy vervallenheid en gevra word of hy die een was wat al die koninkryke laat bewe het. Die man wat alles verwoes het en niemand laat vrykom het nie. Hy was gevrees en kyk hoe lyk hy nou. Hierdie koning, en hier wys dit heel moontlik na Belsasar, sal nie soos al die ander konings wat tot rus gekom het in hulle huis, die plek waar hulle begrawe is, ʼn behoorlike begrafnis op aarde hê nie. Belsasar weet ons is gedood met die oorname van die Mediërs en daar sou dus geen koninklike begrafnis vir hom gewees het nie. Hy sou nie eers op aarde met sy dood enige eer vir sy lewe ontvang nie en sy lyk word deur mense vertrap. So ʼn persoon word as ellendig deur die mense van sy tyd beskou en word soos volg deur die Prediker beskrywe. Prediker 6:3 As iemand honderd kinders verwek en baie jare leef – hoe baie sy lewensjare ook al is – maar sy begeerte na die goeie nie versadig word nie, en daar ook nie ‘n begrafnis vir hom is nie, dan sê ek: ‘n Misgeboorte is beter as hy! Jesaja is nie hier besig om net van een persoon te praat nie, maar wel van ʼn hele ryk wat vernietig word en dat selfs die nasate tot ʼn einde sal kom sonder enige heerskappy.
Slot
God sal al hierdie dinge laat plaasvind. Hy bring die Babiloniese ryk tot ʼn einde. Hulle konings het gedink dat hulle magtige gode is wat alles bepaal en dat hulle heerskappy oor alles het. God spreek hulle aan en wys dat Hy in beheer is en ook die dag van hulle verwoesting bepaal het. Al sou die Mediërs Babilon oorwin en sy leierskap verwoes verklaar God dat dit Hy is wat dit sal doen. Die totale vernietiging waarvan vers 23 praat sou eers plaasvind na die dood van Alexander die Grote. Alles sou plaasvind presies soos God voorspel het aangesien God dit nie net voorspel nie, maar ook die Een is wat aktief betrokke is in die uitvoering van Sy plan.
Die oproep tot elke leser is om hulle te bekeer en in nederigheid voor die Koning van die konings te buig. Niks in hierdie lewe is dit werd om die ewige in pyniging deur te bring nie. Jesus waarsku sy aanhoorders dat elkeen wat sy lewe op aarde wil red dit sal verloor en diegene wat dit om Sy ontwil verloor dit sal vind en dan volg die volgende woord: Wat sal dit ‘n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy lewe? Mattheus 16:26. Die gelowige maak nooit hierdie sy tuiste nie aangesien ons verseker weet dat daar vir ons ʼn ewige tuiste voorlê wat Christus vir ons gereed maak. 2 Korintiërs 5:1 Ons weet tog dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het wat van God kom, ‘n ewige woning in die hemele, wat nie met hande gemaak is nie.