Jesus in die Tempel

Toe Jesus agt dae oud was, is Hy besny en die naam Jesus gegee, soos die
engel voor sy geboorte gesê het.

Toe die dae van reiniging volgens die wet van Moses verby was, het Josef en Maria Hom na Jerusalem geneem om Hom aan die Here voor te stel. Hulle het ook die offer gebring wat die wet van die Here voorgeskryf het: ’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.

Daar was in Jerusalem ’n man met die naam Simeon. Hy was regverdig en godvresend en het uitgesien na die koms van die Messias. Die Heilige Gees het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterf voordat hy die Verlosser van die Here gesien het nie.

Deur die Gees gelei, het Simeon na die tempel gegaan. Toe Josef en Maria die kindjie Jesus inbring, het Simeon Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê:

“Here, nou laat U u dienskneg in vrede gaan volgens u woord, want my oë het u heil gesien wat U voorberei het voor die oë van al die volke: ’n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.”

Josef en Maria was verwonderd oor die dinge wat van Jesus gesê is.

Daar was ook ’n profetes, Anna, die dogter van Fanuel. Sy was baie oud en het die tempel nie verlaat nie, maar God dag en nag gedien. Sy het op daardie oomblik nader gekom, God gedank en oor die Kind gepraat met almal wat die verlossing van Jerusalem verwag het.

Nadat Josef en Maria alles gedoen het wat die wet van die Here vereis het, het hulle teruggegaan na Nasaret in Galilea.

Die Kind het gegroei en sterk geword. Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.