Jesaja 11:11-16

Inleiding

In die vorige gedeelte het ons die reeds en die nog nie van God se koninkryk gesien, die “reeds” in die vrede met God wat elke gelowige ervaar die oomblik as hy/sy Jesus Christus as Middelaar en Verlosser van hul sonde aanvaar en die “nog nie” in die vrede wat die vloek van die sondeval totaal sal vernietig en die nuwe Aarde wat sal terugkeer na die toestand soos tydens die Tuin van Eden. In hierdie gedeelte word spesifiek gekyk na die volk van die Here en wat met hierdie weerbarstige volk Israel sal gebeur in die toekoms. Indien die nasies, wat vroeër heidens was, so deur God “lewendig” gemaak kan word, wat wag vir die fisiese volk van God.

Die Jode

Die gedeelte begin met “in daardie dag” wat ʼn eskatologiese, toekoms afwagting skep. God sal weereens sy mense bevry deur Sy hand. Sy hand herinner ons aan sy magtige bevryding van uit Egipte. Eksodus 3:19-20 Ek weet egter dat hy, die koning van Egipte, julle nie sal toelaat om te gaan nie, tensy hy gedwing word deur ‘n kragtige hand. Maar Ek sal my hand uitsteek en Egipte tref met al my wonders wat Ek in hulle midde gaan doen. Daarna sal hy julle laat gaan. Net so sal God met sy reddende hand ʼn oorblyfsel van Sy volk red wat verstrooi sal wees. Jesaja begin by die mag van die Assiriërs vanwaar God sy mense sal terug bring, dan Suid Egipte, Patros en Kus, dan Noordoos Elam Sinear(Babilon), gevolg deur Hamat in die vere Noorde en die kuslande van die Mediterreense see. Hierdie vervulling sou in die toekoms plaasvind. Dit het beslis nie plaasgevind onder Serubbabel in die tyd van Esra nie, aangesien daar slegs ʼn bevryding van Babilon plaasgevind het. Sommige kommentatore wil hierdie profesie van toepassing maak op die Kerk. Dit is egter vreemd, aangesien ons net in die vorige vers gelees het van die nasies wat vra na die wortel van Isai, Jesus Christus.  Die nasies en die volk is dus duidelik twee verskillende groepe. Dit is presies wat baie mense doen in Openbaring waar God duidelik onderskei tussen die gelowiges van die nasies en ʼn herstel van Israel. Die herstel van Israel sal volgens Jesaja plaasvind vanuit ʼn vernuwing van die nasies wat dan op hul beurt weer vir Israel sal evangeliseer en God wat Sy twee getuies in Openbaring stuur om spesifiek in Jerusalem te preek. Jesaja 49:22 So sê my Heer, die Here: Kyk, Ek sal na die nasies my hand ophef, na die volke my banier omhoog hou. Hulle sal jou seuns bring in die vou van die kleed, en jou dogters op die skouer dra.

Die Bybel laat ons nie toe om hierdie groepe met mekaar te verwar nie. Slegs wanneer iemand vanuit die Jodedom tot geloof in Jesus Christus kom kan hierdie groepe onder een naam gegroepeer word, nl. die Verlostes van Christus en Paulus maak dit ook duidelik dat, nadat mense uit alle volke ingekom het, God se genade weer na Israel sal uitreik. Romeine 11:25-27 Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik ‘n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid  uit Jakob verwyder. En dit sal my verbond  met hulle wees wanneer Ek hulle sondes  wegneem. Dit is wat Openbaring se profesie aangaande die eindtyd voorspel as dit vertel van mense uit alle volke en tale en nasies was sal inkom in God se koninkryk,  asook ʼn oorblyfsel van Israel, en hier word die stamme van Israel spesifiek genoem net om dit nog duideliker te maak.

God se belofte vir die Jode

Deur die hele Nuwe Testament, wanneer Israel of die Jode genoem word, word dit altyd gebruik om te verwys na die volk van die Ou Testament waarmee God ʼn verbond gesluit het. Die enigste vers waar daar wel ʼn twyfel oor is of dit na die volk verwys is in Galasiërs 6. Wat tog interessant is, is dat die voorafgaande vers praat van twee groepe: besnydenis en onbesnedenis en dan volg hierdie vers, vers 16. Galasiërs 6:15-16 Want nóg besnedenheid, nóg onbesnedenheid beteken hoegenaamd iets, maar wel ‘n nuwe skepping. Vir hulle wat volgens hierdie beginsel leef: vrede en ontferming – en vir die Israel van God! Die Israel van God wys hy dus na die groep wat waarlik gelowiges is en uit die besnydenis kom. Dit is vir my belangrik om klem hierop te lê aangesien so baie vandag weer, soos in die verlede, wil maak asof daar geen belofte vir die Jode gemaak is nie en of God nie sy beloftes aan hulle gestand sal doen nie. Die gelowige kan juis aan God se getrouheid vashou, omdat hulle kan sien hoe God ten spyte van Israel se weerbarstigheid, steeds ʼn klein oorblyfsel sal bewaar vir verlossing as hulle hulle toevlug sal neem na die Een wat hulle deurboor het, Jesus Christus. Sagaria 12:10-11 Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek ‘n gees van genade en ‘n gesindheid van smeekgebede uitstort. En hulle sal kyk na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor hom rou soos ‘n mens rou oor ‘n enigste seun, en hulle sal bitterlik huil soos ‘n mens huil oor ‘n eersgebore kind. Op daardie dag sal die rouseremonie in Jerusalem net so groot wees soos die rouseremonie oor Hadad-Rimmon in die Megiddovlakte. Daar is twee gevare as dit kom by die Jode, die een is om te maak asof God sy beloftes aan hulle verbreek het en die tweede is om te maak of hulle ʼn wonderlike volk is en nie nodig het om weergebore te word en Christus as koning te aanvaar nie. Die Jode sal juis deur die kerk geëvangeliseer moet word sodat hulle hulle tot God sal bekeer en in Christus hulle redding sal vind. So sien ons ook in Openbaring elf hoe die mense wat beskryf word as inwoners van Jerusalem geëvangeliseer word deur die twee getuies en hoe sewe duisend omkom, wat ʼn volmaakte getal is, en dat die oorblywendes aan die God van die hemel heerlikheid toebring. Openbaring 11:13 Op daardie uur het daar ‘n groot aardbewing plaasgevind, en ‘n tiende van die stad het inmekaar gestort. In die aardbewing het seweduisend mense omgekom, maar die res het vreesbevange geraak, en aan die God van die hemel heerlikheid betoon. Verder is daar ʼn baie duidelike oorvleueling tussen God se pad met Israel en Sy pad met die Kerk en baie van die Ou Testamentiese profesieë wys nie net na ʼn vervulling in Israel nie, maar ook in die Kerk. So sien ons dan ook hoe God gelowiges wat oor die wêreld versprei is met sy koms sal versamel net soos Hy ook Israel sal versamel aan die einde. Matteus 24:31 Hy sal sy engele stuur met luide trompetgeskal, en hulle sal sy uitverkorenes uit die vier windrigtings versamel, van die een uithoek van die hemele tot by die ander.

Eenheid

In vers 12 het ons weer die twee groepe, die nasies en Israel en die keer word dit duidelik gemaak dat Juda en Israel, wat uitmekaar gejaag is en verstrooi is, nou beide terug gebring sal word. Dit is dan ook wat God deur Moses aan Israel belowe het, dat Hy hulle sal terugbring nadat Hy hulle uitmekaar gejaag het a.g.v. hulle sondes. Deuteronomium 30:3 dan sal die Here jou God jou lot verander. Hy sal Hom oor jou ontferm en jou weer bymekaarmaak uit al die volke waarheen die Here jou God jou verstrooi het. Hier word daar van ʼn banier gepraat waar al die nasies bymekaar sal kom. ʼn Banier is in ʼn oorlog opgelig sodat die soldate wat onder daardie banier geveg het bymekaar sou kom. Die Banier van die nasies is Christus se verlossingswerk waaronder al die gelowiges van die nasies bymekaar sal kom. So sê Jesus ook aan sy volgelinge dat sy skape sy stem sal hoor en Hom sal volg. Johannes 10:27 My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.

Daar word ʼn eenheid tussen Israel en Juda beskryf. God gebruik die vroulike vorm vir die stam van Juda en die manlike vir Israel en wys daardeur dat Hy hulle sal terugbring en verenig nadat hulle uitmekaar gedryf is en geskei is as gevolg van afguns en onmin. Van die begin af was daar onmin tussen Jakob se seuns. Na die dood van Salomo word hierdie geskil op die spits gedryf as 10 van die stamme wegbreek van Juda en Israel vorm. 2 Kronieke 10:16 Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord: Watter aanspraak het ons  op Dawid? Ons het geen erfdeel in die seun van Isai nie; elkeen na sy tente toe, Israel! Sien nou om na jou eie huis, Dawid! Die hele Israel het toe na hulle tente gegaan. In vers 13 word Israel, soos in baie plekke in die Ou Testament, onder die naam Efraim beskryf. Juda is deur Jakob ʼn hoër seën gegee as die ander broers. Jesaja beskryf die jaloesie tussen hierdie stamme en profeteer dat dit aan die einde van die dae tot ʼn einde sal kom. Is dit nie waar dat as God harte verander  ʼn liefde en deernis ontstaan tussen diegene wat mekaar voorheen nie kon verdra nie? As jou gedrag nie verander en daar geen liefde en vergifnis in jou lewe ten toon gestel word nie het jy beslis nie die transformasie wat Christus bring ervaar nie. Die gelowige ondergaan ʼn metamorfose en die ou wurm verander in ʼn pragtige skoenlapper. Dit is so mooi in die vorige gedeelte bespreek waar die wilde en die mak diere saam wei en hier word dit ook van toepassing gemaak op Juda en Israel of, soos in hierdie vers, Efraim. Hierdie Dawid waarmee hulle niks te doen wou gehad het nie se afstammeling, die wortel, sou nou die een wees waarin herstel sal kom en in Hom sal hulle hulle toevlug vind.

Die vraag ontstaan as Juda en Israel nou verenig word wat met al hulle vyande rondom hulle sal plaasvind. Hier word ons geskok om te sien dat selfs die volke wat vroeër vyandig teenoor Israel was nou in vrede saam sal lewe. Hoe sal dit plaasvind? Sal daar met die swaard geveg moet word om vrede te bewerk? Die vrede sal bewerk word deur die Groot Vredemaker. Die evangelie is dit wat die harte van mense sal verander en vernuwe. So vind ons dit ook in Paulus, wat eers Saulus genoem is, se lewe. Hy is oppad na Damaskus in ʼn gees van haat en om die kerk te vernietig. Hier op die pad na Damaskus het hy ʼn ontmoeting met die lewende God en die Kerk se grootste vyand word die Kerk se grootste sendeling. Die oorwinning sal behaal word met geestelike wapens en niemand sal Israel meer bedreig nie. Vyande van God sal deur die evangelie van oral oor die wêreld gebring word om hulle toe te wy aan die Here. Aan die einde van die dae sal al die buit van die wêreld aan die gelowiges behoort en ons sal die nuwe aarde beërwe. Prediker 2:26 Ja, aan die mens wat Hy aanvaarbaar vind, gee Hy wysheid, kennis en vreugde; maar vir die een  wat verkeerd optree, gee Hy die taak om te versamel en bymekaar te maak – net om dit te oorhandig aan een wat aanvaarbaar is vir  God. Ook dit is sinloos en ‘n gejaag na wind.

God maak ʼn Weg

God sal in die laaste dae vir Egipte met die banvloek tref. Soos Egipte voor die uittog van die Israeliete met plae getref is, so sal dit ook aan die einde wees wanneer die wraakbakke  van Openbaring oor die wêreld uitgegooi sal word. In Openbaring word die hoeveelheid wraakbakke wat uitgestort word met die perfekte getal sewe beskryf, maar dit word ook gekoppel aan die laaste sewe plae wat net Egipte getref het en nie die Land Gosen waar Israel vertoef het nie. In hierdie uitstorting van die sesde wraakbak sien ons hoe die Eufraat, net soos hier in Jesaja, sal opdroog. Openbaring 16:12 Die sesde engel het sy bak oor die groot Eufraatrivier uitgegooi, en die rivier se water het opgedroog om ‘n pad vir die konings uit die ooste gereed te maak. Niks sal in die pad kan staan van God se besluit om Israel terug te bring na Hom toe nie. So kan ons ook getuig dat God elke persoon wat Hy uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld na Hom toe sal trek. Romeine 8:30 en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. Daarom kan ek bid vir ongelowiges in die wêreld en in my familie wetende dat die magtige hand van God enige persoon, hoe verhard hy of sy ook mag wees kan trek na Hom. Dit maak nie saak waar God se uitverkorenes hulle bevind nie, God sal sy gelowiges gebruik om die blye boodskap na hulle te bring en die Heilige Gees sal hulle lewendig maak en die onstuimige see van sonde in hulle stil maak. God sal alle hindernisse verwyder net soos wat die Rooisee (Rietsee) en die Eufraatrivier hindernisse was vir Israel se bevryding van slawerny. So word dit weer en weer in Jesaja beskrywe:

  • Jesaja 42:16 Ek laat blindes gaan op ‘n weg wat hulle nie ken nie; op paaie wat hulle nie ken nie, laat Ek hulle loop. Ek maak die duisternis voor hulle  lig, die ongelyk plekke maak Ek gelyk. Dit is die beloftes – Ek voer dit uit, Ek laat dit nie na nie.
  • Jesaja 43:19 Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit gaan nou uitspruit. Kan julle dit nie besef nie? Selfs in die woestyn  sal Ek ‘n pad maak, in die wildernis riviere.
  • Jesaja 49:11 Ek sal al my berge in ‘n pad verander, en my grootpaaie sal opgevul wees.

Al was hierdie profesie ook gedeeltelik vervul in die terugkeer uit Babilon sal elke leser tog kan insien dat hierdie verse na iets baie meer en groter wys. Die vervulling van hierdie groot en nuwe weg sal plaasvind in Christus. Johannes 14:6 Jesus sê vir hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Daarom sal ons ook vind dat die gelowiges in Handelinge hulleself geïdentifiseer het as Mense van die Weg. So getuig Paulus ook voor Feliks dat Hy aan hierdie Weg behoort. Handelinge 24:14 Dit erken ek egter voor u: dat ek die God van ons voorvaders dien ooreenkomstig die Weg, waarna hulle as ‘n sekte verwys. Ek glo alles wat volgens die Wet is en in die Profete geskryf staan. Elke persoon in hierdie wêreld sal of oor die steen, Christus, struikel en vernietig word, of op Hom gebou word en nie beskaam word nie. Romeine 9:33 soos daar geskryf staan: Kyk, Ek sit in Sion ‘n klip neer waaroor ‘n mens kan struikel, ja, ‘n rots wat jou kan laat val; maar wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.

Slot

Die uitverkiesing is duidelik in die Woord en behoort nie deur enige iemand betwyfel te word nie. Dit is God se besluit op grond van sy perfekte wil en nie op grond van die mens of enig iets wat hy/sy gedoen het nie. Ons as gelowiges aanvaar hierdie uitverkiesende genade met dankbaarheid, tog is dit vir baie moeilik om te aanvaar dat God ʼn volk uitverkies het. Hy het die Jode uitverkies om deur hulle vir die wêreld redding te bring in die feit dat Jesus Christus uit hulle gebore is. Baie beskuldig die Jode daarvan dat hulle Christus gekruisig het, en dit is fisies sekerlik so, maar ek en jy het Hom gekruisig deur ons sonde. Ons sonde is die rede hoekom Hy moes sterf. Ons hoef nie die volheid van God se plan te verstaan nie, maar wanneer daar duidelik verwys word na die Jode as die uitverkore volk van God, dan is dit presies wat hulle is en ons as gelowiges uit die heiden nasies is die wilde olyf wat op die mak olyf ingeënt is. Soos enige mens sonder Christus is hulle verlore, maar net soos God my en jou uitverkies het en ons lewend gemaak het uit ons sonde, beloof Hy om dit te doen vir ʼn oorblyfsel van Sy volk. Nie net sal die nasies in Christus hulle verlossing en bevryding vind nie, maar ook sal hierdie weerbarstige volk, soos God hulle beskrywe, terugkeer na Hom wat hulle deurboor het. Hierdie is die grootste wonderwerk van almal – dat dooies lewendig gemaak word en op die Weg sal gaan na die beloofdeland. God maak die onmoontlike moontlik.