Inleiding
Die Messias wat sal kom se koninkryk sal geheel en al anders wees as enige ander koninkryk. In die vorige gedeelte het ons gesien hoe hierdie loot sou groei en vrug dra. In hierdie verse sal ons die effek van hierdie vrug sien. Die koninkryk bring ons terug na die stand van die wêreld voor die sondeval. Met die sondeval is die vrede tussen mens en God verwoes en slegs die koms van die Messias kan hierdie vrede herstel. Hoewel ons nou alreeds die vrede tussen ons en God ervaar, is die sonde nog steeds werksaam in elkeen van ons om hierdie vrede te probeer verwoes. Ons sien uit na daardie dag wanneer ons finaal in God se koninkryk sal wees, sonder sonde in absolute vrede.
Vrede
Die kenmerke van hierdie koninkryk wys terug na die tuin van Eden toe daar nie net vrede tussen mens en God was nie, maar ook tussen mens en dier; jagter en prooi. Dit was die tydperk toe die mens die heerskappy ontvang het oor alle diere. Drie roofdiere word teenoor hulle prooi genoem, nou in harmonie en vrede. As jy dink dit is ongelooflik het jy nog nie alles gehoor nie. ʼn Seuntjie sal hierdie wilde en mak diere lei. Nie net is daar harmonie nie, die dieet van die wolf het ook gras geword soos voor die sondeval en daarom het hy geen begeerte na die lam nie. In die volgende vers word vertel dat ook die beer wei en dat die leeu gras eet. Wat moet alles plaasvind vir hierdie diere om te kan oorleef van gras? Alles gaan terug na die toestand in Eden. Genesis 1:30 En vir al die diere van die aarde en vir al die voëls van die hemel en alles wat rondbeweeg op die aarde waarin lewensasem is, gee Ek al die groen gewasse as voedsel. Dit het toe so gebeur. Die luiperd lê in vrede by die bokkie en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar. Tot die kleintjies van die beer en die koei lê bymekaar. Die mens en dier het ook vrede en selfs die vloek a.g.v. die slang, wat die mens verlei het en die mens wat hom laat verlei het, kom tot ʼn einde as die suigeling by die gat van die adder speel en die kleuter sy hand uitsteek na die nes van die kobra. Genesis 3:15 Vyandskap sal Ek tussen jou en die vrou stel, en tussen jou nageslag en haar nageslag. Hy sal jou kop aanval, en jy sal sy hakskeen aanval.
Alreeds en nog nie
As ons kyk na die vrug van die loot, wat nou ʼn boom geword het, is dit nodig om altyd te let op Jesus se eie woorde van die koninkryk wat aan die kom is. Die koninkryk is altyd ʼn alreeds en ʼn nog nie. Die Kerk, en hier praat ons van die hoofletter kerk wat bestaan uit ware gelowiges en heiliges, is die alreeds van hierdie beloftes. In die kerk vind ons mense van volke wat vroeër in vyandskap was wat nou saam om die Nagmaalstafel sit in vrede. In Kolossense word hierdie herskepping van die mens in Christus so mooi uitgebeeld. Kolossense 3:9-11 Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het, en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word. By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal. Tussen hierdie groepe was daar vyandskap en tog in die kerk was daar ʼn eenheid en het hierdie groepe saam gekom om die Verlosser te aanbid. ʼn Buitestaander sou beslis hierdie bymekaarkom kon beskryf as wolwe en lammers wat saam eet en drink. Die nuwe koninkryk word ook beskryf met burgers wat sagmoedig is. Sagmoedigheid is een van die eienskappe van ʼn persoon wat nuut gemaak is deur die Heilige Gees. Die woord “sagmoedigheid” is gebruik vir die inbreek van ʼn wilde perd wat nou onder die beheer van sy meester is. Dit word in hierdie gedeelte beskryf met ʼn seuntjie wat die wilde en mak diere lei en hulle gehoorsaam hom. Dit is presies wat hierdie sagmoedigheid dan ook beteken, nl. om onder die bevel van Christus te staan en nie opstandig te wees teen Sy opdragte nie. Die gelowige is ondergeskik aan die Woord van God. Jakobus 1:21 Doen daarom in sagmoedigheid afstand van alle morele besoedeling en die kwaad wat gedy, en ontvang die woord wat in julle geplant is, en daartoe in staat is om julle siele te verlos. Nie net is ons ondergeskik aan Hom en Sy Woord nie, maar ons dieet het totaal verander. Ons keer deur wedergeboorte weer terug na die geestelike tuin van Eden in terme van ons wandeling saam met God, net soos die lewende God in die tuin saam met Adam en Eva gewandel het. Genesis 3:8a Hulle hoor toe die geluid van die Here God wat in die tuin rondstap in die middagkoelte.
Nuwe dieet
Die gelowige het nou ʼn begeerte na die lewende Woord wat sy voedsel geword het. In die Ou Testament word hierdie begeerte van die gelowige so goed beskryf deur Jeremia. Jeremia 15:16 Toe u woorde gevind is, het ek hulle verslind. U woorde was vir my ‘n vreugde, ‘n genot vir my hart. U Naam is immers oor my uitgeroep, Here, God van alle magte! So beskrywe Petrus ook dat die gelowige se begeerte na die Woord moet wees soos wat ʼn baba smag na melk. 1 Petrus 2:2 en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing. Die metafoor is so duidelik as ons dink aan die leeu se dieet. Niks in ʼn leeu se natuur het ʼn begeerte na gras nie. Die leeu se natuur sal verander moet word sodat hy in stryd met sy natuur nou gras sal begeer. Net so ook met die mens. Niks in die mens het die begeerte na die Woord van God nie. Hy haat dit. Dit laat ʼn wrang smaak in sy mond totdat die natuur van die mens verander word na ʼn goddelike natuur. So beskrywe Paulus hierdie ou vlees in vyandskap met God. Romeine 8:7 Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. As jy die teks lees kom jy tot die besef dat, nie net wil die sondige aard hom nie aan God onderwerp nie, dit kan nie. Niemand in die wêreld kan uit sy eie sy dieet verander nie. Dit is ʼn geboorte wat van bo moet plaasvind, soos wat Jesus dit vir Nikodemis uitspel. Johannes 3:3 Jesus het hom geantwoord: Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Hier moet ons miskien net noem dat baie kerke en sogenaamde gelowiges ʼn evangelie verkondig en glo wat inspeel op die mens se vleestelike natuur. Die kos het nog so ʼn kleurtjie en geurtjie van “vleis” en daarom smag tot die ongeredde persoon na hierdie kos. As die wêreld nie die boodskap wat jy verkondig haat nie, is jy nie besig met God se suiwer Woord nie. Johannes 15:18-20 As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld julle as sy eie liefhê. Omdat julle egter nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, juis daarom haat die wêreld julle. Onthou die woorde wat Ek vir julle gesê het: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde gehoorsaam het, sal hulle ook julle woorde gehoorsaam. ʼn Voorbeeld hiervan is die voorspoedsteologie wat verkondig dat jy in hierdie wêreld gesond en ryk sal wees. Hoewel daar meer subtiele voorbeelde is, is hierdie seker die voor die hand liggende. Wêreldse begeertes, gemak en die streel van ego’s is deel van die ou “vleis” dieet van die leeu.
Ons en ons kinders
Baie interessant is dat kommentatore ook oplet dat dit nie net die volwasse diere is wat verander nie, maar ook hulle nageslag wat verander. So vind ons die kalf en die jong leeu bymekaar en ook die kleintjies van die koei en die berin wat bymekaar lê. Hierdie profesie is nie vreemd vir enige persoon wat die profesieë ken aangaande die vernuwing van die nageslag van ʼn wedergebore persoon nie. Wanneer Jesaja later praat oor die koms van die Verlosser en die uitstorting van die Heilige Gees word dit duidelik gemaak dat die Gees op die mens sal rus en op sy nageslag en hulle nageslagte vir altyd. Jesaja 59:21 Wat My betref, dit is my verbond met hulle, sê die Here: My Gees wat op jou rus en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal nie uit jou mond wyk, of uit die mond van jou nageslag, of uit die mond van jou nageslag se nageslagte nie, van nou af en vir altyd, sê die Here. Nie net sal die gelowige verander en vernuwe word nie, maar God belowe dat ook sy hele nageslag die Woord van die Here op hulle lippe sal hê. Dit is dan ook waarom Petrus op Pinksterdag die volgende belofte aan die aanhoorders van sy prediking kon maak: Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Want die belofte is bedoel vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep. Handelinge 2:38-39. Daarom sien ons alreeds met Saggéüs die tollenaar se wedergeboorte en sy belydenis dat Jesus aan hom belowe dat daar nie net vir hom redding gekom het nie, maar ook vir sy hele huis. Lukas 19:9 Jesus het vir hom gesê: Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, want ook hy is ‘n seun van Abraham. Ons sien hierdie belofte ook verder as hele huise gedoop is waar die man, of vrou soos in Lidia se geval, tot inkeer gekom het. Handelinge 16:14-15 ‘n Vrou uit die stad Tiatira, ‘n purperhandelaar met die naam Lidia, wat God vereer het, het ook geluister, en die Here het haar hart oopgemaak om ag te slaan op wat Paulus gesê het. Nadat sy en haar huishouding gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan in my huis. En sy het ons oorgehaal.
Kennis van God
In vers 9 word aan ons vertel dat die gelowige ʼn nuwe lewe sal lei, vry van die ou lewe van verdorwenheid wat natuurlik in hom teenwoordig was en uit sy eie die goeie sal wil doen. Romeine 6:6 Dit weet ons: dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is,
sodat ons sondige bestaan tot niet gemaak kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. Die gelowige het nou sy tuiste gemaak in die tempel van God aangesien ons onberispelik leef. Psalms 15:1 ‘n Psalm. Van Dawid. Here, wie mag ‘n gas wees in u tent? Wie mag tuisgaan op u heilige berg? Hy wat onberispelik leef en regverdig optree, wat van harte die waarheid praat. Die rede waarom die mens verander het en “nie skade sal aanrig” en die verkeerde sal nastreef nie is a.g.v. die kennis van die Here. Hierdie kennis is meer as net ʼn kop kennis. Die woord in die Hebreeus het te make met ʼn intieme liefdeskennis. Dit is die woord wat gebruik word as Adam met Eva gemeenskap gehad het. Hierdie kennis is ʼn kennis gewortel in ware liefde; liefde van God vir ons en ons liefde vir Hom. Hier kom die wet in sy volheid tot vervulling: die gelowige wat nou vir God lief het met sy hele hart en siel en verstand en al sy krag en sy naaste soos homself. In die gesprek van Jesus met sy Vader vertel Jesus wat die ewige lewe is. Dit is om die Vader en sy seun te ken. Johannes 17:3 En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus. Volgens die professie sal hierdie kennis so wyd en syd wees dat dit die hele wêreld sal bedek. Jeremia beskryf dit soos volg: Hulle sal nie meer elkeen sy medemens of sy broer leer en sê, Ken die Here! nie, want hulle almal sal My ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle, is die uitspraak van die Here. Want Ek sal hulle sondeskuld vergewe en aan hulle sonde sal Ek nie weer dink nie. Jeremia 31:34. Hierdie verandering en vernuwing van die gelowige, wat oorgaan in ʼn liefde en gehoorsaamheid aan God, sal die vrug wees wat uit die boom, wat eers ʼn loot was, na vore sal kom.
In die tyd van die Verlosser sal mense van alle nasies hul toevlug na Hom neem. Ons sien dit alreeds as ʼn aantal Grieke na Filippus gaan en vra dat hulle Jesus wil sien. Johannes 12:20-21 Daar was ‘n aantal Grieke onder die mense wat gekom het om op die fees te aanbid. Hulle het toe na Filippus gegaan, wat van Betsaida in Galilea was, en hom gevra: Meneer, ons wil Jesus sien. So sal mense uit elke volk en taal en nasie hul toevlug na Hom neem. Hierdie Messias se rusplek sal heerlik wees. Deur saam met Hom te wandel sal die gelowige waarlik die Sabbat ervaar wat belowe is. Hebreërs 4:9-11 Daar bly dus steeds ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke – soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie. Hierdie is die ware rus waarvan die Sabbat slegs ʼn skaduwee was. Kolossense 2:16-17 Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor ‘n fees, ‘n nuwemaansfees of ‘n Sabbat nie. Hierdie dinge is net ‘n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus. Watter heerlike rus is dit nie!
Slot
Alles wat hier geprofeteer word sal weer beskryf word in Jesaja en ons sal besef dat die volheid hiervan slegs in die nuwe Hemel en Aarde beleef sal word. Daar is ook ʼn vervulling hiervan in die duisendjaar vredesryk waar die gelowige saam met Christus sal heers. Openbaring 20:4 Ek het ook trone gesien, en aan dié wat daarop sit, is mag verleen om te oordeel. Ek het die siele gesien van hulle wat onthoof is vanweë die getuienis oor Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie. Hulle het lewend geword, en saam met Christus regeer, ‘n duisend jaar lank. Hierdie heerskappy sal geskied vanuit die geliefde stad, of soos Jesaja sê, Sion. Daar is altyd ʼn alreeds en ʼn nog nie in die koninkryk en al beleef ons nou vrede en wandel ons in gehoorsaamheid op sy heilige berg weet ons dat daar ʼn dag sal aanbreek wanneer dit in sy volheid vervul sal word en ons vry sal wees van sonde, sodat ons Hom van aangesig tot aangesig sal aanskou.