Die Wyse Manne uit die Ooste

Nadat Jesus in Betlehem gebore is, in die dae van koning Herodes, het wyse manne uit die ooste in Jerusalem aangekom. Hulle het gevra:

“Waar is Hy wat as Koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster in die ooste gesien en gekom om Hom te aanbid.”

Toe koning Herodes dit hoor, was hy en die hele Jerusalem ontsteld. Hy het die priesterhoofde en skrifgeleerdes bymekaar geroep en gevra waar die Christus gebore sou word.

Hulle het geantwoord:

“In Betlehem van Judea, want so is daar deur die profeet geskryf:

‘En jy, Betlehem, land van Juda, is sekerlik nie die geringste onder die leiers van Juda nie, want uit jou sal ’n Leidsman voortkom wat my volk Israel sal lei.’”

Toe het Herodes die wyse manne in die geheim laat roep en presies by hulle uitgevind wanneer die ster verskyn het. Daarna het hy hulle na Betlehem gestuur en gesê:

“Gaan soek die Kindjie en wanneer julle Hom kry, laat weet my, sodat ek Hom ook kan gaan aanbid.”

Nadat hulle by die koning was, het hulle vertrek. Die ster wat hulle in die ooste gesien het, het voor hulle uitgegaan totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was.

Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly.

Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie by sy ma, Maria gekry. Hulle het neergeval en Hom aanbid. Daarna het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke gegee: goud, wierook en mirre.

Maar nadat hulle in ’n droom gewaarsku is om nie na Herodes terug te gaan nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land teruggekeer.

Lewer kommentaar