Inleiding
In hoofstuk 10 word aan ons vertel dat die magtige Assiriese koninkryk totaal vernietig sal word en dit word vergelyk met ʼn boom wat kaal gestroop word. Net so sal Israel kaal gestroop word, maar hier is daar egter ʼn voorbehoud, ʼn takkie sal uit die stomp uitspruit. Nadat Juda die professie van die geweldige vernietiging ontvang word hulle vertel dat, in teenstelling met die Assiriese mag, hulle nie volledig vernietig sal word nie.
Die metafoor van die boom word voorgesit wanneer Jesaja profeteer dat daar ʼn loot van die boom sal oorbly. Hierdie loot verwys na Christus, as die redder van die volk, maar ook van die hele wêreld.
Nederige afkoms
Hierdie stomp waaruit die takkie sal uitspruit word die stomp van Isai genoem. Isai was die vader van Dawid en was ʼn man uit Betlehem. Betlehem was een van die geringste dorpies van Juda. So word dit ook deur Miga voorspel. Miga 5:1 Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Juda, uit jou sal daar vir My iemand kom om ‘n heerser te wees in Israel. Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer. Die Een wat sal kom word ʼn spruit of loot genoem en dit wys op sy nederige afkoms en die eenvoudige lewe wat Hy sou lei. Die rede waarom die geslagsregister terug geneem word na Isai en nie na Dawid nie is omdat Jesaja se profesie wil wys dat hierdie Een wat sal uitspruit van nederige afkoms sal wees. So sal die mense van Jesus se dag ook neerhalend van Hom praat as gevolg van sy eenvoudige afkoms. Markus 6:3 Is hy dan nie die skrynwerker, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? Woon sy susters dan nie hier onder ons nie? Hulle het aan Hom aanstoot geneem. Hy sal egter nie net ʼn loot bly nie. En tog sal Hy Immanuel wees, die ware Messias wat die hoop sal wees van Sy mense. Uit hierdie loot sal daar vrugte na vore kom. Hierdie voorspelling word ook deur Esegiël gebring. Esegiël 17:22-23 So sê my Heer, die Here: Ek sal self die boonste top van ‘n seder neem en dit inlê. Van die bopunt van sy lote sal Ek ‘n sagte deel afpluk, en Ek sal dit self plant op ‘n hoë en verhewe berg. Op die hoë berg van Israel sal Ek dit plant, en dit sal lote maak en vrug dra. Dit sal ‘n luisterryke seder word, en al die voëls, al die gevleueldes, sal onder hom tuis wees. In die skadu van sy blare sal hulle ‘n tuiste vind. Die nederige afkoms sal dus verander word in ʼn verhoging wanneer hy ʼn boom word en vrug dra. In Psalm 22 word Christus se kruisiging voorspel en die wrede manier waarop dit sou plaasvind, maar dit eindig met ʼn boodskap dat daar ʼn nageslag sal wees wat Hom sal dien. Psalms 22:31-32 ‘n Nageslag sal Hom dien; hulle sal van my Heer vertel aan die volgende geslag. Hulle sal kom en sy geregtigheid bekend maak aan mense wat nog gebore moet word: Hy het dit gedoen. Daarom sou Jesus sy koninkryk vergelyk met die van ʼn mostertsaad, wat van die kleinste sade is wat opgroei om ʼn boom te word waarin die voëls van die hemel sal nesmaak.
Die Gees van die Here
Die Gees van die Here het mense in die Ou Testament toegerus vir die taak waartoe God hulle geroep het. So word Jesus ook aangewys as die Messias wanneer die Gees soos ʼn duif op Hom neerdaal nadat Johannes Hom gedoop het. Dit was dan ook vir Johannes die bewys dat Jesus die een sal wees wat met die Gees sal doop en die Seun van God is. Johannes 1:33-34 Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. En ek het gesien en getuig, Hy is die Seun van God. Die Gees van die Here of, soos in die Hebreeus, die Gees van Jahwe, sal op Hom wees. In hierdie gedeelte word baie duidelik gewys dat die Gees ʼn persoon is en nie net ʼn krag nie, aangesien die Gees beskryf word as die een wat wysheid, verstand, raad, sterkte en kennis gee. Jesus sou al hierdie gawes en soveel meer ontvang en toegerus wees vir sy taak. Paulus vertel ook in Kolossense dat die volheid van God in Jesus was. Kolossense 2:9 Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. Die Messias word in kontras gebring met die Assiriese koning wat gedink het dat hy wys was en kennis gehad het. Jesus sal egter reg kan oordeel omdat hy nie oordeel op grond van wat die mens sien en hoor nie, maar na die hart. Die wysheid wat Hy sal ontvang sal Hom te alle tye die regte besluite laat neem en dit tot uitvoering laat bring. Die Gees van insig wys daarop dat Sy oordele reg sal wees en dat Hy dit wat verborge is sal weet. Johannes 2:25 Hy het nie nodig gehad dat iemand van die mens getuig nie; want Hy het self geweet wat daar in die mens is.
Hy is die regverdige, heilige Koning
Hy is die een wat raad en sterkte het. ʼn goeie Koning sou rondom hom raadgewers versamel om saam met hom te beraadslaag en om hom advies te gee rakende besluite. Die Messias sal in Homself volkome raad hê en nie nodig hê dat iemand Hom adviseer nie. Hierdie beskrywing van raad en sterkte korreleer ook met Jesaja 9 waar die Kind wat sal kom beskryf word as Raadsman en Sterke God. Hy sal ook kennis ontvang en nie net die kennis om alles te verstaan nie, maar die ware kennis wat begin met die vrees van die Here. Spreuke 1:7 Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.(Ou Vertaling) Die goddelike kennis het altyd te make met ʼn vrees vir die Here en iemand wat God nie vrees nie het beslis nie die Gees van die Here in sy lewe nie. Jesus het gekom om die Vader aan ons bekend te maak. Hy ken die Vader en kom openbaar die Vader aan ons. Matteus 11:27 Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak. Ken jy die Here? Weet jy wie Hy is? Die Seun wat die volmaakte kennis het moet aan ons Sy Vader verklaar en Hy doen dit alleen aan wie Hy wil. Hoe meer jy Hom leer ken hoe meer word jy bewus van Sy heiligheid en jou eie onbekwaamheid. Dit wat die engele uitbeeld in Hoofstuk 6 van Jesaja is wat met elke gelowige gebeur wat wandel in die teenwoordigheid van die Vader; ʼn wandel wat moontlik gemaak is deur Sy Seun. Sy heiligheid maak dat ek my oë bedek, Sy heiligheid maak dat ek my voete bedek, aangesien my eie tekortkominge na vore kom en my hele lewe nou ʼn aanbidding en ʼn lofprysing word aan die Een wat op die troon sit as my lewe uitroep: heilig, heilig, heilig. Psalm 2:11 Dien die Here met vrees, en juig met bewing. (Ou vertaling). Selfs die Messias sal die vrees van die Here ontvang, nie as gevolg van sy onwaardigheid nie, maar sodat Hy die opdragte van Sy Vader in gehoorsaamheid sal uitvoer. Dit word so mooi geïllustreer in die tuin van Getsemane waar Jesus in angs tot sy Vader bid dat die beker wat Hy moet drink van Hom weggeneem word. Dan hoor ons die begeerte van Jesus wat in gehoorsaamheid, vrees en ontsag uitroep: “laat nie my wil nie maar U wil geskied.” So beskrywe die Hebreër skrywer dit ook. Hebreërs 5:8 Alhoewel Hy die Seun was, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. So sal dit ook wees met elke gelowige wat dieselfde Heilige Gees ontvang en deur God se Woord gelei word in ware insig, kennis en verstand.
Wandel in die Gees
Die volgende verse wys nou hoe Hy as die Messias sal optree met die Gees wat Hom bekragtig het. Die vrees vir die Here bring ʼn innerlike vreugde of genot. Die woord genot kom van ʼn woord wat beteken om ʼn heerlike aroma te ruik. Die vrees vir die Here maak jou nie neerslagtig nie, maar bring genot in die binneste van jou hart. Psalms 4:8 U het vreugde in my hart gegee, meer as in die tyd wanneer mense se koring en nuwe wyn volop is. Met hierdie innerlike genot/vreugde wy die Messias Hom toe aan geregtigheid. Hy sal heers in geregtigheid. Psalm 72:2-4 Mag hy u volk met geregtigheid oordeel, u magteloses met billikheid. Mag die berge vrede bring vir die volk, en die heuwels geregtigheid. Hy sal die magteloses van die volk se regte handhaaf, die kinders van behoeftiges verlos, maar onderdrukkers verpletter. Vir absolute geregtigheid in oordeel is daar absolute kennis nodig en absolute deursigtigheid – niks kan bedek wees nie. Hierdie Koning sal reg laat geskied aan die armes, diegene wat deur die wêreld vertrap word en gewoonlik die slegste daarvan afkom in die regstelsels van hierdie wêreld. Hier word beslis nie gekyk na die armes van hierdie wêreld nie, maar die armes van gees en die sagmoediges waarna Jesus verwys in die bergpredikasie. Matteus 5:3 en 5 Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Gelukkig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf. Hy sal dus die beskermer en die versorger wees vir die persone wat hulle afhanklikheid van Hom verklaar en hul lewens onder Sy beheer plaas; diegene wat leef om Hom tevrede te stel.
Sy oordeel
Sy oordeel sal uitgaan vanuit sy mond. Hierdie Woord van Hom word ook beskryf as ʼn tweesnydende swaard. Hebreërs 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes. Hierdie Woord sal jou óf nou wond, jou sonde aan die lig bring en jou genees óf dit sal jou aankla en veroordeel. Sy oordeel word ook in Openbaring beskryf.
- Openbaring 19:15 Uit sy mond het ‘n vlymskerp swaard gekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer. Hy sal ook self die parskuip van die geweldige toorn van God, die Almagtige, trap.
- Openbaring 19:21 Die res van die mense is doodgemaak met die swaard wat gekom het uit die mond van die Een wat op die perd sit. En al die voëls het hulle versadig gevreet aan hulle vleis.
In Tessalonisense vernietig Hy die antichris met sy mond. 2 Thessalonisense 2:7 Want die wetteloosheid is reeds in die geheim aan die werk, maar net totdat hy wat hom nog terughou, uit die weg geruim is. Hy sal geen hulp van enige iemand verlang as Hy kom om die aarde en sy inwoners te straf nie. Hy sal wraak uitoefen op die aarde en sy inwoners wat besig is met bose dade. As jy nie Sy Woorde aanvaar nie, verwerp jy nie net Hom nie, maar ook die Een wat Hom gestuur het en jy sal die straf daarvoor ontvang. Lukas 10:16 Wie na julle luister, luister na My, en wie julle verwerp, verwerp My. En wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het. Hierdie is ook ʼn boodskap aan elkeen wat van die Here getuig. As mense nie na jou boodskap luister en ag slaan op jou waarskuwings vanuit die Skrif nie moet jy altyd onthou dat dit nie jou woorde is wat hulle verwerp nie, maar die Een wat sal kom om in geregtigheid te oordeel s’n.
Hierdie Koning wat kom sal geklee wees met die belt van geregtigheid en getrouheid. In die antieke tye was die belt gedra in ʼn stoeigeveg en die wenner moes die belt van sy opponent afrokkel. Dit het later ʼn uitdrukking geword vir iemand wat gereed is vir oorlog. Hy kom nie met die wapens van hierdie wêreld nie, maar kom in gereedheid om oorlog te voer in geregtigheid. Dit beteken dat alles wat waar en reg en goed is sal oorwin en die bose sal uitgewis word. Alles wat God doen is reg en goed en self die gelowige kan hiervan getuig. Psalms 119:75 Ek weet, Here, dat u beslissings regverdig is, en dat U my in getrouheid verneder het. Die totale oordeel is oorgegee aan die Seun wat in geregtigheid sal oordeel. Johannes 5:22 Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee.
Slot
Net soos vir die volk Juda moet hierdie profesie vir jou ʼn riem onder die hart wees. Met sy eerste koms, kom Hy as die Verlosser en diegene wat op die waarskuwings van Jesaja ag slaan sal ondervind dat Hy die vreugde van die vrees vir die Here bring. Dit is ʼn vreugde wat sal uitloop op die Ewige Lewe en ʼn vreugde van ʼn Koning wat sal heers in geregtigheid en regverdigheid en sal sorg vir diegene wat op Hom alleen vertrou. Vir diegene wat volhard in sonde, wat nie nou in vrees vir die Here lewe nie, sal die vrees ʼn werklikheid word wanneer Hy kom om te oordeel tot die ewige Dood.