Jesaja 10:5-19

Inleiding

Die profesie is deur Jesaja ontvang en neergeskryf dekades voor die Assiriese magte sou begin met hulle aanval teen Israel en later Juda. Hierdie gedeelte proklameer God se soewereiniteit oor elke nasie. Die gedeelte begin waar God ʼn “wee” uitroep oor die Assiriese volk. Hierdie volk is deur God gebruik as ʼn stok in sy hand om Sy wraak uit te oefen. Die wee is omdat hierdie volk hulleself as magtig beskou het en gedink het dat alles wat hulle vermag het in hulle eie krag was. Volke en individue leef steeds in die waan dat alles wat hulle vermag deur hulle eie wysheid, insig en krag plaasvind. Daarom spreek God ʼn wee uit oor hierdie volk, want Hy sal hul hoogmoed en goddeloosheid straf.

Deel van God se plan

God het die Assiriese magte gestuur sonder dat hulle enige direkte bevel van Hom ontvang het. Hulle het Hom immers nie eers geken nie. Hulle het nie besef dat hul begeerte om Israel en Juda aan te val deur God gebruik sou word om alles wat Hy beplan het te laat plaasvind nie. Hierdie bevel is dus soos elke deel van God se Woord – wat Hy vooraf besluit het om plaas te vind, sal presies plaasvind soos Hy gesê het. Jesaja 55:11 net so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: Dit sal nie vrugteloos na My terugkeer nie, maar doen wat Ek wil hê, en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het.

Tog was hulle bedoeling alles behalwe om God se opdragte uit te voer. Al wat in hulle harte was, was om Israel en Juda uit te wis. Hulle was ʼn goddelose nasie en het gewandel soos die sondige wêreld. Paulus vertel van hierdie wêreld wanneer hy in Efesiërs vir die gelowiges skryf: Efesiërs 2:2 waarin julle vantevore geleef het, volgens die bose lewenswyse van hierdie bedeling, volgens die heerser oor die mag van die lug – die heerser van dié gees wat nou aan die werk is onder die seuns van die ongehoorsaamheid. Die Assiriërs is soos die Farao wat deur al die plae nie wou toegee dat hy te make het met ʼn lewende God nie en tot die tiende plaag teen die Israeliete volhard het. Sy eie hoogmoed het veroorsaak dat hy hardkoppig sy vuis teen God gebal  het en tog het God ook sy hart verder verhard om alles te laat gebeur wat God beplan het. Romeine 9:17 Die Skrif sê immers vir die farao: Juis hiervoor het Ek jou verhef, sodat Ek deur jou my krag  kan toon, en sodat my Naam  oor die hele aarde verkondig kan word. Moet nooit die idee kry dat God die farao of die Assiriese volk die begeerte gee om die verkeerde te doen nie, net so min as wat Hy aan Josef se broers die begeerte gegee het om Josef as ʼn slaaf te verkoop. God gebruik egter die slegte begeertes van die mens om Sy doel te verwesenlik.

Blinde hoogmoed

Die rede waarom die Assiriese magte nie kon sien dat hulle die stok in God se hand is nie is omdat hulle vol hoogmoed was. Die hoogmoed van die mens gee hom die indruk dat alles deur homself vermag word. Hy kyk na alles wat hy verwerf het en klop homself selfvoldaan op die skouer, net soos die ryk dwaas in Jesus se gelykenis. Hy het gedink hy kon nou op sy louere rus aangesien hy so baie in sy lewe bymekaargemaak het. Hier is God se boodskap aan hom:…Jou dwaas! Vannag nog sal jou lewe opgeëis word. En wat jy bymekaargemaak het, aan wie sal dit dan behoort? Lukas 12:20. In die Assiriese koning se oë was hy ʼn groot koning wat kon doen net wat sy hart begeer. Hy kon terug kyk oor alles wat hy al in die lewe vermag het en verklaar dat hy dieselfde teenoor Jerusalem en Samaria kon doen. Hy vergelyk God met die gode van die ander volke wat hy alreeds oorwin het, asof hulle enigsins met God vergelykbaar is, en gaan selfs nog verder deur te verklaar dat Israel en Samaria minder gode het as al die ander volke. Sy denkwyse kom duidelik na vore as hy die rabsake (die boodskappers van die koning) na Jerusalem stuur om hulle in te lig dat niemand teen hom stand sal kan hou nie. 2 Konings 18:33-35 Het enige van die gode van die nasies ooit sy land gered uit die hand van die koning van Assirië? Waar was die gode van Hamat en Arpad? Waar was die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Kon húlle Samaria uit my hand red? Wie was daar onder al die gode van hierdie lande wat hulle land uit my hand gered het, dat die Here dan Jerusalem uit my hand sal red? God haat mense wat hoogmoedig is en hy belowe dat hulle sal val en verwoes word. Spreuke 16:18 Voor ineenstorting is daar trots, en voor die val is daar ‘n hooghartige gees.

God beheer

God praat in vers 12 in die eerste persoon. Die Here verklaar dat Hy die Assiriese koning  sal laat voortgaan totdat alles gedoen is wat Sy raadsplan bepaal het en dat God hom dan tot orde sal roep. Hierdie koning, soos elke toekomstige koning, sal net heers vir die tydperk wat God bepaal het en sal net kan vermag wat God toelaat of beskik.

Die teks gaan dan verder om die arrogansie van hierdie Assiriese koning nog meer te beklemtoon. As jy vers 13 en 14 lees klink dit soos ʼn bekende president van ons dag. Ek, myself en myne! Hierdie koning prys sy eie intellek en herinner homself aan al die nasies wat hy onderwerp het. Verder vertel hy hoe maklik dit alles deur hom gedoen is en dat niemand iets teen hom kon vermag nie. Was dit nie presies wat Nebukadnesar ook later van homself sou dink en waarom God Hom gestraf het deur hom gras te laat vreet nie? Hierna sou hy God se heerlikheid erken en dié wonderlike belydenis maak. Daniel 4:34-35 Aan die einde van die tydperk het ek, Nebukadnesar, my oë na die hemel opgeslaan en my verstand het na my teruggekeer. Ek het die Allerhoogste geloof en die Een wat ewig leef, besing en geëer – Hy wie se heerskappy ‘n ewige heerskappy is, en wie se koningskap van geslag tot geslag duur. Al die bewoners van die aarde word as niks gereken; Hy doen met die hemelse leër en die bewoners van die aarde wat Hy wil. Daar is niemand wat sy hand kan afweer of vir Hom kan vra nie, Wat het U gedoen? Sy belydenis is verstommend en ons besef die Heilige Gees se werking in hierdie man se lewe. Vir die eerste keer besef hy wie hy is en wie God is: die God wat alles doen soos Hy beplan en dat niemand Sy hand kan afweer nie. Is dit nie ook wat Job ontdek het nie? Hy het soveel vrae gehad en het gedink dat dit wat met hom plaasvind onregverdig was totdat hy die stem van die Almagtige gehoor het en voor Sy vrae te staan gekom het. Luister na Job se belydenis na God se vrae aan hom. Job 42:2-3 Ek weet dat U alles kan vermag, dat geen plan vir U  onuitvoerbaar is nie. Wie is die een  wat ‘n plan verberg, terwyl hy geen kennis het nie? Daarom het ek, sonder begrip, ja, sonder kennis, my mening gegee oor dinge wat vir my te wonderbaar is.

Jaloerse God

God dryf dan die spot met die Assiriërs as hy vra hoe die byl of saag kan roem teen die een wat saag en die een wat kap. Die byl en die saag is slegs instrumente in die Grote God se hand en uit hulself is hulle tot niks in staat nie. God gaan verder met die metafoor as hy Assirië beskryf as die stok wat wil opstaan teen die een wat dit swaai. So het Jesus ook aan Pilatus verklaar toe hy vol bravade verklaar het dat hy die volmag het om Jesus vry te laat of om Hom te laat kruisig. Johannes 19:11 Jesus het hom geantwoord: U sou geen volmag oor My gehad het as dit nie van bo aan u gegee is nie. Daarom is hy wat My aan u oorgelewer het, aan ‘n groter sonde skuldig. Hierdie koning sou geen outoriteit gehad het, tensy dit nie van God gekom het nie. Een van God se name is in die Hebreeus Elkana. Dit beteken die jaloerse God. Eksodus 20:5 Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat. So vertel Hy ook deur Jesaja dat Hy sy heerlikheid aan geen ander sal gee nie. Jesaja 42:8 Ek is die Here, dit is my Naam. My heerlikheid sal Ek nie afstaan aan ‘n ander nie, my roem nie aan gesnede  beelde nie. As ons jaloers is, is dit sonde aangesien daar geen rede in onsself is om jaloers te wees nie. Daar is niks wat aan ons behoort nie en ons kan niks aan onsself toeskryf nie. So ook met God se heerlikheid. Dit behoort net aan Hom en geen mens het enige heerlikheid in homself nie. As God dus jaloers is en Sy heerlikheid besing is dit in waarheid, aangesien net Hy vol is van Homself, net aan Hom behoort alles en net sy heerlikheid moet besing word. In die Hemel word Hy konstant aanbid. Daarom is dit so gepas dat wanneer die ouderlinge in die hemel hoor dat die lewende wesens aan Hom die heerlikheid gee, val hulle neer en werp hul krone voor Hom.  Openbaring 4:9-11 En telkens wanneer die lewende wesens heerlikheid en eer en dank bring aan Hom wat op die troon sit, aan Hom wat vir ewig en ewig leef, val die vier-en-twintig ouderlinge in aanbidding neer voor Hom wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir ewig en ewig leef, en sit dan hulle krone voor die troon neer, terwyl hulle sê: U is waardig, ons Here en God, om die heerlikheid en die eer  en die krag  te ontvang, omdat U alle dinge geskep het; deur u wil het alles ontstaan, is dit geskep.

Straf

Hoewel die Assiriërs deur God gebruik word om Israel en Juda te straf, is hulle boos en sal hul hoogmoed nou deur God gestraf word. Hy sal nou met hierdie volk afreken. Hulle word as die vettes beskrywe, die weermag wat sterk was en deur niemand gestuit kon word nie. Hulle sal nou deur God maer gemaak word en in sy heerlikheid sal Hy alles brand waarop hulle hul hoop gevestig het. Dit alles sal in een dag plaasvind. Die vernietiging van hierdie volk begin ook in een nag waar  ʼn selfvoldane weermag in sy tienduisende gereed staan om oorlog te voer teen ʼn handjie vol mense in Jerusalem. In die donkerste nag, in die duisternis breek God se helder lig deur. In daardie donker nag verskyn God se lig wanneer die Almagtige God ‘n engel stuur. Let wel net een. Honderd vyf en tagtig duisend magtige soldate word deur een engel in een dag uitgewis. Hierdie sterk weermag word so verneder dat die profesie van Jesaja waar word as hy profeteer dat hierdie volk so vernietig sal word dat ʼn kind die sensus opname sal kan doen. Stert tussen die bene keer hierdie eertydse magtige weermag terug na hulle basis en dit word die begin van hulle einde. Jesaja 37:37-38 Daarop het Sanherib, die koning van Assirië, kamp opgebreek, weggetrek en teruggegaan. Hy het in Nineve gebly. En toe, terwyl hy besig was om in aanbidding te kniel in die tempel van Nisrok, sy god, het sy seuns Adrammeleg en Sareser hom met die swaard neergevel. Hulle het na veiligheid in die land Ararat gevlug. Esarhaddon, sy seun, het in sy plek koning geword.

Slot

God se soewereiniteit kom in hierdie gedeelte duidelik aan die lig. Dit gee ons hoop en ook ʼn waarskuwing. Hy is selfs in beheer van die mens wat Hom nie ken nie. Hulle is boos in hul hart, maar God sal hierdie boosheid gebruik om te vernietig wat Hy wil vernietig en om tot stand te bring wat Hy tot stand wil bring. Dikwels in ons lewe vergeet ons hierdie realiteit wanneer ons meer mag en invloed aan mense toedig as wat hulle enigsins verdien. Niks in hierdie lewe kan met jou gebeur indien die soewereine God dit nie in Sy almag bepaal het nie. Dit is die troos en hoop. Die waarskuwing kom egter ook duidelik. Pasop dat jy nie roem in enige iets wat jy vermag het nie. Wees nederig, want alles wat jy het en is, is uit Sy hand.  Wag op die Here, Hy sal reg laat geskied en Hy sal oordeel oor die nasies. Psalms 24:1 Van Dawid. ‘n Psalm. Aan die Here behoort die aarde en die volheid daarvan, die wêreld en dié  wat daarin woon.