Inleiding
Na die vorige boodskap van redding vir die volk wat in die duisternis voortploeter, sou mens verwag dat die volk hulle tot God sou bekeer. Nie a.g.v. hul ellende nie, maar in afwagting vir die belofte van Ewige Lig. Die teendeel is egter waar en die leser moet weer eens hoor hoe God hierdie volk gaan straf. Hierdie gedeelte moet jou egter nie moedeloos maak nie, maar moet vir jou ʼn spieël wees om jouself in te toets. Leef jy nog in duisternis of is jy in afwagting vir daardie dag wanneer die duisternis totaal sal verdwyn. Verder is dit baie duidelik dat wat God spreek sal gebeur, of dit nou ʼn belofte tot straf of redding is. Indien God dus die Koning van jou lewe is en jy ag slaan op Sy Woord, geld die belofte tot redding vir jou. Dus, net so seker as wat jy hier die straf kan waarneem, net so sal jy die belofte van die Ewige Lewe ervaar.
Die Woord deur die profete
Die profete is profete van beide Juda en Israel. Al het Israel hulle alliansie met die lyn van Dawid verwerp en van God weggedraai, het God nie sy beloftes tot niet laat gaan nie en Sy planne sou nie verander nie. Almal wat opgeskrywe is tot die lewe sal Hy huis toe bring na Sion. Dit is moontlik gemaak deur die Messias wat sou kom, die beloofde koning. Die Woord van God sal uitgaan en presies dit bewerk wat dit uitgegaan het om te doen. Sy woord kom om te verwoes of om te genees.
- Hosea 6:5 Daarom het Ek hulle neergevel deur die profete, hulle omgebring met die woorde van my mond. My oordele verskyn soos die lig.
- Psalms 107:20 Hy het sy woord gestuur en hulle genees; Hy het hulle laat vrykom uit hulle vangkuile.
God se Woord deur die profete het Israel gewaarsku aangaande die konsekwensies van hul sonde en die een na die ander nederlaag het hulle getref net soos God belowe het. Hier word God se woorde beskryf as die werkende krag wat die boodskap bewerkstellig. Die profeet is God se mondstuk en die woorde wat hy namens God spreek is God se Woord. Alles hiervan sal beslis plaasvind, want dit is God se Woord en altyd waar. Jesaja 55:11 net so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: Dit sal nie vrugteloos na My terugkeer nie, maar doen wat Ek wil hê, en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het. Die Woord gespreek deur die profete vorm, saam met die Apostels, die fondasie waarop die huisgesin van God gebou is, met Jesus, die Koning wat vir die Jode voorspel is, as die hoeksteen. Efe. 2:19-21 “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en lede van die huisgesin van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus Jesus self as hoeksteen. In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here.”
Selfvoldaan en arrogant
Dit is verstommend dat Israel, Efraim en die inwoners van Samaria, nie ag geslaan het op al God se Woorde nie en dat, nieteenstaande die vervulling van die Woord, die volk vol bravade in hul ongeërgdheid teenoor God was. Hulle het na die huise gekyk wat verwoes was en die vyebome wat afgekap is en in hul eiewaan dink hulle dat hulle alles sal beter maak as wat dit was. Al hulle dromery sal egter tot niks kom nie, aangesien hulle teen God gesondig het deur nie sy gebooie na te kom en ag te slaan op sy Woorde nie. God sal hul vyande bring om hulle nog verder te vernietig. So het die profesie van Hosea, wat ook in hierdie dae geprofeteer het, na hierdie volk gekom. Hosea 9:7 Die dae van afrekening het aangebreek; die dae van vergelding het gekom – Israel sal dit ervaar. Jy sê: Die profeet is ‘n gek, die man met die gees is waansinnig! Ja, dit is oor die omvang van jou sondeskuld en omdat die vyandigheid so groot is. Die volk het hulle vertroue in Resin geplaas, maar God sal vyande opwek en Resin vernietig. Hoe maklik plaas die mens nie sy vertroue in mense en in dinge nie, net om agterkom dat alles waarop jy jou hoop vestig in een oomblik kan verbrokkel.
Inkeer of verharding
Sou Israel tot inkeer kom a.g.v. die straf wat God oor hulle sou bring? Nee, hierdie is ʼn hardnekkige volk. Jesaja 30:9 Want dit is ‘n rebelse volk, kinders wat lieg, kinders wat nie wil luister na die Wet van die Here nie. Hulle het geen begeerte om na Hom te soek in hulle ellende nie, selfs al weet hulle vanweë Jesaja se prediking dat dit God se straf is wat oor hulle gekom het. Daarom sal God nog meer oordeel oor hulle bring. Hy sal hulle leiers en die rykes, wat as die kop beskryf word, vernietig. Verder sal hy ook die valse profete, wat as die stert uitgebeeld word, vernietig. Die valse profete is soos ʼn swaaiende stert van ʼn hond. Hulle, met hulle vleiende woorde, wat presies sê wat die volk wou hoor. Die palmtak is die leiers en die biesie is die gewone mense wat die leiers navolg en deur hulle verlei word. ʼn Biesie word gekenmerk aan sy buigsaamheid, dit beweeg letterlik waar die wind dit waai. Dit is soos baie gelowiges vandag wat deur elke valse lering “rondgewaai” word, sonder enige standvastigheid. Dit is in teenstelling met God se opdrag waar die profeet die kop moet wees en die volk sy Godgegewe boodskap moet navolg. God sou in ʼn kort periode hulle almal, groot en klein, straf met die totale vernietiging van die land. God wat Hom sou verbly oor die jeug van die land en Hom ontferm oor die weduwees en die wese, vir wie Hy soos ʼn vader is, sou nie meer enige ontferming aan hulle bewys nie. Psalms 68:6 ‘n Vader vir vaderloses, ‘n regter vir weduwees, is God in sy heilige woonplek. God het die rede vir hul straf baie duidelik gemaak. Hulle was onder geen wanindruk aangaande die uiteinde van hulle sonde nie. Hierdie waarskuwing dat God hulle sou straf as hulle in sonde bly volhard en van Hom wegdraai word uitgespel in Levitikus 26:27-41. Hierdie was ʼn volk wat geglo het dat daar ʼn God is, maar wat geleef het asof Hy nie bestaan nie. Selfs die duiwels doen meer as dit. Jak 2: 19 “Glo jy dat God Een is? Goed so. Ook die demone glo dit, en hulle bewe.”
Sonde vernietig
Goddeloosheid word beskrywe as ʼn vuur wat alles vernietig. Sonde vernietig alles wat mooi is en bring vernietiging oor nasies, volke en families. God het dit in die natuur in gekodeer dat hulle wat in sonde bly voortleef die straf daarvoor sou ontvang. So het elke ryk deur die geskiedenis van binne geval. Nie deur vyande van buite, maar deur die mens se eie immoraliteit. Die Babiloniërs se ryk word eers van binne deur ʼn dekadente leefwyse vernietig en tot so ʼn mate verswak dat die Persiese ryk op die aand van hulle inval net kon inloop en hulle oorweldig, net soos God deur Jesaja belowe het. Jesaja 45:1 So sê die Here vir sy gesalfde, vir Kores, wie se regterhand Ek vasgegryp het
om nasies voor hom te verslaan, deur konings te ontwapen om voor hom deure oop te maak, sodat poorte nie vir hom gesluit sal bly nie. Daniel sou in die aand voor hierdie inval, tydens hul feesvieringe vir Belsasar, die koning van Babilon, die Skrif teen die muur uitlê wat verskyn het om God se aanklag en vonnis te verklaar. So ook het Rome, die vierde ryk waarna Daniel verwys, van binne a.g.v. hul dekadensie tot ʼn val gekom. Ons kan sekerlik baie ander bydraende faktore noem, maar hulle sonde het hulle vernietig. Vandag word vrye denke en progressiewe leefwyses as intellektueel bestempel en tradisionele waardes en morele standaarde word konstant uitgedaag. Ons sien die negatiewe uitwerking hiervan nie net in die teologie nie, maar in huisgesinne, skole en die breë samelewing. Dit is net ʼn kwessie van tyd voor die Weste ʼn inploffing beleef a.g.v mense se immorele leefwyses.
Oorgegee
Goddeloosheid steek die vuur van God se wraak aan die brand en die volk en land wat met sonde speel sal met Sy wraak te doen kry. Mense het geen deernis vir mekaar nie en elkeen is uit om die ander te verwoes. So was dit ook in Israel met sy konings. Na die val van Jerobeam II het vyf konings die troon bestyg deur sluipmoord en net een het die kroon aan sy seun oorhandig. Daar is ʼn skokkende verhaal in 2 Konings waar twee ma’s afspreek om om die beurt hulle babas gaar te maak en te eet. 2 Konings 6:29 Ons het toe my seun gekook en hom geëet, maar toe ek die dag daarna vir haar sê, Gee jou seun, dat ons hom kan eet! het sy haar seun weggesteek. Hierdie was dan ook ʼn vervulling van God se vloek wat sou kom as hulle aan Hom ongehoorsaam sou wees. Levitikus 26:29 Julle sal die vleis van julle seuns eet; ook die vleis van julle dogters sal julle eet. Dit wat normaal behoort te wees word abnormaal in ʼn goddelose samelewing en die veiligste plek, naamlik die moederskoot, word nou die plek van verwoesting. God se genade is selfs oor die goddelose deur hulle daarvan te weerhou om hulself totaal oor te gee aan hul eie begeertes, maar daar sal ʼn dag aanbreek wanneer God hulle sal oorgee om te doen wat hulle harte begeer. Romeine 1:21-24 want alhoewel hulle God ken, het hulle Hom nie as God geëer of gedank nie. Inteendeel, hulle denke het sinloos geword en hulle onverstandige harte is verduister. Alhoewel hulle beweer dat hulle wys is, het hulle dwaas geword. Hulle het naamlik die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir ‘n afbeelding soos dié van ‘n sterflike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle deur middel van die begeertes van hulle harte oorgegee aan onreinheid, naamlik om hulle liggame onder mekaar te onteer. Jesaja beskrywe die mens wat goddeloos lewe en deur God oorgegee word as iemand wat tot sy eie vlees van sy arm eet. Die seuns van Josef, Efraim en Manassa, die hoofgroep wat Israel verteenwoordig, sal teen mekaar begin veg. Die enigste rede waarom hulle saamstaan is in hulle haat teenoor Juda. Dit is soos Herodus en Pilatus wat vriende word in hulle kruisiging van Jesus. Die onenigheid tussen die stamme is ʼn gevolg van God se hand wat uitgestrek is, hy bring dus die onmin. In hoofstuk 10 beweeg die profesie weer terug na die leierskap. Hier het dit te make met hulle wanbestuur. Hulle maak reëls om klasse te verdeel en om hulleself te verryk. Die regters het nie ʼn soeke na reg en geregtigheid nie, maar na waar hulle die meeste kan maak en wat vir hulle die voordeel sal wees. Hoe meer geld jy het hoe beter werk die regstelsel vir jou, terwyl die weduwees en die wese uitgebuit word en kaal gestroop word. Dan kom God se waarskuwing dat hulle daarvoor gestraf sal word en na wie sal hulle dan kan vlug? Al word hulle dood gemaak en word van hulle as slawe weggevoer sal God se straf nog steeds nie klaar wees nie.
Daar kan duidelike gesien word wanneer God die mense van ‘n land of omgewing oorgegee het aan hulle goddeloosheid. Ons kan dit toets aan die eienskappe wat deur Jesaja genoem word:
- Die geestelike leiers sê wat die mense wil hoor.
- Die mense van die land is teen mekaar.
- Armes en Rykes word teenoor mekaar geplaas.
- Reëls word gemaak om mense uit te buit en die leiers te verryk.
- Die reg is nie meer blind nie maar bevorder homself.
Klink dit soos die tyd waarin ons leef?
God se oordeel
Indien God se oordeel oor die goddelose op aarde so angswekkend en ongenaakbaar is, hoe sal Sy ewige oordeel nie wees nie? God oordeel regverdig op aarde en sal ook hier sy kinders straf. Wat gebeur egter met diegene wat nie tot inkeer kom nie en voort gaan om in goddeloosheid te volhard? 1 Petrus 4:17 Dit is immers tyd dat die oordeel begin, en wel by die huishouding van God. As dit by ons begin, wat sal dan die uiteinde wees van hulle wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? Die gelowige moet altyd selfondersoek instel aangaande enige moeilikheid wat oor hom kom. Is God besig om my te tug a.g.v. ʼn sonde waarin ek volhard of is Hy besig om my te suiwer en my te toets om ʼn helderder lig vir Hom te wees?
Slot
Net in die vorige inskrywing het ons gelees van die wonderlike Verlosser wat die Lig sou bring in die donker wêreld. Dit is egter in hierdie gedeelte baie duidelik dat daardie lig nie net ʼn lig tot lewe sal wees nie, maar ook tot oordeel. Die volk is gewaarsku en in plaas daarvan om in afwagting opgewonde te wees oor die komende Redding, wil hulle niks met God, as hul Redder te make hê nie. Ons lewe in ʼn tyd waar die goddeloosheid rondom ons hand oor hand toeneem en dit voel soms of dit ons wil oorweldig! Die gelowige kyk na die tyd waarin hy leef en beoordeel dit in terme van God se standaarde. Ons kan duidelik sien hoe die samelewing as geheel al verder en verder van God en spesifiek, Jesus Christus as enigste Redder, af wegbeweeg. Eerder as om in sak en as te sit, moet ons dit raaksien as die vervulling van God se belofte van straf en oorgawe. As gelowiges bou ons op die fondament van die Woord, met Jesus Christus as die hoeksteen. Hebreërs 4:12-13 Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes. Ja, niks wat geskape is, is vir Hom verborge nie, maar alles is oop en bloot voor sy oë, Hom teenoor wie ons ons moet verantwoord. Hierdie Woord is waar en vas en net soos Sy belofte van straf, is Sy belofte van redding waar vir ons wat in Hom hoop.