Inleiding
Daar is ʼn donkerte oor die land, maar die “oorblyfsel”, die wat hulle vertroue op God plaas, het ʼn afwagting dat alles sal verander en dat daar ʼn lig sal wees wat die donkerte sal breek. Die gelowige lewe in die realiteit van die donker wêreld met ʼn afwagting van die Ewige Lewe, die Ewige Lig. Hierdie gedeelte in Jesaja, wat na toekomstige gebeure wys, word in die verlede tyd geskrywe om te wys op die sekerheid van die vervulling van die professie. Dit is asof Jesaja na die toekoms geneem word vanwaar hy in retrospeksie skryf oor dit wat alreeds (in die toekoms) plaasgevind het.
Duisternis
Sebulon en Naftali is die twee Noordoostelike stamme aan die westekant van die Jordaan. Dit sou later bekend staan as bo- en onder-Galilea. Tiglat-Pileser die koning van Assirië sou die mense van hierdie gedeeltes ook gevange neem en wegvoer na Assirië. 2 Konings 15:29 In die tyd van Peka, die koning van Israel, het Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, gekom en Ijon, Abel-Bet-Maäga, Janoag, Kedes, Gasor, Gilead en Galilea, die hele gebied van Naftali, verower, en die inwoners weggevoer na Assirië. Hierdie sou ʼn vreesaanjaende tyd van hartseer wees in teenstelling met wat dit in die toekoms gaan wees waar die donker in lig sou verander. In die tyd van Christus het daar in Galilea, aan die westekant van die meer van Genneseret, of wat ook genoem word die see van Galilea, ʼn groot hoeveelheid mense van gemengde afkoms gewoon. Wat interessant is, is dat die volk in hierdie area vanaf die vroegste tye beïnvloed is deur ander volke en ons sien dit reeds in Rigters. Rigters 1:30 en 33 Sebulon het nie die inwoners van Kitron en Nahalal verdryf nie. Die Kanaäniete het tussen hulle bly woon, maar moes dwangarbeid verrig. Naftali het nie die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat verdryf nie en het tussen die Kanaäniete, die inwoners van daardie landstreek, gewoon. Maar die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat moes vir hulle dwangarbeid verrig. Net so, in die tyd van Salomo, het hy hierdie dorpe vir Hiram gegee as betaling. In 1 Konings 9:11 gee koning Salomo vir Hiram twintig dorpe in die landstreek Galilea. Hiram, die koning van Tirus, het immers vir Salomo bygestaan met sederhout en sipreshout en goud, soveel as wat hy wou hê. Hierdie plek, wat vir soveel jare al in geestelike donkerte gehul is weens hul sonde, sou ʼn transformasie ondergaan. Hierdie plek wat so beïnvloed was deur heiden nasies sou volgens Jesaja se professie verheerlik word deur die prediking van Jesus. Matteus 4:13-15 Hy het Nasaret verlaat en in Kapernaum by die see gaan woon, in die gebied van Sebulon en Naftali, sodat die woorde vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gesê is: Land van Sebulon en land van Naftali, die pad langs die see, oorkant die Jordaan, Galilea van die heidene: Die volk wat in duisternis woon het ‘n groot lig gesien; vir hulle wat in die gebied en die skadu van die dood leef, het ‘n lig opgegaan.
Jesus, die Lig vir die wêreld
Johannes beskryf ook vir Jesus as die lig wat in die wêreld gekom het en dat in Hom die hoofletter Lewe was. Johannes 1:4-5 In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Net God kan lig in duisternis bring. Dit word uitgebeeld in die verhaal in Genesis wanneer God lig skep. Hierdie lig word van die donker geskei en die lig word “dag” en die donker “nag” genoem. Die ongelooflike van hierdie Skeppingsverhaal is dat wanneer die lig geskep word, die son, die maan en sterre nog nie daar is nie. Die lig is dus nie afhanklik van die son, maan en sterre nie, maar van die Een wat lig in wording bring. So sal dit ook weer wees wanneer die nuwe Hemel en Aarde geskep word. Hiervan profeteer Jesaja ook en word hy aangehaal in Openbaring:
- Jesaja 60:19 Vir jou sal die son nie meer daar wees as ‘n lig bedags nie, en die maan sal nie as ‘n helder lig vir jou skyn nie. Die Here sal as ‘n ewige lig daar wees, en jou God as jou roem.
- Openbaring 22:5 Daar sal ook nie meer nag wees nie. Die behoefte aan die lig van ‘n lamp en die lig van die son sal nie meer bestaan nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle vir ewig en ewig as konings sal heers.
Hierdie lig wat die duisternis wegdryf is die lig wat deur Christus alreeds in die gelowige se lewe deurgebreek het . 2 Korintiërs 4:6 Want God wat gesê het, Laat daar uit die duisternis lig skyn, dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus. Daarom sal daar nou vreugde wees by diegene wat eers in die donker en die vrees van hierdie wêreld geleef het. Die metafore van juk, las en die slawedrywers herinner almal aan die tydperk in Egipte en die bevryding van slawerny. Die las, juk op ons skouers en die slawedrywer verwys ook na die sonde waarvan ons as gelowiges bevry is.
Verder noem Jesaja ook die dag van Median. Dit korreleer met die aanval waarop Gideon Sebulon en Naftali deur God se ingryping bevry het. Rigters 6:35 Hy het boodskappers deur die hele Manasse gestuur, en ook hulle is opgeroep om hom te volg. Hy het boodskappers deur Aser, Sebulon en Naftali gestuur, en hulle het by hulle aangesluit. Gideon se oorwinning is ʼn heenwysing na Christus se oorwinning wanneer ons sien dat hy met ʼn klein groepie soldate ʼn oorwinning behaal oor sy vyand. Die verhaal speel af in die aand, die duisternis, en met hulle aanval staan elke man van Gideon met ʼn fakkel in sy hand wat wys na die lig wat die duisternis sou oorweldig. Rigters 7:20 Die drie eenhede het tegelyk op die ramshorings geblaas, die kruike gebreek, in hulle linkerhande die fakkels gehou, en in hulle regterhande die ramshorings om daarop te blaas. Hulle het uitgeroep: ‘n Swaard van die Here en van Gideon! Gideon moes erken dat die oorwinning wat hy behaal het nie uit homself of uit sy klein weermag kon kom nie, nee, dit was ʼn werk van God. Die Psalmdigter stel dit mooi. Psalms 127:1-2 ‘n Pelgrimslied. Van Salomo. As die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tevergeefs daaraan. As die Here oor die stad nie wag hou nie, bly die wagte tevergeefs wakker. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, eers laat tot rus kom, kos eet wat moeisaam verkry is. Netsowel gee Hy dit aan sy geliefdes in die slaap. Alles van die soldaat word vernietig en verbrand, want geen oorlog sal nodig wees om hierdie oorwinning te behaal nie. God sal die oorwinning behaal! Watter vreugde gee God nie vir ons as sy kinders nie? Ons is waarlik bevry om Hom te verheerlik en te geniet vir ewig!
WANT
Die rede vir hierdie vreugde en alles wat plaasgevind het volg nou met die Afrikaanse woordjie, want. Hier word die rede vir die oorwinning nou aangekondig. In plaas van ʼn matige heerser kom die verlossing want ʼn Kind is vir ons gebore en ʼn Seun is aan ons gegee. Die heerskappy wat op sy skouers is wys na sy koninklike afkoms. Dit kom in Mattheus se evangelie baie sterk na vore, wanneer hy met die intrapslag duidelik Jesus se geslagsregister as koninklik aankondig. Op sy skouers, in teenstelling met die verlorenes wat die sonde op hulle skouers gedra het, sal die koninklike heerskappy geplaas word. Sy name waarmee Hy genoem word vertel aan die leser dat hierdie nie ʼn gewone seun is nie maar, soos Hy genoem sal word, die Seun van God. Hierdie gebruik van seun herinner ons dus aan Psalm 2. Psalms 2:7 Ek wil die vaste besluit bekend maak: Die Here het vir my gesê: Jy is my seun, vandag het Ek jou verwek. So is dit alreeds ook deur Jesaja aangekondig dat Hy Immanuel is, wat beteken “God met ons.”
Wie is hierdie Seun?
Wonderbare raadsman.
Hierdie wonderbaar is ʼn selfstandige naamwoord en nie ʼn byvoeglike naamwoord nie. Die Messias word dus nie beskryf as wonderbaar nie, maar verteenwoordig alles wat wonderbaar is. Hy is wonderbaar deur en deur. Sy wese is wonderbaar. Hy is die verpersoonliking van wonderbaar. Dus wys hierdie naam dat ons hier met God te make het. Dit is opmerklik dat die Engel wat aan Manoag, Simson se pa, verskyn het en wat geïdentifiseer word as God self, die volgende vir Manoag sê wanneer hy vra wat die Engel se naam is. Rigters13:18 En die Engel van die Here sê vir hom: Waarom vra jy dan na my naam terwyl hy wonderbaar is?(Ou Vertaling). Hierdie woord wonderbaar beteken iets soos bonatuurlike. Dit kan of vertaal word as bonatuurlike regter of ʼn regter wat bonatuurlike beslissings gee. Dit is dan ook ʼn vervulling van Jesaja se belofte aan die volk. Jesaja 11:2 Die gees van die Here sal op hom rus – die gees van wysheid en insig, die gees van raad en sterkte, die gees van kennis en ontsag vir die Here. So was Salomo in hierdie aspek ʼn heenwysing na die regter wat sou kom in sy beslissings. Dit was ook wat Salomo van God gevra het aangesien hy besef het dat hy nie die groot volk in sy eie wysheid sou kon lei nie. 1 Konings 3:9 Gee dan aan u dienskneg ‘n hart wat luister om as regter op te tree vir u volk, om te kan onderskei tussen goed en kwaad; want wie kan regspreek oor hierdie veeleisende volk van U?
Magtige God
Hy is die magtige God, die naam wat ook vir God gebruik word in Jesaja. Jesaja 10:21 ‘n Oorblyfsel sal terugkeer, die oorblyfsel van Jakob, na die Magtige God. Dat Hy ʼn magtige is verwys ook daarna dat Hy ʼn held is en beklemtoon die oorwinning oor die vyand. God word beskrywe as ʼn Here van die leërskare, die magtige leërowerste. Hierdie Een wat sal kom is ʼn Magtige God en daarom kan ons rustig wees dat Hy alles sal doen soos wat Hy bepaal het. Jesaja profeteer dat die Een wat sou kom God self sal wees en daarin wys Hy weereens aan ons dat al is God een is Hy meer as een persoon.
Ewige Vader
Hier verwys dit nie na Jesus as God die Vader nie, maar dat hierdie Seun wat gebore is ʼn Vader sal wees vir almal wat Hy sal verlos. Jesaja 63:16 U is immers ons Vader. Ja, Abraham, hy ken ons nie, en Israel, hy erken ons nie; U, Here, is ons Vader. Ons Losser van altyd af, is u Naam! So word God oral deur die Ou Testament uitgebeeld as die een wat “Sy mense” te hulp kom en hulle versorg. Hy is die Een wat nie net tydelik nie, maar vir ewig vir ons sal intree. Luister net wat die Hebreër skrywer van Christus sê. Hebreërs 7:25 Dit is waarom Hy ook volkome in staat is om hulle wat deur Hom na God toe kom, te verlos – omdat Hy altyd leef, om ter wille van hulle in te tree. Nie net tree Hy vir ons in nie, maar Hy belowe ook dat Hy ons sal vashou en dat niks of niemand ons uit Sy hand sal ruk nie. Johannes 10:28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
Prins van Vrede
Hy sal die volkome wees waarvan Salomo slegs ʼn tipe was. Dawid noem sy seun, šelōmōh, die man van vrede. God noem Salomo Jedidiah, geliefde van Jahwe. Hierdie Een wat sou kom sou die ware Prins van Vrede wees, die Een waarvan Salomo en Gideon slegs skadubeelde was. Om ware vrede te hê is slegs vir die gelowige beskore. Dit is iemand wat in vrede met God kan leef en dit is alleenlik moontlik gemaak deur Christus wat ons met God verenig het. Die sonde is weggeneem in Christus en sonder sonde is daar nou vrede met God. Romeine 5:1 Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus. Daarom kan ons lewe in vrede en net soos die aartsvader Abraham met ʼn vol lewe ook sterwe in vrede. Genesis 15:15 Wat jou betref, jy sal in vrede na jou voorouers gaan en op ‘n hoë ouderdom begrawe word. Die Jood groet mekaar met die woord Shalom wat vrede beteken. Hoe tragies dat hulle die Prins van Vrede misgekyk het en nog steeds opsoek is na ʼn aardse vrede, wat altyd buite hul bereik bly. Die gelowige het vrede ten spyte van die wêreld se verdrukking, aangesien die Prins van Vrede in ons woon. Die ware vrede wat God belowe is ʼn geestelike vrede en nie ʼn aardse vrede nie.
- Johannes 14:27 Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie.
- Johannes 16:33 Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.
Jesus belowe aangaande Sy kerk dat hierdie vrede sal versprei oor die hele aarde. Die koninkryk sal uitgebrei word deur die verkondiging van die Prins van Vrede en nie deur die swaard nie. So baie dink nog steeds dat die gelowige net kan oorwin deur die swaard. Hulle is soos die apostels wat in vrees en bewing was toe Jesus in die aand gevange geneem is. Hulle eerste reaksie is om na die swaard te gryp en Petrus kap Malgus se oor af. Jesus sê dan die volgende aan sy volgelinge. Matteus 26:52-53 Toe sê Jesus vir hom: Bêre jou swaard op sy plek. Want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard omkom. Of dink jy nie Ek kan maar net my Vader aanroep, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele tot My beskikking stel nie? In die tyd van Hiskia sien ons dat een engel honderd vyf en tagtig duisend man doodmaak het. Sit dus maar jou swaard weg.
Slot
Die dag het gekom, die nag is verby. Die oorwinning sou nie kom deur die swaard nie, maar deur ʼn baba in ʼn stal. Hý is ons Verlosser wat die stofstrate van Galilea geloop het, en as onskuldige soos ʼn moordenaar gesterf het aan ʼn kruis vir ons oortredings. Hý is ons vrede en vreugde wat vir ons intree by die Vader en in ons plek kom staan. Laat elkeen van ons nou die boodskappers van vrede wees, wat hierdie blye boodskap in ʼn vyandige wêreld gaan verkondig. Hy is waarlik God en waarlik mens, Christus ons Verlosser!