Na hierdie dinge het koning Ahasveros vir Haman hoog verhef en beveel dat al die dienaars by die koning se poort voor hom moes buig. Mordegai het egter nie voor Haman gebuig nie
Dit het Haman baie kwaad gemaak. Hy wou nie net vir Mordegai straf nie, maar ook die Joodse volk waaraan hy behoort het. Hy wou al die Jode in die hele koninkryk uitroei. Hy het na die koning gegaan en gesê:
“Daar is ’n volk wie se wette anders is as dié van al die ander volke. Hulle hou nie die koning se wette nie. Laat ’n besluit geskryf word om hulle te vernietig.”
Die koning het sy seëlring vir Haman gegee, en briewe is na al die provinsies gestuur. Daarin is beveel dat al die Jode op een dag doodgemaak moet word — jonk en oud, kinders en vroue — en dat hulle besittings geneem mag word.
Toe Mordegai hiervan hoor het hy rouklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Ester het gehoor dat Mordegai rouklere dra by die koning se poort en het boodskappers na hom toe gestuur om uit te vind wat gebeur het. Mordegai het vir haar van alles vertel wat Haman beplan het. Hy het vir Ester gevra om na die koning te gaan en vir haar volk te pleit.
Ester het laat weet dat enigeen wat na die koning gaan sonder dat hy geroep word, doodgemaak kan word, tensy die koning sy goue septer uitsteek.
Mordegai het gesê:
“Moenie dink jy sal ontkom nie. As jy stilbly, sal daar hulp van ’n ander plek kom, maar jy sal omkom. Wie weet of jy nie juis vir ’n tyd soos hierdie koningin geword het nie?”
Toe sê Ester:
“Gaan maak die Jode bymekaar en vas vir my. Ek sal ook vas. Dan sal ek na die koning gaan. As ek omkom, dan kom ek om.”