Inleiding
In hierdie eerste gedeelte van hoofstuk 8 moet Jesaja weer eens aan die volk ʼn boodskap bring van straf op hul ongehoorsaamheid en hy moet dit doen deur een woord op ʼn klei-tablet te skryf en daarna sy seun hierdie naam te gee. Ons sien telkens in die Woord hoe die profete van God hul boodskap moes leef. Hulle lewens was soms letterlik die boodskap! Dit was ʼn boodskap van teregwysing, maar ook van hoop. Watter boodskap is jou lewe vir die wêreld?
Boodskap in ʼn naam
Net soos in Hoofstuk 7 waar ons gelees het van die Seun met die naam “Immanuel”, wat beteken God met ons, gebruik God hier ʼn woord-naam om sy straf aan te kondig. Volgens die Hebreër skrywer het die profete God se boodskap op ‘n verskeidenheid van maniere geproklameer. Hebreërs 1:1 In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete. Die profeet moes nou ʼn skryftablet neem en daarop skrywe “vinnig-buit-spoedig-roof”. Die boodskap moes vir almal in Jerusalem duidelik wees sodat niemand enige verskoning kon hê dat hulle nie die boodskap ontvang het nie. Die boodskap moes mense laat vrae vra en laat wonder oor wat die boodskap beteken. God gee in hierdie gedeelte meer vleis op die been van die profesie van hoofstuk 7. Die boodskap is duidelik, die verwoesting sal kom en vinnig oor hulle wees.
God gaan twee getuies oproep om hierdie boodskap aan die goddelose volk voor te hou. Hulle getrouheid het nie te make met hulle toewyding nie, maar hulle posisies en ampte in die samelewing. Uria was ʼn priester, maar ʼn man wat maklik geval het vir die aanloklikhede van die wêreld. Hy het vriendskap met die koning belangriker geag as gehoorsaamheid aan God. ‘n Bewys hiervoor kry ons in 2 Konings 16. Nadat koning Agas deur God se krag Damaskus oorwin het, besluit hy om ʼn altaar te laat bou soos die een wat hy in Damaskus gesien het. Uria kry die opdrag om hierdie altaar te bou. 2 Konings 16:11 Urija, die priester, het die altaar gebou. Net soos koning Agas dit vir hom uit Damaskus gestuur het, het Urija, die priester, dit gemaak, nog voor die koms van koning Agas uit Damaskus. Al word sy naam hier verskillend gespel is die naam dieselfde in die Hebreeus en word dit in die Ou vertaling dieselfde vertaal, naamlik Uria. Hy sou ook hier offers bring op bevel van die koning. Hoekom was hierdie man dan gebruik? Die rede is dat, a.g.v. sy posisie, die mense na hom sou luister al sou nie hy of die mense die boodskap gehoorsaam nie. Ondanks hulle ongehoorsaamheid sou die profesie waar word en sou hulle weet dat daar ʼn profeet was wat dit voorspel het in opdrag van God. So het God ook aan Esegiël, die profeet, bekend gemaak dat alhoewel mense graag na hom geluister het, hulle nie aan sy woorde gehoor gegee het nie, die woorde vervul sou word en hulle sou weet dat daar ʼn profeet onder hulle was. Esegiël 33:32-33 Kyk, jy is vir hulle soos ‘n hartstogtelike lied, ‘n mooi klank, soos iemand wat mooi speel op snaarinstrumente: Hulle hoor jou woorde, maar om dit te doen, bestaan nie by hulle nie. Wanneer dit egter vervul word – en kyk, dit gaan vervul word – sal hulle besef dat daar ‘n profeet in hulle midde was. Ons kan nie mense verander nie, maar ons moet, ongeag of hulle luister of nie, die boodskap verkondig en mense oproep om hulle te bekeer en weg te draai van hulle sonde.
Jesaja se vrou word ʼn profetes genoem aangesien die geboorte van haar seun ʼn profetiese boodskap van God aan die volk sou wees. Die woord wat op die tablet geskrywe is, word nou hierdie seun se naam: Maher-shalal-hash-baz, “vinnig-buit-spoedig-roof” Wat ʼn naam!? Wanneer iemand praat van Jesaja se seun of sy naam uitroep in die straat, sal daar konstant ʼn waarskuwing wees van dit wat aan die kom is oor die land van Juda. Hier is dit ook baie duidelik dat Jesaja se seun nie die vervulling van die belofte van “Immanuel”, soos in Hoofstuk 7 geprofeteer, sou wees nie. Hierdie seun van Jesaja sou die tydlyn van God se oorwinning oor Damaskus en Samaria aandui. Voor hy Ma of Pa kan sê sal alles deur die koning van Assirië weggedra word.
Afhanklikheid
Siloag was die fontein wat die mense van Jerusalem van water voorsien het. Al was hierdie ʼn klein stroompie wat “sag gevloei” het in vergelyking met die riviere van die omgewing, was dit ʼn standhoudende stroom wat al die water voorsien het wat Jerusalem nodig gehad het. In die land van Israel was water skaars en die volk was afhanklik van reën wat God aan hulle moes voorsien. Deuteronomium 11:10-12 Want die land waarheen jy nou op pad is om dit in besit te neem, is nie soos Egipteland waarvandaan julle weggetrek het nie – ‘n land waar jy jou saad gesaai en met leivore natgelei het soos ‘n groentetuin. Die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem, is ‘n land met berge en valleie; dit drink reënwater uit die hemel. Dit is ‘n land waarvoor die Here jou God bly sorg. Die Here jou God hou voortdurend sy oog daaroor – van die begin tot die einde van die jaar.
Om in Jerusalem te woon sou geloof van jou vereis. Hebreërs 10:23 Laat ons styf vashou aan die belydenis van wat ons hoop, sonder om af te wyk, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou. Ongelukkig was God se manier van voorsiening en die besef van ʼn totale afhanklikheid van God nie vir die volk iets wonderliks nie. Hulle wou soos die heiden nasies met groot riviere onafhanklik wees en doen wat hulle harte begeer. Die mens haat dit om afhanklik te wees van God, want dan moet hulle erken dat hulle ondergeskik aan Hom is en aan Hom gehoorsaam moet wees. Nee, hulle wil op elke terrein van hul lewe selfversorgend wees en glo dat hulle Hom nie nodig het nie. Hulle gebede is godsdienstige gebruike wat leeg is, aangesien, as hulle eerlik moet wees, hulle nie werklik hul afhanklikheid van Hom erken nie. Jesus leer sy dissipels hoe om te bid en dit is opmerklik dat deel van die Onse Vader ʼn smeking is vir ons daaglikse brood. Matteus 6:11 Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit is nie ʼn vra vir môre se brood nie, maar alleenlik vir die behoeftes van die dag. God sal Homself ook bekend stel aan die volk as EK IS. Hy is die God wat elke dag by Sy kinders wil wandel en wil hê dat hulle in totale afhanklikheid van Hom sal leef. Die volk het ʼn soeke gehad na die sekuriteit wat ʼn wêreldse heerser aan hulle kon gee i.p.v. ʼn vertroue op God. Dit wat hulle begeer sal God vir hulle gee en hierdie begeerte na die dinge van die Assiriërs word nou uitgebeeld in die metafoor van die rivier wat sal opstoot en sy walle en ook Juda sal oorstroom. God sê hiermee aan die volk dat dit wat hulle so van die vreemde volke begeer, hulle tot by hul nekke sal kry. Om die wêreld te soek is om die wêreld te kry. Dat die stroom tot by hulle nekke gaan wys dat ʼn deel van Juda sal oorleef en nie almal uitgewis sal word nie. Hierdie Assiriese mag sal oor die hele Juda wees.
God in beheer
Dan ʼn noodkreet wat deur die meeste vertalings vertaal word as “O Immanuel”. Maak nie saak wat gebeur nie God is met ons. Al is dit ʼn naam is daar ʼn waarheid in hierdie naam. Al sal ons oorstroom word sal dit net tot by ons nekke wees. God bly in beheer. 2 Timoteus 2:13 as ons ontrou is, Hy bly getrou, want Hy kan Homself nie verloën nie. Die verwagting na Christus die verlosser was die troos van die profeet.
Hierdie wete gee aan die profeet soveel versekering dat hy elke volk wat hierna weer die land sal probeer binneval uitdaag: “Probeer, julle sal nie suksesvol wees nie!” Al sou God die volk straf vir sy sonde sou God steeds sy volk beskerm en ʼn oorblyfsel aan die lewe hou. Hierdie oproep tot die volke herinner aan Psalm 2 waar die volke saamspan en planne maak teen die Here en sy gesalfde om hulle bande af te gooi en hulle boeie te breek. Die psalmdigter sê dat God vir hulle lag en dat Hy hulle sal verpletter en daarom is daar ʼn oproep aan die einde van die Psalm dat hulle hulle moet bekeer. Psalms 2:10-12 Daarom, konings, wees verstandig; wees gewaarsku, regters van die aarde. Dien die Here met ontsag en juig Hom toe met bewing! Soen die seun, sodat Hy nie toornig word
en julle op pad omkom nie, want sy toorn vlam maklik op. Gelukkig is almal wat by Hom skuil. Immanuel sal oor die volke heerskappy uitoefen en sy heerskappy sal ʼn ewige heerskappy wees. So is dit ook geprofeteer in die droom van Nebukadnesar as hy ʼn groot beeld sien, wat die heerskappye van die wêreld verteenwoordig, wat deur ʼn rots, wat na Christus wys, vermorsel word. Daniël 2:44 In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk vestig wat vir ewig nie vernietig sal word of aan ‘n ander volk oorgelaat sal word nie. Hierdie koninkryk sal al daardie ander verpletter en tot ‘n einde bring, en dit sal standhou vir ewig.
Slot
Daar is geen vrees by die gelowige vir die magtiges of die heersers van hierdie wêreld of enige situasie nie. Die wêreld kan beplan en kan besluite neem maar die Kerk en elke gelowige sal staande bly aangesien God met ons is. Die profeet word opgeroep om anders te lewe as die mense tussen wie hy leef. Hy moes nie soos hulle vreesbevange raak vir elke bedreiging wat na hulle kant toe kom nie. Hieroor sal ons in die volgende deel van Jesaja 8 skryf. Hierdie gedeelte herinner ons aan Psalm 46. Psalms 46:6-8 God is in haar midde, sy sal nie wankel nie. God sal haar help wanneer die oggend aanbreek. Nasies was onstuimig, koninkryke het gewankel, Hy het sy stem laat hoor; die aarde sidder. Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons, ‘n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons. Sela.
