Koning Darius het honderd en twintig goewerneurs oor die koninkryk aangestel, met drie hoofamptenare oor hulle. Daniel was een van die drie. Daniel het hom so goed van sy taak gekwyt dat die koning beplan het om hom oor die hele koninkryk aan te stel.
Die ander amptenare en goewerneurs was jaloers op Daniël en het probeer om iets verkeerds by Daniel te vind, sodat hulle hom by die koning kon aankla, maar hulle kon niks kry nie. Daniel was betroubaar en eerlik. Toe sê hulle: “Ons sal niks teen Daniel kry nie, tensy dit met die wet van sy God te doen het.”
Hulle het toe na die koning gegaan en gesê:
“Koning Darius, leef vir ewig! Al die amptenare stem saam dat die koning ’n wet moet uitvaardig dat niemand vir dertig dae tot enige god of mens mag bid nie, behalwe tot u. Wie dit oortree, moet in die leeukuil gegooi word.”
Die koning het die wet onderteken.
Toe Daniel hoor dat die wet onderteken is, het hy na sy huis gegaan en soos altyd het hy, met sy vensters oop in die rigting van Jerusalem, op sy knieë gegaan en tot God gebid en Hom gedank.
Die manne het Daniel gesien bid en toe na die koning gegaan om Daniël by hom aan te kla. Die koning was baie bedroef toe hy dit hoor en het probeer om Daniel te red, maar die wet kon nie verander word nie.
Daniel is toe gebring en in die leeukuil gegooi. Die koning het vir hom gesê:
“Mag jou God, wat jy gedurig dien, jou red.”
Daardie nag kon die koning nie slaap nie. Die volgende oggend het hy haastig na die leeukuil gegaan en geroep:
“Daniel, dienaar van die lewende God, kon jou God jou van die leeus red?”
Daniel het geantwoord:
“My God het sy engel gestuur en die bekke van die leeus toegesluit. Hulle het my nie seergemaak nie.”
Toe was die koning baie bly. Daniel is uit die kuil gehaal en daar was geen besering aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het.
Koning Darius het toe geskryf dat mense oral die God van Daniel moet eer, want Hy is die lewende God wat vir ewig bestaan.
