Inleiding
As ons kyk na die profesieë wat na Christus wys moet ons altyd versigtig wees om nie die hele gedeelte te lees as die vooruitskouing na Sy koms nie. Net soos hier is die konteks van die profesie Jesaja se waarskuwing aan Agas en die komende straf van God a.g.v. sy ongehoorsaamheid. Binne hierdie konteks vind ons ʼn verwysing na die geboorte van Christus, as teken van God wat by ons sal kom woon, óf as redding óf as oordeel.
Die Christus
In vers 15 word gesê dat hierdie kind wat as teken gebore sal word, dikmelk en heuning sal eet en sal groei in kennis van reg en verkeerd. Hierdie is die normale groei van enige kind en wil ons daarop wys dat Jesus volkome mens geword het en deur elke fase van menswees sou groei. Om te “onderskei tussen goed en kwaad” was ʼn spreekwoord wat gebruik is vir ʼn jong kind. Deuteronomium 1:39 Julle klein kindertjies wat julle gedink het oorlogsbuit gaan word en julle groter kinders wat nou nog nie die verskil tussen goed en kwaad ken nie, hulle sal daar ingaan; vir hulle sal Ek dit gee, ja, hulle sal dit in besit neem. Dit is ook gebruik as ʼn aanduiding van iemand wat oud geword het en ʼn ouderdom bereik het waar hy soms nie meer by magte was om dit te kan doen nie. 2 Samuel 19:35 Ek is nou tagtig jaar oud. Ken ek nog die verskil tussen goed en sleg, of sal ek, u dienaar, nog kan proe wat ek eet of drink, of sal ek nog kan luister na die stemme van sangers en sangeresse? Waarom moet u dienaar nog vir my heer die koning ‘n las wees? Die uitdrukking het dus nie te make met sonde nie, maar die normale groei van ʼn kind na volwassene. As jy jonk is maak jy baie foute in die beoordeling van wat goed is al dan nie. Ons almal kan dink aan kinders wat enige iets optel en in hulle mond druk en geen vrees het om selfs met ʼn skerpioen te speel nie, aangesien die kind geen verstaan van gevaar het nie. Net so is dit ook met ʼn ouer persoon wie se sintuie begin ingee, wat later deur sy kinders versorg word. Hulle kan nie meer proe of ruik of iets lekker of sleg is nie.
Hierdie gedeelte wys na Immanuel se koms en sy lewe op aarde as volkome mens. Hy moes word soos een van ons. Hebreërs 2:17 Daarom moes Hy in elke opsig gelyk word aan sy broers, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word, om as offer te dien tot versoening van die volk se sondes. Lukas beskryf sy fisiese en verstandelike vermoë in terme van normale menslike fisiese en geestelike ontwikkeling. Lukas 2:52 Jesus het steeds wyser en al hoe meer volwasse geword en toegeneem in guns by God en onder die mense. Nie net sal Hy “God met ons” wees nie, maar Hy sal die gestalte van ʼn mens aanneem, onder ons kom woon, lewe van dieselfde kos en verstandelik ontwikkel soos ʼn gewone mens, sodat hy ons volmaakte hoëpriester kan wees. Hy sou met al ons swakhede bekend wees sonder om te sondig. Hebreërs 4:15 Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het.
Agas, koning van Juda
In vers 16 keer Jesaja weer terug na die hede met betrekking tot Agas en die mense van sy tyd. Die geboorte van ʼn seun vind wel plaas as Jesaja se vrou geboorte skenk aan ʼn seun in Hoofstuk 8. Sy naam is nie Immanuel nie en hy is ook nie uit ʼn maagd gebore nie, maar die vervulling van die res van die profesie wat op Agas van toepassing is gaan deur sy geboorte in vervulling. Aan Agas word aangekondig dat, voor hierdie kind op die ouderdom is waar hy kan onderskei tussen wat goed en sleg is, die twee konings waarvoor hy bang is uitgewis en hul land verlate sal wees. God verseker Agas dat die lande Sirië en Israel vernietig sal word en binne ongeveer 3 jaar na die profesie word Peka, die koning van Israel, doodgemaak en sy mense weggevoer en word die koning van Sirië doodgemaak en sy land vernietig deur die Assiriese ryk.
- 2 Konings 15:29 In die tyd van Peka, die koning van Israel, het Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, gekom en Ijon, Abel-Bet-Maäga, Janoag, Kedes, Gasor, Gilead en Galilea, die hele gebied van Naftali, verower, en die inwoners weggevoer na Assirië.
- 2Konings 16:9 Die koning van Assirië het toe aan sy versoek voldoen. Die koning van Assirië het teen Damaskus opgetrek en dit verower. Die stad se inwoners het hy weggevoer na Kir, en Resin het hy doodgemaak.
Eie planne
Die totale vernietiging van Israel sal egter oor ʼn tydperk plaas vind, maar na hierdie aanval begin hulle belasting betaal aan die Assiriese magte en word stelselmatig vernietig. Hier sien ons ook dat Agas, in stryd met God se opdrag deur Jesaja en sy opdrag in die Tora, die eerste vyf boeke van die Skrif, die Assiriese magte nader om hom te help. Eksodus 23:32 Jy mag nie met hulle of hulle gode ‘n verbond sluit nie. Hoe tragies as die mens nie wil wag op God se antwoord nie en op hul eie insigte staatmaak, teen God se opdrag. Dit is natuurlik die verhaal van so baie in die Ou Testament. Hier dink ons aan Sara en Abraham wat besluit om die geboorte van ʼn seun in hulle eie hand te neem en so word Ismael gebore, nie volgens God se belofte nie, maar volgens die vlees. Tot vandag toe ervaar Israel die gevolg van Abraham en Sara se ongeduld. Net so kon Saul nie wag vir Samuel om te kom om ʼn offer te bring nie en besluit om self, in stryd met God se gebod, ʼn offer bring. Die ironie is treffend – ʼn offer vir God teen sy bevel. So baie keer wil mense hul sonde en ongehoorsaamheid toedraai in “Ons doen dit vir die Here.” Ek gaan na plekke waar ek nie moet gaan nie, maar dan regverdig ek dit met “Ek vertel mense daar van die Here” of ek kyk en lees dinge wat Hy verbied, maar redeneer dat ek dan “ander kan reghelp” as hulle oor die fliek of boek praat. So baie keer word ons grootste begeertes juis ons grootste straf. Psalms 106:15 Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het, maar Hy het ‘n verterende siekte in hulle kele laat ontstaan. Hierdie besluit van Agas sou Juda duur te staan kom en sal erger wees as die dag toe die tien stamme van Israel van hulle af weggebreek het.
Juda sou sy vertroue nie net in die Assiriese magte plaas nie, maar ook in Egipte. Egipte, die land wat van die vroegste tye ʼn doring in die vlees van Israel was, sou nou die plek van hulle vertroue wees. Mense wat desperaat word en nie hul afhanklikheid van God wil erken nie sal enige strooihalm gryp. Die Here sal hierdie twee magte, Assirië en Egipte, wat hul anker en sekuriteit geword het, na hulle toe stuur as straf. Egipte, met sy Nylrivier wat jaarliks oorstroom, was bekend vir hul vlieë en word daarom uitgebeeld as vlieë wanneer hulle in Juda hulle intrek neem. Net so was die Assiriese koninkryk bekend vir byeboerdery en wanneer hulle Juda inneem word hulle met bye vergelyk. Die Almagtige God kan net fluit en twee magtige nasies kom onmiddellik op sy bevel. Dit is duidelik dat God hierdie magte waarop hulle vertrou het, as ʼn instrument in Sy hand sal gebruik om hulle mee te tug. Hierdie twee volke wat as bye en vlieë uitgebeeld word sal die land oorneem en dit leeg drink.
Vernedering
Assirië word nou beskryf as ʼn gehuurde skeermes. Die woord “gehuur” verwys na die feit dat Agas hulle betaal het om hom te hulp te kom. 2 Konings 16:8 Agas het die silwer en goud wat te vinde was in die huis van die Here en in die skatkamers van die koninklike paleis, geneem en as ‘n geskenk aan die koning van Assirië gestuur. Hy gebruik dit wat aan God behoort om, in stryd met God se opdrag, die koning van Assirië te betaal. Die metafoor van die skeermes wys daarop dat God die Assiriese magte sal gebruik om die ryke en arme te stroop van alles wat hulle besit. Die afskeer van al jou hare wys ook dat die vyand hulle totaal sal verneder. Hierdie vernedering word goed geïllustreer in ʼn verhaal waar Dawid sy dienaars stuur om aan koning Nahas ʼn guns te bewys na die afsterwe van sy vader. Nahas en sy amptenare besluit dan om hierdie dienaars van Dawid te verneder en die helfte van hulle baarde af te sny en hulle klere in die helfte af te sny. 2 Samuel 10:4-5 Ganun het toe Dawid se amptenare gevat, die helfte van hulle baarde afgeskeer, die helfte van hulle klere tot op hulle sitvlakke afgesny, en hulle toe weggestuur. Toe Dawid daaroor ingelig is, het hy mense gestuur om hulle te ontmoet, want die manne was verskriklik verneder. Die koning het gesê: Bly in Jerigo totdat julle baarde weer gegroei het, en kom dan terug.
Verarm
Die volgende verse mag klink asof dit die oorvloed van melk en heuning wil beklemtoon, maar dit wil die min mense wat oorgebly het beklemtoon. Dit wys daarop dat, ten spyte van die min diere wat iemand sal besit, daar te veel melk sal wees, omdat die mense wat oorgebly het so min is. Die mense van die land van Juda sal stelselmatig verdwyn en die mense in die land so min sal wees dat die man met die een koei niemand anders sal hê om voor te voorsien nie. Selfs die heuning sal nou volop wees a.g.v. die min mense in die land. Dit sal nog duideliker geïllustreer word as die koning van Assirië Jerusalem wil aanval en die rabsakee gestuur word om met Jerusalem en sy mense die spot te dryf en aan hulle te kenne te gee dat daar geen manier is waarop hulle teenstand kan bied teen die Assiriese koning nie. 2 Konings 18:23 Daarom, gaan gerus ‘n weddenskap aan met my heer, die koning van Assirië. Ek sal jou tweeduisend perde gee, as jy in staat is om ruiters vir hulle te voorsien.
Die gesogste grond in die land sal waardeloos word. Die kosbaarste grond, naamlik die waarop wingerde geplant was, waarvan die waarde 1000 sikkels silwer was (ongeveer die ekwivalent van ʼn arbeider se loon van meer as ʼn honderd jaar) sal nou begroei word deur dorings en dissels en sal waardeloos wees. Hierdie lande sal so verwoes wees dat mense hulself met pyl en boë sal bewapen as beskerming teen die wilde diere wat daar sal voorkom. Die lande in die berge wat met harde arbeid bewerk is sal toegegroei wees met dorings en dissels en deur beeste en kleinvee bewei word.
Slot
Hoe wankelrig is die dinge en mense waarop die mens sy vertroue plaas? Is die Psalmdigter nie duidelik rakende ons vertroue op mense nie. Psalms 146:3 Moenie op vooraanstaandes vertrou nie, op ‘n mens, by wie daar geen verlossing is nie. Agas en Juda was dwaas om hul vertroue op mense te plaas. Hoe dwaas is ons nie nog steeds nie? Op wie vertrou jy wanneer die lewe moeilik raak? Na wie toe gaan jy vir raad en bystand? So dikwels weet ons wat God se antwoord is en tog dink ons ons weet beter, altyd met katastrofiese gevolge. Agas het God se waarskuwing gehoor: “Moenie op iemand anders as op My vertrou nie”, hy het God se beloftes van die oorwinning gehoor: “Jou vyande is brandhout!” en tog het Agas teen God gekies. Wat kies jy vandag?
Kies God, want alleen by Hom is verlossing en liefde. Psalms 103:15-18 ‘n Mens, soos gras is sy lewensdae, soos ‘n veldblom, so bloei hy. As die wind oor hom waai, is hy nie meer daar nie en sy plek ken hom nie meer nie. Maar die troue liefde van die Here is van altyd af en vir ewig oor hulle wat vir Hom ontsag het, en sy geregtigheid geld vir die kinders se kinders, vir hulle wat sy verbond hou, en vir hulle wat sy opdragte in gedagte hou, om dit uit te voer.
