Inleiding
In hierdie gedeelte vind ons die verhaal van die verskriklike beeld wat vergruis word deur ʼn klip wat vanself losbreek. Nebukadneser is baie ontsteld oor die visioen en wil weet wat dit beteken. Behalwe die uitleg van die droom en die toepassing daarvan op die toekoms is die hele toneel wat afspeel vir die gelowige ʼn herinnering dat ware wysheid ʼn gawe van God is en nie deur menslike inspanning alleen bekom kan word nie.
Wysheid kom van God
Koning Nebukadneser ontvang ʼn droom van God wat hom ontstel. Hy is ontsteld oor die droom en tog magteloos om dit te interpreteer. Dit is dan ook ʼn beeld van die mens se onvermoë om die toekoms te weet en sy magteloosheid om daaraan te verander. Hy roep die manne van kennis en die slimmes van sy ryk bymekaar om sy droom te verduidelik. Hy maak seker dat hulle hom nie ʼn rat voor die oë draai deur sommer enige storie uit te dink nie, deur te weier om aan hulle die droom self te vertel. (Vanaf vers 4 is die teks in Aramees geskrywe as die wyses met die koning begin praat. Van hier af sien ons dat die verhaal fokus op die wêreld nasies en dit wat vir hulle voorlê.) Die geleerdes erken dat hulle nie in staat was om die droom bekend te maak nie en dat slegs die gode dit kan weet. Hiermee erken hulle die tekortkoming van hulle aardse wysheid. Die Heilige Gees, deur die skrywer, ontmasker die kenners as slegs bedrieërs wat nie die droom sal kan uitlê nie, maar saam sal konkel om ʼn antwoord vir die koning te gee om die vrede te bewaar of vir die beloning wat aangebied word. In hierdie gedeelte wys God dus ook dat die harte van die mens aan Hom bekend is. Is dit nie waar wat die Bybel openbaar aangaande die wyses van hierdie wêreld nie. 1 Korintiërs 3:19 want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan immers geskryf: Hy vang die wyses deur middel van hulle eie slinksheid. Watter dwaas sal die kenners van hierdie wêreld volg in die ewige waarhede. Selfs in die aardse sogenaamde kennis is daar alreeds ʼn groot gekonkel om die waarheid te verdraai en volgens naturalisme die wêreld te verklaar. (In die konteks van wetenskap verwys naturalisme na die benadering waar verskynsels in die natuur bestudeer word sonder om bonatuurlike of godsdienstige verklarings in te bring). Dieselfde wetenskap wat verklaar dat daar nie uit niks iets kan ontstaan nie is dieselfde wetenskap wat wil begin by niks en alles wil verklaar sonder God, ʼn Skepper en die een wat alles in beweging gebring het. Die wyses in Daniel word ontbloot as blote mense sonder ware insig. Jeremia 17:5 So sê die Here: Vervloek is die man wat op mense vertrou, wat in mense sy krag vind, maar sy hart draai van die Here weg. Ons het vandag ook sogenaamde kenners en denkers wat dink hulle kan toetree tot die verstaan en die verduideliking van God se Woord. Watter dwase en watter dwaas wat hulle verduidelikings van die Skrif as insig sal reken. Sonder die Heilige Gees se oopbreek van die teks sal niemand tot insig van die Woord kom nie. 2Petrus 1:20-21 Dit moet julle veral besef: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie. Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie; maar, meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is.
Kenner van God
Die koning raak woedend aangesien hy besef dat hulle argumente net ʼn speel vir tyd is en hy gee die bevel om al die wyses dood te maak. Daniel vra die koning vir tyd om die droom aan hom te openbaar. Hier is nog ʼn ironie dat Daniel, die een wat onder die wyses van Babilon onderrig ontvang het, nou met die hulp van die Een wat ware Wysheid openbaar die sogenaamde wyses sal onderrig en meer as dit, hul lewens sal red. Daniel weet verseker dat die God wat Hy aanbid die gewer van die droom is en die boodskap van die droom sal openbaar. Miskien wonder jy hoe Daniel so verseker kon wees? Daniel was ʼn man van God en ons sal ook later sien hoe hy in ooreenstemming met die profesie van Jeremia bid, weet ons dat hy die skrifte geken het. In die Tora(die eerste vyf boeke) sou hy gelees het van Josef wat die drome van die bakker en skinker en die van ʼn heidense koning met die hulp van God uitgelê het. Watter durf en moed het die gelowige jongman nie geopenbaar nie, en dit omdat hy die God van die Skrif geken het. Hy het geweet wie hy is en wie God is en het nie probeer om in eie wysheid iets te probeer doen of sê nie. So baie keer dink ons ons is slim en wil ons op ons eie insigte staatmaak, terwyl ons soos Daniël ons beperkings moet ken en weet waar om om hulp te vra.
Daniel vra sy vriende om saam met Hom te bid en God te smeek om aan hulle barmhartigheid te bewys rakende die droom. Die uitleg lê by God en nie by die mens of by die wysheid van die mens nie, maar by God wat dit aan die mens openbaar. Nooit kan die gelowige in sy eie insig roem nie. Jesus prys sy Vader: Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. Mattheus 11:25. Aan Daniel word die droom en sy betekenis openbaar en Daniel prys die Here en bely dat wysheid en krag slegs van Hom af kom. Elke gelowige wat so die Here prys vir elke voorsiening in sy eie lewe is ʼn persoon wat nooit selfvoldaan sal word nie, maar sy afhanklikheid ten volle sal besef. Sy gebed is ook ʼn aanhaling uit Psalm 41, wat dit ook aan die leser duidelik maak dat Daniël dit Skrif geken het. Psalm 41:14 Die Here, die God van Israel, moet geprys word,
van ewigheid af en vir ewig. Amen, amen. Terwyl Ariog die eer vir homself wil gee deur aan die koning mee te deel “Ek het ʼn man gevind…”, vertel Daniel aan die koning dat die droom en sy uitleg van God af kom. Nie net erken Daniel sy dank teenoor God in die gebed nie, maar hy bely dit ook voor mense en die koning dat dit nie a.g.v. sy eie wysheid is nie, sodat die eer aan God toegeskryf sou word.
Die droom se uitleg.
Die droom handel oor wat aan die einde van die dae sal plaasvind. Die laaste dae breek aan met die oprigting van die Kerk.
- Hebreërs 1:1-2 In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun. Hom het Hy aangestel as erfgenaam van alle dinge, en deur Hom het Hy ook die wêreld geskep.
- Handelinge 2:16-17 Wat hier gebeur, is deur die profeet Joël aangekondig: En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God: Ek sal my Gees op alle mense uitstort – julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongmense sal visioene sien, en julle ou mense sal drome droom.
Nie net weet God wat sal gebeur nie, Hy bepaal wat gaan gebeur. Lees mooi wat Daniel bely aangaande die God wat Hy aanbid. Daniël 2:21 Hy verander tye en tydperke; Hy sit konings af en stel konings aan. Hy gee wysheid aan wyses en kennis aan wie insig het. Dus is Hy nie die God wat langs die speelveld staan en bloot ʼn toeskouer is nie, nee Hy is aktief betrokke in alles wat plaasvind. Elke koninkryk en koning wat sal kom is deur Hom aangestel. Dit is dan ook wat Paulus in Romeine bely. Romeine 13:1 Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel. Die beeld wat die koning sien kan opgedeel word in koninkryke wat sal heers. Die uitleg van hierdie verskillende koninkryke word in die res van Daniel en veral vanaf hoofstuk 7 uitgelê, maar ons voeg dit solank hier in.
- Die kop is van goud – Babilon
- Bors en arms is van silwer – Mede en Perse
- Maag en heupe is van koper – Grieke
- Bene is van yster – Romeine
- Voete is van yster en klei- Nou
Al die koninkryke van die wêreld is deel van die beeld. Hierdie beeld sal vernietig word deur ʼn klip wat sal losbreek sonder die toedoen van mense hande en dit sal die beeld totaal vernietig. Jesus word gestuur deur sy Vader en kom in die Krag van God. Jesaja 63:5 Ek het rondgekyk, maar daar was geen helper nie. Ek was verslae – daar was niemand wat ondersteuning bied nie. My voorarm het My tot hulp gekom, my woede, dit het My ondersteun. Die koninkryke van hierdie wêreld moet nooit ons anker wees nie. Die beeld staan teenoor die Kerk of dan die koninkryk van God op aarde. As Pilatus vir Jesus uitvra oor sy koninkryk vertel Jesus aan hom: My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie. Johannes 18:36.
Christus die Rots
Die klip wat sal losbreek is Christus wat die oorwinning sal behaal en op Hom sal die Kerk, die nuwe koninkryk, gevestig word. Die beeld word tot stof vernietig en die wind waai dit weg, maar God se koninkryk sal vir altyd bly staan. Daarom word die kerk nooit opgeroep om die swaard op te neem of te veg nie, aangesien die oorwinning in Christus is en dit al klaar plaasgevind het. Luister maar net wat Jesus aan sy volgelinge sê as hulle na hulle swaarde wil gryp as Hy gevange geneem word in Getsemane. Matteus 26:52 Toe sê Jesus vir hom: Bêre jou swaard op sy plek. Want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard omkom. Hierdie klip word ʼn berg wat die hele aarde vul. Dit is dan ook Jesus se belofte aan sy volgelinge. Matteus 24:14 Hierdie evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word as getuienis vir al die nasies. En dan sal die einde kom. So word daar ook in Openbaring vertel dat mense uit elke volk en taal en nasie deel sal wees van die bruid van Christus. Die rots wat losbreek sal verander in ʼn groot berg wat die hele aarde sal vul. Hierdie berg sal staande bly net soos ook deur Christus bevestig is. Matteus 16:18 En Ek sê vir jou, jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie. Die interessante feit van die droom van Nebukadneser is dat, alhoewel Christus se koms in die tydperk van die Romeinse heerskappy sou plaasvind, die uitleg van die droom daarop wys dat die klip, Christus, al die koninkryke tot ʼn einde sal bring. Elke koninkryk se oprigting en val vind deur God se hand plaas. So kondig God aan dat Hy Assirië sal gebruik om Israel te tug en nadat Hy deur Assirië gedoen het wat Hy beplan het sal Hy weer vir Assirië vernietig. Jesaja 10:12 En dan, wanneer my Heer al sy werk op die berg Sion en in Jerusalem voltooi het, sal Hy afreken met die vrug van die grootheidswaan van die koning van Assirië en met die verwaande blik in sy oë.
Die laaste aardse koninkryk – voete van yster en klei
Christus is gebore, sterf, staan op en vaar na die Hemel terwyl die vierde koninkryk heers. Al die koninkryke is deur Christus vernietig, al het Hy eers met die vierde koninkryk op die aarde gekom. Die vyfde koninkryk begin na die vernietiging van die Romeinse ryk en sal heers tot en met Christus se wederkoms. Hierdie koninkryk sal nie meer uit een heerser bestaan nie, maar sal uit baie dele bestaan en sommige van hulle sal sterk wees en ander swak. Ons word ook in Openbaring vertel van die tien horings wat tien konings is en heerskappy vir ʼn uur ontvang. Hulle sal hulle mag aan die dier, die antichris gee en sal teen die Lam oorlog voer. Hul uiteinde is soortgelyk aan die profesie van Daniel. Openbaring 17:14 Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam sal hulle oorwin, omdat Hy die Heerser van die heersers en die Koning van die konings is, en saam met Hom is die geroepenes, uitverkorenes en getroues. Tog sal daar verdeeldheid wees al sal hulle probeer om ʼn eenheid te vestig wat verduidelik word deur “menslike saad” (Aramees vir ondertrouery in vers 43) wat kan dui op verdrae of huwelike wat menslike pogings is. So sê Jesus ook dat nasie teen nasie sal wees en volk teen volk. God het dit ook so bepaal. Openbaring 17:16-17 Die tien horings wat jy gesien het, en ook die dier, sal die prostituut haat, en haar kaal en verlate maak. Hulle sal haar vleis eet, en haar met vuur verbrand. Want God het dit op hulle harte gelê om sy bedoeling uit te voer, en om een doelwit voor oë te hê: om hulle koningskap aan die dier beskikbaar te stel, totdat God se woorde hulle volledige doel bereik het. Die enigste plek waar daar eenheid sal wees is tussen gelowiges. Galasiërs 3:28 Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer manlik en vroulik nie; want julle almal is één in Christus Jesus!
Slot
Daniël 2 gee vir ons ʼn blik op die toekoms en vertel aan ons dat alle wysheid van God af kom. Al leef ons nou onder heidense “konings”, weet ons as gelowiges dat hierdie nie ons koninkryk is nie, maar dat ons aan die hemelse koninkryk behoort. Hierdie koninkryk sal vir altyd staan en sal nooit deur enige iets of iemand vernietig kan word nie. Mag ons in hierdie wêreld onbevrees burgers wees van hierdie hemelse koninkryk in al ons doen en late. Mag ware Wysheid ons pad begelei en mag ons so ander se lewens spaar deur ook vir hulle van die God van Wysheid te vertel.
