Jesaja 22: 15-25

Inleiding

Jesaja het gewys na die mense van Jerusalem as voorbeelde van ʼn volk wat oorgegee is in hulle sonde en nou gaan hy oor om ʼn voorbeeld te wys van hierdie lewe in ʼn individu. Die oordeel van God is ook op individue van toepassing, net soos oor die volk. Ons lees van Sebna in Hoofstuk 36 en 37 wat geleef het gedurende die koningskap van Hiskia. Jesaja skryf twee titels aan hom toe, die een van ʼn bestuurder en die ander van ʼn skrywer. Ons weet dat hierdie man lank voordat Babilon vir Jerusalem sou binneval, reeds deur God se oordeel getref sou word en dus was hy ʼn waarskuwing van wat met hulle sou gebeur. Sebna se lewe demonstreer hoe die volk wat in Jerusalem geleef het gelyk het. ʼn Man wat selfvoldaan was in sy uitkyk op die toekoms. Teenoor hom is Eljakim, ʼn man wat deur God in Sebna se plek aangestel is, maar waarin die volk hulle vertroue dan plaas in plaas van in God. Die mens is of selfversekerd of plaas hulle vertroue in ander mense.

Sebna

Hierdie man het ʼn baie belangrike posisie beklee in die paleis. Ons hoor die eerste keer van hierdie belangrike posisie gedurende die heerskappy van Salomo. Ons lees ook van hierdie posisie in 2 Kronieke waar Jotam dit beklee het. Jotam was die seun van Ussia wat gesondig het deurdat hy arrogant was en gedink het dat hy in die plek van die priesters aan God kon offer. God straf hom met melaatsheid en hy leef vir die res van sy lewe in afsondering en gedurende hierdie tyd is sy seun Jotam oor die paleis aangestel. Sebna het hierdie selfde  belangrike posisie beklee. Hy is ʼn man vol van homself en vir hom is dit belangrik hoe mense hom na sy dood sal onthou. As gevolg hiervan bou hy vir hom ʼn indrukwekkende graf waarin hy begrawe wou word. Hier staan hy in sterk kontras teenoor Jesaja wat ween oor die volk se toekoms, terwyl hy net aan homself dink en die naam wat hy  wil nalaat. Hy bou sy graf hoog bo die res om soos ʼn koning begrawe te word, soos ons  kan sien aan die graf van koning Hiskia. 2 Kronieke 32:33 Hiskia het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom begrawe teen die skuinste by die grafte van die nageslag van Dawid. Die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het besondere eer aan hom bewys met sy dood. Sy seun Manasse het in sy plek koning geword. Hoe graag wil die mens nie ʼn monument vir homself oprig sodat hy onthou kan word nie? Verder wys hy ook met die bou van sy graf dat hy oortuig was dat hy in Jerusalem sou bly leef tot die dag van sy dood en dus dat Jerusalem nie vernietig sou word deur die vyand nie.

Vreesloos getrou

Jesaja bestraf hierdie man. Dit was altyd die taak van die profeet om God se woorde aan die mense van sy dag oor te dra en te sê: “So sê die Here”. Al het Sebna ʼn hoë posisie beklee het die profeet geen vrees gehad om hom te bestraf nie. Deur die Skrif vind ons manne van God wat met vrymoedigheid selfs die koning aangespreek het. So spreek Natan vir Dawid aan na sy sonde met die woorde: “Jy is daardie man.” Elia spreek die koning van Israel aan met die woorde dat hy maar na sy valse profete moet gaan om ʼn antwoord te soek en dan vertel hy aan die koning dat hy nie eers met hom sou gepraat het as hy nie agting gehad het vir die koning van Juda nie. 2 Konings 3:14 Daarop antwoord Elisa: “So waar as die Here, Heerser oor alle magte, leef, Hy in wie se diens ek staan, as dit nie was dat ek Josafat, koning van Juda, in ag neem nie, sou ek nie eers na jou gekyk of jou raakgesien het nie. Een van die vereistes van ʼn profeet is om nie ag te slaan op die posisie van ʼn persoon nie en om geen mens te vrees nie. Iemand wat mense vrees en bang is vir die opinies van mense kan nie ʼn volgeling van die Here wees nie. Dit is dan ook wat Paulus aan die gemeente van Galasiërs meedeel voordat hy hulle tereg wys. Galasiërs 1:10 Probeer ek nou mense tevrede stel, of God? Of soek ek die guns van mense? As ek nog steeds mense se guns sou probeer wen, sou ek nie meer ‘n dienskneg van Christus wees nie!

Prioriteite

Jesaja se vraag aan Sebna is wat hy hier soek. Waarmee is jy besig terwyl hierdie stad besig is om te vergaan en die profesie oor hierdie volk is dat God hulle gaan verwoes? Dit is een van die belangrikste vrae wat elke individu homself moet afvra. So baie in die kerk is besig met hulle eie gedagtes en die beplanning van hulle toekoms sonder om aandag te gee aan hul geestelike toestand of die van hul naaste. Die fisiese is vir baie mense belangriker as om die knie voor God te buig en daagliks Sy aangesig te soek. Was dit nie juis die probleem van Marta nie. Sy was bekommerd oor so baie dinge en so baie dinge het haar aandag geverg, terwyl die belangrikste skade gelei het. Sy was selfs bereid om haar suster te dwing om minder tyd by Jesus te spandeer. Luister na Jesus se teregwysing van iemand wat haar fokus op die materiële geplaas het. Lukas 10:41-42 Maar die Here antwoord haar: Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge, maar net een ding is noodsaaklik, en Maria het die goeie deel gekies; dit sal nie van haar af weggeneem word nie. Sebna is ʼn tragiese figuur wat sy tyd deurbring in die beplanning van sy dood, wat ook ʼn metafoor was van die geestelike toestand waarin hy hom bevind het.

Sebna het sy planne gehad maar God het iets totaal anders vir hom bestem. Die Here spreek hom aan is sy eiewaan en sy toekoms word aan hom meegedeel. Hier drup die sarkasme as hy aangespreek word as manhaftige man. ʼn Man wat so arrogant is om sy toekoms te beplan met sekerheid, watter mag moet so iemand nie besit nie? God belowe aan hierdie man dat hy nie in Jerusalem begrawe sal word nie, maar wel in ʼn vreemde land waarna God hom sou slinger. Die woord slinger skep die prentjie van iets wat sonder enige beheer, opgerol soos ʼn bal, gegooi word. Hier sou alles wat hy van soveel waarde geag het tot niet gaan. Watter tragiese figuur is hy nie?

Eljakim

God sal aan hom al die gesag gegee wat tevore aan Sebna behoort het. God noem hom sy dienskneg wat die hoogste rang is wat God aan ʼn persoon kan toevertrou. Manne soos Abraham, Moses, Dawid en al die profete word so aangespreek. ʼn Dienskneg was iemand wat konstant sy oë op sy meester sou rig en elke opdrag met totale oorgawe sou uitvoer. Psalm 123:2 Kyk, soos die oë van slawe gerig is op die hand van hulle eienaar, soos die oë van ‘n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God totdat Hy ons genadig is. Die grootste voorbeeld van ʼn dienskneg is Christus en dit word aan ons duidelik gemaak in die Nuwe Testament dat Hy die gestalte van ʼn slaaf aangeneem het. Filippense 2:7 maar Hy het Homself daarvan  leeggemaak, deur die gestalte van ‘n slaaf  aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy in die vorm van ‘n mens  verskyn het. Daarom is ook elke persoon wat Sy evangelie verkondig het, ʼn slaaf van Christus genoem. ʼn Dienskneg het net een begeerte en dit is om die begeerte van hulle meester uit te voer.

Eljakim sou alles ontvang wat aan Sebna behoort het en Sebna se kleed sou nou deur Eljakim gedra word. Hiermee word totale outoriteit aan hom oorgedra. Hy moes soos ʼn vader vir die volk in Jerusalem sorg – ʼn man wat deernis met die mense het, nie sy eie eer soek nie, maar eerder die bevordering van die volk, wat hy as sy eie familie beskou. God sal hierdie man eer en aan hom mag gee om te regeer en bindende besluite te maak. Hierdie rol wat deur God aan hom toevertrou word, vind ons in Christus waarop hierdie verantwoordelikheid geplaas word. Openbaring 3:7 Skryf ook aan die boodskapper van die gemeente in Filadelfia: Dit sê die Heilige, die Ware,

wat die sleutel van Dawid hou, wat oopmaak, en niemand sal dit toesluit nie, wat toesluit, en niemand sal dit oopmaak nie. Die sleutel van die huis van Dawid sou op Eljakim se skouer rus en nie in sy hand wees nie, aangesien die sleutel in die hand van die koning was en hy slegs ʼn dienskneg sou wees. Sy mag groei so dat dit beskrywe word as ʼn tentpen wat ingekap word en waarop die tent geanker sou wees. Die woord vir vas in die Hebreeus word gebruik vir waarheid en word in die LXX vertaal met die Griekse woord pistō wat geloof of getrou beteken. Sy taak moet uitgevoer word in getrouheid en dit is die sekerheid en vastigheid van hierdie pen wat God sal inkap. Die koning het nodig dat sy amptenare in getrouheid hulle take moet uitvoer soos God van Eljakim spreek. Spreuke 16:12 Afstootlik vir konings is die pleeg  van ‘n goddelose daad, want deur geregtigheid staan ‘n troon vas. Elke posisie wat die mens beklee het sy oorsprong in God wat die mens aanstel en nie in enige iets wat in die mens self is nie. Romeine 13:1 Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel.

Misplaaste eer

Jesaja gaan dan voort met die pen wat vasgekap word en vertel hoe almal hulle eer op hom sal hang en hoe hulle sal probeer om hom te gebruik vir hulle eie eer. Al die metafore wat ingespan word deur Jesaja se profesie vertel van ʼn mensdom, en spesifiek sy familie, wat nou hulle vertroue oorlaat op hierdie man wat deur God aangestel is en nie in God self nie. Dit sal dan die rede wees waarom hierdie pen breek en alles wat op hom hang in duie sal stort. Hoe gevaarlik is dit nie as mense in plaas van na God kyk, hulle hoop in die mense wat Hy aangestel het plaas. Psalm 146:3  Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.(Ou vertaling). Verder maak God dit ook deur Jesaja duidelik in sy profetiese uitsprake, dat Hy nie sal toelaat dat die eer wat Hom toekom, aan ʼn mens gegee word nie. Jesaja 48:11 Ter wille van Myself, ja, ter wille van Myself tree Ek op. Want hoe sou my Naam nie ontheilig word nie! En my heerlikheid – aan geen ander sal Ek dit gee nie. Dit is ongelooflik gevaarlik vir enige persoon wat deur God in ʼn posisie geplaas is, om die eer wat God toekom vir homself toe te eien. Spreuke 16:18 Voor ineenstorting is daar trots, en voor die val is daar ‘n hooghartige gees. So was dit ook waar in die lewe van Herodes, wat in plaas daarvan om die eer vir die Here te gee, toe die mense van sy dag hom geprys het, die eer vir homself geneem het. Handelinge 12:22-23 Daarop het die volk uitgeroep: Die stem van ‘n god en nie van ‘n mens nie! En onmiddellik het ‘n engel van die Here hom neergevel, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie en, verteer deur wurms, het hy gesterf.

Slot

Geen mens moet dink dat hy sy eie toekoms kan bepaal nie. Elke dag van jou lewe op aarde is vooraf deur God bepaal en net so min as wat jy dit kan bepaal kan jy enige deel van die toekoms beplan of beheer. Psalms 139:16 U oë het my vormloosheid  gesien. En in u boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie. Net so het geen heerser wat oor my aangestel is beheer oor die toekoms wat God vir my bepaal het nie. Elke gelowige word opgeroep om in afhanklik van God te lewe en te besef dat Hy alleen in beheer is van elke aspek van my bestaan hier op aarde. 1 Petrus 1:24-25 Want: Elke mens is soos gras, en al sy prag soos ‘n veldblom: die gras verdroog en die blom val af; maar die woord van die Here bly tot in ewigheid – en dit is die evangeliewoord wat aan julle verkondig is.