Jesaja 21

Inleiding

In die vorige hoofstuk het die profesie uitgegaan dat die volkere wat hulle vertroue in Egipte sou plaas almal onder die oordeel van God sal kom. In hoofstuk 21 is daar ʼn gedeelte vir die gelowiges om hulle te vertroos. Hierdie gedeelte handel oor die val van Babilon, meer as tweehonderd jaar voor dit plaasvind in 539v.C. God praat met Jesaja en hy sien stormwinde uit die Negev wat vorm oor die woestyn by die Dooie see. Hierdie storms het gewoonlik groot skade aangerig waar dit oor die gebied in Israel beweeg het. So lees ons van ʼn soortgelyke storm in Job waarin al sy kinders omgekom het. Job 1:19 toe daar onverwags ‘n sterk wind van die woestyn se kant af kom en die vier hoeke van die huis tref. Dit het op die jongmense ingestort en hulle het gesterf. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel. Die boodskap is onverbiddelik. Hierdie beskrywing van die woestynland beskryf die land in die rigting van waar die Meders en die Perse sou kom. Die profesie vertel van die Elamiete en die Meders wat uit die land van Persië kom en die Babiloniërs binne val. Omdat hierdie beskrywing deur Jesaja, oor gebeure wat jare na sy lewe eers plaasgevind het, so akkuraat is, probeer liberale teoloë dit op verskillende maniere verklaar sonder om te erken dat dit ʼn goddelike profesie is. Die Babiloniërs se bewind word deur die woorde van die profeet beskryf as wreed en sonder enige genade en nou sal God hulle ook op dieselfde manier deur hul vyande verwoes.

God se oordeel skok

Jesaja word geskok deur die intensiteit waarmee die vyand tot ʼn einde sal kom. Die straf van God se vyande word oral deur die Bybel aangekondig en dit word ook baie duidelik gemaak wat die intensiteit daarvan sal wees. Jesus praat meer oor die hel as die hemel. Hy maak dit aan sy volgelinge duidelik dat hierdie plek ʼn plek sal wees van ewige straf en dat die pyn ondraaglik sal wees. Hy vertel dat dit nie net ʼn plek sal wees waar niks sal sterf nie, maar ook ʼn plek waar daar konstante pyniging sal wees deur vuur. Markus 9:48 waar die wurm in hulle nie doodgaan en die vuur nie geblus word nie. Hy beskrywe dit ook as ʼn plek waar die individu op sy tande sal kners. So vertel Jesus ook die verhaal van die Rykman wat sy oë oopmaak in die doderyk met ʼn smarte en dat hy smag dat Lasarus net sy vinger in water kan druk en sy tong kan afkoel. Abraham sê aan die Rykman dat hy nou kry wat hy verdien. Lukas 16:25 Maar Abraham antwoord, ‘Kind, onthou dat jy gedurende jou lewe die goeie ontvang het, soos wat Lasarus die slegte ontvang het. Nou word hy hier getroos, maar jy word gepynig. Paulus skryf ook aan die Tessalonisense gemeente dat God hulle vervolgers en verdrukkers sal vergeld. 2 Tessalonisense 1:5-6 Dit is ‘n bewys van die regverdige oordeel van God dat julle waardig geag word vir die koninkryk van God, ter wille waarvan julle ook ly. Dit is inderdaad vir God reg om diegene wat julle verdruk, met verdrukking te vergeld. Op dieselfde wyse word God se finale oordeel oor Babilon ook uitgebeeld in Openbaring 18 en 19. Spurgeon, die 19de eeu se prediker, het die volgende gesê: Sit jou oor by die poort van die hel, en luister vir ‘n kort rukkie na die gemengde skreeu en gille van angs en diepe wanhoop wat jou oor sal skeur; en soos jy die stem sal hoor: Leraar! Leraar! Wee jou as jy nie die evangelie verkondig nie. Laat ons net hierdie dinge voor ons oë hê, en ons sal verplig wees om te preek. Dit is wat met Jesaja gebeur het toe hy die oordeel van God sien oor die Babiloniërs. Hy trek in mekaar soos ʼn vrou wanneer kraampyne haar oorval. Waar is jou hart wanneer jy van die hel en God se oordeel lees. Wek dit in jou ʼn angstigheid en ʼn dringendheid om aan ʼn verlore mensdom God se Blye Boodskap te verkondig, of raak dit jou nie?

Vrolik onvoorbereid

In vers 5 vertel Jesaja van die feestelikheid waarin die Babiloniërs verkeer voor hulle vernietiging. Enige persoon wat die geskiedenis van die val van Babilon ken sal weet watter akkurate beskrywing hierdie is. In Daniël 5 word die gebeure voor die val van Babilon beskryf. Koning Belsasar, wat toe aan bewind was, het in die aand van die vernietiging van Babilon fees gevier saam met sy duisend maghebbers. Daniël 5:4 Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, koper, yster, hout en klip geprys. In daardie nag sou hy sterwe. Daniël 5:30 Daardie selfde nag is Belsasar, die koning van die Galdeërs, gedood. As die skrif teen die muur verskyn is dit alreeds te laat vir die koning en sy vrees is alles tevergeefs. So sal dit ook aan die einde van dae wees met die finale koms van Christus wanneer die wêreld vreesbevange sal wees. Openbaring 6:15 Die konings van die aarde en die hoofamptenare, die chiliarge, die rykes en die invloedrykes, elke slaaf en elke vry mens het in die grotte en onder die kranse in die berge weggekruip. [16] Hulle het na die berge en kranse geroep: “Val op ons, en verberg ons van die aangesig van Hom wat op die troon sit, en van die toorn van die Lam. So is duisende mense besig om die genot van hierdie wêreld na te jaag, onvoorbereid vir dit wat vir elke mens voorlê, nl. die dood.

Wagte op die mure

Jesaja moet ʼn wag aanstel om uit te kyk vir hierdie gebeure. Dit is nie regtig ʼn wag nie, aangesien hierdie gebeure eers honderde jare later sou plaasvind. Die profeet is die een wat soos ʼn wag op sy wagpos staan om te kyk hoe dit wat God belowe in vervulling gaan. So beskrywe Habakuk ook sy posisie, asof hy twee persone is, as die een aan wie God die boodskap gee, sodat hy dit dan weer aan die mense kan gee. Habakuk 2:1 Op my wagpos wil ek gaan staan; ek wil stelling inneem op die vestingmuur, op die uitkyk wees om agter te kom wat Hy vir my gaan sê en wat ek mense moet antwoord oor my verwyt. Aan die wag word die mag van die Meders beskryf en dit is soortgelyk aan hoe die manne uit hierdie land jare later bekend was om oorlog te voer. Die wag vertel aan God dat Hy getrou is in sy afwagting op God se belofte. Hierdie is ʼn opdrag aan elke gelowige om ook in afwagting te lewe deur die bestudering van God se Woord en die vervulling daarvan. So het die profete van ouds ook gelewe in afwagting oor die beloftes aangaande Christus se koms. 1 Petrus 1:10-11 Oor hierdie verlossing het die profete, wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, nagedink en navraag gedoen. Hulle het probeer naspeur na watter persoon of na watter spesifieke tyd die Gees van Christus, wat in hulle was, verwys het toe Hy vooruit getuig het oor Christus se lyding, en die heerlikheid wat daarop sou volg. En dan vind die vervulling van God se beloftes plaas. Die vyande en sy gode word vernietig. Die gelowige sal die vervulling van God se oorwinning sien net soos die wag wat uitkyk vanuit sy wagpos. Jesaja maak dit duidelik dat dit wat voorspel is tot voordeel is vir die volk van God. Hierdie God wat die oorwinning oor Babilon sal bewerkstellig is ook die God wat hulle gedors het op die dorsvloer van Babilon. Jesaja het alles gehoor by die Here van die leërskare. God is die owerste van ʼn leërmag. Hy is die groot generaal en Hy sal elke mag of gesag wat teen Hom opstaan vernietig.

Duma, Dedan en die ongelowige

Net soos daar ʼn Godspraak is oor Babilon is daar ook ʼn uitspraak oor Duma. Duma is uit die nageslag van Ismael. As alles omgekeer word op aarde en koninkryke val is dit nodig vir die gelowige om altyd te onthou dat nie net is God in beheer nie, maar ook in bevel. Psalms 75:8 Nee, God is regter: Die een verneder Hy, die ander verhef Hy. Niks sal staande bly op hierdie aarde nie en geen mag sal vir ewig regeer nie. Ons lewe in ʼn wêreld wat gebroke is, in ʼn tyd waar gevegte en oorloë algemeen is. Iemand roep uit Seïr, wat Edom is. Hulle roep tot die wag om hulle te kenne te gee hoe ver weg die gevaar of bedreiging is. Net so staan en kyk die profeet ook na die gebeure en die gevare waarin die wêreld hom bevind. Sy antwoord is duidelik op die vraag van die vyand dat daar ʼn more sal kom, maar beslis ook weer ʼn nag. Hulle hoop op beter dae sal vervul word, maar sal van korte duur wees. So beskrywe Moses die lot van die ongelowiges. Deuteronomium 28:67 Oor die vrees waarmee jy in jou hart leef en oor die toneel wat hom voor jou oë afspeel, sal jy in die oggend sê, Ag, was dit maar aand! En teen die aand sal jy sê, Ag, was dit maar oggend! Daar is alleen hoop as hulle hulle bekeer. Verlossing vir hulle, soos vir Israel, is alleenlik in bekering tot Christus as Koning.

Dieselfde lot tref Arabië. Die mense wat in karavane trek en gewoonlik vry was van enige aanval moes nou skuil in die bos. Hulle sal vlug vir die swaard en die oproep sal kom om vir die mense van Dedan tegemoet te gaan met water en brood. Kedar, die naam vir die mense van Arabië, se rykdom sal in minder as ʼn jaar totaal vernietig wees en daar sal net ʼn klein oorblyfsel wees, soos wat die Here in sy almag bepaal het.

Slot

Hoe wonderlik is die profesieë van die Skrif nie. Al hierdie profesieë het in vervulling gegaan net soos wat voorspel is. Die akkuraatheid van die gebeure is verstommend, soveel so dat liberale teoloë wat God se almag bevraagteken allerhande toertjies met die Skrif moet doen om dit te probeer verduidelik.  Dit wys duidelik God se hand en openbaring wanneer die toekoms voor jou oë afspeel. So word dit deur Paulus beskrywe. Romeine 4:17 soos daar geskryf staan: Ek het jou die vader van baie nasies gemaak – dit was hy in die oë van die God in wie hy geglo het, wat die dooies lewend maak, en dit wat nog nie bestaan nie, tot bestaan roep. God beveel, Hy beheer, Hy waarsku en Hy openbaar. Elke gelowige kan in die Skrif duidelik lees wat God in die toekoms beplan. Elke gelowige word soos die profeet opgeroep om as wagter op die muur die mense rondom hom te waarsku. Jesus kom weer en saam met Hom die oordeel oor elke ligsinnig woord en ongelowige hart.