Inleiding
Egipte was die magtige nasie wat die Israeliete onderdruk het en slawe van hulle gemaak het. God het die Israeliete bevry en met die tien plae waarmee Hy hulle geteister het, gewys dat Hy groter is as al hul afgode. Hy heers alleen. Ten spyte hiervan het Israel gehunker na Egipte vir beskerming. Die fisiese, dit wat hulle met hul oë kon waarneem, was van groter waarde as om hul vertroue te plaas in die lewende God – God wat alreeds met krag gewys het dat Hy groter as Egipte is! God wys in hierdie profesie dat hulle dwaas is om hulle vertroue in Egipte te plaas, aangesien Hy Egipte gaan straf en hulle nie in eers in staat sal wees om hulself te red nie.
Die oordeel word aangekondig
God se oordeel word aangekondig oor Egipte, net deur te beskryf dat God daarheen oppad is. Hy ry op ʼn wolk om sy werk van oordeel te volbring. Die Psalmdigter beklemtoon die beeld van God se vervoermiddel as die wolke. Psalms 104:3 U is die een wat die balke van sy bokamers op die water oprig, wat wolke sy strydwa maak, wat op die vlerke van die wind beweeg. Die profesie is ʼn voorbereiding vir Daniël se visioen van die Seun van die Mens wat kom op die wolke en weer herhaal word in die Nuwe Testament waar dit wys dat die Seun van die mens Jesus Christus is en dat Hy op die wolke sal kom om Sy oordeel oor die wêreld te voltrek. Sy finale oordeel word in Openbaring beskryf wanneer Hy op die wolke kom om die aardbewoners te straf vir hulle goddelose dade. Openbaring 14:14-15 Toe het ek gesien, en kyk, daar was ‘n wit wolk, en op die wolk sit daar iemand net soos ‘n Seun van die Mens. Op sy kop het Hy ‘n goue kroon, en in sy hand hou Hy ‘n skerp sekel. ‘n Ander engel het uit die tempel gekom, en met ‘n harde stem geroep na Hom wat op die wolk sit: Steek u sekel in en oes, want die tyd om te oes, het aangebreek, en die aarde is ryp vir die oes. Deur die geskiedenis word nasies deur God geoordeel en dit is Hy wat ook spoedig die Egiptenare sal oordeel. Wanneer God kom om te oordeel bewe alles voor Hom net soos wat die Israeliete gebewe het toe God aan hulle verskyn en hulle Sy stem gehoor het. Eksodus 20:18 Toe die hele volk die donderslae hoor en die weerlig sien, asook die geluid van die ramshoring, en die berg wat rook, was hulle bang en het gebewe. Hulle het op ‘n afstand bly staan. Die profesie wys daarop dat die afgode van Egipte sal bewe as God in oordeel kom. Die afgode waarin die Egiptenare hulle vertroue geplaas het sal bewe. As jy hierdie beeld in jou geestesoog sien dink jy onmiddellik aan die afgod Dagon van die Filistyne wat neergeval het voor die ark van God en hoe die mense hom moes regop tel en weer op sy plek moes neersit. Dan vind die volgende plaas: Maar toe hulle die oggend daarna vroeg opstaan – daar lê Dagon met sy gesig teen die grond voor die ark van die Here! Dagon se kop en sy twee hande lê toe afgekap op die drumpel. Net Dagon se lyf het van hom oorgebly. 1 Samuel 5:4. Wat ʼn humoristiese beeld! God wys in hierdie profesie die humor as die dooie afgode slegs lewe kry in hul vrees voor die Lewende God.
Verdeeldheid
God sal in die land self verdeeldheid stuur en die Egiptenare sal teen mekaar wees. Daar sal nie meer ʼn eenheid onder die mense wees nie. Nie net sal individue teen mekaar wees nie, maar ook stede en koninkryke. Die land sal dus gedompel wees in ʼn burgeroorlog. Dit is ook wat God belowe aan die einde van die dae sal gebeur. Matteus 24:7 Een nasie sal immers teen ‘n ander nasie optrek en een koninkryk teen ‘n ander koninkryk, en daar sal hongersnood wees en aardbewings op een plek ná die ander. God se oordeel oor ʼn nasie veroorsaak dat die nasie van binne ineenstort. As daar eenheid in ʼn land kom is dit deel van God se algemene seën oor ʼn volk en beslis nie a.g.v. een land wat beter is as ʼn ander nie. Wanneer God egter sy hand van oordeel uitsteek sal die eenheid verdwyn en sal daar onrus en onvrede deur ʼn land beweeg en die inwoners van die land sal teen mekaar in opstand kom. Geskiedskrywers gee verskeie redes waarom lande in die verlede in duie gestort het en vandag nog word redes gegee vir opstande, anargie en haat tussen inwoners, en daar is bepaald redes vir elke land se oorloë en tweespalk. Dit is egter duidelik vanuit die Woord en die profesie dat God in beheer is en dat hierdie toestand van onvrede vanuit die Hemel kom: God is die oorsprong en Sy wraak lê agter alles. Spreuke 21:1 Die koning se hart is waterstrome in die hand van die Here: Hy lei dit waarheen Hy wil. Hy gee vrede en daarvoor kan ons Hom dank, maar ook in die tye van onvrede kan ons weet Hy is in beheer en selfs aktief betrokke om Sy plan in vervulling te laat gaan. Wees egter baie seker dat God nie sonde doen of mense laat sonde doen nie, maar Hy gee hulle oor aan hul eie begeertes en drifte.
Hulp by afgode
A.g.v. God se oordeel sal die gees van Egipte gebreek word en die volk sal gedemoraliseer wees. Dan sal die volk hulle toevlug neem na dit wat nutteloos en dwaas is deur antwoorde te soek van die afgode en by geeste van afgestorwenes, by waarsêergeeste en voorvadergeeste. ʼn Beeld hiervan het ons gesien tydens die tien plae waar die Farao die towenaars vra om dieselfde te doen as wat God deur Moses en Aäron gedoen het. Vanaf die derde plaag kon hulle dit nie regkry nie en kondig hulle aan dat hierdie plaag van God af kom. Eksodus 8:19 Toe sê die waarsêerpriesters vir die farao: Dit is die vinger van God! Maar die farao se hart was verhard en hy wou nie na hulle luister nie, soos die Here gesê het. Ons sien dikwels hoe mense ewe skielik “geestelik” word wanneer hulle nie meer antwoorde vir hul omstandighede het nie. Mense in nood stuur ewe skielik geestelike boodskappe en voer geestelike gesprekke en tog is dit duidelik dat daar geen ware vrug in hulle lewens is nie. Hierdie “geestelike kleed” is net nog ʼn afgod en ʼn genie wat hulle vryf in die hoop om uit hul nood te ontsnap. Saul was ook in hierdie toestand en met vrees gevul nadat God hom verlaat het. In sy angs wend hy hom na die dodebesweerder in Endor. Die ironie is dat Saul al die dodebesweerders en waarsêers uit die land verban het en tog, as hy een soek, kan sy manne dadelik vir hom wys waar hy een sal kan vind. In ‘n land of familie waar die leier een ding sê, maar iets heeltemal anders lewe, sal die onderdane of kinders die leier of vader se ware god navolg en raad soek by hom.
Onderdruk en arm
God sal vir Egipte ʼn leier stuur waardeur hulle onderdruk sal word en erg sal ly. Vanaf 715 v.C. met die Etiopiese Farao Pianki, kom een na die ander heerser oor Egipte waardeur hulle onderdruk word, net soos God belowe het. God sou nie net vir hulle ʼn slegte heerser gee nie, maar sou ook al hulle ekonomiese sukses laat wegkwyn. Al hulle vertroue op die Nyl en die beskerming van die see sou van geen waarde meer wees nie. Al hulle industrieë sou wegkwyn en tot niet raak. In een oomblik kon God alles waarop die Egiptenare gehoop het en hulle vertroue geplaas het tot ʼn einde bring. Hoe dwaas is jy nie as jy jou vertroue in aardse dinge stel en in dit wat jou oë sien en jou hande vashou nie. Spreuke stel dit mooi. Spreuke 23:4-5 Moet jou nie afsloof
om ryk te word nie, jy behoort van beter te weet – hou op daarmee! Sou jy jou oë net daarop rig? Dit is reeds weg! Want dit kry beslis vlerke; soos ‘n arend vlieg dit weg in die lug. God stuur ʼn droogte en die land se finansiële rykdom verdwyn in ʼn oomblik. Ekonome sê die gemiddelde persoon is drie maande se salaris van ʼn lewe op die straat af. As jy vir net drie maande nie ʼn salaris of inkomste ontvang nie is die meeste mense bestem vir ʼn lewe op die straat op soek na net die basiese behoeftes van kos en water. Hoe maklik kan God nie alles wegneem nie!? Ons behoort elke oomblik te besef dat ons totaal afhanklik is van God se voorsienigheid. Ons lewe behoort te wees soos die Psalmdigter dit aankondig. Psalms 123:2 Kyk, soos die oë van slawe gerig is op die hand van hulle eienaar, soos die oë van ‘n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God totdat Hy ons genadig is. Jesus vertel die gelykenis van die ryk man wat dwaas is deur te roem op sy rykdom en dink dat dit vir ewig is. Lukas 12:20-21Maar God het vir hom gesê, Jou dwaas! Vannag nog sal jou lewe opgeëis word. En wat jy bymekaargemaak het, aan wie sal dit dan behoort? So gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaarmaak, en nie in God ryk is nie. Egipte se water verdwyn, en met dit, hulle vis as stapelvoedsel en hulle gewasse wat in oorvloed was.
Die politici
Al die “hoë lui”, die vooraanstaande manne en die geleerdes, het dwase geword. As God die land tref sal jy dit waarneem aan die leierskap korps. Kyk rondom jou en kyk na jou leiers en jy sal sien of God se oordeel oor die land begin het. In baie Westerse lande is jy geskok om te sien wie hul leiers en politici is. Die oomblik as hulle hulle monde oopmaak hoor jy net dwaasheid. Die raadgewers is net so sonder kennis en verstand. Omdat die land onder oordeel verkeer en die goddeloses die vooraanstaandes is, is dit net die dros wat na bo dryf en bereid is om enige leierskapsposisie in te neem. Verder is dit baie duidelik uit die profesie dat die leiers dwaas is aangesien hulle nie die insig het dat die oordeel van God oor hulle gekom het nie. Ware wysheid begin met die vrees van die Here. Spreuke1:7 Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.(Ou Vertaling) So stel Paulus dit ook dat die wysheid van hierdie wêreld dwaasheid is by God. Luister maar na hoe mense allerhande slim argumente formuleer om te ontken dat daar ʼn God is, van die ontstaan van alles tot die skepping, en jy hoor hoe dwase in gesprek is met mekaar. Woorde kry nuwe betekenisse soos die woord “niks” wat ewe skielik ʼn gewigtige, gelaaide woord word wat alles insluit wat hulle nie kan verduidelik nie. Psalms 14:1 Vir die musiekleier. Van Dawid. Dwase sê in hulle harte: Daar is geen God nie. Hulle tree gruwelik en afstootlik op. Daar is nie een wat goed doen nie. Geen wyse van hierdie wêreld sal kan insien dat die straf van Egipte en sy totale verval van God afkomstig is nie. Nie net vernietig God ʼn land nie, maar hy stuur ook die dwaasheid onder sy inwoners. In Tessalonisense vertel Paulus aan die gemeente dat die antichris sal kom en dat hy wonders en tekens sal doen wat die werking is van die Satan en dat almal wat verlore is hom sal navolg in sy verleiding en dan volg die volgende vers: En daarom laat God die krag van dwaling oor hulle kom, sodat hulle die leuen sal glo. 2 Tessalonisense 2:11. So sluit vers 15 van hierdie gedeelte in Jesaja af en wys dat van die hoogste in die land tot die mees eenvoudige nie meer vrugtevolle arbeid sal kan lewer nie en niks sal tot stand sal bring nie. Hierdie land sal totaal oorgegee wees en God is die Een wat hierdie land met die ongeluk getref het.
Slot
Hoe gevaarlik is dit nie vir diegene wat dink dat hulle wys is in hulle eie oë nie, asook diegene wat hulle vertroue op hulle rykdom of wat hulle vermag het plaas nie. Alles op hierdie aarde is maar vir ʼn wyle en in ʼn oomblik kan alles weggeneem word. Net die gelowige het ware wysheid, diegene wat God vrees en hul vertroue in Hom geplaas het. Die wysheid is bedek vir hulle wat verlore gaan. 1 Korinthiërs 2:7-9 Ons praat egter van God se wysheid wat in ‘n misterie gehul was, maar wat Hy voor alle tye vir ons heerlikheid bestem het, en wat nie een van die heersers van hierdie wêreld geken het nie; want as hulle het, sou hulle nie die Here van heerlikheid gekruisig het nie. Maar soos daar geskryf staan: Wat die oog nie gesien het, die oor nie gehoor het, en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie – dit het God voorberei vir diegene wat Hom liefhet. Ons weet dat hierdie wêreld onder die oordeel van God staan en dat God enige oomblik ʼn volk of volke tot verantwoording kan bring. Ons weet ook dat hierdie wêreld tot ʼn einde sal kom op ʼn dag wat God alreeds bepaal het en daarom is ons vertroue nie op die aardse nie. Ons is slegs reisigers op pad na ons finale woning.