Jesaja 18:1-7

Inleiding

ʼn Wee word vir hierdie volk aangekondig, net soos vir die volke in hoofstuk 17. God is in beheer van al die nasies en almal sal voor Hom verantwoordelikheid moet doen. Hierdie volk woon in die land van Kus, die gebied van Etiopië wat aan die bopunt van die Nyl is. Daar word na hierdie plek in Jesaja 7 verwys as die plek waar God na die vlieë sal fluit. Jesaja 7:18 Op daardie dag sal die Here fluit vir die vlieë wat aan die einde van die strome van Egipte is, en vir die bye wat in die land Assirië is. Die land word “die land van vlerkgegons” genoem. Egipte was ook so genoem as gevolg van al die vlieënde insekte in die land en dit is ook ʼn raak beskrywing van Etiopië wat bekend is vir al die tsetsevlieë. Hierdie land word deur Fischer beskrywe as die “Eldorado” van ongediertes. Die interessante is dat hierdie twee lande in die 8ste eeu v.C. aan mekaar gekoppel word deur die dinastie van Piankhi van Etiopië wat beheer uitgeoefen het oor Egipte. Die vlerkgegons is egter ook  ʼn verwysing na die hoeveelheid mense wat in hierdie gebied gelewe het en hulle vermoë om ander te oorval en te vernietig. Hulle word ook beskryf as “manne wat baie lank is.” Jesaja 45:14a So sê die Here: Die produkte van Egipte, die handelswins van Kus, en die Sabeërs, daardie lang mense, sal na jou toe kom, aan jou sal dit behoort. Hulle het ook blink velle gehad wat daarop wys dat hul velkleur swart was of brons, soos sommige skrywers dit beskryf het. Die Hebreeus beskryf dit as gepoleerd, wat wys hoe hulle velle geblink het. Hulle het op die Nyl gevaar, met bote wat van papirus (biesies) gemaak is. Die Nyl word steeds deur baie Egiptenare die see genoem. Die Egiptenare was ook bekend vir hulle papirus bote aangesien daar rotse in die Nyl was en hulle ʼn meer buigbare materiaal nodig gehad het sodat hul bote nie vernietig sou word op die rotse nie. Hierdie volk stuur heelwaarskynlik boodskappers deur die hele omgewing, tot so ver as Juda, om hulp te gaan haal teen die magtige Assiriërs wat oral grondgebied ingepalm het. Hierdie boodskap van Jesaja word dan aan die boodskappers (ambassadeurs van die land)  verkondig.

God se boodskap is duidelik

Sy boodskap word met vertroue verkondig aangesien hy die mondstuk van God is en die hele wêreld moet luister. Die trompette blaas en die geluid gaan oral uit sodat niemand ʼn verskoning het nie. Die mens dink dat die uitslag van oorloë deur die mens bepaal word. In teenstelling met hierdie gedagte verkondig Jesaja dat alles van God af kom en alles in Sy hand is. Sommige kere is God se werk vir die mens bedek en is die mens onbewus van Sy hand in die verloop van die geskiedenis, maar ander kere, soos hier, is dit ʼn trompet geskal wat verkondig dat God se werk hier plaasgevind het.  So was die oorwinning van Gideon en sy 300 manne ʼn harde trompet geskal vir die Midianiete en die res van Israel wat duidelik uitbasuin: “Skrik wakker hier is ʼn lewende God”. So ook was die oorwinning van die baasvegter, Goliat, deur ʼn klein skaapwagtertjie met ʼn slingervel ʼn duidelike basuin dat God die oorwinning gee.

God se boodskap is dat Hy nog altyd daar was en alles aanskou vanuit sy woonplek. Die God wat ons aanbid is nie aan die slaap of onbetrokke nie. Psalms 121:4 Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Alles sal plaasvind soos Sy plan van die begin af bepaal het. God is nie angstig nie. Nee, Hy sit en wag tot die regte oomblik, ʼn oomblik wat Hy sal bepaal. Sy wag word vergelyk met die son se hitte en reën wat die oes laat groei. Net soos die son ʼn inpak het op die oes en die dou alles laat afkoel so is God se rustige wag ook deel van die toesig en groei van die oes. God sal die volk of nasie laat groei tot die dag wat Hy bepaal het vir hulle vernietiging. Dit is juis wanneer dit stil en sogenaamd veilig is dat die ondergang baie keer nader is as ooit te vore. 1 Tessalonisense 5:2-3 want julle weet self baie goed dat die dag van die Here soos ‘n dief in die nag kom. Wanneer hulle sê, Daar is vrede en veiligheid, kom daar skielik vernietiging oor hulle, soos geboortepyne ‘n swanger vrou oorval, en hulle sal beslis nie ontkom nie. Die grootste fout wat iemand kan maak is om te dink dat sukses, vooruitgang of vrede ʼn teken is dat God tevrede met sy/haar lewe is. Deur die geskiedenis was mense wat die kerk onderdruk en vervolg het van die rykste en mees vooraanstaande mense. Die ander fout is om te dink dat God nie die euwels en ongeruimthede op aarde raak sien nie of dat Hy alles net oorsien. Die oes lyk belowend volgens Jesaja se beskrywing. Dit is net wanneer die oes gereed lyk dat God die takke sal verwoes. Ons sien dit so mooi geïllustreer in die vorige hoofstuk, wanneer die Assiriese magte op hul magtigste en die oorwinning verseker lyk, verwoes God hulle deur een Engel in een nag. God se boodskap is dat al hierdie magte deur die roofvoëls van die lug en die wilde diere verslind sal word. Dit is vir my so ʼn beeld van die laaste oorlog wat op aarde sal plaasvind waarin God die roofvoëls opdrag sal gee om fees te vier op die aardbewoners wat gesneuwel het. Openbaring 19:17 En ek het een engel in die son sien staan. Hy het met ‘n kragtige stem uitgeroep, en aan al die voëls wat hoog in die lug rondvlieg, gesê: Kom hierheen, trek saam na die groot feesmaal van God.

Elke volk en taal en nasie

Dan word daar ʼn boodskap aangekondig van ʼn tyd (‘n geleentheid) waarin die wêreldbewoners wat geluister het na die trompet geskal nou van oral af met geskenke na God kom. Hulle word pelgrims na die stad Sion, die plek van God se teenwoordigheid. Hierdie is ʼn duidelike heenwysing na die koms van heiden nasies na die God van Israel. Deur die Skrif is daar hierdie heenwysing na ʼn tydperk van vreemde nasies wat na Jerusalem kom met geskenke. So vind ons dit in die tyd van Salomo, die koning wat heenwys na die Koning wat sou kom, naamlik Jesus Christus. In sy tyd kom die koningin van Skeba aan hom hulde bewys en bring sy geskenke van haar land om sy wysheid te aanskou. Jesus sal na hierdie verhaal wys en vertel dat Hy wat groter is as Salomo hier is en tog het hulle nie gekom na Sy wysheid nie. Daar sal ʼn dag kom waarin mense uit Egipte en Etiopië aan God die eer sal bring en Hom sal aanbid soos wat die Psalmdigter ook profeteer. Psalm 68:32-33 Edeles sal uit Egipte kom, Kus sal haastig sy hande uitsteek na God. o Koninkryke van die aarde, sing tot eer van God; psalmsing tot eer van die Here! Sela. Op ʼn wonderlike wyse word hierdie profesie gedeeltelik vervul in die bekering van die Etiopiër. Hy was een van die hofdienaars en staatsamptenaars van die koningin van Etiopië. Hy is oppad terug vanaf Jerusalem, waar hy heelwaarskynlik Jesaja se perkament aangeskaf het, en is besig om dit te lees. Hy het al verby hierdie gedeelte gelees en is besig met wat ons vandag noem Jesaja 53. God stuur Filippus om hierdie man op ʼn afgeleë pad te ontmoet en hier ontdek hy Christus wat beloof is, nie net vir die Jode nie, maar ook vir hom, ʼn Etiopiër. Watter blydskap was daar nie in daardie man se hart nie!? Handelinge 8:39 Toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus weggeneem; en die eunug het hom nie meer gesien nie, maar hy het sy reis met blydskap voortgesit.

Die ironie is duidelik. Die regeerders wat ambassadeurs gestuur het vir hulp sal nou self kom om hulde te bring aan die Een wat alleen alle mag besit en alles deur Sy sterke arm regeer. Etiopië word nou die verteenwoordiger van alle nasies as hulle geskenke aan God bring. In die Tanach is Sion die plek van God se teenwoordigheid en in die Nuwe Testament is dit duidelik dat dit in die Seun Jesus Christus is. Dit is Hy van wie die Psalmdigter praat as dit sê dat die nasies en die regeerders Hom moet soen en Hom nie moet kwaad maak nie. Psalms 2:12 Soen die seun, sodat Hy nie toornig word en julle op pad omkom nie, want sy toorn vlam maklik op. Gelukkig is almal  wat by Hom skuil. Paulus noem homself ʼn apostel vir die heidene en dat sy taak was om hulle so te bedien dat hulle ʼn heilige offer sou wees wat vir die Here welgevallig is. Romeine 15:16 ‘n bedienaar van Christus Jesus aan die heidene is. Ek bedien die evangelie van God priesterlik, sodat die heidene ‘n aanneemlike offer, geheilig deur die Heilige Gees, kan wees. So sal ons eendag  in die Nuwe Aarde mense sien wat God ingebring het uit elke stam en volk en nasie tot eer en verheerliking van Sy naam.

Slot

God wys weereens uit hierdie boodskap aan Ethiopië dat Hy in beheer is. Soms soek ons hulp by mense, maar God is die een by wie alleen ons hulp moet soek. Ja, daar is baie ongeregtigheid wat God al hier op aarde sal straf en nasies sal kom en gaan, maar God belowe dat daar uit elke volk ʼn deel sal wees wat Sy basuin sal hoor en luister en Sy banier sal sien en kom  om aan Hom hulde te bewys vir die oorwinning en voorsiening wat slegs uit Sy hand kom. Ons moet dus aanhou om die beuel te blaas en aanhou om die banier op te hef, want dat daar mense is wat sal kom, is seker.  

Laat 'n boodskap