Jesaja 14:24-32

Inleiding

God ken die verlede en Hy ken die toekoms. Nie net ken Hy dit nie, Hy bewerk dit. Ons het so pas die professie gelees dat God Babel sal vernietig en Hom weer oor Israel sal ontferm. Hier sweer God dat Assirië ook verwoes sal word net soos Hy belowe het dat die Babiloniese ryk verwoes sal word. Beide hierdie gebeure sou in die toekoms plaasvind. Dus voorspel God die straf en die uitkoms.

Sekerheid

Assirië is die mag wat aan bewind is in die dae van Jesaja en ʼn bedreiging is vir Juda en Jerusalem. Die profesie word in ʼn tydsvorm geskrywe asof dit wat God belowe alreeds plaasgevind het. Wat met Assirië sou gebeur sou ook net so met Babilon plaasvind. Ons kan hiervan seker wees, omdat God so sê. Om dit vir die mens nog meer te bevestig, asof Sy woord alleen nie goed genoeg is nie, word dit vier keer genoem dat God sweer. God het nie nodig om te sweer nie, aangesien alles wat Hy sê ja en amen is. 2 Korintiërs 1:20 Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle “ja”; daarom sê ons deur Hom “amen” aan God, tot sy eer. So vertel die Hebreërs skrywer dat God aan Abraham ʼn belofte gemaak het en by homself gesweer het aangesien Hy by niemand belangriker kon sweer nie. Vir die volk was hierdie belofte ʼn sekerheid en net so is dit ook vir ons, wat ingesluit is in Sy beloftes vir die toekoms. God kan nie lieg nie en die eed sal vas staan. Hebreërs 6:18 Die doel daarvan was dat, deur hierdie twee onveranderlike dinge, waarvolgens dit vir God onmoontlik sou wees om te lieg, ons wat vrygekom het, ‘n kragtige bemoediging sou hê om stewig vas te hou aan die hoop wat voorlê. Dit word dus gedoen vir ons sekerheid en dat ons kan vashou aan die hoop wat vir ons voorlê.

Verwoesting deur Sy hand

God belowe aan die volk dat Hy Assirië sou verwoes en dat hulle hier deur God vertrap sou word. Hierdie verwoesting word in 2Konings en in Jesaja beskryf. Die magtige Assiriërs het Jerusalem omsingel, maar in een nag is hulle deur God se hand verwoes.  In daardie nag het God ʼn engel gestuur en honderd vyf en tagtigduisend man dood gemaak. Jesaja 37:36 Die engel van die Here het uitgetrek en in die kamp van die Assiriërs honderd vyf-en-tagtigduisend neergevel. Toe die mense van Jerusalem vroeg die oggend opstaan, was hulle morsdood, almal lyke! Daardie volgende dag toe die Assiriërs opstaan sou hulle terugkeer na Nineve en nooit weer terugkeer na Jerusalem nie. God se belofte dat die juk van die Assiriërs sou wyk en die las van hulle skouers sou wyk sou in een nag in vervulling gaan. Die mense wat hierdie belofte in vervulling sien gaan het kon ook seker geweet het dat, net soos die Assiriese magte verneder is, God ook die Babiloniërs sou verneder. Hul nederlaag sou ook in een aand plaasvind met die inval van die Mediërs. Hoe tragies is dit dat baie mense God se beloftes in vervulling sien gaan en steeds twyfel oor Sy ander beloftes vir die toekoms, in plaas daarvan om dit te gebruik as ʼn anker en versterking van hul geloof.  Ons vind dit herhaaldelik met die volk in die woestyn. God voorsien en hulle het vreugde net tot die volgende krisis ontstaan en dan is hulle weer in sak en as. So sien ons dit ook in die apostels se lewens toe hulle steeds dink Jesus is bekommerd omdat hulle nie brood saamgebring het wanneer Hy hulle waarsku oor die suurdeeg van die Fariseërs nie. Dit nadat Hy alreeds twee keer brood vermeerder het. Hierop wys Jesus hulle tereg. Matteus 16:9-11 Verstaan julle nog steeds nie? Onthou julle nie die vyf brode vir die vyfduisend en hoeveel mandjies julle bymekaargemaak het nie? Of die sewe brode vir die vierduisend, en hoeveel mandjies julle bymekaargemaak het nie? Hoe kan julle dan nie begryp dat Ek nie oor brood met julle gepraat het nie? Nee, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs.

God in beheer

Hierdie vernietiging van die Assiriese magte is ʼn beeld wat God voorhou aangaande sy hand wat oor alle nasies is. Geen nasie sal opstaan sonder dat Hy hulle nie oprig nie en geen nasie sal val sonder Sy bepaling nie. Daarom kan Paulus ook die gelowige oproep om alle gesag te gehoorsaam aangesien alle gesag van God afkomstig is. Romeine 13:1-2 Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel. Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instelling van God, en diegene wat hulle verset, sal ‘n oordeel oor hulleself bring. Ongeag die tyd, die regering of bedreiging, die gelowige kan lewe wetende dat God heerskappy oor almal het en daarom kan hy/sy vrede ervaar ten spyte van omstandighede. Ons moet tevrede mees met God se plan en besturing van die heelal en in Hom ons vreugde en vrede vind. As Hy besluit het sal dit uitgevoer word en niemand sal Sy planne kan keer of verander nie. Hierdie belydenis stem ooreen met dié van Nebukadnesar wat baie jare later gemaak is. Daniël 4:35 Al die bewoners van die aarde word as niks gereken; Hy doen met die hemelse leër en die bewoners van die aarde wat Hy wil. Daar is niemand wat sy hand kan afweer of vir Hom kan vra nie, Wat het U gedoen? Dit is dan ook wat die Psalmdigter bely het baie jare voor Jesaja se profesie. Psalms 33:11 Die raadsplan van die Here bestaan vir ewig, die planne wat Hy bedink, van geslag tot geslag. Ook ʼn man met die naam Bileam moes leer dat God nooit van plan verander nie. God het aan hom bekend gemaak dat hy nie na Balak moes gaan nie. Toe daar weer boodskappers van Balak aan hom verskyn vra hy hulle om die nag oor te bly sodat hy weer vir die Here kon vra. Daardie nag sê God aan Bileam dat hy saam met hulle moet gaan, maar die volgende dag kom hy voor ʼn engel te staan wat gereed was om hom dood te maak. ʼn Donkie red sy lewe deur telkens weg te draai en onder hom te gaan lê. Die les wat Bileam moes leer is dat as God eenkeer nee gesê het, Hy nie verander nie. Hierdie les wat hy geleer het sou hy later aan Balak bely. Numeri 23:19 God is nie ‘n man, dat Hy sou lieg nie, en nie ‘n mensekind, dat Hy van plan  sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, sou Hy praat en dit nie gestand  doen nie?  

Die Filistyne

Die volgende deel van die profesie handel oor die Filistyne. Met koning Agas se dood sou die Filistyne, vyande en bure van Israel, nog leef in die land. Die Filistyne moes volgens God se opdragte uitgewis gewees het met die Israeliete se anneksering van Kanaän. Numeri 33:51-52 Praat met die Israeliete en sê vir hulle, Wanneer julle die Jordaan oorsteek na die land Kanaän, moet julle al die inwoners van die land voor julle uit verdryf en al hulle afbeeldings vernietig. Al die namaaksels van hulle gegote beelde moet julle vernietig, en al hulle offerhoogtes moet julle verwoes. A.g.v. Israel se ongehoorsaamheid sou God hierdie volk laat voortbestaan. Hierdie volk sou ʼn konstante steen des aanstoots vir Israel en Juda wees net soos God aan hulle belowe het. Numeri 33:55 As julle egter nie die inwoners van die land voor julle uit verdryf nie, sal dié van hulle wat julle laat oorbly, soos splinters wees in julle oë en soos dorings in julle sye. Hulle sal julle aanval in die land waar julle woon. Gedurende die heerskappy van Agas was hierdie volk steeds gebruik as ʼn stok om Juda te straf a.g.v. hulle ongehoorsaamheid. 2 Kronieke 28:18 en Filistyne het ‘n aanval geloods op die dorpe van die Sjefela en die Negev van Juda. Hulle het Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Sogo met sy omliggende dorpies, Timna met sy omliggende dorpies en Gimso met sy omliggende dorpies ingeneem en daar gaan woon. Vanaf die regering van Dawid tot en met Agas het Israel die oorhand oor die Filistyne gehad en is hulle die stok waarmee Filistea geslaan is, maar Israel is “gebreek”, die bordjies is verhang en die Filistyne kon roem oor hulle oorwinning. In hul hoogmoedig het Jesaja egter ʼn boodskap van God. Hy vergelyk hulle vorige vyand met ʼn slang, maar verklaar dat die een wat uit hom kom ʼn kobra sal wees. Die slang verwys na die Ryk van Dawid en die kobra wat die Filistyne sou vernietig, sou na Dawid opstaan, naamlik Hiskia. 2 Konings 18:8 Dit is hy wat die Filistyne verslaan het – van wagtoring tot versterkte stad, so ver as Gasa en die grondgebied daaromheen. Die “hy” in hierdie vers verwys na Hiskia. Al sou daar vernietiging voorlê vir Juda moet die Filistyne weet dat God sy volk sal bewaar en hulle sal vashou in teenstelling met die Filistyne se wortel wat God totaal sal vernietig. Die oorblywendes van Juda sou in veiligheid lê en rus ervaar, terwyl die Filistyne deur die vlieënde draak, die Babiloniërs, totaal uitgewis sal word. Hierdie voorspelling word eksplisiet in Jeremia 47:2-7 gemaak as dit wys na die waters uit die Noorde. God sou ten spyte van die oordeel wat Hy oor Juda sou bring, die volk bewaar en altyd ʼn oorblyfsel laat bly terwyl plekke soos die land van die Filistyne deur Hom gestraf sou word en geen oorblyfsel gelaat sou word nie.

God bewaar sy volk

Die vyand van die toekoms sal ook vernietig word, maar God sal Sion vestig. God het hierdie belofte aan Abraham gemaak en ten spyte van die volk se ongehoorsaamheid het God sy belofte nagekom. Genesis 17:7 Ek sal my verbond tussen My en jou en jou nageslag ná jou handhaaf, deur hulle geslagte heen, as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou. Volke sou opstaan en val maar God se volk sou aanhou bestaan tot aan die einde, nie a.g.v. hulle gehoorsaamheid nie maar a.g.v. God se belofte. Ons as gelowiges is ook hier ingegraveer en die beloftes geld ook vir ons. Dit is alleen moontlik gemaak deur Jesus Christus. Sion is daar waar God woon. In die Nuwe Testament leer ons dat God nou woning by ons kom maak het deur die inwoning van die Heilige Gees. Efesiërs 2:19-21 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en lede van die huisgesin van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus Jesus self as hoeksteen. In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here.

Slot

Weereens is dit duidelik dat God in beheer is. Wanneer ons onsself sy kinders noem kan ons na die profesieë in die Woord kyk en sien hoe God jare voor gebeure plaasgevind het, dit beplan en tot uitvoering gebring het. Elkeen van ons het die Woord van God tot ons beskikking en die beloftes daarin waaraan ons kan vashou is legio. Die kind van die Here word opgeroep om nooit angstig te word nie. Jesaja 41:10 Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou;

ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand. Ons kan vashou aan Sy beloftes en weet dat in Christus dit ja en amen is. Net soos vir die volk word ons ook opgeroep om in Sion ons skuiling te vind wetende dat niks ons van sy liefde sal skei nie. Romeine 8:37-39 Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.