Inleiding
Voordat ons enigiets oor hierdie gedeelte skryf, moet ons eers weer die onderskeid tussen die nasies en Israel (die Jode) beklemtoon. Wanneer die profesieë spesifiek oor die herstel van Israel praat, verwys dit altyd na die oorblyfsel van die fisiese volk van God — die Jode wat in Christus uitverkies is. Saam met die uitverkorenes uit die heidennasies vorm hierdie twee groepe die nuwe volk van God. Wanneer ons dus hierdie gedeelte lees, moet ons die “alreeds” en die “nog nie” van die profesie verstaan in die lig van hierdie oorblyfsel van Jode wat tot geloof sal kom, saam met mense uit elke volk, taal en nasie wat hulle aan die God van Abraham, Isak en Jakob sal onderwerp en in Christus deel word van hierdie nuwe volk. Daar is dus ’n gedeeltelike vervulling met betrekking tot die fisiese Israel, maar die volle en finale vervulling is met betrekking tot God se nuwe volk — waarvan ons, as gelowiges in Christus, deel is.
Herstel
In die vorige hoofstuk het ons gesien dat Babilon moet val weens haar sonde. In hierdie hoofstuk word die tweede rede vir haar val aangekondig, naamlik dat Israel herstel en verhoog kan word. Soos ons reeds by ander profesieë gesien het, is daar dikwels ’n “alreeds” en ’n “nog nie”. Die eerste verse van hoofstuk 14 beskryf ’n volkome herstel van Israel: God sal hulle nie net na hulle land terugbring nie, maar die nasies sal hulle ook self terugbring. Die terugkeer van die Israeliete onder Kores het hierdie profesie beslis nie ten volle vervul nie. Net soos met die algehele ondergang van Babilon — wat eers ten volle vervul word met Christus se wederkoms — weet ons dat hierdie gedeeltelike vervulling wys na ’n volkome vervulling wat nog moet kom.
God sal Hom weer oor Jakob ontferm en Israel weer verkies. Hierdie tema word ten volle uitgewerk in die laaste sewe en twintig hoofstukke van Jesaja. Die woord “ontferm” dui op die intense toewyding van ’n moeder of vader teenoor hulle kinders. God sal Hom nie net oor hulle ontferm nie, maar Hy sal Israel ook nogsteeds kies. Dit is hier belangrik om te besef dat God se verkiesing onherroeplik is. Wanneer ons na die uitverkiesing van elke gelowige kyk, net soos hier na die uitverkiesing van die volk, is dit noodsaaklik om te onthou dat dit nooit gaan oor enige verdienste in die mens self nie — nie iets wat hy gedoen het of ooit sal doen om sy uitverkiesing te regverdig nie. God bevestig van die begin af dat sy verkiesing nooit gegrond was op enigiets goeds wat in hulle gevind is nie. Deuteronomium 7:7-8 Dit is nie omdat julle groter was as al die ander volke dat die Here Hom aan julle verbind en julle uitgekies het nie — julle was immers die kleinste van al die volke. Nee, dit is omdat die Here julle liefgehad het en omdat Hy gebly het by die eed wat Hy vir julle voorvaders afgelê het dat die Here julle met ’n sterk hand laat wegtrek en julle vrygekoop het uit ’n plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte. God sal nooit diegene wat Hy uitverkies het, verlaat nie. Jesus vertel die gelykenis van die een skaap wat verlore raak, en die herder wat die nege-en-negentig agterlaat om die een te gaan soek. So bevestig Jesus verder dat dié wat aan die Vader behoort, en vir wie Hy sy lewe afgelê het, nooit verlore sal gaan nie. Johannes 10:28-29 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader, wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Dit is ook die vraag wat Paulus in Romeine 9 beantwoord, nadat hy in hoofstuk 8 daarop gewys het dat geen gelowige verlore kan gaan nie, en dat niks ons van die liefde van Christus kan skei nie. Van hoofstuk 9 tot 11 wys Paulus daarop dat dit nooit die hele Israel as volk was wat God verkies het nie, maar slegs ’n oorblyfsel — en dat hierdie oorblyfsel uiteindelik as geheel gered sal word. Dit is ook so deur die profete in die Tanach (Ou Testament) voorspel. Romeine 11:29 Die gawes en roeping van God is immers onherroeplik. Hier word ook voorspel dat die vreemdeling by die huis van Jakob gevoeg sal word. In Israel het die vreemdeling nog altyd sekere voorregte gehad en moes daar na hom omgesien word. Deuteronomium 10:18-19 wat vaderloses en weduwees se regte handhaaf en aan vreemdelinge liefde betoon deur aan hulle kos en klere te gee. Julle moet vreemdelinge liefhê, want julle was self vreemdelinge in Egipteland. En tog was die vreemdeling nooit ten volle deel van Israel nie. Volgens hierdie profesie sal daar ’n dag kom waarop die vreemdeling by Israel gevoeg word. Dit word vervul wanneer die heidene tot bekering kom en deel word van die vroeë kerk, sodat Jood en heiden nou saam die Here aanbid. Die vreemdelinge wat deel word van Israel, sal ook Babilon verlaat en deel word van ’n nuwe land. Dit word treffend geïllustreer deur die verhaal van Rut: sy verlaat haar land en gaan saam met haar skoonma, Naomi, terug na Israel en die dorp Betlehem. Sy lê die volgende belydenis af — ’n belydenis wat die belydenis word van elke heiden wat Christus aanvaar en Hom sy Koning maak: Rut 1:16 Maar Rut het geantwoord: Moet my nie probeer dwing om u te verlaat nie of om van u af weg te gaan nie, want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u bly, sal ek bly. U volk is my volk, u God is my God. Rut word nie net self deel van die volk nie, maar ook deel van die geslagslyn van Christus, as die grootouma van Dawid. So word elke heiden wat gelowig word, ook ingeënt in die olyfboom. Romeine 11:17 En as ’n aantal van die takke van die mak olyfboom uitgebreek is, en jy, die wilde olyf, tussen die takke ingeënt is, en so aan die voedingskrag van die mak olyfboom se wortel deel gekry het.
Regeer
Hierdie herstelde volk sal oor al die nasies regeer. Twee ander gedeeltes in Jesaja herhaal hierdie belofte:
- Jesaja 49:22-23 So sê my Heer, die Here: Kyk, Ek sal na die nasies my hand ophef, na die volke my banier omhoog hou. Hulle sal jou seuns bring in die vou van die kleed, en jou dogters op die skouer dra. Konings sal jou voogde wees, en hulle prinsesse jou pleegmoeders. Gesig na die grond, sal hulle diep voor jou neerbuig; hulle sal selfs die stof van jou voete lek. Dan sal jy besef dat Ek die Here is. Wie op My wag, sal nie beskaamd staan nie.
- Jesaja 60:9-10 Ja, op My wag die eilande; die skepe van Tarsis vaar aan die voorpunt om jou kinders van ver af te bring. Hulle silwer en goud is by hulle, ter ere van die Naam van die Here, jou God, ter ere van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het. Vreemdes sal jou mure herbou, en hulle konings sal tot jou diens wees. Ja, in my grimmigheid het Ek jou geslaan, maar in my guns ontferm Ek My oor jou.
Dit is baie duidelik uit hierdie verse, en vele ander, dat God ’n dag sal laat aanbreek waarop die nuwe volk van God — bestaande uit die oorblyfsel van Israel wat tot geloof in Christus gekom het, saam met die gelowiges uit al die nasies — heerskappy oor die wêreld sal uitoefen. Jesus vertel ook vir sy volgelinge die gelykenis van ’n man wat na ’n ver land reis om sy koningskap te ontvang — ’n verwysing na Christus. Hy gee tien van sy diensknegte elk tien ponde om mee handel te dryf. By sy terugkeer as koning, vra hy elke dienskneg rekenskap, en beloon hulle na gelang van die opbrengs wat hulle met die pond wat aan hulle toevertrou is, behaal het. Lukas 19:17 Hy het hom geantwoord, Mooi so, goeie slaaf! Omdat jy betroubaar was met iets wat baie gering is, moet jy nou gesag voer oor tien stede. Die beloning is dus heerskappy. Die vraag is oor wie hulle sal heers wanneer Jesus terugkeer. Die Bybel bevestig in Openbaring wanneer hierdie heerskappy plaasvind. Openbaring 20:4 Ek het ook trone gesien, en aan dié wat daarop sit, is mag verleen om te oordeel. Ek het die siele gesien van hulle wat onthoof is vanweë die getuienis oor Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie. Hulle het lewend geword, en saam met Christus regeer, ’n duisend jaar lank. Dit sal dus geskied in die tyd wanneer die Satan gebind sal word en baie ongelowiges nog sal leef. Na die vrylating van die Satan, sal hulle hom volg uit al die uithoeke van die aarde, die Gog en Magog. Aan enige iemand wat die idee het dat die Kerk nou al heers sal die vraag wees waar dit al ooit plaasgevind het. Hoe enige iemand die vervolging en onderdrukking van die gelowiges vandag kan verduidelik as “heerskappy oor die nasies” gaan my verstand te bowe. Die volle en sigbare heerskappy van die nuwe volk van God oor die nasies — waarvan Jesaja hier profeteer — breek dus eers ten volle deur wanneer Christus weer kom. Tot dan ervaar die gelowige hierdie heerskappy net gedeeltelik en geestelik, terwyl vervolging en onderdrukking dikwels eerder die reël as die uitsondering is. Dit bevestig weer die “alreeds” en “nog nie” waarmee hierdie hele gedeelte werk: die heerskappy het in Christus reeds begin, maar dit sal eers by sy wederkoms ten volle en sigbaar aanbreek.
Rus
Die Here belowe aan Israel ’n tyd van rus van al die onrus en die harde diensbaarheid aan die nasies rondom hulle. Dit sluit ook aan by die profesie van ’n tyd van vrede wat sal kom, waarin geen nasie meer die gelowiges se rus sal versteur nie. Dit is belangrik om hier weer daarop te wys dat hierdie rus alreeds in Christus aangebreek het, en dat Kanaän slegs ’n voorafskaduwing daarvan was — soos bevestig word in Hebreërs. Hebreërs 4:9-11 Daar bly dus steeds ’n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke — soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie. Hierdie geestelike rus het ons dus in Christus alreeds ontvang, en daar is nou reeds vrede tussen ons en God. Tog word hier ook van ’n verdere, toekomstige rus geprofeteer, waar ons as gelowiges sal rus van die wêreld se onderdrukking en haat — iets wat aan die gelowige regdeur die Bybel belowe word, en wat elke gelowige tans nog op ’n daaglikse basis mis. Ons sal ook rus ontvang van die geestelike stryd waarin ons tans betrokke is, en waarvoor ons die volle wapenrusting van God ontvang het. Hierdie stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte en die geeste in die lug. Efesiërs 6:11-12 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die listighede van die Duiwel. Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. Die gelowige ervaar dus beslis nie nou reeds ’n volkome rus nie, en enigeen wat meen dat die Satan tans gedeeltelik óf ten volle magteloos gemaak is, verstaan hierdie Skrifgedeelte beslis verkeerd. Die rus wat ons in Christus ontvang het, sal eers volkome wees wanneer Hy weer kom. Die Skrif vertel van baie gelowiges wat na hierdie rus uitgesien het. Lameg noem sy seun Noag, wat “rus” beteken, in die verwagting dat daar weer rus sou kom. God bring inderdaad ’n mate van rus wanneer Hy die goddelose wêreld met die sondvloed uitwis, en tog was dit nie ’n volkome rus nie: kort daarna word Noag dronk, en sien Gam sy pa se naaktheid en vertel dit vir sy broers. So het Salomo ook gemeen dat sy koningskap die ware rus sou inlei. 1 Konings 8:56 Die Here moet geprys word, Hy wat aan sy volk Israel ’n rusplek gegee het, net soos Hy beloof het. Nie een van al sy goeie beloftes wat Hy by monde van sy dienskneg Moses gemaak het, het onvervuld gebly nie. En tog skeur die koninkryk kort ná sy dood in twee, en word die twee ryke vyande van mekaar. Jesaja profeteer egter van ’n volkome rus wat die gelowige eendag ten volle sal ervaar.
Spot
In hierdie tyd van volkome rus sal die gelowige ’n spotlied oor Babilon aanhef. Soos in Openbaring belowe word, sal Babilon totaal tot ’n val kom. God sal die heerskappy van al die nasies wat teen Hom in opstand is, tot ’n einde bring. So sien ons ook in die droom wat Nebukadnesar gehad het, dat nie net Babilon vernietig word nie, maar die hele beeld wat al die wêreldryke deur die geskiedenis heen verteenwoordig. Dieselfde waarheid verkondig Paulus aan die gemeente in Korinte. 1 Korintiërs 15:27-28 Want Hy het alles onder sy voete gestel. Maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat dit met die uitsondering is van Hom wat alle dinge aan Christus onderwerp het. Wanneer alles aan Hom onderwerp is, sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal sal wees.
Al bely ons dus reeds dat Christus aan die kruis die oorwinning volbring het, weet ons dat ons dit eers eendag ten volle sal ervaar wanneer Christus terugkeer. Dit sal die tyd wees waarin Christus die wêreld met ’n ysterstaf sal regeer — iets wat twee keer in Openbaring voorspel word.
- Openbaring 2:27 Hy sal hulle as ’n herder lei met ’n ysterstaf, en hulle soos kleipotte stukkend slaan.
- Openbaring 19:15 Uit sy mond het ’n vlymskerp swaard gekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer. Hy sal ook self die parskuip van die geweldige toorn van God, die Almagtige, trap.
Slot
Weereens word hier bevestig dat wanneer hierdie finale oorwinning behaal is, die hele wêreld rus sal hê en van vreugde sal uitbars. Nie net die mense op aarde sal dan vreugde ervaar nie, maar Jesaja profeteer dat selfs die bome sal jubel. So word ook in Romeine aan ons bevestig dat die hele skepping in afwagting is op Christus se wederkoms, wanneer alles weer herstel sal word. Romeine 8:19-21 Met vurige verlange wag die skepping daarop dat die kinders van God openlik bekend gemaak sal word. Want die skepping is onderwerp aan ’n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie, maar deur Hom wat dit daaraan onderwerp het. Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid, met die oog op die heerlike vryheid van die kinders van God. Die bome lewer dan getuienis daarvan dat, aangesien Babilon vernietig is, daar nie meer gevrees hoef te word dat iemand hulle sal afkap nie. Watter volkome herstel en volkome rus sal daar op daardie dag op aarde nie wees nie! Die psalmdigter beskryf hierdie dag vir ons op treffende wyse.
Psalms 98:4-9 Juig tot eer van die Here, o ganse aarde; wees vrolik, jubel en besing Hom, besing die Here met begeleiding van liere, op die lier saam met die klank van sang, op trompette saam met die klank van ramshorings. Juig voor die Koning, die Here. Laat die see en alles daarin dit uitbasuin, die aarde en dié wat daarop woon. Laat die riviere hande klap en saam met die berge jubel voor die Here; want Hy kom om die wêreld te oordeel, Hy sal die aarde oordeel in geregtigheid en die volke in billikheid.